Die ANC-rand – ‘n krisis in wording?

Daar is feitlik geen land suid van die Sahara wat nog nie op een of ander stadium ‘n valutakrisis beleef het nie. Die gedrag van die Suid-Afrikaanse rand oor die afgelope aantal jare is eintlik abnormaal, gegewe die stabiliteit van ons geldeenheid onder die Zuma-regering.

Die feit dat die rand tussen R7 en R8 per dollar verhandel het, is egter toe te skryf aan die ewe abnormale omstandighede buite Suid-Afrika: die bankbankrotskappe en Amerikaanse skuldkrisis, asook die Griekse skuldkrisis wat insgelyks na ander lande in suidelike Europa uitgekring het.

Feit is egter dat die ANC-bewind al jare lank besig is om die Suid-Afrikaanse rand stelselmatig te ondermyn. Die rand se eerste groot skokke het tydens die sanksiejare gekom, waarin die ANC en veral Biskop Trevor Huddleston ‘n sleutelrol gespeel het.

Cosatu se hoë loonverhogings stook inflasie in ons land, wat op die duur die waarde van ons geldeenheid erodeer. Ook grondhervorming veroorsaak hoë voedselinflasie wat insgelyks tot die algemene prysstygings bydra. Daar is geen reële rentekoerse in Suid-Afrika meer nie, wat beteken dat dit geensins sin maak om geld te spaar nie.

Die twee grootste afgronde waaroor die rand egter huiwer, is die groter wordende handelstekort, asook die stygende begrotingstekort. Sommige munisipale en provinsiale raadslede in Gauteng het oor die afgelope maande nie hul salarisse ontvang nie, wat dui op ‘n nypende kontanttekort in sommige provinsiale en staatsdepartemente. Met die staatskas wat ook weens korrupsie geplunder word, kan sulke tekorte op die duur net vererger, al is die ontvanger van inkomste hoe doeltreffend om die laaste sent uit belastingbetalers te wurg.

Weens lae rentekoerse in ontwikkelde lande het heelwat korttermynbeleggers vanuit die buiteland hul kontant in Suid-Afrika kom “parkeer”. Die banke en handelaars leen ook goedkoop fondse in dollar of euro en kom verdien dan betreklik hoë rente in rand. Dit het die rand beskerm teen die daling wat verskille tussen ons inflasiekoers en dié van Amerika of die EU sou veroorsaak het.

Een of ander tyd sal die ANC-rand egter teen sy werklike waarde gewaardeer word en dan gaan ons R12 per dollar of selfs R20 per dollar sien. Die middeklas wat reeds noustrop trek, gaan dan boonop ‘n groot deel van sy spaargeld verloor. So ‘n daling kan selfs binne ‘n kort tyd of te midde van een of ander globale of plaaslike krisis plaasvind.

Die ANC is verbind tot die meeste beleidsrigtings van ZANU-PF in Zimbabwe, waaronder grondhervorming en “verinheemsing”, met ander woorde die aandrang op ‘n meerderheidsaandeel in alle ondernemings deur swartmense.

Onder die ANC het Suid-Afrika ‘n tipiese derdewêreldland geword wat grondstowwe uitvoer en vervaardigde goedere invoer, hoofsaaklik uit China en Europa.

Ons verbeel ons net dat ons oor ‘n sterk geldeenheid beskik. Teen die tyd dat Mandela se gesig op die note begin verskyn, gaan die inherente swakheid van die rand reeds al hoe meer sigbaar raak.

Om in Suid-Afrika geld in die bank aan te hou, is eenvoudig waansin. Maar selfs die aandelebeurs het in dollar-, euro- of veral Switsersefrankterme oor die afgelope dekade nie juis gepresteer nie.

Enigeen met spaargeld sal wys wees om eerder na veilige geldeenhede in die buiteland of goud te kyk. Die onlangse skandaal rondom die Krugerrand waarvan daar “ondergewig”-eksemplare geslaan is, boesem egter kwalik meer vertroue in selfs daardie beroemde goudstandaard vir Jan Alleman in. Die goudmark is berug vir sy wispelturigheid en hou daarom ook risiko in.

Veel meer inligting oor buitelandse beleggings behoort in Suid-Afrika beskikbaar gemaak te word en Praag behoort meer gereeld artikels daaroor te plaas.

Leave a Comment

Filed under Rubrieke

Keer die verandering van Pretoriase straatname!

L.W. As u op ‘n selfoon is en met die onderstaande vormpie sukkel, stuur eenvoudig ‘n e-pos met u naam, van en e-posadres aan: petisie@praag.org.

Teken asseblief ons petisie vir die behoud van Pretoriase straatname. Maak gebruik van u persoonlike adreslyste, asook Facebook en Twitter, en versprei die skakel na die petisie so wyd moontlik. Die skakel is http://roodt.org/?p=533.

PRAAG ondersteun Nederlands-Afrikaanse samewerking in stryd om straatname

Pretoriase straatname

Hiermee maak ek beswaar teen die verandering van straatname in Pretoria. Ongeag enkele duisend buitelanders wat in die middestad en Sunnyside woon, bly Pretoria die enigste oorwegend Afrikaanse grootstad in Suid-Afrika en moet ons erfenis daar bewaar bly. Nie net druis die naamsveranderings in teen goeie verhoudinge in Suid-Afrika nie, maar dit ootree ook die volkereg wat 'n meerderheid verbied om 'n minderheid se grondgebied te beset en sy erfenis daar uit te wis.

91 signatures

Deel dit met u vriende:

Jongste handtekeninge

91.Nico van BlerkMay 12, 2012
90.Donald BurnsApr 11, 2012
89.Alet FellApr 10, 2012
88.Geertje BosmanApr 08, 2012
87.Ronel van ZylApr 08, 2012
86.Sylvia OltmansApr 08, 2012
85.T van der SluisApr 08, 2012
84.Nikki DikstaalApr 08, 2012
83.Robert AussenApr 08, 2012
82.Gina AussenApr 08, 2012
81.Riki de VilliersApr 08, 2012
80.Leon JutteApr 08, 2012
79.Albert KompagieApr 08, 2012
78.A Pasker-HulzebosApr 08, 2012
77.Rinus van der SluisApr 08, 2012
76.Thomas van ZwolApr 08, 2012
75.Hans EngelbrechtApr 05, 2012
74.Hans EngelbrechtApr 05, 2012
73.Reinier GeerligsApr 03, 2012
72.Josée van IerselApr 02, 2012

15 Comments

Filed under Petisies

Oor Franse fluitspelers en Afrikanernasionaliste

Ek kom nou af op ‘n interessante M-verhandeling deur Dawid Johan Venter: ” Die aristokraat-virtuoos in die moderniteit: Die ontwikkeling van die Franse Fluitskool in die laat negentiende eeu.” Onder andere verwys Venter na die rol van die kunstenaar wat as’t ware die plek van die aristokraat inneem. Net soos sy adellike voorganger, voel hy hom gemoeid met die volk en beskik hy oor vrygewigheid en ‘n hoër strewe. As ons oor die gemors dink wat die Afrikaner-elite die afgelope twintig, dertig jaar aangevang het, hul jammerlike verraad en oorgawe, dan moet ons terugreik na ‘n vorige tydvak. Chris Louw se neerhalende ontmaskering van die “verligtes” stel dit vir ons baie mooi. Maar watter beter begrip om by te begin, om te herbegin, as by Van Wyk Louw se siening van die “aristokratiese ideaal”? Sekerlik is Louw hierin beïnvloed deur Nietzsche met sy afkeer van die populêre, die sosialistiese, alles wat “van die massa” is. Een van die mooiste tonele in die Afrikaanse letterkunde is waar Henry van Eeden in Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins in ‘n safaripak opdaag vir die partytjie van die boere… terwyl hulle almal in aandpakke verskyn. Want, so verseker die skrywer ons, die boere is die aristokrasie van die land. Vir die ANC, asook die Johanesburgse uitlanders voor hulle, verteenwoordig SA bloot ‘n “grot van Ali Baba” om te plunder. Maar die Afrikaner gee werklik om vir sy land. En in die paternalisme van apartheid was daar ook iets van ‘n aristokratiese vrygewigheid, ‘n poging om die landelike swarte binne sy eie kultuurverband “op te hef”. Die revolusie het vir altyd die menseverhoudings in ons land verander, van ‘n ongelyke empatie en wedersydse respek na etniese vyandigheid en gelykheidstotalitarisme. Die revolusie – en nou is ek baie ironies – het ons inderdaad “bevry” van ons aristokratiese verantwoordelikheid teenoor die ander, die swartman. Die swartman sorg nou vir homself, met sy verkose kriminele leierskap, die veertig diewe wat besig is om die grot te plunder. Maar die Afrikanerkunstenaar, -fluitspeler, -leier, behoort steeds daardie aristokratiese etos te omarm: ons moet omgee vir ons mense, daar waar hulle deesdae in plakkerskampe en as bedelaars op straathoeke ons aandag vereis.

Die ontheemde Brit, die linkse Engelsman (of Jood, want die SA Jode roem hulle op hul alliansie met die ANC-SAKP-monster, teenoor die Israeli’s wat met ons saamgewerk het) sien in die Afrikaner se naasteliefde en die opheffing van die armblankes in die dertigerjare van die vorige eeu iets afskuweliks: Afrikanernasionalisme. By M.E.R. en ander figure uit daardie tyd wat tegelyk joernaliste, skrywers, kunstenaars, volksleiers of -leidsters was, sien ek egter niks van die “fascisme” wat die Engels-Joodse kommuniste aan ons toedig nie. Om nie te vergeet van Naspes se varke wat saamvreet in die trog by die kommunistiese ideëkermis nie! Nee, veel eerder spreek dit van ons omgee vir mekaar, van ‘n aristokratiese barmhartigheid, ware Christelike naasteliefde.

Wanneer keer ons terug na dít wat ons was? Voor ons verraaiers, jagterversamelaars binne die wêreldekonomie en half-Engelse, halfdooie napraters en na-apers geword het?

1 Comment

Filed under Briewe en polemieke

Max du Preez se Victoriaanse sonhelm

Sjoe, ek sien Max du Preez het sy Victoriaanse sonhelm opgesit en verwys neerhalend na die “agterlike twak” op die Praag-webwerf. As witbroodjie van die magtige Naspes is dit nou die totalitêre post-Broederbond-monster wat met homself buikspreek.

Ek veronderstel die kreoolse Afrikaans van Sondag, daardie toonbeeld van Naspes-intellektualisme – benewens Mad Max self – is meer op sy standaard. Feit is, Max, ongeag of jou kinders al Engels is, is jy juis so Engels in jou neerbuigende houding teenoor ons Afrikaners. Ons is so “agterlik en boers”. Intussen is jul anglofiele model die Engelsman wat nie so dikwels bad nie en wat soos Andy Capp in sy “pub” suip. Vir my wat by Wits gestudeer het, herken ek al die anti-Afrikaanse vooroordele wat op julle afgesmeer het omdat julle onder die indruk verkeer dat die parogiale “onagterlike” wêreldjie van die SA Engelsman met sy kwasi-Britse pretensies regtig die “toppunt van sjiek” is. Max, as jy maar iets van die wêreld geweet of verstaan het… Praat van “bang, verstokte mense”!

Feit is dat die plaaslike Anglo-kommunis wat deesdae so ‘n paar woorde Spaans byleer om sy Kubaanse dokter te verstaan, een van die grootste – en agterlikste – anachronismes ter wêreld verteenwoordig. Dis soos daardie ou Kaapse hippies wat nog steeds in negentienvoertsekkombi’s rondry. En in iKoloni met sy heelwat nuwe Britse setlaars is dit seker maklik om jou te verbeel dat jy die sentrum van die land en sommer van die heelal is, met alle wysheid in pag.

Intussen het ons stedelike Afrikaners van Johannesburg en Pretoria wat gemaklik in Parys, Berlyn, Amsterdam of Brussel verkeer, lankal saam met die Paryse nouveaux philosophes die kommunisme as ‘n uitgediende ideologie en stuk pseudo-intellektualisme ontmasker. In die sewentigerjare het die plaaslike Anglo-kommuniste vir ons gelag omdat ons Derrideane en verkenners van postmoderne denke was. Tans wil hulle en hul sikofante soos Max ons laat toesluit of (getrou aan die Sowjet-goelagmodel) in psigiatriese inrigtings laat aanhou omdat ons deel is van ‘n wêreldwye herontwaking van Westerse identiteite en nugtere kritiek op die nuwe godsdiens van multikulturalisme. Met Nelson Mandela as die “nuwe Christus”.

Soos ek al dikwels gesê het: die Berlynse muur het nog nie in SA geval nie. Max en sy mede-skreeuers verteenwoordig die bewakers op die muur wat regstaan met die brandende pik en olie om die aanslag van die ketters af te weer. Dink net daaraan: Max en die bende prewelende neomarxiste van Stellenbosch beskik oor die magtige Naspes, die SAUK en Her Majesty’s Voice in South Africa, die Independent-groep, om hul naakte anti-Afrikaanse propaganda en oudmodiese Kubaanse of Oos-Europese idees af te dwing. Die volk se breine te spoel. Terwyl ons slegs oor ons verstand en ons rekenaars beskik om Grootbroer se vergoeiliking van volksmoord, taal- en rassediskriminasie – die Superapartheid van die NSA – te beveg.

Maar eendag is eendag, dan gaan die Muur val. Jakes Gerwel van Naspes gaan weer snot en trane huil soos die vorige keer, saam met Max en die ander klomp kwasi-Engelse hanskakies wat skielik sal besef hoe galsterig daardie ou Britse vis en tjips al die tyd was.

Max du Preez se kommentaar op Facebook:

Mense stuur so nou en dan van die agterlike twak wat oor my en ander op Roodt se werf kwytgeraak word. Nes ek lus is om te reageer, onthou ek dis ‘n handjievol bang, verstokte mense wat daar uitkamp en dis nie die moeite werd om op hulle te reageer nie. In die stuk wat jy aanstuur sien ek daar is weer ‘n verwysing na my kinders wat kastig land-uit is en in die kommentaar op Gustav Venter (ek dink hy’t ‘n crush op my, skryf gereeld sulke ellelange stukkie oor my) se onlangse stuk en elders is daar verwysings oor waar ek bly en dat ek en my kinders verEngels het. Nie lank gelede nie het Roodt self verklaar dat ek bankrot is. Nou weet jy waarme ons te make het. My seun is ‘n Afrikaanssprekende entrepreneur in Noordhoek (Kaapstad), my dogter is ook heeltemal Afrikaans en werk in die filmbedryf in Johannesburg, my laatlammetjie is op Jan van Riebeeck op skool. Die gedagte dat ek enigiets anders as Afrikaans met my kinders sou praat, is totaal absurd. En ek bly al jare lank in Kaapstad en my bankbestuurder is heel gelukkig met my. Kom ons bestee eerder ons tyd en energie aan konstruktiewe sake as om toe te laat dat hierdie lunatic fringe ons irriteer

Leave a Comment

Filed under Briewe en polemieke

Dit maak sin om polities binne die Vryheidsfront te groepeer

In reaksie op enkele kommentare op my rubriek, Kom ons trek laer rondom Pieter Mulder: Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar ‘n klein volk soos die Afrikaners kan nie bekostig om verdeeld te wees nie. Tydens ‘n gesprek met Hermann Giliomee ‘n paar jaar gelede het hy ook gesê dat hy reeds in 1980 weens die verdeeldheid in eie geledere kon voorspel dat die Afrikaner die politieke mag gaan verloor.

Tans meen ek ons moet verby persoonlikhede kyk wanneer dit by politiek kom. Die vraag is: Kan ons saamleef met die grondwet van  die VF Plus, aldan nie? Dis die enigste oorblywende Afrikanerparty wat aan die hoofstroompolitiek deelneem en wat tot Afrikanervryheid verbind is. Daarom het ons geen ander keuse as om dit te ondersteun en te versterk nie.

Mense spekuleer aanmekaar daaroor of Solidariteit/Afriforum ‘n nuwe party op die been been gaan bring, maar indien hulle wil, is dit eintlik al te laat vir 2014. Indien nie, is die verkiesing daarna eers in 2019. Hoe gaan die land dan lyk, ná 35 jaar van ANC-oorheersing?

Dink net watter internasionale opskudding sou dit veroorsaak indien daar in 2014 ‘n beduidende getal Afrikaners vir die VF sou stem! Daarmee sou Afrikaners ‘n klinkklare mandaat aan die VF gee om oor selfbeskikking te begin onderhandel, ook internasionaal.

Die probleem is nie die situasie of die oormag teen ons nie. Dis mense wat glo dat die huidige bedeling ‘n fait accompli is wat nooit gaan verander nie. Ons kán dit verander. As ons maar net wíl!

Leave a Comment

Filed under Briewe en polemieke

VF+ kan SA red van fundamentalisme

Die vlak van politieke debat in Suid-Afrika daal konstant as ’n mens na onlangse uitsprake oor mnr. Martin Bosma van die Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV), asook Henry Jeffreys se minagtende rubriek oor die VF+ (“Mulder waai rooi grondlap”, Beeld 23 Februarie) kyk.

Antisemitisme en die verguising van Israel is aanvaarbaar, maar die grondige kritiek wat die PVV teen Moslem-fundamentalisme uitgespreek het, blykbaar nie.

In die lig van ons onlangse geskiedenis waartydens die land deur ’n radikale Marxistiese kliek (die “com­rades”) oorgeneem is, is dit miskien nie so verbasend nie.

Lenin se doktrine van demokratiese sentralisme het liberale demokrasie as die heersende ideologie in ons land vervang.

Vandaar die kritiek wat Jeffreys teenoor dr. Pieter Mulder se tydige herinnering aan swart vestigingspatrone in Suid-Afrika rig.

Liberale demokrasie verdra per definisie meer as een standpunt of politieke benadering.

Soos wat Martin Bosma egter in sy skerpsinnige boek De Schijn-élite van die Valse Munters verduidelik, verteenwoordig multikulturalisme bloot die keersy van Islamitiese fundamentalisme. “Multikul”, soos hy dit gepas benoem, is ’n vorm van geloof en nie vatbaar vir rasionele argumente nie.

Jeffreys en ander wat vas glo dat daar “geen plek” vir ’n Afrikanerparty soos die VF+ in multikul-SA meer is nie, moet weer dink.

Nie net het swart mense geen aanspraak op die hele land se grond nie, maar verligte minderhede is ook siek en sat vir meerderheidsoorheersing en -tirannie.

Die Nederlanders Pim Fortuyn en Theo van Gogh is deur onverdraagsame multikullers vermoor. Tog leef Fortuyn se idees in Nederlandse politiek!

Daarvolgens behels die Nederlandse en Westerse identiteit ’n vermenging van die Europese verligting en Joods-Christelike waardes wat met aspekte van Islam onversoenbaar is.

Die inheemse Afrikanerminderheid in Suid-Afrika praat Afrikaans en is insgelyks onbeskaamd Westers. Indien Jeffreys, Malema en ander ons op grond daarvan verwerp, herinner ons hulle daaraan dat liberale demokrasie self ’n Westerse uitvindsel is en dat ons die land van mense soos Dingaan en Silkaats bevry het.

Sonder Romeins-Hollandse reg sou ons ekonomie tot stilstand kom en sou geen kontrakte of handel moontlik wees nie.

Die VF+ bedryf nie net ’n legitieme vorm van minderheidspolitiek in belang van Afrikaners en Afrikaans nie, maar kan die land ook van ’n verval in Afrosentriese diktatuur en Islamitiese fundamentalisme red.

Die VF+ verteenwoordig ’n vlammetjie van hoop in Suid-Afrika.

Oorspronklik as ‘n brief in die koerant Beeld gepubliseer op 25 Februarie 2012.

Leave a Comment

Filed under Briewe en polemieke

Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge – ná Martin Bosma se besoek

Een van die merkwaardige dinge wat die afgelope jaar of twee gebeur het, is die wyse waarop die Afrikanerproblematiek, selfs die Afrikanersaak, in die Nederlandse media as ‘n belangrike kwessie gevestig is. Dit het gebeur, grootliks danksy die Partij voor de Vrijheid van mnr. Geert Wilders en veral die party se skrywer en skakelman, mnr. Martin Bosma.

Die besoek van Martin Bosma vandeesweek aan Suid-Afrika het hier én in Nederland opslae gemaak. Oënskynlik is dit kwalik omstrede vir ‘n Nederlandse parlementslid om in ons land “vakansie te hou” en met ‘n paar Afrikaners te gesels, soos hy gedoen het. Die Naspersdagblaaie – sowel Die Burger as Beeld – het hul egter in ‘n hoofartikel skerp negatief oor Bosma se besoek uitgelaat. Heel waarskynlik is die gewraakte Naspershoofartikel deur dr. Leopold Scholtz, daardie fanatiese voorstander van neomarxistiese multikulturalisme, geskryf want hy is bekend om sy afkeer van die PVV en Bosma. Scholtz is so ‘n politieke boelie en gomtor dat hy hom al selfs in die openbaar onbeskof teenoor Bosma, ‘n galante en goedgemanierde Nederlander, gedra het.

Beeld en Die Burger gooi woorde soos respek en haat rond as daar gesê word: “Afrikaans kan kwalik respek van die meerderheid vra as sy vennote (die PVV) die minderheid in hul eie land haat. ” Maar “haat” die PVV die Moslem-minderheid in Nederland? Of is dit eerder radikale Moslems wat die Westerse kultuur haat? Immers het ek nog nooit verneem van Nederlandse Moslems wat teen PVV-kiesers beskerm moet word nie, maar Geert Wilders kan nie eens toilet toe gaan sonder vier gewapende wagte nie omdat daar ‘n Islamitiese vloek oor hom uitgespreek is.

Wat seker is, is dat Leopold Scholtz en Naspers die Afrikaner “haat”. Mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Naspers, het al gesê dat “die begrip Afrikaner aanstoot gee” en ons weet dat Max du Preez, Christie van der Westhuizen, Jakes Gerwel en ander meningsprekers van die mediagroep meen dat Afrikaners in Suid-Afrika moet verdwyn. Hetsy deur assimilasie, hetsy deur geweld… Daar is ‘n onderliggende strukturele geweld aan Naspers se standpunte wat vir my amper meer kommerwekkend as Julius Malema s’n is.

Beeld en Die Burger is eintlik handelaars in “stigma”. Om jou opponent te stigmatiseer, verteenwoodig heel dikwels die inhoud van hul denke oor politiek, taal en kultuur. Die “smet van rassisme” het aan Afrikaans gekleef en om een of ander onverklaarbare rede is daardie smerigheid nou “afgewas”. Hoe? Deur oorgawe en De Klerk se verraad? Of moontlik deur Afrikaans se nuwe, gewaande verbintenis met Islam? Want ons het vandeesweek gehoor dat “vele Afrikaanssprekendes ook Moslems” is. Al wat ‘n mens kan sê, is: Allah akbar! Noudat die NG Kerk die Belhar-belydenis aanvaar het, is ‘n buiging in die rigting van Mekka seker volgende op die lys.

Afrikaners is die afgelope dekades taamlik doelbewus verdeel om hulle gemaklik te kan verower. So pas het die ANC in Pretoria ook aangekondig dat die strate in die middestad vernoem gaan word omdat hulle “nie meer die demografie van die stad weerspieël nie”. Met ander woorde, Pretoria is verower en sal hernoem word om by die kultuur en die taal van die veroweraars aan te pas. Wat met Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein gaan gebeur, weet nugter, want hy is deesdae in ‘n demografiese “minderheid van een”, soos mevrou Margaret Thatcher sou gesê het.

Daarom bespeur ‘n mens ‘n nuwe breuklyn onder Afrikaners en in Afrikaans, tussen diegene wat bondgenote in “nie-Westerse Afrikaanssprekendes, veral Moslems” sien, en hulle wat liefs ‘n pad met Nederlanders of Vlaminge sou wou stap. Wat ook al die onmin van ‘n dekade of drie gelede tussen Nederlanders en Afrikaners, word ons verhouding kwalik deur koloniale of “wit skuld” teenoor ressentiment gekenmerk. Die lekker ding van ‘n gesprek tussen Nederlanders en Afrikaners is dat ons as natuurlike gelykes met mekaar praat, en dat so ‘n gesprek nie deur enige “meester-slaafdialektiek” (groete aan Hegel) beduiwel word nie.

Die Britse skrywer Oscar Wilde het opgemerk: “We have really everything in common with America nowadays, except, of course, language.” Iets wat ewer seer vir ons verhouding tot Nederland geld! Ons godsdiens, letterkunde, politieke kwessies en heelwat ander dinge is soortgelyk, behalwe dat ons ‘n gemeenskaplike taal nie dieselfde praat of skryf nie.

Een van Martin Bosma se uitsprake vandeesweek was juis dat Afrikaans nader aan hul standaardtaal, die sogenaamde “Algemeen Beschaafde Nederlands”, is as omtrent veertien dialekte wat in Nederland self gepraat word. Blykbaar bestaan daar 41 dialekte van Nederlands. As Afrikaans in sy graad van afwyking van Nederlands onder die 41 ingedeel moet word, sal sy in die 27ste posisie val.

Globalisering en die koms van die internet het egter daarvoor gesorg dat daar geen geografiese grense meer is nie, bloot taalgrense. En die “taalgrens” tussen Afrikaans en Nederlands, indien daar ooit so iets bestaan het, is ook al hoe meer besig om te vervaag soos wat mense op Facebook en via e-pos met mekaar kommunikeer en Nederlanders Afrikaanse webwerwe lees en andersom. Ek weet nie veel van Noors nie, behalwe dat daar twee standaardvorme daarvan bestaan: Bokmal en Ninorsk. Vanuit sewentiende-eeuse Nederlands het daar dus twee variante ontwikkel: Afrikaans en die ABN.

Nog ‘n nagevolg – ‘n wins sou ek sê – van Martin Bosma se besoek dié week is die feit dat die Nederlandse politiek skielik weer deel van die Afrikanerpolitiek geword het. Danksy die PVV en veral hom, is die Afrikanersaak reeds lankal deel van die Nederlandse politiek. Maar die debat rondom Pim Fortuyn, Geert Wilders, Islam en immigrasie, figureer nou skielik in die Afrikaanse media. Ons is nie meer blote voyeurs by die ANC se binnegevegte, asook Brittanje en Amerika se verkiesings of die manewales van die Britse koningsgesin nie. Goddank!

Vanjaar op 6 April gaan dit 360 jaar wees sedert Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Argumente van linkse Engelse, asook hul meelopers soos Max du Preez, dat ons nie “inheems” is nie, is eenvoudig absurd en suiwer op ras gegrond. As ons egter terugdink aan ons geskiedenis en die rede waarom die Kasteel in Kaapstad in die eerste plaas gebou moes word, dan gaan dit om ‘n langdurige oorlog met Brittanje. Sedert die 1600s, moes onsself voortdurend teen die aanslag vanuit die Britse Ryk verweer. Noudat ons alles, ons land, ons stede, ons skole en universiteite, binnekort selfs ons grond, verloor het, hou die Engelse aanslag steeds nie op nie.

Die Naspersdagblaaie se finale argument teen ons bondgenoot, die Partij voor de Vrijheid, verteenwoordig juis ‘n appèl op Britse gesag: “Wilders en sy party is só berug dat die Britse regering hom in ’n stadium belet het om die land te besoek.” Ek weet nie of Die Burger en Beeld daarvan bewus is nie, maar dié twee koerante is besig om ‘n soort Super-SAP-status te bekom en streef die standaarde wat onder Jan Smuts gestel is ver verby. As ‘n persoon of party vir Brittanje onaanvaarbaar is, moet Afrikaners hom ook as ‘n uitgeworpene behandel! Binnekort gaan die Naspersredakteurs seker uit hul kantore hardloop om die naaste konsentrasiekampkerkhof te gaan skend, want sulke plekke vereer mos nie eintlik Moedertjie Engeland nie.

Niks verhoed ons vandag om die nabye vrienskapsverhouding wat daar in die negentiende eeu tussen die Boererepublieke en Nederland geheers het, te herstel nie. In sowel Nederland as Vlaandere is daar steeds vele strate en buurte met Afrikanername. Trouens, binnekort gaan daar meer Afrikaanse straatname in die Lae Lande wees as in Suid-Afrika! Dink daaraan. Die ANC het reeds meer as een openbare Afrikaanse boekversameling verwoes. Indien ons huidige oorlewingstryd faal, sal Afrikaans en ons hele kultuur van 360 jaar as ‘n soort museumstuk in die Nederlandse taalgebied gekoester word. In Londen, waar die standbeeld van Nelson Mandela staan, sal daar sekerlik geen traan oor ons heengaan gestort word nie. Inteendeel, daar sal eerder gejuig word.

Maar indien Nederland teen 2050 ‘n Moslemland raak en Nederlanders, soos Afrikaners in Suid-Afrika, ‘n “magtelose minderheid” in eie land word, sal die kanse op die oorlewing van Afrikaans én Nederlands soveel skraler wees. Trouens, behalwe die Afrikaanse poësie wat Martin Bosma in die Tweede Kamer, die Nederlandse parlement, openlik lees, is hy ook ‘n ywerige leser van N.P. Van Wyk Louw, veral sy politieke en filosofiese opstelle. Die term “magtelose minderheid” kom daarin voor.

Afrikaners, die weeskinders van die Weste, wat deur die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Swede en ander moondhede verwerp is ten gunste van ‘n radikale, pro-Moslem-, pro-Palestynse, pro-Chinese terreurgroep, die ANC, het ironies genoeg die “kanarie in die steenkoolmyn” vir die hele Westerse beskawing geword. Die feit dat ons, asook ons taal en kultuur, besig is om te sterf onder die aanslag van ‘n nie-Westerse meerderheid, voorspel niks goeds vir die voortbestaan van die Westerse beskawing as sodanig nie. Soos Patrick Buchanan, daardie formidabele konserwatiewe Amerikaanse denker, ook in sy meer onlangse boeke voorspel, lê “die dood van die Weste” voor die deur. Ons is egter eerste op die lys, die eerste Westerse volk om in die moderne tyd onder te gaan.

Ek is al siek en sat vir die alewige gesanik oor rassisme, asof dit die enigste politieke begrip is wat daar sedert Plato of Aristoteles in die wêreld uitgedink is. ‘n Groter wedersydse betrokkenheid tussen Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge sal ook die Afrikaanse politieke debat uit die moeras waarin dit tans verkeer, red.

Daar was ‘n tyd toe vele streng Calvinistiese Afrikaners gedink het God het ons aan die suidpunt van Afrika geplaas om die swartmense te kersten en Sy lig, tesame met die Westerse beskawing, hier uit te dra. Ek dink ons moet erken dat Suid-Afrika in die onlangse tyd in so ‘n barbaarse, heidense toestand verval het dat selfs menslike offerandes ons nie meer sal skok nie. In elk geval bring ons elke dag reeds soveel menslike offerandes aan die Afrodemokrasie, aan Mammon en ander gode dat ons menselewens ewe waardeloos ag as die barbaarse opperhoofde van weleer. Of selfs die dienaars van Baäl in ou Carthago waar eersgeborene babas lewendig verbrand is.

Indien die Afrikaner wel oor ‘n roeping beskik, is dit moontlik om Nederland en die res van die Weste te waarsku oor die fatale proses van aftakeling wat hier by ons in die naam van multikulturele demokrasie aan die gang is. In ons land is daar “oorgrensparke” waar die wild vrylik mag rondloop. Maar ons het oorgrensdebatte méér nodig.

Die wedersydse betrokkenheid van Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge by mekaar moet dus sover moontlik gestimuleer en uitgebrei word.

Die een goeie ding wat Beeld vandeesweek gedoen het, is om ‘n brief ter verdediging van Martin Bosma – in die oorspronklike Nederlands – in die koerant te publiseer. Selfs in die koue transformasiehart van Naspers is daar dus tog hier en daar ‘n sweem van agting vir die oop gesprek en om darem die ander kant van die saak ook te laat hoor.

Hierdie kan ‘n groot avontuur word. Soos Skoppensboer al grappenderwys op die Praagwebwerf voorgestel het, kan ons ons soos die Nederlandse Antille, onder die heerskappy van die Nederlandse kroon plaas! Ons sal steeds onafhanklik wees, maar die euro en die beskerming van NAVO geniet. Die ANC van weleer het in Brittanje sy vernaamste bondgenoot gevind en uiteindelik ‘n Afro-Saksiese identiteit en Engels as enigste amptelike taal aangeneem. In ons stryd figureer Nederland reeds hoog op die lys van potensiële bondgenote en praat en skryf ons reeds ‘n vorm van Nederlands waarvoor daar in die Lae Lande, selfs onder linkses, groot waardering bestaan.

Maar in ons gemeenskaplike stryd kan daar dalk tussen ons, Nederland en Vlaandere, ‘n breër soort “Wes-Germaanse” identiteit, met sy sentrum in die Lae Lande en sy antipode in ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat in Afrika, ontstaan. Ons gemeenskaplike mark is een van 25 tot 30 miljoen mense waarbinne goedere, kultuur en taal – maar veral idees – vrylik mag sirkuleer.

Soos wat Afrosentriese Suid-Afrika ons en ons taal toenemend verwerp, kan ons deel word van ‘n nuwe entiteit wat op gelyke vennootskap en nie op die huidige uitbuiting deur die ANC-belastinggaarder berus nie.

Leave a Comment

Filed under Rubrieke

Die Franz Jooste-herrie in die Mail & Guardian skaad ons Afrikanerbeeld

Ek het nie ‘n beswaar teen die opleiding wat Franz Jooste aan jongelinge verskaf  nie, want sekerlik is vele Afrikanergemeenskappe vandag blootgestel aan geweldsmisdaad wat aan etniese suiwering en volksmoord grens.

Aan die ander kant begeef Franz Jooste hom hier op die politieke en biologiese terrein en maak uitsprake oor ras, rassisme en breingrootte wat deur die liberale joernaliste gebruik word om die opleiding en die hele gedagte van weerbaarheid te diskrediteer as die werk van “‘n klomp verregse ekstremiste”.

As Jooste homself as ‘n offisier in ‘n Afrikanervolksweermag beskou, behoort hy aan burgerlike gesag onderworpe te wees wat beleid oor sulke uitsprake, kommuniksie met die media, ens., moet bepaal. Anders word ons beeld as Afrikaners weereens deur die vyandelike media – sowel binnelands as buitelands – afgekraak.

Hoe gouer ons dus ‘n geloofwaardige Afrikanerraad byeen kan bring wat breë beleid, asook ons standpunt oor geweld, weerbaardheid, rassisme en dergelike meer, kan stel, hoe beter. Om op kamera jouself as “rassis” te verklaar, selfs al word dit gekwalifiseerd en as provokasie bedoel, is eenvoudig om in die hande van ons vyande te speel.

Ons is die slagoffers van wreedheid en rassisme – nie andersom nie.

 

2 Comments

Filed under Briewe en polemieke

Kom ons trek laer rondom Pieter Mulder

Soos ek in my vorige rubriek te kenne gegee het, het daar begin Februarie iets ongeloofliks gebeur, toe genl. Johan van der Merwe die Belhar-belydenis se voorstanders met die waarheid oor die terreuraanslag teen Suid-Afrika in die tagtigerjare gekonfronteer het. Kort op die hakke daarvan, kom vandeesweek se verklaring deur dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus dat swartes in die verlede nooit die hele Suid-Afrika bewoon het nie.

Praag.co.za het reeds Donderdag Mulder se hele toespraak gepubliseer, maar die gewraakte sinne waaroor Zuma, asook Zille se DA en vandag Mondli Makhanya van die Sunday Times histeries raak, is die volgende:

“‘Africans in particular’ het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.”

Volgens Makhanya het Mulder hiermee “‘n kru vorm van apartheidsontkenning gepleeg… Hy het ‘n skerp mes in die maag van swart Suid-Afrikaners gesteek en een van hul mees pynlike oomblikke weggesmyt.” Die Sunday Times het ook in gemengde Engels en Afrikaans vir Pieter Mulder tot “mamparra van die week” verklaar.

Oor die afgelope tyd het die Vryheidsfront en veral dr. Pieter Mulder heelwat kritiek verduur weens sy adjunkministerspos in die ANC-kabinet, asook die swak vertoning van die party tydens die munisipale verkiesing verlede jaar. Feit is egter dat daar nou belangriker kwessies op die spel is en dat dit tyd is vir die Afrikaner om vir sy regte, sy geskiedenis, sy taal en sy voortbestaan op te staan.

Dit het tyd geword om die ou Latynse spreuk te volg: unus pro omnibus, omnes pro uno, “een vir almal en almal vir een”, wat deur Alexandre Dumas in sy boek, Die drie musketiers, beroemd gemaak is.

Pieter Mulder het, nes Johan van der Merwe, gepoog om die waarheid oor ons geskiedenis te praat en daarvoor word hy nou baie sterk aangeval. Want ons weet dat die ANC hierdie land met propaganda en leuens verower het en daarom is die party en sy lakeie besonder sensitief vir enige idees wat dalk ‘n alternatiewe siening van ons geskiedenis en politiek mag skep.

Die goddelike reg van die swartman op grond, wat “van hom deur die blanke gesteel is”, is deur sowel die ANC as Naspers en die DA oor die afgelope dekade uitgebasuin. Die besonderhede en feite van ons geskiedenis is eenvoudig verontagsaam en vertrap ter wille van hierdie Marxistiese weergawe van die Suid-Afrikaanse verlede.

Ons weet dat die ANC en die SAKP – ook daardie kommunistiese mummie, Jeremy Cronin, het vandeesweek oor blanke wreedhede gefulmineer – “die geskiedenis as ‘n terrein van stryd” beskou. Soos George Orwell gesê het, “Hy wat die hede beheer, beheer die verlede. Hy wat die verlede beheer, beheer die toekoms.”

Daarom is die stryd oor ons geskiedenis wat die afgelope weke deur Johan van der Merwe en nou deur Pieter Mulder ontketen is, van die uiterste belang. Vir Mulder het dit moed geverg om man-alleen in die parlement op te staan en die Bantoesprekers daaraan te herinner dat hulle nooit in die verlede die hele land beset het nie. Trouens, selfs ‘n stad soos Johannesburg het tot voor die tweede wêreldoorlog ‘n blanke meerderheid gehad en is slegs deur immigrasie tot vandag se Afrika-toestand verander.

Die Engelse intellektuele met hul voorliefde vir die Marxisme het jare lank die argument gevoer dat ons Afrikaners die swartes uitgebuit, mishandel en as’t ware van hul grond verdryf het. Vandaar die mite dat Suid-Afrika eers ‘n “swart land” was wat deur ons, die blanke setlaars, “gesteel is”. Ook Jeremy Cronin se uitspraak vandeesweek in reaksie op Mulder getuig van die gebruik van emosionele propaganda. Cronin, wat adjunkminister van vervoer is, het gesê:

“Hy ondergrawe sy argument geheel en al wanneer hy hierdie verskriklike koloniale mite inbring dat die land leeg was toe die koloniste aangekom het. Hy sê aan ons dat ons die Voortrekkerdagboeke moet lees. Maar ek het die Voortrekkerdagboeke gelees. In daardie dagboeke spog hulle oor hoe hulle inheemse mense gejag het asof hulle blote ongediertes was.”

Cronin verwys na “koloniale mites”. Maar wat van kommunistiese mites? Sedert die sestigerjare, maar selfs daarvoor, het Marxistiese akademici en historici in dié land ‘n uiters eensydige, leuenagtige weergawe van ons geskiedenis gefabriseer. Cronin en sy geesgenote van die SAKP  het aangesluit by Philip en Van der Kemp om Twee eeue van onreg deur Engelse vir ons te skep. Die joernaliste en rubriekskrywers van Naspers het dit alles vir soetkoek opgeëet en vir die afgelope dekade of twee in ons kele afgedruk.

Die kritici van Israel praat van die “apartheidsmuur” wat in daardie land teen Palestynse terreuraanvalle gebou is. Maar ‘n nuwe “apartheidsmuur”, baie soortgelyk aan die Berlynse muur, het sedert 1994 in ons land verrys. Dis ‘n muur wat steen vir steen met kommunistiese mites aanmekaar gevysel is. Soos ek al soveel kere vantevore gesê het, is die Berlynse muur nog nooit in ons land afgebreek nie, want kommunisme word steeds as ‘n hoogs morele stelsel en wêrelbeskouing geag.

Die tyd het aangebreek om daardie “apartheidsmuur” waarmee ons as setlaars in ons eie land uitgebeeld word, finaal te bestorm. Nie met klippe en brandende motorbande soos die gepeupel in hierdie land maak nie, maar met woorde, feite en skerpsinnige formulerings soos Pieter Mulder enkele dae gelede in die parlement gedoen het.

Soos die vyand met sy oordrewe reaksie getoon het, gaan die stryd egter taai wees. Ons sal spanne mense moet vorm om bepaalde aspekte van ons geskiedenis na te vors, veral wat grondbesit betref. Gelukkig is die biblioteke vol Afrikaanse boeke en proefskrifte wat ons voorouers geskryf het omdat hulle versiende genoeg was om te weet dat die Afrikaner se plek in Suid-Afrika geensins ‘n gegewe is nie, maar iets wat net deur stryd en harde werk verwerf kan word.

PRAAG is uniek geplaas om die voortou in hierdie anti-kommunistiese veldtog te neem. Ons beskik oor van die beste polemiese rubriekskrywers in die land. Ons moet onmiddellik met ‘n veldtog begin om die bres wat dr. Pieter Mulder geslaan het verder te vergroot, sommer ‘n gat in die muur van apartheidspropaganda uit te kap. Ons moet dit op die Praagwebblad iin Afrikaans doen,  en van daar af via Twitter en Facebook versprei ten einde ons eie mense in te lig.

Maar ons moet ook briewe, artikels en mediaverklarings aan al die media in die land en selfs in die buiteland rig. Dit sal georganiseerd gedoen moet word en die Vryheidsfront Plus, Afrikanerbond, Afrikanerfront, asook elke moontlike Afrikaanse organisasie wat enigiets beteken of oor talentvolle mense beskik, sal moet meedoen hieraan. Oor die radiostasies en op TV moet ons dit met oortuiging en drif herhaal: Hierdie land is ons s’n en ons verwerp die Marxistiese mite dat ons “setlaars” sou wees. Elke erf en elke plaas, behalwe in die tradisionele of tuislandgebiede, beskik oor sy kaart en transport. Die bewyslas behoort te rus op die ANC en SAKP, asook die joernaliste van Naspers, Avusa en die ander mediagroepe wat so graag eiendomsreg in dié land verdag maak, om aan te toon waar en wanneer elke plaas of erf aan ‘n “inheemse” swartman behoort het, waar hy vandaan gekom het, watse paspoort of ID-dokument hy gehad het, en so meer.

Net so moet daar aan ons bewys word waarom kommunistiese Engelse soos Cronin hulself “inheems” ag en namens die “inheemses” mag praat, en waarom Engels en Zoeloe of Xhosa “inheems tale” is, maar Afrikaans nie.

Die ANC is ‘n party en ‘n organisasie wat homself gewoonlik in die  taal van stryd en oorlog uitdruk. In die verlede het hy gereeld oorlogsverklarings aan Suid-Afrika en aan die Afrikaner se adres gerig. Nêrens waar ek van weet, het hy al ooit sulke oorlogsverklarings teruggetrek nie. Net soos wat geen ANC-minister hom nog ooit teen plaasmoorde uitgespreek het nie. Daar is mos so iets soos “stilswyende goedkeuring”. Die huidige propagandastryd rondom grondbesit en eiendomsreg in ons land verteenwoordig bloot ‘n voortsetting van daardie oorlog. Pleks van ‘n oorlog met wapens of terreuraanslae soos die Kerkstraatbom, gaan dit nou om ‘n inligtingsoorlog of, om die ANC se term te gebruik, die “ideologiese stryd”.

Die eerste skote in daardie stryd het lankal geklap. Tans is ons oorlewing op meer as een manier op die spel. Laat president Jacob Zuma naderhand huil vir sy masjiengeweer. Want anders as wat Breyten Breytenbach destyds in sy gedig geskryf het, is dit:

Nie met die masjiengeweer nie, maar met die pen.

Unus pro omnibus, omnes pro uno!

2 Comments

Filed under Rubrieke

Freud en Lacan op Facebook

Op Dana Snyman se Facebook-blad het ek ‘n klomp kenners van die Franse psigoanalise raakgeloop en ons filosofeer nou naarstiglik oor Freud en Lacan. Hier is ‘n uittreksel:

Nou ja, Fransi Phillips, lyk my hier is ‘n klomp mense wat reken hulle is baie slimmer as ons wat darem so ‘n bietjie filosofie en logika agter die blad het. Ek is glo “bloedneus” gegee deur Dana Snymanwat sê hy wil nie met my redeneer nie, eerder koffie drink en gesels. Miskien is ek maar net dom, maar ek verstaan nie die verband tussen iets wat oënskynlik ‘n uitnodiging tot “gesels” is en ‘n boksgeveg nie. Of is my semantiek nou effens uit die mode en het ons hier met Dadaïste te doen? Aanhangers van Tristan Tzara of dalk ‘n verdwaalde surrealis of twee wat André Breton ernstig opgeneem het toe hy gesê het: “Die suiwerste surrealistiese daad is om met ‘n gelaaide pistool in ‘n skare in te loop en lukraak op almal te begin skiet.” Dan is hier mense wat praat van van ‘n “Suid-Afrikaanse” probleem. Maar is “Suid-Afrika” nie ‘n essensialistiese begrrip nie? Ek neem aan almal hier is ywerige lesers van die Nasperskoerante waarvoor Dana ewe ywerig skryf en het dus reeds die onderliggende kulturele Marxisme van Die Burger en Beeld aanvaar. Soos dit in die WVK-verslag ook deur Charles Villa-Vicencio in navolging van Adorno geargumenteer is, is enige appèl op orde of selfs om jou uit te spreek teen misdaad ‘n vorm van regse fascisme, selfs nazisme. Ek vergeet nou wie dit was, maar een of ander Brit het oor Sophiatown se misdaad destyds geargumenteer dat die misdadigers, die tsoti’s soos hulle destyds genoem is, eintlik vryheidsvegters was en weerstand teen die blanke, patriargale orde gebied het.

Maar oorspronklik het Dana mos na Freud en Lacan verwys n.a.v. my Twitter-boodskap. Nou is ek nie seker of ek Lacan in Frans mag aanhaal nie, maar gegewe die baie hoë IK’s wat hier skryf, is Frans, Duits en selfs Latyn of ou-Grieks seker geen probleem nie. Dus: Le père est d’une réalité sacrée en elle-même, plus spirituelle qu’aucune autre, puisqu’en somme rien dans la réalité vécue n’en indique à proprement parler la fonction, la présence, la dominance. Comment la vérité du père, comment cette vérité que Freud appelle lui-même spirituelle, vient-elle à être promue au premier plan ? La chose n’est pensable que par le biais de ce drame an-historique, inscrit jusque dans la chair des hommes à l’origine de toute histoire – la mort, le meurtre du père. Mythe bien évidemment, mythe très mystérieux, impossible à éviter dans la cohérence de la pensée de Freud — il y a quelque chose de voilé. (P. 244 ; 2 mai 1956.)
Interessante formulering hierbo, wat die superbreine seker op ‘n veel hoër vlak as ek begryp, maar in my erbarmlike idiotisme is ek darem net-net in staat om dit vir myself in Afrikaans te vertaal, die sin wat lui: Hoe het dit gebeur dat die waarheid van die vader, daardie waarheid wat Freud self geestelik genoem het, tot die voorgrond bevorder is? Die ding kan slegs bedink word by wyse van hierdie an-historiese drama (ramp) wat tot in die vlees van mense sedert die begin van alle geskiedenis geskryf is – die dood, die moord op die vader. Kennelik ‘n mite, ‘n baie geheimsinnige mite, wat onmoontlik binne die samehang van Freud se denke vermy kan word – daar is iets wat versluier is.

Nou ja, dis seker nie algemene kennis nie, maar ek het mos filosofie aan dieselfde taamlik linkse, eertyds Maoïstiese kampus, die fameuse Université de Paris VIII (Vincennes-Saint Dénis) gestudeer by sulke ander idiote soos Gilles Deleuze en Jean-François Lyotard. Dat hulle sedert hulle afsterwe en selfs daarvoor wêreldberoemd geraak het, veral op Amerikaanse kampusse, beteken seker nie veel nie, want ons weet mos die oud-NP’s van Stalinbos wat in Die Burger skryf is jou eintlike witwarm intellektuele voorhoede van die Westerse wêreld. Hoewel, Westerse wêreld is seker ‘n rassistiese begrip, dus kan ons dit sommer die globale wêreld of die globus noem. En dis nou geen toespeling op Peter Sloterdijk se werkie van 2000 bladsye auf Deutsch met die titel Sphären nie.

Maar terug by Lacan en die fascistiese, dus “regse” vaderbegrip:  Hy het ook by Parys VIII klas gegee en op ‘n stadium het die Maoïstiese studente by sy klas ingebars, dit ontwrig en van die vrouestudente het hul bostukke uitgetrek en met naakte borste allerlei dinge vir hom geskree. Dit was nou in die nadraai van die fameuse studente-opstand van Mei 1968 waaroor André Brink mos geskryf het in Parys-Parys Retoer. Die liewe André was eintlik voor op die barrikades teen die Franse polisie, soos hy dit beskryf, maar as jy nou vir Breyten Breytenbach kan glo, het hy blykbaar heel dag en nag in dié se woonstel weggekruip. Iemand sal die waarheid ‘n bietjie moet gaan navors. Ewenwel, Lacan sê toe vir die Maoïstiese studente: “U is op soek na ‘n vader en u sal een kry!” Dit was ‘n bedekte manier om vir hulle te sê: “Een of ander tyd gaan julle aan gesag onderwerp word.” Want soos Freud en Lacan se teorie lui, kom gesag van die vader.

Die probleme in SA is velerlei. Die Amerikaanse romanskrywer Donald Barthelme het mos ‘n boek geskryf met die titel “The dead father”. Lesers van my lang vergete jeugpublikasie, Sonneskyn en Chevrolet, sal seker onthou dat ek hom destyds iewers daarin aangehaal het. Asook Lacan en ‘n paar ander. Die problematiek van die dooie vader is wat ons tans teister. Ook Pim Fortuyn, wat Leopold Scholtz van Die Burger seker as “verregs” sal tipeer, het iets daaroor geskryf en beweer dat die Nederlandse en die Westerse samelewing ná die sestigerjare “verwese” of wees gelaat is, by gebrek aan enige vaders, dus verantwoordelike gesagsfigure. Tot sover vir kinders.

Nee wat, Fransi Phillips, ek is nie depro soos my kinders sê nie, want ek bly agter ‘n hoë muur en gaan nie saans uit nie en jy is redelik veilig daar in die yskoue Rusland. Maar dit lyk my ek moet Soweto toe gaan vir ‘n opvoeding as die Blou Bulle weer daar speel. Soweto klink egter vir my na ‘n flou skynsel van Sophiatown waar die Afrika-renaissance plaasgevind het en wat vir ons deur Nadine Gordimer en Anthony Sampson beskryf is. En dan het Marlene van Niekerk, nog ‘n eksegeet van die Sophiatown-renaissance wat uiteraard die Italiaanse renaissance ver in die skadu gestel het, so ‘n paar jaar gelede by Wits in die mikrofoon gesê: “Daar moet bloed wees.” Dit was ‘n taamlik vreemde verklaring om te maak, maar miskien het dit iets met my verstandelike gestremdheid te doen waaroor al die slime mense my hier spot. Ek het egter aangeneem sy het verwys na die soort menslike offerandes wat ons elke dag aan “demokrasie” in hierdie land bring, ons sekulêre godsdiens. Wat miskien binnekort nie meer so sekulêr gaan wees as Madiba doodgaan en hy finaal die plek van Jesus Christus gaan inneem nie, met die Belhar-belydenis wat so ‘n bietjie die weg berei op “die god wat kom”. Laasgenoemde synde nou ook ‘n vae verwysing na Manfred Frank se filosofiese studie oor Hölderlin, Der kommende Gott.

By daardie selfde konferensie by Wits waar die bloeddorstige Marlene met ‘n wilde kyk in haar oë ‘n pleidooi vir bloed gelewer het, het haar Franse vertaler, ‘n Engelse Kapenaar wat blykbaar al jare lank in Parys woon, egter die finale kritiek teen die Afrikanerdom gelewer. Afrikaners, volgens hom, beskik oor “te veel sfinkterspiere”. Miskien is dit nog ‘n definisie van rassisme, om ‘n “sfinkterspier” te hê. Deesdae op Durban se strande gaan dit blykbaar taamlik sfinkterloos. Ek is nou nie besig om Breyten Breytenbach se gevleuelde woorde uit 1973 te herhaal nie toe hy gesê het: “Selfs kak is ‘n intellektuele begrip.” Nee, allermins gaan dit om die skatologiese. Meer oor die status van die oerbetekenaar. En Dana en sy medekenners van Lacan sal nou onmiddellik snap wat ek bedoel. De Saussure, soos ons almal weet, is in Afrikaans vertaal; ek het selfs ‘n Afrikaanse eksemplaar van sy beroemde werk oor die strukturele taalkunde waarin die betekenaar en die betekende ter sprake kom. Die fameuse signifiant en signifié waarmee ons as eerstejaars gekonfronteer is. Wel, die slim mense het dit al op hoërskool behandel, maar in ons spesiale klas vir verstandelik gestremdes het dit nog nie op skool gefigureer nie. Fransi, jy sal onthou dat ons destyds van die skisorevolusie gepraat het, waarmee die oorstroming van die betekenisorde, die opheffing van die verskil tussen sin en waansin, die bevryding van begeerte, ens., bedoel word. Dit was die apoteose van die denke van die sogenaamde agt-en-sestigers, die soixante-huitards. In Suid-Afrika is ek egter bevrees, beleef ons geen skisorevolusie nie, maar eerder ‘n verval in sadisme. Daar is slegs twee boeke wat ons in hierdie land hoef te lees – dit maak dit soveel makliker vir die nie-lesers, sou ek sê. Benewens die Bybel, die 120 dae van Sodom deur die Markies de Sade, asook Venus im Pelz, deur Leopold von Sacher-Masoch. Vir die heersers is daar geen reëls nie, ook nie vir die kriminele nie. Trouens, Romeins-Hollandse reg is, soos vele van ons nuwe regters al gesuggereer het, ‘n stuk kolonialisme waarvan ons so gou moontlik ontslae moet raak. Moord en verkragting is net misdade as jy dit vanuit ‘n wit – en haas ek my om by te voeg – rassistiese perspektief sien. Die moordenaar, nee, die vryheidsvegter, die bevryder, die kunstenaar met bloed à la Marlène van Niekerk, handel volgens die natuurwette wat bepaal dat die sterkere oor die swakkere heers en met hom kan maak wat hy wil. Suid-Afrika is een groot sadistiese kasteel en ons het die eer om slagoffers vir die “diere van die demokrasie” te wees. (Het jy geweet Lucebert, die Nederlandse Vijftiger-digter, het ‘n digbundel met daardie titel, “Die dieren der demokratie” geskryf? Oulike titel, so ook “Val voor vliegengod”, nog ‘n bundel van hom.) Die Afrikaner – en dis presies wat Beeld en Die Burger aan ons voorhou – moet hom bekwaam in die kuns van onderwerping. Vandaar Sacher-Masoch, aan wie die begrip “masochisme” natuurlik ontleen is.

Nee, Annelise, ek is glad nie slim nie, hoor. Jy sal telkens in die Naspers, Naspes, Nazi-pers, hoor hoe dom ek eintlik is. Ek sukkel baie om Suid-Afrika te verstaan, daarom het ek hier en daar behoefte aan ‘n handleiding of twee soos Freud of die Markies de Sade of Sacher-Masoch. Trouens, jy kan Venus im Pelz verniet op amazon.com gaan aflaai. Dis hoe min waarde dit het. Maar ek kan sien jy vind my enkele verwysings na ‘n paar Europese boeke, soos jy sê, “walglik”. Dis maar waaroor mense in Parys en elders praat as hulle bietjie kuier. Maar Mbeki het mos gesê die Europeërs is eintlik barbare wat deur die Afrikane beskaaf is. Ek meen Max du Preez sê ook so iets in sy boek Dwars. Hulle noem dit “Afrosentrisme”, die gedagte dat Europa sy kultuur by Afrika “gesteel” het, net soos ons hul grond gesteel het en hul kennis, wetenskap en tegnologie, sommer alles. So, moenie bekommer nie, synde in Afrika gebore, is jy vanself gekultiveerd en die res is sommer ‘n klomp twak waaraan jy jou nie hoef te steur nie. Die beste ding wat die ANC nog gedoen het, was toe hulle kort ná 1994 al die musiekinstrumente by die skole gekonfiskeer en die musiekonderwyseresse afgedank het. Vergeet van klassieke musiek, opera en sulke pretensieuse, eurosentriese poef, om nou jou gevleuelde term te gebruik. Ons moet terugkeer na die natuur en dis natuurlik presies wat die Markies de Sade in sy boeke voorstaan.

Jackie Verwoed, sjoe ja, IK. Maar as jy nou so daaraan dink, IK is mos oorerflik, dus kan ek nie help dat ek dom ouers gehad het wat hul moroniese gene aan my oorgedra het nie, nie waar nie? Of word IK bepaal deur die omgewing? En die feit dat ek in Johannesburg grootgeword, by Helpmekaar skoolgegaan en by Wits gestudeer het, het my dalk so hopeloos verdom? En ook dít is nie my skuld nie. Dus kan jy my nie vir my lae IK blameer nie, is ek bevrees. Of dit nou “nature” of “nurture” is, ‘n mens kies nie hoe slim jy gaan wees nie… Aan die ander kant, die begrip van “geen IK” is dalk bietjie radikaal. Selfs ‘n hond of ‘n kat het IK. En ‘n sjimpansee heelwat meer. So waar plaas jy my regtig op die intelligensiekurwe? Darem nie heeltemal op nul nie? Ek kan darem sonder bystand my klere aantrek en eet, hoor. Selfs fietsry. En min of meer normaal funksioneer sonder dat ek na ‘n instelling met spesiale sorg verwys hoef te word. Jy sal my nou nie glo nie, maar ek is selfs in staat om ‘n rekenaar uitmekaar te haal. Nogal met ‘n skroewedraaier. Probeer jou hond of jou kat dit leer. Ek het nou nog nie van sjimpansees gehoor wat hul rekenaars opgradeer en nuwe hardeskywe installeer en formatteer en dan Windows daarop plaas nie, maar dis seker moontlik.

Ja, wel, Fransi, ek het nog nie eers by ontkenning uitgekom nie – en daar is nou vir jou ‘n werklik Freudiaanse begrip. Want hoe meer mense eintlik ontken, hoe meer beaam hulle paradoksaal genoeg die teenoorgestelde. Dis waarom diegene wat ander so gereeld van “rassisme” beskuldig, eintlik heimlik skuldig voel omdat hulle sulke verborge rassistiese gevoelens koester, hul kinders na hoofsaaklik blanke skole toe stuur, in hoofsaaklik blanke buurte woon, ens. Daar is studies in die VSA wat toon dat meer as 90% van liberale joernaliste wat byna daagliks teen rassisme uitvaar, in suiwer blanke woonbuurte woon en hul kinders na elite, blanke skole toe stuur. Hierdie mense sal my net van hul goeie trou oortuig as hulle kan bewys dat hulle reeds in ‘n lokasie woon en hul kinders na ‘n lokasieskool toe stuur, asook staatshospitale besoek. Het jy al gedink hoe rassisties dit is om na privaatklinieke toe te gaan net omdat daar nog wit personeel oor is? Gelukkig gaan die minister van gesondheid binnekort van daardie euwel ontslae raak.

2 Comments

Filed under Briewe en polemieke