Afrikaners en Aleksandr Doegin se geopolitieke denke

Inleidende aanmerkings by ‘n oop gesprek wat deur PRAAG op 28 Augustus 2009 aangebied is.

Sedert 1989 het die wêreld verskeie politieke revolusies deurgemaak. In Duitsland sal dit binnekort 20 jaar wees sedert die Berlynse muur ineengestort het. Verder in Oos-Europa, in die ou Joego-Slawië, in die Baltiese state en elders het verskeie lande radikaal verander. Sommige volkere, soos die Tsjegge byvoorbeeld, het vir die eerste keer in eeue werklike onafhanklikheid en selfbeskikking verkry.

In die ou Sowjetunie self het kommunisme om ‘n verskeidenheid redes verval. Een van die hoofredes was dat die produksie van voedsel ‘n afname getoon het en die land nie meer oor die nodige buitelandse valuta beskik het om voedsel in te voer nie.

Hoewel die Afrikanerdom in Suid-Afrika en die Russe in Rusland twee radikaal verskillende entiteite verteenwoordig, kan mens tog ‘n bepaalde ooreenkoms sien tussen die radikale magsverlies van die Afrikaners aan die een kant en die geostrategiese agteruitgang van Rusland aan die ander. Trouens, vele Amerikaanse ontleders skryf die opkoms van Wladimir Poetin en ‘n denker soos Aleksandr Doegin aan die Russiese frustrasie aan die einde van die Koue Oorlog toe. Daar word selfs gepraat van Russiese neo-fascisme, wat ‘n teenpool sou vorm teenoor die universele demokratisme van Amerika, die enigste oorblywende supermoondheid.

Tot enkele jare gelede het Afrikaners in Suid-Afrika oor die sterkste weermag, lugmag en vloot in Afrika beskik en kon ons mag tot by die ewenaar en selfs verder projekteer. Ons het boonop oor kernwapens beskik. Ons taal is wêreldwyd as ‘n kultuurtaal geag en is selfs tydens die tydvak van koue-oorlogspanning in Moskou gedoseer.

Terwyl Rusland in geostrategiese terme agteruitgegaan het, vergeleke met die VSA en China, het Afrikaners in Suid-Afrika as’t ware ondergegaan. Danksy die strategiese besluite van slegs enkele sogenaamde “Afrikanerleiers”, maar wat agterna marionette van die groter Anglo-Amerikaanse ryk geblyk het, is ons in ‘n situasie gedompel waar ons die verdwyning van die Afrikaner, sy taal, kultuur, geskiedenis, identiteit en alles wat daarmee saamhang in die gesig staar.

‘n Ander ooreenkoms tussen die Russiese volk en Afrikaners is dat die gemeenskaplike wapen wat deur die VSA, Brittanje en die lande in hul invloedsfeer teen ons gebruik word, juis sogenaamde “demokrasie” is. Net soos wat demokrasie deur die VSA en sy bondgenote ingespan word om Rusland se buurstate onder Amerikaanse invloed te bring en hom as’t ware te omsingel, so word demokrasie in Suid-Afrika en Suider-Afrika gebruik om die Afrikaner vernietig en van sy historiese grondgebied met behulp van grondhervorming en ander maatreëls te vervreem.

Daarby kan mens voeg die leierskapsrol wat die Russe in Oos-Europa en in die gebied wat Doegin Eurasië noem vervul, teenoor die Afrikaner se ewe belangrike staatkundige rol in Suider-Afrika. Net soos wat die ou Sowjetunie deur ‘n groot aantal etniese en taalgroepe bestaan het, het Suider-Afrika in die tyd van Verwoerd en PW Botha uit twintig of meer volkere bestaan wat almal op een of ander manier van Suid-Afrika en die Afrikaner se akademiese, tegnologiese en finansiële vernuf afhanklik was.

Die revolusie van 1989 wat die VSA tot enigste oorblywende supermoondheid verhef het, het dus verwoestend op die eertydse konstellasie van state rondom Rusland ingewerk en terselfdertyd Suider-Afrika grootliks onder Britse en Amerikaanse invloed gestel.

Een van die sleutelonderskeidings wat Doegin tref, is tussen Atlantisme en Eurasisme. Vir hom verteenwoordig die wêreldgeskiedenis ‘n dualisme tussen twee beskawingsvorme, dié van seegebonde handelaarsnasies en die geaarde, boerse tipe volkere wat in die grond gewortel is. Op geostrategiese vlak bepleit Doegin ‘n alliansie tussen Duitsland, Rusland en Japan wat die “Eurasiese blok” sou verteenwoordig, teenoor die “Atlantiese blok” van die VSA, die NAVO-lande en die res van die Engelssprekende wêreld wat waarskynlik die Statebondslande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika sou insluit.

Terwyl Huntington, die vermaarde Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskawingsbotsing in die tydperk ná 1989 as hoofsaaklik godsdiens- en kultuurgedrewe gesien het, ‘n klassieke Kulturkampf, kan ons by Doegin van ‘n veel radikaler eksistensiële onderskeid tussen beskawings praat. Dit gaan ook, soos die titel van een van sy boeke lui, om “‘n Groot oorlog tussen kontinente”.

Hierdie oorlog tussen vastelande kan teruggevoer word na die hoofkonflik in die eerste twee eeue voor die Christelike jaartal begin het, naamlik die oorlog tussen Carthago en Rome. Verder terug het die ou Feniciërs wat in die tydvak 1200-800 v.C. ‘n hoogtepunt in hul beskawing bereik het ‘n soortgelyke seegebonde handelaarskultuur beoefen as wat die Atlantiese mag van die moderne era sou voer.

Join the Conversation

1 Comment

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *