Jan-Jansalie Joubert ondersteun ‘grondhervorming’

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Maandag 29 Junie 2009 2:27 am

 Powered by Max Banner Ads 

Jan-Jansalie Joubert van Rapport raak al weer ‘n aantal wyshede kwyt wat ons arme boere moet oorreed om benewens hul stryd om voort te bestaan nog die ANC se grondbeleid vir hom moet help deurvoer, anders gaan hulle dalk gezim word.

Ek het sommer op Rapport se woernaalruimte vir hom die volgende boodskap gelaat:

Nog twak oor landbou, 28/06/2009, Dan Roodt
Jan-Jan Joubert is verreweg die swakste rubriekskrywer in die land. Hier herhaal hy alweer ‘n klompie linkse clich233;’s oor “grondhervorming” wat op niks gebaseer is nie. Waarom spesifiek 30%? Hoekom nie 5% of 70% nie? Die Landbouweekblad het bevind dat meer as 40% van landbougrond reeds aan swartes behoort as die tuislande en staatsgrond ingereken word.
Selfs linkse groepe deins al terug van “grondhervorming” , maar nie Jan-Jan Joubert nie. As die Franse revolusie tot “groter stabiliteit” aanleiding gegee het, dan was Rwanda 1994 seker ‘n voorbeeld van vreedsame naasbestaan. Nog die ANC nog Jan-Jan Joubert is oor voedselveiligheid begaan en dink suiwer ideologies oor grondbesit.

Hierop spring ‘n Jan-Jan-ondersteuner, ene Hugo Geldenhuys in en meen boere moet as “mentors” vir sogenaamde “opkomende boere” optree en sodoende die Dinokeng-beginsel van “Werk saaam” respekteer:

Vennootskappe vir suksesvolle grondhervorming, 28/06/2009, Hugo Geldenhuys
Die regering se doelwit vir 2014 is dat 30% van bewerkbare (Hoor jy Roodt, BEWERKBARE!!!!!), grond aan mense moet behoort, wat vantevore van grond beroof en toe van eienaarskap daarvan uitgesluit is en gevolglik “grondhonger” en -aggresief gebly het.
Nou, dit – die 30% teen 2014 – is nie moontlik nie en Trevor Manuel se begroting voorsien dit ook nie.
Die regering hoop dat ‘n alternatiewe metode, as fisiese grondbesit, ontwerp sal word om die aspirasies van die “grondhongeres” te bevredig.
As bestaande kommersiele boere en die strukture van nuwe boere hul vingers uit wat ookal trek en besef dat vennootskappe die enigste haalbare metode van grondhervorming en landboubemagtiging van die “grondloses” is, sal die onvermydelike grondgryp, wat nie meer ver is nie, verhoed word.
Die antwoord le in die volgende scenario: Kommersiele boere en aspirantboere sluit vennootskappe gegrond op mentorskap.
Die aspirantboer werk onder toesig by die bestaande boer en word in holistiese vaardighede opgelei.
Onder mentorskap van die bestaande boer bekom die nuwe boer produksie-ondervinding.
Na ‘n intensiewe mentoropleidingsprogram van 2 jaar, waarin omvattende produksie- en algemene landboubestuurskursusse met prakties werk afgewissel is, bekom die nuwe boer 20%, of soos voorheen ooreengekom, eienaarskap van die bestaande, volhobare boerdery.
Die tradisionele en nuwe boere word deel van bree basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en as sulks word die tradisionele boer nooit weer aan die eise van grondhervorming blootgestel nie.
Gaandeweg verkry nuwe boere eienaarskap van winsgewende eenhede.
As kompensasie vir die deelnemende tradisionnele boer, word onbenutte staatsgronde by bestaande produksie-eenhede (plase) gevoeg.
In die Wes-Kaap word die scenario van grondhervorming nagejaag en as dit slaag sal dit die verlore skakel wees wat Suid-Afrika van ‘n Zim-scenario wegkeer.
Wat landbou betref is dit die sleutel tot die sukses van die Dinokeng-scenario van “Werk Saaam”.
Terloops, in die Wes-Kaap het talle bestaande tradisionele kommersiele boere reeds aangedui dat hulle vir bogenoemde scenario van grondhervorming te vinde is.

Waarop ek toe die volgende antwoord:

Hugo Geldenhuys se Stockholm-sindroom, 28/06/2009, Dan Roodt
Geagte mnr. Geldenhuys, u onbeleefde styl en gejy-en-jou spreek van ‘n voorheen benadeelde opvoeding. Feit is dat die Commercial Farmers Union van Zimbabwe juis gepoog het om Mugabe en sy trawante terwille te wees, maar op die ou einde is hulle plase gekonfiskeer en aan die Mugabe-kliek uitgedeel. “Grondhervorming” hier by ons volg presies dieselfde paadjie, behalwe dat sommige boere nog nie aan die Stockholm-sindroom ly nie. Stockholm-sindroom beteken mos dat ‘n mens diegene wat jou gyselaar hou of afpers, probeer paai deur saam te speel. Waarom moet ons boere die ANC se landboubeleid waarvoor die magtige party nie die “kepessitie” het nie, uitvoer? Betaal ons nie reeds genoeg belastings en heffings en word ons nie reeds genoeg benadeel deur rassewetgewing op opvoedkundige, ekonomiese en kulturele gebied nie? Hoeveel spogplase het nie al weens “grondhervorming” misluk nie? Plante en diere wat vrek sonder water of kos en ‘n amptenaar of drie in slap swart karre wat al die finansi? voordeel uit die transaksie put?
Ons moet ons oë begin oopmaak vir die werklikheid. Voedselproduksie het wêreldwyd ‘n strategiese aktiwiteit geword. Die Afrikaner in Suid-Afrika het die hef in die hand en moet met sy oorheersers begin onderhandel en nie meer oorgawe as die enigste (valse) hoop op oorlewing sien nie. Indien die ANC sy volgelinge wil opsweep om die boere se grond te kom vat, sal dit nie lank wees voor hongersnood en ‘n ekonomiese krisis onstaan nie en dan sal die ANC, anders as Zanu-PF wat deur Suid-Afrikaanse hulp aan bewind gehou word, binne enkele maande uit die mag wees. So dom is die magshonger ANC in elk geval nie. N?im besef hulle maar te goed hoe die Amerikaners en die Britte hulle dophou. Oxfam voer tans die oorblywende bevolking van Zimbabwe, maar wil nie noodwendig ook die 40 miljoen swartes in SA van kosrantsoene hoef te voorsien nie.
Ons moet nou bietjie gewerweld begin raak en ons gesonde verstand begin gebruik. Om as intellektuele slaaf vir ‘n sogenaamde “opkomende boer”, wat deur die Party op jou plaas ontplooi word, op te tree, is nie net eerloos lafhartig nie, maar ook plein dom. Vra maar vir Zimbabwe se CFU.
En Jan-Jansalie wat so hoog opgee oor die Franse revolusie en geen snars daarvan verstaan nie, het nog nie van Pierre Vergniaud se frase gehoor nie: “Die revolusie, soos Saturnus, verorber sy eie kinders.” Overgezet synde: diegene wat die ANC en radikale groepe soos PLAAS (Programme for Land and Agrarian Studies) se beleid help uitvoer, gaan eerste aan die hakskeen gebyt word.

Watter kultuurskatte het Afrikaans nou eintlik?

Posted by Dan Roodt | NSA-denke | Woensdag 24 Junie 2009 7:39 am

In kommentaar op ‘n rubriek van Leopold Scholtz oor die taalkwessie skryf iemand:

Afrikaans op Stellies 6/17/2009 11:08:14 AM

“Natuurlik ís daar wel deeglik diegene wat na apartheid terughunker, wat nie die verlies van mag in 1994 kan verwerk nie. Natuurlik ís daar diegene wat Afrikaans as ’n rookskerm daarvoor gebruik” skryf Leopold.
Nie diegene nie, ALMAL. En die wat bloot “onskuldig” net Afrikaans wil behou indien daar werklik sulkes sonder bymotief bestaan, sulkes behoort te weet om hieroor aan te gaan skaar jy jouself by die ou-vlag-swaaiers. WATTER wonderlike kultuurskatte sal verlore gaan as Afrikaans nie meer die TAAL is nie? gee tog ‘n lysie. Ja ek stem saam die omstandighede waaronder Afrikaans sommer uitgeboender word is afstootlik maar ja, watter waardevolle dinge gaan nou uitsterf as Afrikaans nie meer die lesingstaal op Stellenbosch is nie? In die mid-80s was al die wetenskapilke rigtings alreeds vanuit Engelse vakboeke geleer.
-prakties

Ras – die nuwe alibi vir Afrikanerhaat

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Dinsdag 23 Junie 2009 11:53 am

Leopold Scholtz lewer ‘n pleidooi dat taalstryders vir ‘n Afrikaanse Stellenbosch nie met “die teerkwas van apartheid” bygekom moet word nie. Nietemin is dit presies wat hy – en Dawie – doen deur te beweer dat ek “terughunker na apartheid”.

Ek was nog nooit ‘n voorstander van kleinlike segregasie nie en in my studentedae rondom 1980 het ek saam met swartes in die lokasies gekuier. Toe kon mens dit nog doen sonder om jou lewe te waag, anders as vandag. Dus verwerp ek Leopold Scholtz en Dawie se smeerveldtog teen my met die minagting wat dit verdien.
As ons egter van Afrikanerregte praat, stem ek saam met Woodrow Wilson, Hendrik Verwoerd en Jasser Arafat dat selfbeskikking vir elke volk wat dit wil hê, die enigste resep vir langtermynvrede is. Dié beginsel is ook sedert 1989 met sukses in Europa toegepas en is insgelyks vervat in die Verenigde Nasies se Universele verklaring van menseregte.

Suid-Afrika beleef tans nie net die verengelsing van al ons instellings nie, maar ook ‘n soort geestelike kolonisering deur Britse neokoloniale denke. Die Engelse taalkoeie op Stellenbosch met hul polities korrekte slagspreuke steun die tradisie wat vir ons volksmoord, Robert Mugabe en Tutu se “reënboognasie”-gedrog gegee het.

Feit is dat nege-en-negentig persent van mense wat tans die opdraande stryd vir Afrikaans voer, Afrikaners is. Die res wil ‘n nuwe taal, Meertaligheid, bevorder. Sodra iemand ‘n grammatika van Meertaligheid gepubliseer het, kan ons weer dink, maar ek dink nie ons hoef dit te ernstig op te neem nie.

Volgens die navorsing van prof. Lawrence Schlemmer onder Stellenbosse studente, toon die wit Engelse studente waarteen almal (ook Leopold Scholtz) tans uitvaar min of geen antipatie teenoor Afrikaans by Stellenbosch nie. Diegene wat ‘n Afrikaanse Stellenbosch as “rassisties” en “uitsluitend” ervaar, is juis bruin en swart studente, asook – natuurlik – die voorstanders van Meertaligheid, die nuwe taal.

Te oordeel aan sy uitsprake, voel prof. Russel Botman vere vir Afrikaans en behoort hy as rektor te bedank. Hy het reeds verwys na “die mite van Afrikaans-eentaligheid”. Op 23 Mei het hy in dié koerant verklaar: “Die universiteit se primêre groei oor die volgende tien jaar sal afkomstig wees uit die stedelike bruin studente wat oor ’n goeie beheersing van Afrikaans beskik, maar verkies om in Engels te studeer.” Hy wil ook Engelstalige swart en Indiërstudente werf.

Afrikaners word reeds 200 jaar lank deur Britte en hul meelopers verguis. Ras is die nuwe alibi vir Afrikanerhaat wat in die naam van “transformasie” bedryf word.

My nuwe woernaal

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Dinsdag 23 Junie 2009 2:07 am

Ek het so pas hierdie nuwe woernaal geskep, wat in samehang met www.praag.co.za sal bestaan, maar waar ek my diverse internetgeskrifte, boeke, briewe aan die pers en ander materiaal byeen gaan bring.

Ook sal ek hier meer informele kommentaar en skakels na interessante berigte op die web plaas.