Nestlé en korporatiewe sinisme

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Maandag 28 September 2009 11:05 am

 Powered by Max Banner Ads 

Die nuus dat die Switserse voedselreus, Nestlé, in Zimbabwe melk aankoop van ‘n voorheen blanke plaas wat deur mev. Grace Mugabe afgevat is, laat ‘n mens in jou sjokolade verstik. Ook lyk dit asof Switsers tans hul bes doen om die argwaan van Suider-Afrikaanse blankes te ontketen. Want as St. Gallen in Switserland nie Paul Kruger as ‘n straatnaam in hul dorp afskaf nie, dan maak die Switserse baas van FIFA, Sep Blätter dom uitlatings soos dat geweldsmisdaad in Suid-Afrika op “rassistiese persepsies” berus.

Sekerlik is daar mense wat ná dié nuus met ander oë na Nestlé se produkte op ons winkelrakke kyk. Enige boikotaksie teen Nestlé weens sy medepligtigheid aan die anti-blanke rassisme van die Mugabe-regime behoort ondersteun te word. Indien Switsers, met wie ons sedert Paul Kruger se dae, maar ook tydens die sanksiejare, goeie verhoudings gehad het, hulself nou by Afrikaners ongewild wil maak, is dit seker hul keuse.

Maar die ergste aan die Nestlé-Mugabe-melkskandaal, is die onderliggende korporatiewe sinisme wat uit die maatskappy se houding en verklaring spreek. Hy koop melk “in die ope mark” aan. Indien plase op grond van ras deur die swart rassiste van Zimbabwe gekonfiskeer is, maak dit nie saak nie. Die maatskappy doen nou sake met die nuwe eienares, mev. Grace Mugabe, wat saam met Winnie Mandela seker die beroemdste verbruiker van luuksegoedere in Suider-Afrika moet wees.

In Suid-Afrika neem groot ondernemings presies dieselfde houding in deur die ANC se rassistiese wette teen die blanke bevolking tot op die letter na te volg. Meer nog, vele groot maatskappye diskrimineer meer teen blankes en Afrikaners as wat die ANC se wette en beleid van hulle vereis, stel geen blankes meer aan nie en versprei dikwels negatiewe voorstellings van blankes in hul kommunikasie soos advertensies. Terwyl sulke maatskappye graag met mev. Grace Mugabe en die ANC se korrupte oligarge sake doen, straf hulle klein sake, wat die laaste toevlug van die blanke ondernemer verteenwoordig, deur hulle van tenders en transaksies uit te sluit.

Multinasionale ondernemings en groot maatskappye is beslis nie bo die politiek verhewe nie en in Suider-Afrika dien hulle die belang van ZANU-PF en die ANC-SAKP met ‘n filosofie van “mag is reg”.

In ‘n wêreld van handelsmerke, sal die verbruiker meer ingelig moet raak oor waarmee maatskappye in werklikheid besig is en watter ons ondersteuning by die kasregister verdien en watter soos die pes vermy behoort te word.

Mugabe is nie mal nie

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Sondag 27 September 2009 11:06 am

Robert Mugabe het so pas sy “grondhervormingsprogram” op CNN verdedig. Dikwels kom ‘n mens egter diegene teë – sowel joernaliste as gewone mense – wat beweer dat “Mugabe sy varkies kwyt is”, “kranksinnig is” en dergelike meer. Ek kan onthou dat ‘n aanbieder van die BBC, saam met wie ek so vier of vyf jaar gelede middagete genuttig het, dieselfde gesê het. “Dis nie omdat hy swart is dat hy so optree nie, dis omdat hy waansinnig is,” het die BBC-man in sy wysheid aan my oorgedra.

Mugabe maak egter nie die indruk van ‘n malman op my nie, inteendeel. Daar bestaan seker ‘n groot verskeidenheid definisies van waansin, maar om konstant teenstrydige uitsprake te maak, soos “Ek is op die maan” terwyl jy tuis in jou kombuis is, is seker een daarvan. Mugabe, aan die ander kant, handhaaf ‘n keiharde logika in alles wat hy sê.

En daardie logika, verstout ek my om te sê, is niks anders as die Suider-Afrikaanse liberalisme (en kommunisme) wat reeds ‘n eeu of twee in dié wêrelddeel met ywer verkondig word nie.

Waar was u toe Mugabe op 4 Maart 1980 tot president van die nuwe Zimbabwe verkies is? Ek herinner my die oomblik nog soos gister. Ek was destyds ‘n Honneurstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Toe die uitslag oor die radio aangekondig is, was ek besig om koffie te drink by die kafee in die binnehof van die Senaatshuisgebou. By die tafel langs my het ‘n aantal linkse studente gesit wat taamlike diep spore in die Engelse joernalistiek en regswese in dié land sou trap. Een of twee van die stigterslede van die Mail & Gaurdian was daar, so ook die kinders van die fotograaf David Goldblatt, hy van “Some Afrikaners photographed”-faam. Ek verbeel my Gilbert Marcus, die latere advokaat en broer van Gill Marcus, was ook teenwoordig.

Toe die aankondiging kom dat ZANU-PF gewen het, het ‘n gejuig langs my losgebars. Daar was groot blydskap, glimlagte, kwinkslae en vreugde. Die held van die wit liberales en linkses, Mugabe, het gewen. En dit was nie net onder Engelse en Jode wat ‘n mens dié bewondering vir Mugabe destyds teëgekom het nie. In dieselfde tyd het ek by die Afrikaanse skrywer, John Miles – van wie daar onlangs ‘n nuwe roman genaamd “Voetstoots” verskyn het – gekuier. Hy en sy destydse kunstenaresvrou, Elza Miles, het ‘n ewe gunstige mening oor Mugabe, “die slim man”, gehad.

Die liberale Britse pers was natuurlik destyds ewe gaande oor Robert Mugabe en het ‘n blink toekoms vir Zimbabwe onder sy bekwame leiding voorspel. Dieselfde BBC-aanbieder met wie ek gaan eet het en wat hom tans as ‘n malman beskou, het waarskynlik Mugabe se verkiesing en die neerlaag van Ian Smith op 4 Maart 1980 as ‘n heuglike gebeurtenis gesien.

Einstein het ‘n ander definisie van waansin gehad: “Om oor en oor dieselfde ding te doen en ‘n ander resultaat te verwag.” En dit is presies waarmee die liberales en linkses in Suider-Afrika nog al die tyd mee besig is. Grondhervorming het in Zimbabwe misluk, maar as dit in Suid-Afrika toegepas word, kan ons van die teenoorgestelde uitkoms verseker wees!

Al wat Mugabe eintlik in Zimbabwe doen, is om die polities korrekte ideologie van grondhervorming, teregstellende aksie, transformasie, asook swart bevoordeling en blanke benadeling, tot sy logiese gevolgtrekking te voer.

Gedwonge integrasie kan ook tot rassehaat lei

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Saterdag 26 September 2009 2:19 pm

Ek sien dit word nou allerweë betreur dat die reënboognasie skipbreuk gely het. Maar die hoop word op Jonathan Jansen en diesulkes geplaas wat die jonger geslag gaan dwing om in mekaar se geselskap te verkeer en so “nasie te bou”.

Die ironie is natuurlik, soos onlangse navorsing in die VSA bevind het (en waaroor Newsweek enkele weke gelede berig het), dat hoe meer geleenthede mense van verskilende rasse kry om te assosieer, hoe meer kan hulle insgelyks deur mekaar afgestoot word. Jansen se gedwonge integrasie by Kovsies mag dalk die teenoorgestelde uitwerking hê as wat hy beoog: meer wedersydse afkeer en rassehaat.

Al wat ons met sekerheid kan sê, is dat Suid-Afrika nie uit ander lande, soos die VSA, se foute kan leer nie.

Erfenis, watter erfenis?

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Donderdag 24 September 2009 8:46 pm

Vir vele mense is vandag ‘n gewone werksdag, maar selfs die naam daarvan, “Erfenisdag” laat ‘n wrang smaak in die mond. Want daar is geen bewind in die geskiedenis wat soveel gedoen het om erfenis te vernietig as juis die ANC nie.

So pas het Jacob Zuma in New York voor die Algemene Vergadering van die VN weer die gewone gemeenplase oor “apartheid” kwytgeraak. Tydens sogenaamde “apartheid”, wat as ‘n “misdaad teen die mensdom” deur die einste Algemene Vergadering verklaar is, het net meer as 900 mense oor ‘n tydperk van meer as veertig jaar in politieke geweldpleging omgekom.

Hierteenoor sterf daar ongeveer 50 000 mense jaarliks aan geweldsmisdaad sedert 1994. Oor die afgelope vyftien jaar het daar dus 15 x 50 000 = 750 000 mense omgekom, genoeg om ‘n volksmoord genoem te word. Hoeveel van hulle blankes en Afrikaners was, weet ons nog nie, maar waarskynlik was ‘n relatief hoë persentasie van daardie slagoffers wel Afrikaners.

Wat die benaming volksmoord nog verder van toepassing maak, is juis die vernietiging van ons erfenis onder die ANC. Afrikaanse skole, universiteite, museums, plekname, geskiedenis, monumente, boeke en argiefmateriaal is oorgeneem, herbenoem, vernietig, verkoop en dies meer.

Die pseudo-erfenis wat deur die staat bevorder word, lyk op die swart snuisterye wat in toeristewinkels verkoop word. Die argaïese Afrikakultuur met sy stamdanse, voorvaderaanbidding en meesal ongekunstelde handwerk van krale, gras en klei word aan ons as “nasionale erfenis” voorgehou. Ook die geskiedenis van die ANC, ‘n deels terroristiese, deels swart-nasionalistiese en Nguni-beweging, is veronderstel om voortaan die nasionale geskiedenis van Suid-Afrika te verteenwoordig.

Voeg hierby die lukraak verwestering en veramerikaansing wat in Suid-Afrika aan die gang is, en ons tref ‘n amalgaam van tradisies aan wat niemand se “erfenis” kan wees nie, maar bloot ‘n sameflansing van die ergste uit én die verlede én die hede. Alles wat lelik en sleg is, is blykbaar deesdae “erfenis”.

Afrikaners, soos Jode, Moslems en die vele immigrante en buitelandse werkers in Suid-Afrika, behoort eerder hul eie nasionale dae soos Republiekdag, Krugerdag, Van Riebeeckdag en ander te vier as die onsinnige feesdae wat die ANC vir ons gebring het.

Blanke ‘gesindheid’ is irrelevant – vir Harald Pakendorf

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Sondag 13 September 2009 8:04 pm

Dis vir my interessant hoe die hele utopie rondom veelrassige en multikulturele demokrasie (ek noem dit: demonokrasie) besig is om uit te rafel. Al die Britte en Amerikaners se propagandiste wat ons wou oortuig dat ‘n stelsel wat nêrens in Afrika gewerk het nie – en waar minderheidsgroepe soos blankes en Indiërs uit een land na die ander verdryf is – oplaas hier gaan werk, word tans deur die werklikheid oorval. Die afgelope vyftien jaar is die werklikheid, ook ons geskiedenis, konstant misken en onderdruk, maar nou – skielik – slaan dit toe soos ‘n dief in die nag. Selfs Nico Smith sien die probleem raak, maar Harald handhaaf die lagwekkende siening dat ‘n “gesindheidsverandering” onder blankes die toekoms van hierdie land kan verander. Dis so goed as om te sê die tienduisend oorblywende blankes in Zimbabwe moet net hulle “gesindheid verander” en dan sal die mielies outomaties opkom, die hospitale en skole sal weer begin werk en die Zim-dollar sal weer ‘n paar miljard persent in waarde toeneem. Of die SA blankes van swartes hou of nie, of hulle selfs die ANC-regering ondersteun of nie, is irrelevant. Hier is ‘n historiese en etniese logika aan die werk wat slegs deur politieke handeling gestuit kan word, net soos wat politieke handeling dit ontketen het. Ons moet Nico Smith se waarskuwing van volksmoord ernstig opneem. Lees ook wat ek vandag hieroor geskryf het (ondertoe). En indien enigeen van my verskil, sou ek graag die teenargument wou hoor, nie blote ontkenning van die probleem soos Harald P. dit hierbo beoefen nie.

Harald Pakendorf in Rapport:

Wittes se kans kom om hul knorrigheid af te skud

Die wittes, en veral die Afrikaner, se plek in die nuwe Suid-Afrika is skielik deel van die openbare debat. Die vreemdste sieninge kom na vore.

Stuur ons af op ‘n blanke volksmoord?

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Sondag 13 September 2009 7:33 pm

Vandeesweek het ds. Nico Smith, ‘n soort sikofant van oorle Beyers Naudé, ‘n kat in die hoenderhok gesmyt met sy stuk in Beeld waarin hy blankes tot onderdanigheid aan hul nuwe swart heersers maan. So nie, sê Smith, gaan dieselfde lot ons tref as die sowat miljoen Franse Algeryne wat almal sak en pak met net die klere aan hul lywe hul land moes verlaat toe die moederland, Frankryk, hulle in die steek gelaat het en sy militêre magte verwyder het.

Nico Smith stel dit in ‘n neutedop só: “Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.”

Met ander woorde, ons moet aanvaar dat ons en ons kinders en waarskynlik ons kleinkinders, vir altyd tweederangse burgers onder ‘n swart regering gaan wees wat ons bloot gaan verdra na gelang van ons onderdanigheid en die “lojaliteit” wat ons jeens hom gaan betoon.

Tereg het Tim du Plessis, die redakteur van Beeld wat deesdae toenemend ontnugter met sy base by Naspers se utopiese voorstelling van “Suid-Afrika se wonderlike demokrasie” raak, ‘n teenargument geopper wat ek reeds jare lank ophaal: wat het hul onderdanigheid die blankes van Zimbabwe en veral die Commercial Farmers Union gebaat? Hulle het agteroor gebuig, hulle was lojaal en inskiklik, maar op die ou end het Mugabe dit as swakheid geïnterpreteer. Hulle grond is summier onteien en van die eertydse groot blanke bevolking van etlike honderde duisende mense in die voormalige Rhodesië het daar net mooi niks oorgebly nie.

Black Man’s Wheels en die Mercedes-Benz SEB-klas

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 8 September 2009 7:33 pm

By al die absurditeite wat hierdie droewe land tans teister, is daar Cosatu se jongste betigtiging van ministers met uitspattige voertuie. Asof “demonokrasie” van die Afrikatipe nie juis rondom ‘n keiserlike lewenstyl vir politici in bankrot lande draai nie.

Sonder Mercedes- en BMW-handelaars, asook hotelgroepe wat vyfsterhotelle regoor die vasteland bedryf, sou demonokrasie nie kon bestaan nie. As ‘n “leier van die mense” nie in sy swart Duitse voertuig, tesame met ‘n gevolg van flitsende blou ligte en loeiende sirenes die ander motoriste van die pad kon afdwing op pad na ‘n konferensie in ‘n vyfsterhotel nie, sou niemand kon glo dat regering in Afrika bestaan nie.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie, behalwe dat die staat nog nie so bankrot is soos dié in Zimbabwe of Swaziland wat op buitelandse hulp moet staatmaak om aankope van Duitse weeldemotors te finansier nie. Gegewe die standaard van “maagpolitiek” elders op ons vasteland, is Blade Nzimande se 1,1-miljoenrand-BMW-750i eintlik “beskeie”. Indien dit koeëlvas gemaak was en met ‘n paar missiellanseerders toegerus was om lede van die gepeupel wat dit te naby daaraan waag met die druk van ‘n knoppie weg te blaas, sou mens dalk kon praat van “oorbesteding”.

Eintlik stel die ANC-regering ‘n goeie voorbeeld, veral vir daardie kleiner munisipaliteite waar burgemeesters gereeld ‘n aansienlike deel van die jaarlikse begroting op ‘n luuksemotor uitgee. Indien so ‘n munisipaliteit agterna nie ‘n broodnodige rioolpomp kan bekostig of die vullis nie verwyder word nie, wel, wat maak dit alles uiteindelik saak? Solank hierdie noodsaaklike simbole van demonokrasie wat uit Beiere of Stuttgart stam, vertoon kan word, loop alles mos klopdisselboom.

Die setel van demonokrasie is uiteindelik nie die parlement, waar 400 ander etende, besturende, reisende en konsumerende parasiete saamgetrek is nie, maar die Mercedes- of BMW-handelaar, tesame met die vyfsterhotel. Dis hier waar die wese van regering hom voltrek. “Regering”, waarsonder ons in hierdie land baie goed sou kon klaarkom, bestaan uit die besteding van die belastingbetaler se fondse op onnodige goedere wat die inherente minderwaardigheidsgevoel van Afro-politici moet besweer. Geen katedraal in die oerwoud en geen blink, swart, Duitse motor kan ooit te duur wees om Afrika se gekrenkte waardigheid tot aan die uitspansel te verhef nie.

Waarskynlik is Cosatu ook nie ernstig met sy uitlatings oor ministeriële ampsmotors nie. Dit getuig van een of ander Protestantse of Calvinistiese skuldgevoel oor staatsbesteding. Verwoerd was blykbaar bekommerd oor “wat die volk sou sê” toe daar by Libertas ‘n swembad geïnstalleer is.

Hiermee het Verwoerd sy verknogtheid aan die “apartheidsreëlboek” getoon.

Hoe ver het Suid-Afrika sedertdien nie gevorder in sy “bevryding” van alle blanke kleinsieligheid in dié verband en die regeerstyl ten noorde van die Limpopo omhels nie?

Anders as wat Cosatu dink, het die ANC lankal reeds die “apartheidsreëlboek” saam met Afrikaanse skole, skoon water en werkende staatshospitale tot “die asblik van die geskiedenis” verdoem en is ons bevoorreg om aan die skitterende leierskap van BMW- en Mercedes-entoesiaste blootgestel te word.

Dis hoog tyd dat ons wonderlike media ons gemotoriseerde regering ‘n bietjie meer ophemel. Sommige motormaatskappye sal seker nie omgee om bykomende advertensies by sulke berigte op te neem nie.

Lank lewe die Black Man’s Wheels! Lank lewe die Mercedes-Benz SEB-klas! In hul Hitleriaanse en nasionaal-sosialistiese praal.

Afrikaners en Aleksandr Doegin se geopolitieke denke

Posted by Dan Roodt | Toesprake en referate | Dinsdag 8 September 2009 7:29 pm

Inleidende aanmerkings by ‘n oop gesprek wat deur PRAAG op 28 Augustus 2009 aangebied is.

Sedert 1989 het die wêreld verskeie politieke revolusies deurgemaak. In Duitsland sal dit binnekort 20 jaar wees sedert die Berlynse muur ineengestort het. Verder in Oos-Europa, in die ou Joego-Slawië, in die Baltiese state en elders het verskeie lande radikaal verander. Sommige volkere, soos die Tsjegge byvoorbeeld, het vir die eerste keer in eeue werklike onafhanklikheid en selfbeskikking verkry.

In die ou Sowjetunie self het kommunisme om ‘n verskeidenheid redes verval. Een van die hoofredes was dat die produksie van voedsel ‘n afname getoon het en die land nie meer oor die nodige buitelandse valuta beskik het om voedsel in te voer nie.

Hoewel die Afrikanerdom in Suid-Afrika en die Russe in Rusland twee radikaal verskillende entiteite verteenwoordig, kan mens tog ‘n bepaalde ooreenkoms sien tussen die radikale magsverlies van die Afrikaners aan die een kant en die geostrategiese agteruitgang van Rusland aan die ander. Trouens, vele Amerikaanse ontleders skryf die opkoms van Wladimir Poetin en ‘n denker soos Aleksandr Doegin aan die Russiese frustrasie aan die einde van die Koue Oorlog toe. Daar word selfs gepraat van Russiese neo-fascisme, wat ‘n teenpool sou vorm teenoor die universele demokratisme van Amerika, die enigste oorblywende supermoondheid.

Tot enkele jare gelede het Afrikaners in Suid-Afrika oor die sterkste weermag, lugmag en vloot in Afrika beskik en kon ons mag tot by die ewenaar en selfs verder projekteer. Ons het boonop oor kernwapens beskik. Ons taal is wêreldwyd as ‘n kultuurtaal geag en is selfs tydens die tydvak van koue-oorlogspanning in Moskou gedoseer.

Terwyl Rusland in geostrategiese terme agteruitgegaan het, vergeleke met die VSA en China, het Afrikaners in Suid-Afrika as’t ware ondergegaan. Danksy die strategiese besluite van slegs enkele sogenaamde “Afrikanerleiers”, maar wat agterna marionette van die groter Anglo-Amerikaanse ryk geblyk het, is ons in ‘n situasie gedompel waar ons die verdwyning van die Afrikaner, sy taal, kultuur, geskiedenis, identiteit en alles wat daarmee saamhang in die gesig staar.

‘n Ander ooreenkoms tussen die Russiese volk en Afrikaners is dat die gemeenskaplike wapen wat deur die VSA, Brittanje en die lande in hul invloedsfeer teen ons gebruik word, juis sogenaamde “demokrasie” is. Net soos wat demokrasie deur die VSA en sy bondgenote ingespan word om Rusland se buurstate onder Amerikaanse invloed te bring en hom as’t ware te omsingel, so word demokrasie in Suid-Afrika en Suider-Afrika gebruik om die Afrikaner vernietig en van sy historiese grondgebied met behulp van grondhervorming en ander maatreëls te vervreem.

Daarby kan mens voeg die leierskapsrol wat die Russe in Oos-Europa en in die gebied wat Doegin Eurasië noem vervul, teenoor die Afrikaner se ewe belangrike staatkundige rol in Suider-Afrika. Net soos wat die ou Sowjetunie deur ‘n groot aantal etniese en taalgroepe bestaan het, het Suider-Afrika in die tyd van Verwoerd en PW Botha uit twintig of meer volkere bestaan wat almal op een of ander manier van Suid-Afrika en die Afrikaner se akademiese, tegnologiese en finansiële vernuf afhanklik was.

Die revolusie van 1989 wat die VSA tot enigste oorblywende supermoondheid verhef het, het dus verwoestend op die eertydse konstellasie van state rondom Rusland ingewerk en terselfdertyd Suider-Afrika grootliks onder Britse en Amerikaanse invloed gestel.

Een van die sleutelonderskeidings wat Doegin tref, is tussen Atlantisme en Eurasisme. Vir hom verteenwoordig die wêreldgeskiedenis ‘n dualisme tussen twee beskawingsvorme, dié van seegebonde handelaarsnasies en die geaarde, boerse tipe volkere wat in die grond gewortel is. Op geostrategiese vlak bepleit Doegin ‘n alliansie tussen Duitsland, Rusland en Japan wat die “Eurasiese blok” sou verteenwoordig, teenoor die “Atlantiese blok” van die VSA, die NAVO-lande en die res van die Engelssprekende wêreld wat waarskynlik die Statebondslande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika sou insluit.

Terwyl Huntington, die vermaarde Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskawingsbotsing in die tydperk ná 1989 as hoofsaaklik godsdiens- en kultuurgedrewe gesien het, ‘n klassieke Kulturkampf, kan ons by Doegin van ‘n veel radikaler eksistensiële onderskeid tussen beskawings praat. Dit gaan ook, soos die titel van een van sy boeke lui, om “‘n Groot oorlog tussen kontinente”.

Hierdie oorlog tussen vastelande kan teruggevoer word na die hoofkonflik in die eerste twee eeue voor die Christelike jaartal begin het, naamlik die oorlog tussen Carthago en Rome. Verder terug het die ou Feniciërs wat in die tydvak 1200-800 v.C. ‘n hoogtepunt in hul beskawing bereik het ‘n soortgelyke seegebonde handelaarskultuur beoefen as wat die Atlantiese mag van die moderne era sou voer.

Ras en taal volgens prof. Jansen

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 8 September 2009 7:21 pm

Prof. Jonathan Jansen, wie se omstrede uitlatings dat hy nie na “kak oor kultuurverskille” gaan luister nie en Kovsies summier gaan transformeer onlangs in die nuus was, het reeds in 2005 by die Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch sy anti-Afrikaner-houding op ‘n kenmerkend vulgêre manier getoon. Onderstaande rubriek deur Dan Roodt het kort ná die Afrikaanse Taalberaad op die Praagwebwerf verskyn.

Die swak beriggewing in die hoofstroompers oor verlede week se Taalberaad op Stellenbosch het soos gewoonlik ‘n skewe beeld gegee van wat daar werklik gebeur het. Dit was drie dae van verskeie laagtepunte met weinig hoogtepunte. Uiteindelik het die beraad onverrigter sake geëindig, met slegs die vae belofte van ‘n tweede beraad aanstaande jaar sonder enige wesentlike aksieplan.

Een rede waarom daar geen konsensus bereik kon word nie, was die teenwoordigheid van ‘n aantal bruin intellektuele soos drs. Christa van Louw, Neville Alexander en prof. Jonathan Jansen van die UP. Van Louw het op die laaste dag ‘n vloermoer gegooi uit vrees dat sy nie langer voorsitster sou wees van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans nie, terwyl Jansen op dag een aanbeveel het dat ek “seksuele omgang met ‘n swart persoon behoort te hê sodat ek kan regkom”.

Wat hierdie soort vulgêre uitlatings met ‘n bespreking oor die Afrikaanse taal te make het, weet nugter. Maar dit is kennelik die vlak waartoe regstellende aksie-akademici aan Afrikaanse universiteite deesdae besig is om te daal. Trouens, die aand ná die fameuse onderonsie tussen my en Jansen, het ek in prof. Christa van Louw van die US en prof. Hein Willemse van die UP vasgeloop en sy het Jansen se uitspraak smalend teenoor Willemse herhaal, en nog iets bygevoeg in die trant van, “maar hy moenie slaap nie, hy moet wakker bly.”

Wat Jansen veral omgekrap het, is dat ek na myself as ‘n Afrikaner verwys het. Die meeste bruin intellektuele verkeer onder die indruk dat drie miljoen Afrikaners in 1994 verdwyn het of ten minste een of ander kontrak ten gunste van hul eie ondergang onderteken het. Terwyl Jansen Woensdag sy vuige kommentaar teenoor my betuig het, het Neville Alexander reg langs my gesnou: “Die Afrikaner is ‘n lyk. Dis net jy wat nog daaraan glo omdat jy oningelig is.”

Ek moet sê dat die sogenaamde bruin intellektuele nogal ‘n bron van vermaak kan wees. Vier of vyf jaar gelede reeds het prof. Hein Willemse in ‘n internetdebat rondom die einste taalkwessie teenoor my beken dat hy swart is, maar dat swartheid vir hom geen rassekategorie is nie, maar ‘n “analitiese konsep”.

Tussen akademikaans, engfrikaans en die ANC-bargoens wat oor die afgelope tien jaar ons taal besoedel het, gaan dit maar swaar met Afrikaans. ‘n Woord wat my die horries gee, is “bemagtiging” en dit is oor en oor op die Taalberaad gebesig. As die woord bemagtiging nie deur die KGB uitgedink is nie, kom dit ten minste van Kuba of Noord-Korea.

Maar terug by die begrip “swart”, ekskuus, die analitiese konsep. Toe die Xhosas begin het om die Universiteit van Wes-Kaapland te oorstroom in die vroeë tagtigerjare onder die rektorskap van Jakes Gerwel, was al antwoord wat die bruin intellektuele kon vind om hulself insgelyks as “swart” te beskryf. Dit verklaar moontlik Jansen, wat wel baie donker van kleur is, se obsessie met swart wat naderhand so erg geraak het dat ek hom moes betig oor sy onbetaamlike rassetrots.

Byna erger as die kroeggrap-redenasies van Tukkies se dekaan van opvoedkunde, is die neo-Marxistiese taalkunde van sy blanke kollega, prof. Vic Webb. Laasgenoemde het ‘n pleidooi gelewer dat die Afrikaner alles moet aanvaar wat die ANC-regering op hom afdwing. Benewens sy neo-Marxisme en die feit dat hy sy grys haardos in ‘n poniestert vasbind, vermeld die Taaloudit wat voor die beraad uitgedeel is dat “kruisbestuiwing met Indië” een van Webb se navorsingsareas is.

Twee weke gelede het ek reeds verwys na dr. Gerrit Brand as ‘n akademiese hanswors. Vergeleke met Jonathan Jansen, Hein Willemse en Vic Webb kan ‘n mens hom amper ernstig opneem. Die ironie van die saak is natuurlik dat hierdie kreature wat uit die UP se sirkus onsnap het, deur Naspers opgehemel word as die profete van ons tyd.

Volgens Rapport het ek vir “vermaak” op die Taalberaad gesorg. Veel eerder het ek die rol van narretemmer gespeel, want vermaak was daar genoeg sonder dat ek daartoe hoef by te dra. Benewens prof. Jonathan Jansen se seksuele fantasieë – hy het behoorlik begin kwyl toe hy die gehoor vertel het van sy pogings om die blanke skoolmeisies van Pretoria Girls High te breinspoel om van taal- en rasse-segregasie ontslae te raak deur minnaars uit ‘n ander etniese kategorie te neem – was daar die bespreking oor Afrikaans en die media waaroor hieronder meer.

Terloops, ‘n mens wonder hoeveel ouers van dogters by Pretoriase meisieskole daarvan bewus is dat ‘n swart Humbert Humbert die blanke Lolitas bekruip en hulle boonop toespreek by skoolbyeenkomste. (Vir my lesers wat nie weet nie, het Wladimir Nobokof ‘n roman oor ‘n middeljarige man se verhouding met ‘n dertienjarige meisie genaamd Lolita geskryf, iets wat in die vroeë sestigerjare ‘n skandaal veroorsaak het.)

Hier gaan dit egter nie om fiksie nie, maar om die werklikheid. Is prof. Jansen se invloed op ons jeug in die vorm van seksuele innuendo en rasse-ideologie heilsaam? Behoort Tukkies so ‘n man aan te hou as opvoedkundige dekaan? Wat kan ons van hom leer in verband met die handhawing van Afrikaans?

Dat ras, taal en seks egter ‘n gewilde tema by die Taalberaad was, is gewis. Onder andere het mnr. Theo Erasmus van die betaalkanaal KykNET ‘n beleidstuk versprei waarin die volgende vermeld word: “Die kanaal mag nooit gesien word as een wat eksklusief op ‘n wit mark gerig is nie. Die persentasie bruin mense wat DStv besit en dus toegang tot KykNET het, is bitter klein, maar die kanaal moet ook toekomstige gehore teiken – nie net in sy eie belang nie, maar in belang van Afrikaans.”

Die enigste afleiding wat ‘n mens hieruit kan maak, is dat KykNET nie van sy huidige kykerspubliek – blanke Afrikaners – hou nie. Daar is min sakeondernemings ter wêreld wat soveel minagting teenoor hul eie kliënte koester soos KykNET.

Dié beleidstuk is versprei tydens die sessie wat gewy is aan Afrikaans en die media. Onder andere is Magdaleen Kruger deur die digteres Lina Spies ingevlieg oor die swak taalgebruik op Radio Sonder Grense, oftewel Radio Sonder Mense. Ook Tim du Plessis van Rapport moes erg deurloop oor sy redaksionele beleid wat neerkom op ANC-sikofansie en Afrikaner-verguising.

Ná so ‘n Taalberaad voel mens dat jy jou pêrels voor die swyne gewerp het. Afrikaans baat kwalik by besprekings waar rassepropaganda die botoon bo taalkundige kwessies voer.