Waarom sou Afrikaners nié Engelse skole afbrand nie?

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Maandag 31 Augustus 2009 3:06 pm

 Powered by Max Banner Ads 

Dan Fourie openbaar homself as ‘n bewonderaar van prof Jonathan Jansen van Bloemfontein. Ook is hy geweldig geskok deur my voorstel dat iemand ‘n paar Engelse skole gaan afbrand. Toe ek aanvanklik voorgestel het dat Afrikaners iets daadwerkliks moet begin doen om hulself teen die staat se taalaggressie te verdedig, het ek die afbrand van Engelse skole bloot as ‘n voorbeeld gebruik. Self sal ek nie tot so iets oorgaan nie, want ek is bang ek steek myself aan die brand. Boonop hou ek nie van die reuk van petrol nie.

Feit is egter dat die sogenaamde taalstryd in Afrikaans hoofsaaklik ‘n leunstoelaktiwiteit is. Dit herinner my nogal baie aan die regse beweging in Amerika wat iemand beskryf het as ‘n “internetaktiwiteit wat deur rekenaarentoesiaste as ‘n stokperdjie in hul vrye tyd beoefen word.” Sommige mense hou ook vergaderings oor taalregte, die grondwet en dergelike meer en gaan agterna huis toe en klop mekaar op die skouer omdat hulle so hard vir Afrikaans veg. Mea culpa, ek herken myself in dié prentjie.

Die eerste Afrikaner wat tot een of ander vorm van optrede buite die kuberruim sou oorgaan, sou dus die eerste persoon wees wat ‘n geringe vinger in die dyk probeer steek terwyl ons in ‘n see van Engels verswelg.

Nog ‘n rede waarom die afbrand van Engelse skole as ‘n vorm van politieke en taalkundige optrede dalk aanvaarbaar mag wees, is omdat dit in Suid-Afrika so min of meer tradisie is om skole af te brand. Die skoolbranders van 1976 en daarna word vandag as helde vereer en elke jaar op 16 Junie vier ons “Jeugdag” om ons aan dié blye gebeurtenis te herinner. Behalwe dat hulle skole afgebrand het, het die “jonges” – “les jeunes” soos daar in Frankryk verwys word na mense met ‘n donker gelaatskleur wat motors aan die brand steek – op 16 Junie ook ‘n Joodse dokter, dr Melville Edelstein, vermoor. Miskien is ek te konserwatief, maar ek is volstrek gekant teen die doodmaak van Joodse dokters, veral dié wat jare lank swart mense gesond gemaak het. Noem dit nou maar ultra-regs, maar ek is nog nie so “bevry” dat ek dit as ‘n bevrydingsheldedaad sien nie.

Daar is ook ‘n ultra-regse teorie wat beweer dat die opvoedingstelsel deel van die ideologiese staatsapparaat sou wees en deur die bekende ultra-regse filosoof en teoretikus, wyle Louis Althusser, voorgehou is. Die Engelse skool in Suid-Afrika hou hom eintlik baie min met opvoeding besig, maar vorm gebreinspoelde idiote wat die staatsideologie van alles-Engels, transformasie, regstellende aksie en die ANC-geskiedenis soos ‘n godsdiens aanhang.

Enigeen wat dus om middernag met ‘n kannetjie British Petroleum na sy naaste Engelse skool sou sluip om die plek af te brand, sou vir seker ‘n stok in die ideologiese wiel steek. As hy op pad iewers nog by die SAUK in Aucklandpark kan aandoen, kan hy dalk iewers vorentoe ‘n nasionale held word. soos Nelson Mandela of Joe Slovo.

So ‘n persoon sal in die toekoms dalk strate na homself vernoem kry, die Nobelprys vir vrede en ander eerbewyse te beurt val. Dis amper deel van die tydsgees. Nou onlangs het die Britse minister van buitelandse sake, David Miliband, verklaar dat “terreur soms geregverdig is” en daar is wyd in die eilandkoninkryk daaroor berig.  Aboobaker Ismail, wat die Kerkstraatbom gestel het, asook Heleen Pastoors wat dit vervoer het, is vandag groter helde as Paul Kruger of NP van Wyk Louw.

Dit is trouens iets wat ek nie kan verstaan nie. Ons lewe in ‘n land van volslae anargie waar mense daagliks vermoor, beroof en verkrag word, waar onderwysamptenare by Afrikaanse skole opdaag, die hoof summier afdank, die beheerraad ontbind en die hele skool oorneem, maar wee die Afrikaner wat nie die regte ding doen en sy TV-lisensie betaal nie! Of dalk in die kuberruim – waar al die onskadelike bekgeveggies oor Afrikaans en verlede Saterdag se rugby aan die gang is – voorstel dat taalstryders die reg in eie hande neem.

So ‘n persoon is ‘n gevaar vir die samelewing! Die afbrand van skole in Soweto moet gevier word, misdaad is normaal en terreur soos Joe Slovo s’n is ‘n glansende heldedaad. Maar moet tog net nie jou viltpuntpen uithaal en iewers op die miljoene slegs-Engelse tekens “Waar is die Afrikaans?” skryf nie. Dan gaan ‘n mens darem te ver. En as jy so ‘n gedagte op jou hardeskyf bêre, beland jy netnou saam met die Boeremag in die tronk.

As die Amerikaner Ann Coulter nou hier was, het sy dalk gesê: “My enigste beswaar teen die Boeremag is dat hulle net een ou stukkie treinspoor in Soweto opgeblaas het en nie sommer die hele Parlementsgebou in Kaapstad nie.” Vir diegene wat nie weet nie, me Coulter het in ‘n stadium oor die sogenaamde “Oklahoma-bomplanter” gesê: “My enigste beswaar teen Timothy McVeigh is dat hy nie sy vragmotor vol kunsmis en diesel voor die New York Times-gebou gaan parkeer het nie.” En ek moet sê, ek is nogal geneig om met Ann saam te stem. Sonder die New York Times sou die wêreld beslis ‘n beter plek gewees het.

Wat Jan-Jan Joubert en sy bende medehensoppers betref, ek dink Dan Fourie het Joubert so pas meer beledig as wat ek ooit kon doen deur hom ‘n Afrikaner te noem. Jan-Jan Joubert is al so ver van Afrikanerskap soos ‘n ruimtewese uit Distrik 9 en sal beslis gekrenk voel om so getipeer te word.

Persoonlik het ek niks teen Jan-Jan nie. Trouens, ek blameer sy onderwysers wat hom nooit uit die spesiale skool moes vrygelaat het nie. Maar hy doen goeie werk by Rapport, want ek dink hy vervreem die laaste paar lesers wat die koerant nog het. Die einddoel van Jan-Jan, Liza Albrecht en al die ander zombies wat op Sondae die Afrikaanse vertaling van ANC Today aanbied, is om finaal ontslae te raak van Rapport se wit Afrikaanse lesers wat vir die koerant ‘n verleentheid is. Die langtermynplan is om Rapport en City Press saam te smelt en sodoende nog ‘n slag vir transformasie en verengelsing te slaan.

Indien enige aspirantvuurvlooie dié briefie lees: moenie Mediapark in Kingsway met die SAUK-gebou daar oorkant verwar nie. Media24 sal vanself in duie stort en hoef dus nie afgebrand te word nie.

Oftewel: Moenie goeie petrol mors nie. Hou ‘n bietjie vir jou motor ook.

Jan-Jan Joubert verbly hom oor Sasco se Kovsie-oorwinning

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Maandag 31 Augustus 2009 9:21 am

Jan-Jan Joubert het het hom al weer in gister se Rapport oor Sasco se oorwinning in die studenteraadsverkiesing verbly. Ek het die volgende kommentaar gelewer,

As Afrikaners verloor, is dit altyd goed, 30/08/2009, Dan Roodt
‘n Mens kan sien Jan-Jan voel sommer goed oor Sasco gewen het. As Afrikaners verloor, is dit mos altyd goed, nie waar nie, Jan-Jan? “Soos dit mos in ons land hoort.”

wat ‘n ander leser laat mymer het dat Rapport se redaksie my weer behoort toe te laat om in rubriek in die koerant te skryf:

Voorstel aan Redaksie, 30/08/2009, Hennie
Gegewe pers vryheid in SA en die voordele van gebalanseerde rubrieke, versoek ek dat julle weer vir Dan Roodt ‘n rubriek gee. Met Kombuis, Maarman en JJ hierbo aan die een kant van die spektrum en Roodt aan die ander kant, dink ek nogal dit sou ‘n goeie balans vorm. Indien sekere mense wel van tyd tot tyd aanstoot neem oor Roodt se sienings, is dit in elke geval goeie publisiteit vir die koerant. Ek glo die meerderheid oud-Natte lede is te besig om te “survive” in die nuwe SA om om te gee. Verder is die AB besig om hulself moreel te probeer “revive”, so ek glo hulle sal te besig wees om notisie te neem. In kort, die era van staats gesteunde media en PW wat voorskryf is mos nou amper 15 jaar iets van die verlede. Asseblief oorweeg my voorstel, want JJ is ‘n betaalde DA agent. So waar as vet. Ek kry sulke paniekerige onwillekeurige terugflitse na die verlede.

Hierop het ek die volgende repliek gelewer:

Rubriek in Rapport, 31/08/2009, Dan Roodt
Ek sien Hennie wil hê ek moet weer ‘n rubriek in Rapport kry, maar ek moet hom ontnugter. Hierdie Liza Albrecht wat aan Stellenbosch se linkse joernalistiekdept. geprogrammeer is, asook Jan-Jan, glo nóg aan vryheid van spraak, nóg aan oop gesprek of debat.


Hulle is nie eens naastenby liberaal nie, want die ware liberalis glo dat daar ten minste twee kante aan enige waarheid is.


Hulle is evangeliste van transformasie en die anti-wit, anti-Afrikaner-ideologie. Al gebeur Zimbabwe op hul voorstoep en al stroom Sannieshof en Kroonstad en elke dorp se riool by hul voordeur in, sal hulle nog aan ons probeer wysmaak dat Afro-demokrasie werk en dat ons net gehoorsaam aan die ANC moet bly, dan sal alles goed gaan.


Die Afrikaner se enigste hoop is om alternatiewe media op die internet te vestig, waarmee ons by Praag natuurlik al ver gevorder is. Ons moet ‘n nuwe kultuur van vrye denke en rasionele debat vestig wat uiteindelik op rasionele politieke optrede moet uitloop, nie hierdie skaapagtige navolging van die neo-koloniale resep wat oor en oor ten noorde van ons landsgrens misluk het nie.


Ermelo: gaan Grondwethof Afrikaans die doodskoot gee?

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Sondag 23 Augustus 2009 8:43 pm

Die taalsaak rondom Hoërskool Ermelo wat tans voor die Grondwethof dien, hou verreikende implikasies vir die voortbestaan van Afrikaans as skooltaal in. Die ANC-bewind, asook die Britse kerke en regering wat die organisasie dekades lank ondersteun en uiteindelik aan bewind gebring het, was nog nooit gediend met ‘n ander taal wat die hegemonie van Engels in die land versteur nie.
Te oordeel aan al die Afrikaansvyandige maatreëls wat sedert 1994 deur die ANC getref is, ly dit geen twyfel dat sy einddoel die totale vernietiging van Afrikaans as kultuur- en onderwystaal is nie.
Nadat die Appèlhof in Bloemfontein Ermelo-hoërskool gelyk gegee het dat die skool en sy beheerraad die reg het om sy taalbeleid te bepaal, het die staat na die Grondwethof geappelleer. Sedert sy ontstaan kort na die inwerkinstelling van die nuwe grondwet, is die Grondwethof hoofsaaklik ‘n politieke hof wat deur linkse, ANC-gesinde regters oorheers word.
Die teenstrydigheid tussen Afrikaanse taalregte en die sogenaamde “toegangsreg” van die Suid-Afrikaanse rassemeerderheid wat Engelse verkies, is die spil waarom die saak draai. Dit sou uiters verbasend, selfs verrassend wees, indien die Grondwethof met sy linkse, Engelssprekende regters hoegenaamd dieselfde argument as die Appèlhof eerbiedig. Daarvoor weeg die geskiedenis van die ANC en sy meelopers in regskringe te swaar. Van die vyandige vrae wat reeds deur regters Kate O’Regan en Dikgang Moseneke aan die skool se regspan gevra is, het reeds ‘n aanduiding gegee van hoe die wind waai.
Waarskynlik gaan die skool en Afrikaans op een of ander manier deur die Grondwethof gestraf word. Indien beheerrade se reg om ‘n skool se taalbeleid vas te stel, afgewys word, sal dit die deur open vir die onderwysdepartement om feitlik alle oorblywende Afrikaanse skole binne enkele jare tot oorgawe te dwing en Engels in te stel.
So ‘n radikale uitspraak deur die hof mag egter die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wees wat ‘n apatiese Afrikanervolk in beroering bring. Getrou aan die agterbaksheid van sowel die ANC as die Britise koloniale bewind in Suid-Afrika, gaan die hof egter heel waarskynlik ‘n dubbelsinnig uitspraak lewer wat op die duur Afrikaans-negatief gaan wees, maar wat in polities korrekte terme geklee gaan wees.
‘n Ander alternatief is dat die skool op tegniese gronde gestraf mag word en verengels mag word, maar dat die beginsel van “meertaligheid” of “moedertaalonderwys” in naam bevestig mag word. Dit sou die deur vir die onderwysdepartement oophou om Afrikaanse skole een na die ander aan te val en te verengels, alles in die naam van meertaligheid en menseregte.
Een ding staan egter vas: die Grondwethof  se uitspraak kan heelwat doen om die vernietiging van Afrikaans te verhaas, maar gaan nie die taal se haglike toestand verbeter nie. Selfs ‘n neutrale uitspraak of handhawing van die Appèlhofsiening sal blote oëverblindery wees om die naïewelinge daar buite te oortuig dat ons waarlik in ‘n demokrasie woon waarin taalregte erken en geag word.
Paradoksaal genoeg, kan ‘n uitspraak téén Afrikaanse skole deur die Grondwethof, hoewel skadelik vir Ermelo, vir Afrikaans dalk positief wees omdat dit finaal die skille van ons mense se oë sal laat afval en tot een of ander vorm van daadkragtige optrede mag lei. Hoewel Ermelo ‘n verbete stryd in die howe geveg het om die onredelike afdwing van Engels deur die staat teen te staan, moet ons besef dat honderde ander Afrikaanse skole reeds sonder slag of stoot gesneuwel het en vandag eentalig-Engels is.
Die proses van taalmoord gaan dus nie deur ‘n selfs gunstige hofuitspraak gestuit word nie. Daarvoor is daadwerklike en doeltreffende verset teen die anglosentriese ANC-regime nodig.
Ons kan net hoop dat, hetsy positief, hetsy negatief, die uitspraak wel iewers ‘n snaar kan roer om Afrikanerwoede teen die onreg wat daar tans teen Afrikaans gepleeg word, te laat opvlam.

Die Burger kry ‘n bondgenoot

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Vrydag 21 Augustus 2009 10:11 pm

Toevallig sien ek nou die dag ‘n woernaal van ene Robert Brand raak. Of hy familie is van Gerrit Brand, weet ek nie. Robert Brand is egter ‘n Engelse Brand. In elk geval is daar iets onthullends aangaande die titel van sy internetblad: Low opinions: Journalisme, the media and politics.

Lae opinies, lae houe, lae IK’s is wat ons meermale van SA joernaliste kan verwag. En Brand maak hom skuldig aan leedvermaak as hy “saamstem” met Leopold Scholtz van Die Burger, asook Christo van der Rheede, die groot kleurlingtaalstryder wat my ongevraagd in hul skitterende publikasie as ‘n “rassis” bestempel het.

In daardie selfde YouTube-video waarin Mandela, Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander “Maak alle blankes dood” sing, is daar ‘n verwante toneel waar ‘n klompie wit Engelse studente deur ‘n massa toitoiende swartes meegesleur word en hulle saamsing aan een of ander soortgelyke anti-wit liedjie. As ek dit nie mis het nie, was die beïnvloedbare wit Engelse studente van Rhodes.

Rhodes in Grahamstad is nie ‘n universiteit wat vir enigiets besonder hoog aangeskryf word nie, behalwe moontlik vir ‘n ontwikkelde anti-Afrikanersentiment. Daardie studente in die YouTube-video wat in ‘n top saamgesleep word, is ‘n metafoor vir denkre op Rhodes – of die gebrek daaraan. Ek weet nie veel van Robert Brand af nie, maar hy openbaar hom byna onmiddellik as ‘n na-aper.

Maar dit klop. Hy is ‘n Engelse Brand. Hy kom van Rhodes. Hy doseer joernalistiek, of wat hy self “lae opinies” noem. Wat anders as middelmatige na-apery kan mens vanuit ‘n plek soos Rhodes op Grahamstad verwag, die setel van die Engelse akademie en Setlaarsmonument?

Nie dat die 1820-setlaars so danig sleg was nie. Daar is waarskynlik dieselfde verhouding tussen die Rhodes-joernalstiekdepartement en die 1820-setlaars as tussen Die Burger en die Groot Trek; in beide gevalle het ons te make met hedendaagse konformistiese propagandiste wat die geskiedenis ontken en eintlik tevrede sou gewees het indien Suid-Afrika nou nog ongerepte natuur was wat deur ‘n paar duisend swerwende Koisan-jagterversamelaars bewoon was.

Soos vele akademici wat meer begaan daaroor is om hul werk binne ‘n streng polities korrekte milieu te behou, eerder as om ‘n oorspronklike bydrae tot hul vakgebied of tot menslike denke te lewer, spesialiseer Robert Brand daarin om rubriekskrywers van “rassisme” te beskuldig. So was hy byvoorbeeld ten gunste van die afdanking van David Bullard by die Sunday Times. Bullard se uitlatings oor Afrika en Afrikane was “rassisties” al was hulle ook waar.

Om te sê dat Zimabwe tans een van die armste lande ter wêreld is, met ‘n BNP per kop van $260 per jaar is ‘n feit. Maar in die oë van Robert Brand en ander linkse of ultraliberale blankes is dit “rassisties” om na so ‘n ongemaklike stukkie ekonomiese inligting te verwys. Ek onthou nog baie goed destyds toe ek nog ‘n student was hoe die linkse studente en dosente op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand gejuig en hande geklap het toe Robert Mugabe in 1980 die verkiesing gewen het.

Destyds sou hulle ook enigiemand wat maar hoegenaamd getwyfel het aan die prognose vir Zimbabwe as ‘n “rassis” uitgekryt het. Ongelukkig het die werklikheid ‘n manier om wêreldvreemde siele soos Robert Brand soms wreed te ontnugter as hulle self slagoffers van Suid-Afrika se endemiese geweldsmisdaad of selfs regstellende aksie of transformasie word.

Robert Brand is ‘n blanke. Vroeër of later sal die stelsel hom óók daarvoor straf. Dan sal dit nie tyd vir ons wees om te kraai van leedvermaak soos hy maak nie, maar om moed te skep dat selfs diegene wat die werklikheid ontken nie vir altyd daaraan ontkom nie.

‘n Mymering oor Afrikaanse leiers

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Donderdag 20 Augustus 2009 3:49 pm

Hierdie rubriek het op die ou PRAAG-webwerf verskyn in die vroeë 2000s en word weer geplaas.

‘n Mens maak partykeer rare ontdekkings op jou eie boekerak. Soms val jou oog op ‘n boek waarvan jy self vergeet het dat jy dit besit, of andersins doem ongevraagde herinneringe op as iets soos ‘n ou skooljaarblad skielik onder ‘n stapel kunsboeke uitskuif. Dit was inderdaad gister die geval met my. Ek figureer hoegenaamd nie in die betrokke jaarblad nie, want dit was die vyftigste herdenking van die skool se bestaan, en ruimte is eerder afgestaan aan die huidige hoofseun, asook hoofmeisie van die Meisieskool, en diverse Springbokke en ander BBP’s wat die skool in sy vyftigjarige bestaan opgelewer het. Juis vanweë die herdenking, bevat die jaarblad ook boodskappe van die Die Direkteur van Onderwys, die Administrateur van Transvaal, die Voorsitter van die Beheerraad, en selfs die destydse Minister van Onderwys, ene J.P. van der Spuy. Dit alles maak daarvan ‘n fassinerende tydsdokument.

Wat my nou opval is die naïewe verwagtinge wat al hierdie mense gekoester het oor die blink toekoms, nie net van die skool nie, maar ook van die Afrikaner, sy taal en sy kultuur. Prof. P.J. Nienaber, voorsitter van die Beheerraad het die volgende te sê:

“Die skool se hoeksteen is gelê deur genl. J.B.M. Hertzog. Helpmekaar bly die hoeksteen van die vormingsplek van groot staatsmanne van die toekoms, want ons is geanker in ons volk se tradisies; groot geloofsmanne, groot onderwysmanne, want ons glo in Christelike en Nasionale onderwys; groot sportmanne, want ons glo in die Romeinse leuse: ‘n gesonde gees in ‘n gesonde liggaam. In die skoolsaal is daar ‘n galery van ons seuns wat in die verlede gepresteer het; oor vyftig jaar sal die galery groter en indrukwekkender wees.”

“Groot Afrikaanse staatsmanne” wat die skool sou oplewer? Ek ken nie sulkes nie. My twee beste vriende op skool – dit was ‘n seunskool – het albei reeds geëmigreer: een is ‘n advokaat of “barrister” in Londen, en die ander ‘n reklameman in Melbourne. Daar was wel ‘n Afrikaanse akteur of twee, en ‘n aantal sakemanne, dokters, ens., maar van die staatsmanne het die skool bedroë afgekom. Dit het nou by my die volgende reeks gedagtes laat ontstaan.

As ek die wêreldvreemde optimisme van die skooljaarblad vergelyk met die moeras waarin Afrikaners tans verkeer, die pessimisme, emigrasiepraatjies en donker gedagtes oor die toekoms, dan wonder ek: wat presies het verkeerd geloop? Hoe het ons hierin beland, en waarom kon dit nie anders gewees het nie? Ek dink al maande, indien nie jare nie, oor hierdie probleem, en het al gewonder oor die strukturele probleme van die Afrikaanse kultuur, die verwydering tussen skrywers en politici, tussen die kerk en die mense, tussen wit en bruin, en watnog, maar kon tot dusver nie ‘n bevredigende antwoord vind nie.

Maar miskien is die antwoord voor die hand liggend, en staan dit geskryf in die skooljaarblad wat ek sekerlik nie in standerd sewe toe dit verskyn het met dieselfde insig as nou kon lees nie. Dit het naamlik te make met die idee dat ‘n skool, of dan ‘n gemeenskap in die breër sin, “staatsmanne” moet oplewer.

Ek weet dat daar onlangs al beweer is dat die gebrek aan leierskap onder Afrikaners tans ‘n voordeel is omdat dit hulle sal vrywaar van verdere politieke foute, maar hierdie logika is myns insiens foutief. As jy klaar politieke foutiewe gemaak het as gevolg van swak leierskap, dan het jy soveel te meer beter mense nodig om die gevolge daarvan te hanteer.

Met al die sportfoto’s in die jaarblad van Springbokke wat die skool opgelewer het, en someer, kon ek ook nie help om te dink dat ‘n klein gemeenskap soos dié van Afrikaanssprekendes kwalik gouemedalje-wenners by die Olimpiese Spele gaan oplewer op dieselfde skaal as byvoorbeeld Amerika nie. En soos daar atletiekkampioene is wat slegs af en toe verskyn, so is daar “politieke kampioene” of staatsmanne in die taal van P.J. Nienaber wat nie so klokslag verskyn as wat hy dit sou wou hê nie. My ou skool het hulle nie opgelewer nie, en ook nie Afrikanerdom as sodanig nie. In elk geval nie in die onlangse tyd nie.

In baie opsigte is die politieke spel ook maar ‘n kompetisie teen mededingers, en as jy nie die regte kaptein en spanlede het nie, daardie grootkampioene wat die medaljes kan inpalm nie, dan kom jy maar bedroë daarvan af. In my tyd was my ou skool die kampioenskool op baie gebiede in Johannesburg en die “Sentraal-rand” soos dit genoem is, en ons kon ons skaars indink hoe dit moet voel om by die byeenkomste laaste te eindig met net ‘n paar punte op die telbord. Tog was daar sulke skole wat altyd laaste geëindig het.

Sedertdien het Afrikaanssprekendes natuurlik gewoond daaraan geraak om laaste te eindig in politieke kompetisies in Suid-Afrika. Geen groep word daagliks meer vertrap en verguis as juis hulle nie. Hul taal en geskiedenis, hul skole, hul tradisies, hul bates, noem maar op, is alles in die visier van die maghebber. Al waaraan hulle kan dink om hieraan te ontkom, is om te emigreer of om Engels te word.

Dit was egter nie altyd so nie. In W.A. de Klerk se boek wat ongelukkig in Engels geskryf is, The puritans in Africa, en wat ek vryelik kan aanbeveel as waarskynlik die beste oorsigtelike geskiedenis van die Afrikaner wat daar tot dusver geskryf is, noem hy die “tydvak van die generaals” ná die Tweede Vryheidsoorlog. Toe het ‘n hele aantal talentvolle leiers die onmoontlike reggekry en ‘n verslane en verarmde groep mense weer laat opstaan, en ‘n entente bewerkstellig met die magtige Britse Ryk om darem vir hulle ruimte te laat in Suid-Afrika. Danksy die genialiteit van Smuts, asook Louis Botha, en die bydrae van Hertzog, het Afrikaners polities gedomineer vir byna die hele twintigste eeu in Suid-Afrika. Hulle het hierdie land geskep. Sommige sou beweer dit was ‘n rampspoedige oorheersing, maar alles is relatief. Vergeleke met die res van Afrika waar die Britse, Franse, Belgiese en Portugese kolonialisme veel droewiger nalatenskappe gebaar het, is ons steeds uitstekend daaraan toe.

My ou skool is in die tyd van Smuts en Hertzog opgerig, die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg. Oor die afgelope tien jaar het dit blykbaar allerlei krisisse beleef, en is nou geprivatiseer en, in terme van getalle, slegs ‘n skadu van sy vorige self. Die Meisieskool het verengels en staan nou bekend as die Rand Girls’ High School. Omdat ek skool gehaat het, sal lesers my al hierdie skynbaar irrelevante inligting vergewe, maar dit behoort duidelik te wees waarop ek afstuur. Die generaals, wat gelouter uit die oorlog tevoorskyn gekom het, kon hierdie heropstandingsbeweging aanvoer, sodat dit na alle vlakke toe uitgekring het, ook na skole en ander instellings.

Ek hou allermins van die term “leierskap” omdat dit so ‘n geurtjie het van menslike hulpbronnekonsultante wat seminare vir maatskappye organiseer. Nietemin is leierskap, of gebrek daaraan, die sleutel om die insinking in Afrikaans te verstaan, en die swak skikking van 1994 wat sedertdien ‘n albatros om ons nek geword het, is bloot die simptoom daarvan, nie die ware oorsaak van ons probleme nie.

Wat is die eienskappe van ‘n groot leier, van ‘n “staatsman” soos die skooljaarblad sou sê? Ek dink dit wissel soos wat omstandighede verander. In tye van oorlog moet mense uiteraard sterk en daadkragtige leiers hê wat ook strategies en militêr kan dink. Te veel daarvan, iemand soos Napoleon byvoorbeeld, kan ook weer sy eie probleem skep. Dit gaan om die “konjunktuur” of tydsgewrig waarin ‘n mens jou bevind. Ek sal nou die eienskappe skets van wat ‘n Afrikaanse leier vandag behoort te hê, dog vergun my nog ‘n opmerking oor die leiers van die twintigste eeu.

Myns insiens was die enigste twee politieke leiers wat iets beteken het in die twintigste eeu onder Afrikaners Smuts en Verwoerd, met Hertzog as ‘n buiteperd. (Miskien voel ek bloot genoop om sy naam te noem omdat hy my ou skool se hoeksteen gelê het; daar is sprake dat die gebou nou na ongeveer tagtig jaar of so afgebreek gaan word omdat dit te naby aan die vervallende middestad van Johannesburg is.)

Smuts was by verre die mees briljante politieke figuur wat Suid-Afrika nog opgelewer het, maar ook hy het fundamentele foute begaan. Ek dink dat enige politieke leier terugskouend foute begaan, maar uiteindelik hang dit van ander af om daardie foute om te keer of in voordele te omskep. Een van Smuts se grootste foute was om nie te kan insien dat Afrikaans die potensiaal het om in ‘n volwaardige kultuurtaal te ontwikkel nie; daarom het hy in Engels geskryf. Dit is al iets van ‘n gemeenplaas om dit nog te noem, maar hy is so verlei deur sy toenemende internasionale statuur en aansien (Kanselier van Cambridge, asook aanvoerder van die Geallieerde Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog, meen ek, en een van die stigters van die VN) dat hy sy oog van die bal afgehaal het en die 1948-verkiesing verloor het teen ‘n veel mindere figuur, D.F. Malan. Gestel Smuts het vír Afrikaans gekies en die soort reaksionêre Afrikaner-nasionalisme van die NP koudgesit met ‘n kosmopolitiese, verdraagsame en ekspansiewe Afrikaansheid? Hoe anders sou alles nie verloop het nie! Nie net sou die Kaap Hollands gewees het nie, Suid-Afrika sou heel waarskynlik vandag Afrikaans gewees het, in plaas van Engels.

Die tweede Afrikaanse figuur wat uitstaan, is natuurlik Verwoerd. Vandag word hy allerweë afgekraak as ‘n fascis, maar ek meen diegene is verkeerd. Verwoerd was sekerlik ‘n radikale denker, en wou Suid-Afrika omvorm na sy meesterplan, maar soms is radikalisme nodig. In die sewentigerjare was Engeland byna op haar knieë, maar die radikalisme van ‘n Margaret Thatcher het die plek van ondergang gered, en vandag is dit een van die wêreld se welvarendste lande. Dit het moed en oortuiging gekos om dit reg te kry, en sy is insgelyks verguis en is steeds geen gewilde figuur nie, dog elke juppie in Londen wat vandag in ‘n Porsche rondry kan sy sterre dank dat sy op die toneel verskyn het in ‘n tyd toe Engeland se toekoms meer na dié van ‘n Portugal, Wes-Europa se armste land, gelyk het as na die Engeland van vandag.

‘n Kwessie wat almal sekerlik intrigeer, is wat sou gebeur het indien Verwoerd langer geleef het? Vanuit ANC-geledere word sy sluipmoord gesien as die begin van die einde van apartheid, en dus as die insident wat uiteindelik die huidige bewind op die troon sou plaas, wat ietwat simplisties is. Nietemin is daar tog ‘n element van waarheid daarin in dié opsig dat Verwoerd ‘n uiters talentvolle, sommige beweer selfs briljante, man was wat dalk anders sou gereageer het op internasionale druk, die Soweto-onluste, en die daaropvolgende gebeure in Suid-Afrika as sy opvolgers. Waarskynlik sou hy insgelyks met hervormings begin het, maar met sy kenmerkende radikalisme sou hy moontlik die landkaart nog verder verander het en die uiteindelike eenheidstaat vir goed afgeweer het. Met Vorster en P.W. Botha het die Afrikaanse politieke leierskap reeds sy laagtepunt bereik, en die klein bang mannetjie De Klerk was bloot die laaste in ‘n reeks van patetiese figure wat so min van die wêreld en veral van hul politieke vyande verstaan het, dat hulle uiteindelik in ‘n drukgang geplaas is waarvan die einde voorspelbaar was. Die post-Verwoerdiaanse tydvak was besonder kompleks met elemente van die Koue Oorlog in die vorm van Kubaanse, Russiese en Oos-Duitse teenwoordigheid in suidelike Afrika, die internasionale afkeer aan apartheid, verdere dekolonisering in die res van Afrika en ‘n gepaardgaande kulturele relatiwisme in die Weste. In Afrikaans self was daar ‘n opwindende moderniseringproses aan die gang met die Sestigerbeweging, ‘n bloeiende filmbedryf, en die opkoms van die “burgerstand” waarvan W.A. de Klerk praat. Voeg daarby nog die stedelike terreur en onrus van die tagtigerjare, iets van ‘n burgeroorlog in Natal tussen die ANC en Inkatha waarin 20 000 mense dood is, en dit is ‘n pot-pourri van giftige elemente wat selfs ‘n groot figuur sou kon laat struikel, wat nog te sê die drie dwerge Vorster, Botha en De Klerk. Nou sit ons natuurlik met die spreekwoordelike gebakte pere.

Dit is verstaanbaar dat baie Afrikaners – en hulle is nie net regses wat “nee” gestem het in die referendum nie – De Klerk met wrewel bejeën, want op ‘n manier het hy hulle in ‘n erger posisie geplaas as wat hulle militêr oorwin sou gewees het. Trouens, as ‘n mens luister na die ANC-retoriek, dan wás dit ‘n militêre oorwinning en nie slegs ‘n “onderhandelde revolusie” soos Alistair Sparks dit gestel het nie. Om uit ‘n neerlaag op te staan, is altyd ‘n baie moeilike situasie, en ‘n mens vra jou af of die Duitsers sonder Konrad Adenauer weer hul voormalige plek in die wêreld sou kon ingeneem het.

Min kon die bydraers tot my ou skooljaarblad vermoed dat die rooskleurige toekoms wat hulle vir Afrikaans en Afrikaners in die vooruitsig gestel het, binne twintig jaar sou eindig in ‘n de facto-neerlaag waar ons nou nog sit met “oorlogskuld” in die vorm van ongespesifiseerde “vergoeding” wat vir apartheid betaal moet word. Moreel en polities is ons blykbaar skadeloos gestel, en kan ons bloot, in die woorde van die Broederbond en van Ken Owen, “onsself nuttig maak vir die meerderheid”.

Wat sou ‘n meer versiende leier gemaak het in De Klerk se situasie tydens die vroeë negentigs? Met die voordeel van terugskouing is dit altyd makliker, maar myns insiens moes die grootskeepse vrylatings in 1991 en 1992 veel later plaasgevind het, en moes die ANC/SAKP eers ideologies vernietig gewees het met die ongelooflike meevaller van die ineenstorting van die Oosbloklande. Die ANC sou binne ‘n paar jaar al sy logistieke en geldelike steun uit daardie oord kwyt gewees het, en met sy tande getrek, sou hy so mak soos ‘n lammetjie om die onderhandelingstafel kom sit het. Samehangend hiermee moes die destabilisering van die tuislande en die res van die gewelddadige konflik in swart woonbuurtes en in Kwazulu-Natal nooit toegelaat gewees het nie, en die ongelooflike munt wat die ANC uit Boipatong geslaan het, is in retrospektief verbysterend, want agterna het De Klerk en sy segsman Roelf Meyer eintlik oorgegee in ‘n situasie wat Z.B. du Toit tereg dié van “Boere sonder planne” genoem het.

Die ergste by verre was egter die intellektuele onopgewassenheid van De Klerk en die res van die NP’s. Hulle het hoegenaamd nie die ander kant verstaan nie, terwyl hulle clichés wat oor jare geen ontwikkeling ondergaan het nie, met die hulp van die plaaslike en internasionale media van die tafel gevee is, en hulle voor die fait accompli geplaas is van die eenheidstaat en “wenner vat als”. En is die wenner nie net besig om als te vat nie!

Die feit dat ons vandag soos kabouters op die internet dinge soos PRAAG aan die gang moet hou, dat daar misdaad en plaasmoorde is, dat plekname verander, dat plaaslike owerhede binnekort allerlei onheilige dinge gaan begin aanvang met eiendomsbelasting, dat mense emigreer, ens., is alles te wyte aan die erbarmlike strategiese foute van De Klerk en sy trawante. Boetman is die bliksem in, en hy praat vir ons almal.

Dog gedane sake het geen keer. Die slag is gelewer en Afrikaanse belange het die onderspit gedelf. Die uitdaging is om vanuit die situasie van ‘n de facto-neerlaag verder te gaan, en weer op te staan soos dit al voorheen gedoen is. Maar sonder leierskap – om nou weer die Menslike Hulpbronnemense se gunstelingwoord te gebruik – gaan dit nie moontlik wees nie.

Ná die Franko-Pruisiese oorlog van 1870 toe sy ‘n vernederende neerlaag teen die uitgeslape Bismarck gely het, was ‘n groot land soos Frankryk ook blykbaar in ‘n toestand van algehele skok en ellende, selfvertwyfeling, werkersoproer, ekonomiese stagnasie wat eers ongeveer ‘n dekade of twee later herstel. Die herstel sou nooit kon plaasvind indien ‘n aanvanklik onbekende advokaat by name Léon Gambetta nie op die toneel verskyn het en nuwe lewe in die Franse politiek geblaas het nie. Hy het waaghalsig uit die hande van die Pruise ontsnap in ‘n ballon, en soos ‘n ware bittereinder nooit die Franse kapitulasie aanvaar nie. Hy het Franse eenheid voorgestaan, en ná 1871 gehelp om die Derde Republiek tot stand te bring. As ek so tuur na die horison, dan sien ek nie enigeen wat vir Afrikaans en die Afrikanerdom ‘n Gambetta kan wees in hierdie tye nie.

Wat van Tony Leon en die DA? Ek is bevrees as iemand wat saam met Tony gestudeer het, saam klasgedraf het in staatsleer, saam op die studenteraad gedien het, en by al die agting wat ek het vir sy bedrewenheid as professionele politikus, kan ek hom nie in hierdie rol sien nie. Buitendien dink ek nie hy het die nodige aanvoeling vir die Afrikaanse geskiedenis nie, vir die verborge vonke van grootsheid daarin wat net aangeblaas moet word om weer in ‘n vuur uit te slaan nie. Die DA is myns insiens ‘n soort portmanteau-party, vir al die mense sonder ‘n party. Wie anders is daar? Die AB, BMW en ander reste van Afrikanerdom se Era van Middelmatigheid? Nee wat, ek is bevrees hulle vind dit al moeilik om by te bly in hul rol as skoothondjies vir mnr. Mbeki, en om al die nuwe slagspreuke van die base aan te leer, dus sal enigiets meer hulle na prozac laat gryp.

Ek wil liewer nie eens ‘n sekere onlangse NP-leier se naam noem wat deesdae optree as ‘n soort tweede-in-bevel in die DA nie, en af en toe oor die radio gehoor kan word as hy sekere eenvoudige idees vanuit die ANC-kamp oor “nasiebou” en dergelike herhaal asof hy hulle self uitgedink het nie. In polities korrekte kringe sou mens seker die opstellers van die Tuiste-vir-almal-skuldbelydenis ingesluit kon hoor binne die beskikbare universum van Afrikaanse leiers, dog hul enigste politieke oplossing sou wees dat ons ons moet neerlê by die wil van ons oorheersers. Op ‘n manier het hulle hul reeds versoen met die neerlaag en afskeid geneem van die Afrikaanse geskiedenis as synde “besmet” en “immoreel”. Met hulle kan ons seker wees dat ons van die wal in die sloot sal beland. Wat van die bruines? Wel, ek sou wou hoop dat hulle minder deurtrek is van Calvinistiese skuldmanie en dalk groter helderheid aan die dag sou kon lê, maar ek is bevrees die huidige burgemeester van Kaapstad beïndruk my kwalik as ‘n tweede Jan Smuts.

Wat van die sakegemeenskap, wat hulle ook taamlik gereeld met die politiek bemoei? Ek twyfel of sakemense gewoonlik die kwessies goed verstaan. Hulle volg eerder ‘n politieke rigting as wat hulle dit skep. Dieselfde bedrywe wat onder apartheid wapens vir die Weermag vervaardig het, is nou aktief in swart bemagtigingsinisiatiewe met ANC-mense op hul direksies. Uiteindelik is ‘n sakeman ‘n huursoldaat; wat tel is die wins en verlies, niks meer, niks minder nie. So ‘n persoon sou nooit die gevaarlike en buitensporige arena van die Suid-Afrikaanse politiek kon betree en nie binnekort fyngemaal daaruit kom nie. Of hy sal swig die eerste keer as iemand vir hom sê, “dit sou te veel geld kos”.

By my kennelik oorsigtelike en waarskynlik onvolledige lees van die Afrikaanse geskiedenis, kan ek nie dink aan ‘n tyd toe hierdie groep mense so volslae leierloos was nie. Dit is nie eens ‘n geval dat hulle oor swak leiers beskik nie, hulle hét nie leiers nie. Desnieteenstaande was daar op geen ander stadium so ‘n intense behoefte aan verbeeldingryke, intelligente, en waagmoedige leierskap as juis nou nie. Om uit die huidige verknorsing te kom, is miskien die grootste uitdaging wat daar nog ooit in hierdie land aan Afrikaanssprekendes gestel is. Dit gaan nie vanself gebeur nie, en hoe langer dit uitgestel word, hoe moeiliker gaan dit wees.

Die gemeenplasige opvatting van ‘n leier in Afrikaans as synde een of ander Messiasfiguur is miskien deel van die probleem. Dit is nie nodig om ‘n Moses te wees nie, net ‘n Gambetta of ‘n Smuts. Gambetta was blykbaar ‘n goeie orator, soos baie Franse leiers, maar Smuts was sover ek kan onthou geen goeie spreker nie. Met sy vlymskerp verstand en begrip van sake kon hy egter die juiste analise doen en deur subtiele uitoefening van mag die gewenste resultate verkry. Waarskynlik het sy Cambridge-opvoeding ook gehelp, want dit het hom ‘n sekere gesofistikeerde allure gegee waarsonder staatsmanskap, om nou weer saam met die jaarblad te praat, nie moontlik is nie. Die feit dat die burgemeester van Kaapstad dit kortkom, maak dat hy waarskynlik nooit sal kan aspireer na groter dinge nie. Ook Vorster, Botha, en De Klerk, die dwerglike driemanskap, het ‘n sekere “kru” aanskyn gehad wat hulle onbeholpe laat voorkom het. Jasser Arafat kon die wêreld en selfs die ANC oortuig van die noodsaaklikheid van tuislande; P.W. Botha nie. Waarby kom dit? Daar is subtiele eienskappe aan leierskap wat ook met voorkoms, ‘n sekere styl, ens. te make het. As Eugène TerreBlanche homself ‘n Afrikaner noem, takel dit die begrip af; as Van Zyl Slabbert dit doen, is dit min of meer neutraal. Ons het iemand nodig wat respek by mense kan afdwing as hy die woord gebruik.

En dan uiteindelik, amper ‘n bysaak, maar soos op alle gebiede van menslike optrede kan niks daarsonder nie, moet ‘n leier ook oor kennis beskik. In Amerika of Europa kan hy of sy wegkom met glimlag-vir-die-kameras-en-vra-maar-vir-jou-gehuurde-konsultant as dit oor iets moeiliks gaan, maar in ‘n land soos Suid-Afrika met die graad van politieke risiko wat hier bestaan, moet so ‘n persoon liefs nogal ingelig wees oor wêreldsake, oor die ekonomie, oor geskiedenis en veral die denkwyse van sy opponente. Dit sou beteken dat hy belese sou moes wees in Karl Marx, Kwame Nkrumah en W.E.B Dubois, asook Amerikaanse rasseteorie en watnog. Kortom, so ‘n persoon moet liefs hoogs gekultiveerd wees in die ware sin van die woord. ‘n onlangse Europese politikus wat hierdie aspek van leierskap volmaak verpersoonlik het, was natuurlik François Mitterand. Ook hy het baie foute gemaak, en feitlik niks van ekonomie verstaan nie, maar sy onbesproke kennis het hom ‘n gedugte leier gemaak.

Gegewe die agteruitgang van die universiteite, verlaging in standaarde, ens., is kultuur in die breë sin van die woord, dit wil sê as “verworwe kennis” deesdae so skaars soos hoendertande. Daar is in elk geval geen kursus wat mens kan gaan volg in “die leiersprofessie vir klein en oorwonne volke” nie. Dit is iets wat byna mirakelagtig uit die gene van die mense self moet verskyn.

Ek blaai maar deur my jaarblad en verwonder my aan al die skoon en hoopvolle gesigte. En ek tuur na die horison… As ons net nie so lank hoef te wag dat ons al dermate uit ons geboorteland uitgewerk is dat ons die plek vanuit die see sal moet inneem en Afrikaans soos Wallies of Hebreeus weer uit grammatikaboeke sal moet laat herleef nie.

praag.co.za gaan van krag tot krag

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Woensdag 19 Augustus 2009 6:01 pm

Jelleke Wierenga het my nou die dag daarop attent gemaak dat Dan Fourie op LitNet dink dat die Praagwebwerf, oftewel praag.co.za, besig is “om weg te kwyn”. Inteendeel, ek is jammer om hom teleur te stel, maar verlede week het ons ons rekordweek in terme van besoeke en bladsyonttrekkings gehad en gister (Maandag) het ons ’n nuwe daaglikse rekord opgestel. Ook praag.org, ons aksiegroep se blad, word druk besoek.

Op die oomblik is ons webwerf die enigste onafhanklike nuus- en meningsblad in Afrikaans op die internet. Hoewel ons nie, soos LitNet, die luukse van skakels na al die Nasperskoerante se webwerwe het nie, slaag ons nogtans konstant daarin om ons besoekers- en leserstal te laat groei. Dis eintlik iets van ’n wonderwerk, want in ’n land wat enersyds toenemend ’n onverdraagsame eenpartykultuur toon, en andersyds ’n slaafse navolging van Anglo-Amerikaanse denkbeelde, veg ons noodwendig ’n opdraande stryd om gehoor te word.

Ek was onlangs geamuseerd om op die Engelse Wikipedia te lees dat daar geen “alternatiewe media” in Suid-Afrika bestaan nie. Sulke media het glo net “tydens apartheid” voorgekom. Asof Max du Preez (Vrye Weekblad) en Anton Harber (Weekly Mail, nou Mail & Guardian) wat emmers vol geld van buitelandse regerings en kerke ontvang het om die Britse en Amerikaanse hoofstroom-liberalisme hier te kom propageer, “alternatiewe media” verteenwoordig het! In dié opsig ervaar ons tans in Suid-Afrika ’n hele ondergrondse beweging van “alternatiewe media” wat die aanvaarde dogma van die Anglo-Amerikaanse Ryk (wat so pas ’n soort Derde Wêreldoorlog in Afghanistan ontketen het in ’n poging om sy bankrotstaatskas te red) bevraagteken en kritiese debat en denke oor ons situasie aanmoedig.

Omdat die internet aan beheer deur regerings en die globale mediamaatskappye ontkom, is dit ook internasionaal besig om ’n nuwe nuuskultuur te vestig. In die VSA is die korporatiewe media besig om geloofwaardigheid te verloor en die alternatiewe media wen voortdurend veld. Die internet het vele taboes verbreek en dinge waaroor daar slegs ’n dekade gelede glad nie gepraat mog word nie, word vandag vrylik gepubliseer en selfs gedebatteer.

Sedert 1994 heers daar ’n soort neo-kolonialisme in Suid-Afrika waardeur die hoofstroommedia maar die Baas in Londen of Washington napraat en almal klakkeloos die Amerikaanse langue de bois soos zombies herhaal. Jammer vir die Franse uitdrukking, maar die naaste wat ek daaraan in Afrikaans kan kom, is: geykte propagandataal. Die beleid en ideologie en geykte propagandataal van die meeste Afrikaanse koerante word nie deur die redakteurs of selfs die uitvoerende beamptes bepaal nie, maar word feitlik net so deur die plaaslike Britse en Amerikaanse ambassades uitgevaardig, by wyse van spreke.

Selfs “rainbow nation” is ’n Amerikanisme ná eerwaarde Jesse Jackson se sogenaamde “rainbow coalition”. Maar wat ons redaksionele beleid betref, wil ons in Afrikaans nuus en inligting aan Afrikaners bied wat lig werp op ons situasie en ons uiteindelik vanuit dié afskuwelike dwingelandy kan bevry. Internasionale en plaaslike politiek, die hele ideologie van politieke korrektheid, regstellende aksie en Amerikaanse rasse-ideologie wat blankes vir swartes se mislukkings blameer, dít alles is ter sake as dit kom by ’n begrip van ons baie ingewikkelde situasie.

Anders as die tradisionele “regse” ideologie onder Afrikaners, wat ons huidige toestand van gestadigde volksmoord en verdrukking suiwer aan De Klerk en ander se verraad toeskryf, sien ons daardie verraad as ’n noodwendigheid binne veral die Britse strategiese rol in Suider-Afrika, wat op die duur neig na die verdrywing of uitwissing van alle blankes, soos in Zimbabwe of die voormalige Portugese kolonies. David Miliband, die Britse minister van buitelandse sake, het so pas verklaar dat die Britse Arbeidersparty nog altyd terreur teen enige Afrikanerregering in Suid-Afrika as nodig en geregverdig geag het.

Sedert Mei verlede jaar het ons 6 000 nuus- en meningsartikels, asook voortreflike kort stukke oor die Afrikanergeskiedenis, deur Jaap Steyn en ander, in Afrikaans op die internet geplaas. Sekerlik is dit vir Dan Fourie en ander gebreinspoeldes ongewens, want ons oortree Grootbroer se voorskrifte, maar vele van ons lesers meen reeds dat Praag vir hulle ’n belangrike faktor is om hul geestesgesondheid in hierdie kranksinnige, gewelddadige land te handhaaf.

Wat die kwessie van lesersbriewe betref, sien ons onsself uiteraard nie in die eerste plek as ’n geselsforum of kletsblad nie, hoewel ons in die laaste tyd meer lesersbriewe as voorheen ontvang. Ek het ook in Julie my joernaal, roodt.org, van ’n kommentaarfunksie voorsien waar mense op vele van my eie menings kan reageer. Tot dusver doen hulle dit taamlik fluks. Dus is ek nie bekommerd dat ons geen reaksie uitlok of lesers verveel nie.

Soos die eertydse Universiteit van Stellenbosch, staan Praag egter vir ’n “idee”. In die klassieke tradisie van die Afrikaanse pers sedert die eerste stuk joernalistiek deur LH Meurant in 1861 in ons taal onder die skrywersnaam “Klaas Waarzegger” verskyn het, waarin dit gegaan het “oor die onderwerp van afskeiding tussen die Oostelike en Westelike provinsie”, gaan dit vir ons om die Afrikaner se vryheidstrewe te verwoord en te beredeneer.

Ons bied nie net bandwydte vir gekke en dwase nie.

Afrikaans mag binne twee of drie geslagte uitsterf

Posted by Dan Roodt | Toesprake en referate | Sondag 16 Augustus 2009 8:01 pm

Vrydagaand 14 Augustus (GRA-dag) het ek die onderstaande toespraak gelewer tydens ‘n debat oor die toekoms van Afrikaans wat deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gereël is. Mnre. Louis Smuts van Tabok en Cornelius Janse van Rensburg van die Vryheidsfront Plus se jeugbeweging het die saak vir die voortbestaan van Afrikaans verdedig, terwyl mnr. Henk van de Graaf van Radio Pretoria ook my pessimistiese prognose vir Afrikaans ondersteun het. Op pad na die Hervormde Kerksaal in Du Toitstraat in die middestad van Pretoria, het ons die indruk gekry dat ons vreemdelinge in die stad was. Terwyl die strate van Pretoria op ‘n Vrydagaand wemel van mense, is daar geen blankes of Afrikaners te sien nie. ‘n Mens wonder wat Paul Kruger en die oorspronklike stadsvaders daarvan sou gedink het, maar die demografiese transformasie – om ‘n gepaste term te gebruik – van Pretoria ondersteun insgelyks my argument, dat Afrikaans sonder een of ander groot poging deur Afrikaners of ‘n radikale staatkundige verandering in Suid-Afrika, bestem is om algaande te kwyn en dan uit te sterf.

Sedert Brittanje onder aanvoering van Lord Craig vir die eerste keer die Kaap in 1795 binnegeval het, het Nederlands, of dan die latere Afrikaans, byna konstant verliese van sprekers teenoor Engels getoon. Vandag bestaan daar vele mense in die land met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans magtig is nie. Hulle gaan nooit ‘n Afrikaanse boek lees nie, ‘n Afrikaanse film of TV-program kyk nie en natuurlik sal so ‘n persoon net in buitengewone omstandighede sy of haar kind na ‘n Afrikaanse skool stuur.

Van die groot aantal Afrikaner-emigrante wat sedert 1994 die land verlaat het, kan mens gerieflik sê dat slegs ‘n minderheid se kinders wat in die buiteland gebore is, nog Afrikaans praat. My beste vriend op skool – ek was aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg – se kinders verstaan geen woord Afrikaans nie, want hy is met ‘n Engelse vrou uit Natal getroud en agterna het hulle in Londen gaan woon waar hy sedertdien as advokaat praktiseer. Op een van my rare besoek aan hul woning het ek en hy oudergewoonte met mekaar Afrikaans gepraat.

“Daddy, what language is that?” het sy oudste seun in die geselskap gevra. “Dis Afrikaans,” het sy pa geantwoord.

Harald Pakendorf ontken die werklikheid

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Sondag 16 Augustus 2009 1:24 pm

In vandag se Rapport meen Harald Pakendorf dat die land ‘n “gesprek oor ras” nodig het, want sien, blankes en Afrikaners word mos toenemend soos vreemdelinge in die land behandel. Soos Pakendorf dit stel, Hlope, Malema en ander wil hê dat “Suid-Afrika sy Afrika-karakter moet uitdra”.

Enigeen wat glo dat die ANC die reëltjie uit die Freedom Charter dat “SA aan almal behoort wat hier woon” ernstig opneem, ontken eenvoudig die werklikheid. Swart nasionalisme, pan-Afrikanisme, noem dit wat jy wil, is reeds 60 jaar in Afrika die heersende ideologie. Dit is ook reeds 100 jaar lank die dominante diskoers onder Amerikaanse swartes en onder die Franssprekende swart elite met hul “négritude” of “swartheid”.

Die gedagte dat daar een of ander “ontmoeting halfpad” tussen Europa, Afrika en Indië in SA gaan plaasvind, is volslae wensdenkery.

Net gister lees ek ‘n berig oor ‘n lemoenboer in Zimbabwe wat reeds sy plaas verloor het en nou moet toekyk hoe die lemoene wat hy gekweek het letterlik van die plaas af gesteel word en langs die pad verkoop word. Blykbaar maak ‘n regeringsamptenaar boonop geld daaruit.

Hy hoop dat “redelikheid” eendag gaan seëvier en dat hy sy plaas gaan terugkry sodat hy in “almal se belang” weer R32 miljoen se lemoene per jaar kan uitvoer.

Daardie Zim-lemoenboer gaan nooit sy plaas terugkry nie, bloot omdat “redelikheid” nooit in Afrika seëvier nie. Die dag toe De Klerk en Roelf Meyer die “record of understanding” onderteken het, sodat die ANC gelag het dat “die Boere die plaas weggegee het”, is ons lot verseël. Van toe af is SA amptelik “van Afrika” en is ons vreemdelinge hier, want het ons (of ons sogenaamde verteenwoordigers) nie vrywillig aanvaar om voortaan magteloses en vreemdelinge te wees nie?

Enige debat oor ras moet natuurlik begin by swart gedrag, misdaadgeneigdheid en juis die ontkenning van die “wit ander” en veral die Afrikaner in SA.

Nóg Harald Pakendorf, nóg enige lid van die vorige en huidige Afrikaner-establishment wat in Rapport skryf, beskik oor die moed om dit te doen.

Hierdie is maar net nog ‘n vorm van die NP-gekruip van gister, van “kyk, ons is skadeloos en onderdanig, wees ons tog net genadig”.

En, soos die lemoenboer van Zimbabwe, droom ons van die dag dat “alles gaan regkom”, sonder om Afrika se geskiedenis of die swart filosofie in ag te neem.

14 Augustus: ná 134 jaar word Afrikaans weer onderdruk

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Vrydag 14 Augustus 2009 2:47 pm

Soos wat die onderdrukking van Afrikaans onder die toenemend totalitêre ANC-bestel met sy “demonokrasie” toegeneem het, het verskeie Afrikaanse organisasies en individue spontaan begin om 14 Augustus as ‘n belangrike datum op die Afrikaanse en nasionale kalender te gedenk.

Vir diegene van my geslag wat in die ou tweetalige Suid-Afrika grootgeword het – en wat eintlik ‘n model vir taalbillikheid was, gegewe dat elke tuislandregering ook ‘n swart streekstaal kon bevorder – het die Engelse brander wat sedert 1994 oor die land gebreek het as ‘n groot skok gekom.

Vandag swyg die regime se media in Afrikaans en veral natuurlik in Engels oor 14 Augustus en die wonderbaarlike verhaal van enkele Afrikaners wat op dié datum in 1875 die besluit geneem het om die wêreld se jongste standaardtaal te begin “skryf soos jy praat”.

Die feit dat hulle hulself die “Patriotbeweging” genoem het, het ook geslaan op die sterk Republikeinse opwelling wat in die 1790s onder Kaapse Afrikaners plaasgevind het, toe daar insgelyks ‘n politieke Patriotbeweging bestaan het.

Die mate waartoe die geskiedenis hom, veral op taalgebied, in Suid-Afrika herhaal, is eenvoudig verstommend. Terwyl taalregte en taalgelykheid ná Hertzog se taalwet van 1925 in die land byna as ‘n gegewe beskou is, het ons in ons tyd weereens die byna kolonialistiese arrogansie van Engelse jingoïsme gesmaak.

Net soos in die verlede en veral die 1940s toe verengelsde Afrikaners die sterkste voorstanders van verengelsing was, beskik ons vandag oor sogenaamde “stryders vir meertaligheid” wat Afrikaans wil marginaliseer en uiteindelik tot ‘n stukkie ignoreerbare folklore wil verskraal. Tereg is sulke mense, waaronder die magtige bruin of “swart” akademici – soos hulle verkies om hulself te noem – in hul vername poste aan voorheen Afrikaanse universiteite as Trojaanse perde bestempel wat die uitwissing van Afrikaans met hul mooiklinkende gemeenplase wil verhaas.

Gister skryf prof. Jaap Steyn in Die Volksblad ‘n waar woord teenoor juis een van die Trojaanse perde, die Afrikaner- en Afrikaanshater Jonathan Jansen wat teen die “taalhouding van Afrikaners” uitgevaar het: “Jansen praat van die “afdwing” van Afrikaans, maar geen taal is in ons geskiedenis in so ’n groot mate afgedwing as Engels in die afgelope 200 jaar nie – veral nou weer in die laaste vyftien jaar.”

Dat Engels vandag in Suid-Afrika afgedwing word, so te sê met wapengeweld, is ‘n feit. Sowel die staat- as die korporatiewe sektor ly aan geheueverlies oor die feit dat Afrikaans bestaan. Taalstryders wat bloot logiese vrae oor die illusie dat Suid-Afrika ‘n Engelstalige land sou wees, vra, word deur die SAUK en die korporatiewe media doodgeswyg, gesensureer of belaster.

Vandaar die feit dat ‘n “nie-Afrikaanssprekende” soos Jansen vandag as die buikspreker en gelukbringer van fascistiese Engelsheid in Suid-Afrika optree.

Afrikaners, asook daardie tweedetaalsprekers of selfs vreemdelinge wat met ons onregverdige en ongelyke stryd meegevoel het, sal moet besef dat ons voortaan veel harder teen ‘n magtige en ongenaakbare vyand sal moet veg.

Gegewe die volslae vertrapping van ons taalregte en die graad van etniese suiwering wat daar reeds teen Afrikaners toegepas word, hetsy in die sin dat ons vanuit ons eie instellings geweer word, hetsy in ‘n letterlike sin waar gruwelike moorde en verkragtings teen ons gepleeg word, is die natuurreg voortaan aan ons kant.

Ons het die reg om ons teen Engelse taalaggressie te verdedig. En al moet dit uiteindelik uitloop op meer radikale optrede soos die afbrand van Engelse skole, net soos wat die pro-Britse swartes van Johannesburg teen Afrikaans beswaar gemaak het deur hul eie skole af te brand, mag ons nie nou tou opgooi nie.

Een van die lesse van 14 Augustus is dat ‘n Gideonsbende in 1875 – teen die hoon en bespotting wat hulle van die destydse Kaapse burgery ontvang het – die strydvlag vir Afrikaans opgeneem het en uiteindelik geseëvier het. Die aantal mense wat vandag Standaardafrikaans liefhet en wil bewaar, is moontlik nie veel groter as in 1875 nie. Hulle verteenwoordig egter die room van ons kultuur en van ons volk.

Dit het tyd geword dat ons die SAUK-TV en KykNet met hul lagwekkende en dom Kreools afskakel en televisielisensies begin boikot. Dis ook hoog tyd dat ons ons onderdrukte, maar steeds aristokratiese en voortreflike taal met skokkende welsprekendheid begin praat, skryf en op die mure begin verf.

Die Britse Ryk kon Afrikaans nie doodmaak nie. Die Nguni-ryk en hul verteenwoordigers vanuit die Engelstalige Ooskus van die land gaan dit ook nie regkry nie.

Solank as wat daar nog “regte Afrikaners” met “Afrikaanse harte” bestaan.

Rapport en Afrikaans se joernalistieke krisis

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Woensdag 12 Augustus 2009 1:53 pm

Die afgelope naweek het Rapport bekendgemaak dat hy sy internetuitgawe later beskikbaar stel in ‘n poging om vas te stel of die sirkulasie van die koerant se papieruitgawe deur die aanlynweergawe beïnvloed word.

Ook is die koerant se internetlesers in ‘n opname gevra of hulle bereid sou wees “om vir Rapport se aanlyn-inhoud te betaal”. Agt-en-tagtig persent van die aanlynlesers het egter geantwoord dat hulle nie bereid is om te betaal nie.

As ek eerlik moet wees, sal ek ook nie vir Rapport betaal nie, hetsy op papier, hetsy op my rekenaarskerm. Benewens sensasionele berigte oor Steve Hofmeyr se owerspel en foto’s van Saterdag se rugby, bevat Rapport geen nuus wat my as opgevoede Afrikanerleser interesseer nie.

Dan praat ek nie eens van die koerant se redaksionele kommentaar in die vorm van hoofartikels en rubriekskrywers nie. Daar is die Snotkop Jan-Jan Joubert wat eers ‘n Mbeki-bewonderaar was en deesdae ‘n soort adolessente aanbidding vir Helen Zille koester. Die goue draad van Snotkop Joubert se oppervlakkige, onintelligente menings is egter sy afkeer van alles wat van die Afrikaner is: ons geskiedenis, Standaardafrikaans, die gedagte dat ons oor taal-, kultuur- of minderheidsregte mag beskik.

‘n Ander weeklikse rubriekskrywer in Rapport is Daggakop Kombuis. Onlangs het ek al menige artikel gelees waarin daar beweer word dat blootstelling aan dagga en ander dwelms permanente breinskade tot gevolg het. Daar is ‘n soort ligsinnigheid omtrent hom wat spreek van ‘n verwronge werklikheidsbesef. Hoe meer geweldsmisdaad daar in Suid-Afrika gepleeg word en hoe meer ons infrastruktuur in duie stort, hoe meer juig Koos Kombuis oor “demokrasie” en “vryheid”. Vir hom is daar geen verskil tussen ‘n rockkonsert en ‘n verkiesing nie; albei is vorme van massavermaak wat met ‘n bottel Tassenberg geniet kan word. Dat Rapport hoegenaamd kans sien om Koos Kombuis as ‘n politieke kommentator aan te bied, toon dat die koerant insgelyks sy kontak met die werklikheid kwyt is.

Asof ‘n Snotkop en ‘n Daggakop nie genoeg is nie, vergas Rapport ons ook op die halfgebakte skrywes van die Warkop Andries (alias Roof) Bezuidenhout. Benewens rocksanger, is Roof ook dosent of navorser aan Wits in ‘n geesteswetenskaplike dissipline. As iemand wat self aan Wits gestudeer het in die dae toe daar nog toelatingsvereistes was, kan ek getuig van die mate waartoe die geesteswetenskappe in daardie tyd reeds gerysmier is deur ‘n bonte versameling malles wat onder die vaandels van Marxisme, Feminisme en Afrikanisme die res van die samelewing as boos beskou het. Wits het nooit die ineenstorting van die Berlynse muur oorkom nie en sedertdien gryp die toenemend gehawende groepie sosioloë, politieke wetenskaplikes en literatore aan daardie universiteit na al hoe meer vergesogte teorieë en linkse clichés wat Robert Mugage na ‘n groot wysgeer laat voorkom. Roof voel hom vir seker tuis by Wits en tussen die blaaie van Rapport waar hy, die Warkop, geredelik saam met Snotkop en Daggakop deelneem aan allerlei klagtes en beledigings teen die normale, heteroseksuele en boonop blanke Afrikaner wat die meerderheid van Rapport se lesers verteenwoordig.

Dan is daar nog, les bes, Jakes Gerwel, wat al odes aan die Kommunistiese Party in Rapport geskryf het en blykbaar letterlik in trane uitgebars het toe die skare vanuit Oos-Berlyn in 1989 oor die Glienickebrug gestroom het sonder dat die destydse Oos-Duitse muurskieters op hulle geskiet het om hulle in hul werkersparadys gevange te hou. Ek sou Jakes Gerwel seker Kroeskop kon noem, maar netnou word ek van rassisme beskuldig. Noem hom dan maar eerder Rooikop, wat nie die kleur van sy hare uitdruk nie, maar wel sy matelose bewondering vir alles wat met die SAKP en ANC te make het. Trouens, elkeen van sy stukke kommentaar in Rapport gaan gewoonlik oor een of ander figuur in die SAKP of ANC wat ons eer en agting verdien. Waarskynlik is hy die enigste kaartdraende lid van die ANC wat sowel ‘n aanhanger van Thabo Mbeki as Jacob Zuma is, want hy koester ‘n kinderlike bewondering vir albei. Hy is ook alewig besig met “nasiebou” en om alles in dié droewe land goed te praat. Elke donker wolk het sy silwer randjie en as jy gister in jou huis aangeval is of daar is ontlasting in Sannieshof se drinkwater, onthou net: dis ‘n voorreg om deur die groot leiers van die ANC en SAKP regeer te word.

Voeg hierby nog Christi van der Westhuizen, Mad Max du Preez en ander Afrikanerhaters wat meer of minder gereeld in Rapport hul ekstremistiese menings lug en dis duidelik dat die koerant oor ‘n doodswens beskik, ten minste wat sy sirkulasie betref. Sedert die heengaan van die ewe ultralinkse Insig, swerf ‘n bepaalde groepie Kaapse joernaliste egter van een Afrikaanse publikasie na die ander rond op soek na nog ‘n platform van waar hulle die Afrikanerpubliek kan beledig en slegsê.

Volgens Chris Louw beskik Harald Pakendorf oor die onderskeiding dat hy nie minder as vier Afrikaanse koerante “toegemaak het” nie. Liza Albrecht, die redaktrise van Rapport, is duidelik van plan om Pakendorf se rekord te oortref en vermoedelik daal die sirkulasie van die grootste en enigste Afrikaanse Sondagkoerant reeds. Albrecht het haar tande geslyp by die bylaag “By” waar Max du Preez, Christi van der Westhuizen en enigeen wat van Karl Marx, Andrea Dworkin en Carlos die Jakkals hou, welkom is om die kolomme vol te maak. Die voordeel van “By” is natuurlik dat kopers van Beeld, Die Burger en Volksblad dit as ‘n bylaag ontvang en dus maar verlief met die inhoud moet neem. Niemand sal ‘n sent daarvoor betaal nie.

Eintlik kan mens nie sê dat Liza Albrecht “uit voeling” met haar lesers is nie. Sy weet min of meer waarvan hulle hou – en gee hulle presies die teenoorgestelde. Die aanslag van Rapport – en van By – is dat Snotkop, Daggakop, Warkop, Rooikop en al die ander -koppe oor ‘n soort vrypas beskik om die Afrikanerlesers van dié publikasies week vir week te beskuldig, af te kraak en te demoraliseer. Enigiemand wat homself ‘n Afrikaner noem, is per definisie ‘n rassis en elkeen wat van skoon drinkwater hou, is ‘n Nazi wat nie die noodsaak vir diversiteit en transformasie wil erken nie.

Toevallig sien ek so pas raak dat Liza Albrecht oor ‘n Twitter-profiel beskik. Ja, reg geraai, sy beskryf haarself, nogal in die Rooitaal, as: “I’m the editor of an Afrikaans newspaper in South Africa.” Ene Jannie Momberg, redakteur van News24, ‘n volgeling van haar op Twitter, het beswaar teen die gebruik van blankes met blonde hare op die Vryheidsfront Plus se verkiesingsplakkate.

Ek vermoed Liza Albrecht het ook ‘n beswaar teen die ras en haarkleur, asook taalvoorkeur, van haar lesers. Vandaar haar veldtog om Rapport te herposisioneer as ‘n byderwetse, linkse, regstellende-aksiekoerant wat iewers in die toekoms met City Press gaan saamsmelt om net in Engels te verskyn.

Liza Albrecht en haar medejoernaliste – of eerder: -propagandiste – sal seker altyd werk hê. Immers is hulle konformiste wat bloot die heersende ideologie wat vanaf die ANC-beheerde SAUK se kassie uitgebasuin word, aanhang en in Afrikaans aan die dom Boere wat steeds aanhou om Afrikaanse koerante te koop, opdis. As Rapport weens sy grondige minagting vir sy eie Afrikanerlesers ophou bestaan, sal Albrecht vir News24, City Press of enige ander publikasie in die Naspersstal gaan werk.

Die tragedie vir Afrikaans lê daarin dat dít wat vir die “editor of an Afrikaans newspaper in South Africa” net nog ‘n werk is, waarskynlik vir die voortbestaan van ons taal, selfs ons fisieke voortbestaan in dié land, van wesentlike belang is.

Die internet gaan in die nabye toekoms die leemte vul wat deur kwynende Afrikaanse koerante soos Rapport gelaat gaan word. Allerlei “alternatiewe Afrikaanse media” wat grotendeels aan die dwangbuis van politieke korrektheid en konformisme ontkom, bestaan reeds op die wêreldwye web. Maar vir die afsienbare toekoms gaan daar steeds mense wees wat, hetsy nie oor rekenaars beskik nie, hetsy verkies om hul nuus op papier te lees.

Ek kan voorsien dat, soos wat publikasies soos Rapport saam met hul ANC-ideologie oor die afgrond stort, ons ook met omsigtigheid alternatiewe op papier gaan skep. Daar bestaan allerlei streeks-, gemeenskaps- en partykoerante in Afrikaans wat met ‘n bietjie verbeelding gekonsolideer kan word om ‘n alternatief vir Rapport in gedrukte vorm te bied.

In so ‘n geval sal die heengaan van Rapport, jou anti-Afrikanerkoerant op ‘n Sondag, geen tragedie vir ons taal wees nie, maar eerder ‘n bevryding.

Intussen het ons by praag.co.za, wat grotendeels ‘n vrywillige inernetpublikasie is, besluit om ten minste elke Sondagoggend ook ‘n uitgawe aan lesers te bied wat finaal genoeg van die Rapportkoppe gehad het.

Volgende Bladsy »