Die Burger kry ‘n bondgenoot

Toevallig sien ek nou die dag ‘n woernaal van ene Robert Brand raak. Of hy familie is van Gerrit Brand, weet ek nie. Robert Brand is egter ‘n Engelse Brand. In elk geval is daar iets onthullends aangaande die titel van sy internetblad: Low opinions: Journalisme, the media and politics.

Lae opinies, lae houe, lae IK’s is wat ons meermale van SA joernaliste kan verwag. En Brand maak hom skuldig aan leedvermaak as hy “saamstem” met Leopold Scholtz van Die Burger, asook Christo van der Rheede, die groot kleurlingtaalstryder wat my ongevraagd in hul skitterende publikasie as ‘n “rassis” bestempel het.

In daardie selfde YouTube-video waarin Mandela, Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander “Maak alle blankes dood” sing, is daar ‘n verwante toneel waar ‘n klompie wit Engelse studente deur ‘n massa toitoiende swartes meegesleur word en hulle saamsing aan een of ander soortgelyke anti-wit liedjie. As ek dit nie mis het nie, was die beïnvloedbare wit Engelse studente van Rhodes.

Rhodes in Grahamstad is nie ‘n universiteit wat vir enigiets besonder hoog aangeskryf word nie, behalwe moontlik vir ‘n ontwikkelde anti-Afrikanersentiment. Daardie studente in die YouTube-video wat in ‘n top saamgesleep word, is ‘n metafoor vir denkre op Rhodes – of die gebrek daaraan. Ek weet nie veel van Robert Brand af nie, maar hy openbaar hom byna onmiddellik as ‘n na-aper.

Maar dit klop. Hy is ‘n Engelse Brand. Hy kom van Rhodes. Hy doseer joernalistiek, of wat hy self “lae opinies” noem. Wat anders as middelmatige na-apery kan mens vanuit ‘n plek soos Rhodes op Grahamstad verwag, die setel van die Engelse akademie en Setlaarsmonument?

Nie dat die 1820-setlaars so danig sleg was nie. Daar is waarskynlik dieselfde verhouding tussen die Rhodes-joernalstiekdepartement en die 1820-setlaars as tussen Die Burger en die Groot Trek; in beide gevalle het ons te make met hedendaagse konformistiese propagandiste wat die geskiedenis ontken en eintlik tevrede sou gewees het indien Suid-Afrika nou nog ongerepte natuur was wat deur ‘n paar duisend swerwende Koisan-jagterversamelaars bewoon was.

Soos vele akademici wat meer begaan daaroor is om hul werk binne ‘n streng polities korrekte milieu te behou, eerder as om ‘n oorspronklike bydrae tot hul vakgebied of tot menslike denke te lewer, spesialiseer Robert Brand daarin om rubriekskrywers van “rassisme” te beskuldig. So was hy byvoorbeeld ten gunste van die afdanking van David Bullard by die Sunday Times. Bullard se uitlatings oor Afrika en Afrikane was “rassisties” al was hulle ook waar.

Om te sê dat Zimabwe tans een van die armste lande ter wêreld is, met ‘n BNP per kop van $260 per jaar is ‘n feit. Maar in die oë van Robert Brand en ander linkse of ultraliberale blankes is dit “rassisties” om na so ‘n ongemaklike stukkie ekonomiese inligting te verwys. Ek onthou nog baie goed destyds toe ek nog ‘n student was hoe die linkse studente en dosente op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand gejuig en hande geklap het toe Robert Mugabe in 1980 die verkiesing gewen het.

Destyds sou hulle ook enigiemand wat maar hoegenaamd getwyfel het aan die prognose vir Zimbabwe as ‘n “rassis” uitgekryt het. Ongelukkig het die werklikheid ‘n manier om wêreldvreemde siele soos Robert Brand soms wreed te ontnugter as hulle self slagoffers van Suid-Afrika se endemiese geweldsmisdaad of selfs regstellende aksie of transformasie word.

Robert Brand is ‘n blanke. Vroeër of later sal die stelsel hom óók daarvoor straf. Dan sal dit nie tyd vir ons wees om te kraai van leedvermaak soos hy maak nie, maar om moed te skep dat selfs diegene wat die werklikheid ontken nie vir altyd daaraan ontkom nie.

Join the Conversation

5 Comments

  1. In die kol wat betref dat dat Rhodes se grootste prestasie waarskynlik is om Afrikaner-haters op te lewer. Ek wonder net hoe lank dit gaan neem voordat ons ander voortreflike universiteite dieselfde prestasie gaan behaal.

    Ek verskil egter ten opsigte van jou beskrywing van Brand en kie as ultraliberaal. Liberalisme veronderstel tog ‘n mate van vryedenke, beywering vir indiwiduele vryhede en regte. Miskien is pseudo-liberale dalk ‘n meer gepaste term. (Of miskien verwar ek nou liberalisme met “libertarianism”). Myns insiens is vandag se selfverklaarde liberale nader aan fassiste, sosialiste en selfs kommuniste.

  2. Ag ou Daan, dankie vir jou gewigtige en goedeurdagte kommentaar op my nederige blog! Ek sou net voorstel dat jy bietjie uitvind oor my werk en lewe voor jy my uitkryt as “polities korrek” en so aan. Ek help ‘n bietjie: ja, ek is familie van Gerrit Brand (ons is broers); en nee: ek mag miskien wereldvreemd (of volksvreemd?) wees, maar ek is beslis nie Engels nie!

  3. Robert Brand is Afrikaans. Sy pa was Simon Brand, destydse president van die Ontwikkelingsbank van suider Afrika.
    Hy is voorwaar ‘n briljante denker en was ‘n uitstekende joernalis wat onder andere in Amerika gewerk het.
    Jou aanval op hom is so pateties dat ek nie anders kan as om jou jammer te kry nie. Jy besef nie eens dat jy die Afrikaner meer skade aandoen as help met hierdie tipe diskoers nie.
    Selfs as joernalis in London wat my rug op die patete by Die Buiger (my spelling) en Rapport gekeer het (en ek weet jy haat hulle), kan ek nie met jou saamstem nie.
    Dink mooi voor jy mense sommer uit die heup uit probeer doodskiet.
    Jy is veronderstel om ‘n denker te wees.

  4. Indien Robert Brand so briljant is, waarom poog hy dan om my soos ‘n amateurpropagandis wat lyk asof hy laas persverklarings vir ZANU-PF gepoets het op sy Engelse woernaal in Engels vir sy liberaal-koloniale vriendjies op Rhodes as “rassis” te stereotipeer? Daarmee skaar hy hom ook aan die kant van Leopold Scholtz en Christo van der Rheede van Die Burger/Die Buiger wat ‘n lasterveldtog teen my voor, ook om my as “rassis” te tipeer. Omdat ek mense op die ooglopende teenstrydighede, onregte, geweld en aakligheid van hierdie onhoudbare bestel – wat juis rassisties anti-Afrikaner en anti-wit tot die graad van volksmoord is – wys, moet ek deur propaganda “stilgemaak” word. Die Buiger, Rapport en al die ander Brits-koloniale organe wat die Afrikaner probeer breinspoel met feminisme, Marxisme en wit skuldgevoelens, weier al lankal om enige van my skrywes te publiseer omdat hul eie onnoselheid en wêreldvreemde volharding in ‘n mislukte ideologie dalk aan die kaak gestel mag word. Die Buiger – asook Robert Brand – is banger vir die oop gesprek en “demokratiese” (‘n woord wat die ANC m.i. vir altyd bederf het) debat as die duiwel vir ‘n slypstaan.

  5. Ek sou graag iets wou bydra, maar julle manne praat te hogere woorde vir my, en ek het in Stellenbosch geswot. Ek is net bly ek worry nie oor die tipe goeters nie. Dis makliker om n loser te wees! Miskien moet ek wakker skrik, of miskien moet en net aan neek. Ek het wel n cool nuwe iphone gekoop. Hou my besig.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *