Dan Roodt: Koud en warm

5 Desember, 2019. Allanche, Cantal. In die nag word ek wakker in die ou Franse huis waar ek tydelik woon. Dis seker een of twee grade Celsius buite, maar die hortjies is toegetrek en die antieke klipmure, wat amper ‘n meter dik is, bied darem beskerming teen die koue daarbuite. By gebrek aan ‘n kamerjas, trek ek my nuwe, roomkleurige oopknooptrui van Australiese merinowol met sulke bruin leerknope – ‘n onlangse winskopie uit Suid-Afrika – aan en klim met die krakende houttrap af ondertoe.

Soos ek gevrees het, is die houtkorrels wat die verhittingsapparaat voed, klaar. Net gister het ek ‘n vyftienkilogramsak daarvan by die Leclerc-supermark in Aurillac, die hoofstad van die Cantal-departement, teen die aardige prys van ses euro, ses-en-veertig sent (ongeveer honderd rand), gekoop en nou is dit reeds so te sê binne enkele ure verbrand. Die houtkorrels is ‘n nuwe mode in Frankryk, want voorheen het die meeste mense verhittingsolie, op Frans bekend as le fioul of le mazout, gebruik. Die nadeel van verhittingsolie is die soort dieselreuk daarvan, en dit is ook nie omgewingsvriendelik nie. Vandaar dus die nuwe korrels wat allerweë onder handelsname wat met “éco” begin, verkoop word. Dit brand skoon, met min newe-effekte.

Ek moet sê, die korrels is feitlik reukloos en word verbrand binne ‘n apparaat wat soos ‘n stoof met ‘n klein venstertjie lyk. Agter die venstertjie is ‘n taamlike groot vlam en van die linkerkant af rol daar aanmekaar ‘n paar korrels deur wat helderrooi soos vonke by ‘n kampvuur deur die vlam verteer word. Maar nou is hulle klaar – behalwe so ‘n kwart van die sak in die vertrek langsaan. Eers wil ek die oorblywende korrels bo links onder ‘n swart deksel – die hele bokant van die apparaat is van dofswart metaal – ingooi, maar dink toe dat dit niks gaan help nie, want oor ‘n uur of twee of dalk drie as ek gelukkig is, is hulle ook klaar en dan eers sal ek moet opstaan. Dus, gaan ek maar weer met die trap op, trek my oopknooptrui uit en gaan klim terug in die lekker warm bed, voorsien van ‘n elektriese kombers. Later vandag sal ‘n Saint Flour toe ry, ongeveer veertig kilometer hiervandaan en sommer tien sakke van die korrels gaan koop. Blykbaar is daar ‘n selfdoenwinkel, een of ander “Brico”, wat die korrels goedkoper teen iets meer as drie euro per sak verkoop. Intussen moet ek maar sien kom klaar met die bietjie korrels wat oorbly en die karige hitte wat hulle verteenwoordig.

Gister had ek ‘n afspraak op Aurillac, ongeveer sewentig kilometer van die klein dorpie Allanche af, vandaar my besoek aan die groot Leclerc-supermark aldaar. Onderweg na my afspraak, parkeer ek in die sentrum van Aurillac, maar oral is parkeermeters. Soos elders in Europa vereis selfs parkeermeters ‘n mate van kognitiewe vaardigheid. In Suid-Afrika sou daar ‘n swart amptenaar gewees het wat jou kleingeld sou vat of die parkeerstrokie aan jou sou verkoop, maar hier moet jy sien kom klaar, natuurlik alles in Frans ook. Nie dat dit vir my ‘n probleem is nie, maar ek noem dit maar net vir die leser so terloops, aangesien die meeste Suid-Afrikaners wat dink dat jy oral ter wêreld “met Engels regkom” nie lekker met die parkeermeter op Aurillac gaan kommunikeer nie!

Op die duur werk ek uit hoe die gevaarte werk; eers moet mens jou motor se registrasienommer daarop insleutel en dan druk hy vir jou ‘n strokie uit. Agterna kan jy met ‘n kredietkaart betaal, óf deur jou pinkode in te sleutel óf sommer kontakloos deur bloot die kaartleser bo links aan te raak.

Geparkeer met my parkeerstrokie in die motorvenster, is my probleme steeds nie op ‘n einde nie, want skielik moet ek ‘n outomaat gebruik wat kleingeld vereis en ek het geen sent of kleingeld of selfs note by my nie. Skuins oorkant die parkeermeter is egter ‘n OTM van die Crédit Agricole, dieselfde Crédit Agricole wat ná ‘n groot gesukkel verlede jaar nie vir my ‘n bankrekening wou open nie. Hier op die platteland of la province soos die Franse sê (daar is net Parys en ‘n enkele, “die provinsie”, in Frankryk) besit die reusagtige bank Crédit Agricole, een van die grootstes in Frankryk, Europa en ter wêreld, bykans oor ‘n monopolie. Ek stoei nog met die Crédit Agricole en is vasbeslote om hulle te dwing om vir my daardie rekening te open, want sien in Frankryk is daar ‘n wet wat bepaal dat elkeen oor “die reg op ‘n bankrekening” beskik. Maar dis ‘n hele administratiewe en regsprosedure wat jy by die Banque de France, die land se sentrale bank, aanhangig moet maak, waarop ek nou liefs nie sal ingaan nie.

Met een van my bankkaarte trek ek toe vyftig euro, drie note van tien en een van twintig. Maar ek kort munte van vyf euro vir die outomaat! Hoe nou gemaak?

Ek het geen jas aan nie, net ‘n lekker warm baadjie van ‘n klassieke snit, tesame met ‘n wolserp, asook ‘n woltrui en so ‘n fluweel- of flenniehemp, dus voel ek nie eintlik die koue nie, daar waar ek op die sypaadjie met my euronote staan en wonder waar ek nou kleingeld in die hande gaan kry.

Wat van die kafee? wonder ek. Op die hoek is daar ‘n kafeetjie, in ‘n moderne styl, wit, breë glasvensters, dus nie ‘n stereotipe Franse kafee of brasserie of bistrot soos mens hulle al die jare geken het nie.

Ek verduidelik aan die aanvallige dame met donker hare agter die toonbank in ‘n hoek dat ek na kleingeld op soek is, terwyl ek my tieneuronoot rondwaai. “Jammer, meneer, ek het glad geen kleingeld nie,” sê sy.

Net toe my moed nou finaal in my skoene begin sak, bemerk ek nog ‘n meisie uit die hoek van my oog wat breed vir my glimglag en opeens haar handsak oopruk. “Kleingeld vir tien euro, miskien het ek iets in my beursie,” sê sy opeens.

“U is uiters gaaf,” antwoord ek op Frans. Ek gebruik die uitdrukking très gentille, wat sekerlik ‘n cliché is, maar onder die omstandighede gepas. Uiteindelik oorhandig sy, steeds met ‘n breë glimlag, aan my ‘n vyfeuronoot en ‘n paar munte wat my in staat gaan stel om die outomaat met die nodige te voer.

Ek bedank haar hartlik, ontroer deur haar vriendelikheid en warmte teenoor my, ‘n vreemdeling in haar stad en in haar streek, gebore en getoë aan die ander kant van die aardbol. Op pad terug na die kantoor waar ek die outomaat gaan gebruik, bind ek my serp stywer vas en dink daaraan dat die swart leerstewels van die Chelsea-tipe wat ek aanhet, nie so warm is as wat ek gedink het nie. Ek moes dalk die ander paar bruin toerygstewels wat ek ook saamgebring het, aangetrek het. Hulle is minder stylvol, dog meer prakties. Hoewel dit steeds koud is, skyn die son egter helder, met ‘n vae, skugtere sweem van hitte.

Dit laat my dink aan die twee pole: hitte en koue. Mense swerf regoor die aardbol op soek na óf die een óf die ander, installeer verhitting of lugreëling, afhangend van of dit te koud of te warm is. Eintlik verkies ek koue bo hitte. Die snikhete somers in Johannesburg en Pretoria raak vir my al hoe minder draaglik. Blykbaar is daar ‘n honderdduisend Kanadese wat aan die Canadian Snowbird Association behoort en wat gedurig politieke druk op die Amerikaanse Kongres en hul eie regering toepas sodat hulle spesiale vergunnings en wetgewing kan ontvang om lang tye in die warmer state van die VSA, veral Florida, met groter gerief en sonder verlies van hul Kanadese regte deur te bring. ‘n “Sneeuvoël” in Noord-Amerika is ‘n tipe trekvoëltjie wat in die winter wegtrek van die sneeu af en ‘n warmer klimaat opsoek, vandaar die menslike “sneeuvoëls” van Kanada, asook die kouer state van Amerika.

Ek herinner my dat ek jare gelede toe ek nog in Parys gewoon het, met die destydse hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan Wits, Gerrit Olivier, gekorrespondeer het. “Koue lande leen hul tot introspeksie, warm lande tot tja-tja,” het ek aan hom geskryf. Dis miskien nie heeltemal waar nie. Afrikaners het in ‘n warm land tog ‘n indrukwekkende kulturele en intellektuele erfenis tot stand gebring. Nietemin stam ons uit die Noorde van Europa, met sy kort somers en lang, koue winters. Maar is ons erfenis nie tans besig om in die gloed van die Afrikason en die swetende Afrikamens met sy vereenvoudigde siening van sake, só sonder diepgang of introspeksie, te verskroei nie?

Daar is egter ook figuurlike warmte, mededoë, om jou medemens of selfs ‘n vreemdeling uit ‘n penarie te help of ‘n guns te bewys. Soos daardie Cantaliaanse meisie (haar voorouers kon Oksitane gewees het, die minderheidsvolk in dié deel van Frankryk, wat ook hul eie taal gepraat het) in die kafee. Haar spontaneïteit, haar warmte, haar skitterende glimlag, het my koue dag daar in Aurillac opgehelder.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *