Soos ons weet, is daar omtrent net vyf mense van buite wat toegelaat word om op Radio Sonder Mense (RSG) kommentaar te lewer: Piet Croucamp, Max du Preez, Christi van der Westhuizen, Rudi Buys en Amanda Gouws. Vanoggend weer het Amanda Gouws op die program “Praat saam” verklaar dat die planeet “holisties benader moet word” en dat konflik, geweld en maatskaplike probleme eers sal verdwyn as “almal gelyk” is.

Ek weet nie of Amanda Gouws ooit oor enigiets dink wat sy sê nie. Een helfte van haar uitlatings klink erg naïef, ‘n ander bestaan uit polities korrekte clichés wat in die media en aan universiteite ronddryf en wat sy klakkeloos herhaal. Maar as sy oor bogaande stelling sou nadink, verteenwoordig dit natuurlik ‘n pleidooi vir wêreldkommunisme!

Tydens die twintigste eeu, het honderd miljoen mense in kommunistiese volksmoorde (in Rusland, China, Oos-Europa, Kambodja, Latyns-Amerika, noem maar op) gesterf en vir ‘n kort rukkie ná 1989 het ons gedink dat ons dié verwoestende ideologie gaan agterlaat.

Kennelik leef wêreldkommunisme as idee egter voort op Stalinbos.

Een van die inbellers op “Praat saam” het ook verwys na bevolkingsaanwas. Ons weet dat Afrika teen die einde van dié eeu oor 4,5 miljard inwoners gaan beskik, vier keer meer as tans. In sommige lande soos Niger baar vrouens 8 tot 9 kinders elk. Niemand wou eintlik oor “aanwas” praat soos die inbeller dit gestel het nie, maar Gouws het darem sydelings daarna verwys deur te sê “ons moet beter onderwys verskaf, dan sal vrouens besef hulle moet net twee kinders hê”. Onderwys en voortplanting is dus kousaal verbind. En sê nou hulle is nie? Wat dan?

In elk geval: wie gaan die “goeie onderwys” aan Afrika se 4,5 miljard mense teen 2100 verskaf, wanneer daar maar 500 taamlik bejaarde Europeërs in die wêreld oor sal wees? Met hope geld in Afrika se rykste land, kan Panyaza Lesufi nie eens genoeg skole in Gauteng bou nie. Hoe gaan Afrika se korrupte regerings in die wêreld se armste lande dit regkry?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *