Dan Roodt: Vanuit die skoenhemel slaan ek neer op die sypaadjie, oftewel ‘trottoir’

11 Januarie, 2020. Allanche, Cantal. Vandag begin vir my redelik goed. Ek was bietjie laat vir ‘n afspraak in ‘n ander deel van Clermont-Ferrand, maar gelukkig kon ek darem bel en vooraf waarsku. Van hier af is dit net meer as ‘n uur se ry, met mis op die slingerende eerste 20 kilometer of so alvorens ‘n mens die snelweg, die A71 tref. Alles verloop egter bo verwagting goed en ek sou die afspraak selfs as ‘n sukses beskryf.

Boonop is vandag die blye dag wanneer ek my bruin sweedseleerskoene kan gaan afhaal wat ek meer as ‘n maand gelede vir versoling by M. Charles Picard se plaaslike “skoenateljee” ingegee het. Ek sou nie sê dat ek 100% in my noppies daarmee is nie – hy is ook aan die duur kant – want plek-plek lyk dit nie heeltemal so simmetries soos die sole wat ek verlede Augustus in Amsterdam aan ‘n baie soortgelyke paar swart skoene laat aansit het nie. Maar goed, hy werk blykbaar net met die hand, sonder ‘n masjien en elke steek word presies deur die oorspronklike gaatjie van die bokant geryg. In beginsel kan die boonste deel dus amper vir ewig hou en dié paar is in elk geval al net duskant 30 jaar oud. In die geheel is ek heel tevrede en kort nou ‘n spesiale geleentheid om die maagdelike sole in te wy en vir altyd te skend deur op hulle te loop.

Hierna gaan sit ek die skoene in die bak van die motor waarvoor ek wonder bo wonder ‘n parkeerplek in ‘n systraat in hierdie besige deel van Clermont-Ferrand naby die place de Jaude gevind het. Die twee parkeergarages in die omgewing vertoon: “Complet,” dus is ek gelukkig. Ek besluit ook om geld in die parkeermeter te gaan sit. Dis ‘n outydse uitdrukking wat nie die proses goed beskryf nie, want eintlik moet ek op ‘n sleutelbord kies hoe lank ek wil staan, met ‘n kredietkaart betaal en daarna druk die parkeeroutomaat vir my ‘n strokie uit wat ek voor in die venster van die motor moet vertoon. Dis glad nie duur nie, so om en by een euro per uur, oftewel sestien rand. In Parys of Amsterdam het ek al R60 of meer per uur vir parkering betaal, dus eintlik ‘n winskoop. Ek is glad nie lus om ‘n parkeerkaartjie te kry nie, want met hierdie gehuurde motor kan ek my maklik agterna ‘n “administrasiefooi” van 250 euro op die hals haal (meer as R3000), behalwe nog die boete self. Eerder Bang Jan as Dooie Jan, dus.

Die plan is om by die plaaslike tak van Galeries Lafayette op die Jaude-plein na al die winskopies te gaan kyk. Op die meeste winkelvensters is tans die slagspreuk, “Soldes” (Uitverkoping) geplak en allerlei items is tot 70% afgemerk. Volgens die TV het die huidige vervoerstaking daartoe bygedra dat die kleinhandel ‘n droewige Kersfees beleef het en dus nou van hul oortollige wintervoorraad ontslae moet raak.

Met ‘n lied in my hart, asook my selfoon, my handskoene en die parkeerstrokie in my hande, draai ek van die parkeeroutomaat terug om die klein entjie op die geteerde sypaadjie terug na die gehuurde rooi Fiat te stap. Op Frans heet ‘n sypaadjie ‘n “trottoir” en allerlei Franse skrywers (soos byvoorbeeld Proust) het al etlike bladsye in hul boeke aan sypaadjies gewy. Aan my voete is ook ‘n ander paar taamlik nuwe leersoolskoene waarmee ek hierdie sypaadjie vereer. Ek en rubbersole is nie eintlik sulke goeie vriende nie, hoewel ek toegee dat hulle hul plek op die tennisbaan verdien, asook tydens straatmarathons en dergelike meer.

Daar is egter een negatiewe eienskap van leersole, veral nuwerige leersole, en dit is dat hulle glad kan wees. In my élan of geesdrif om terug by die voertuig te kom, let ek nie op die skielike opwaartse skuins gedeelte van die sypaadjie wat oploop na die “privaat parkering” van ‘n woonstelgebou nie. Indien ek beter gekyk het, sou ek gesien het dat dit besonder skuins, swart en skoon asof dit met een of ander seep of reinigingsmiddel gewas is, vertoon.

Mense praat van “die tekkie wat die teer tref”, maar nooit van die leersool wat die gladde, harde, skuins teer tref nie. Dis ‘n heeltemal ander sensasie, meer vergelykbaar met skaatsstewels op ‘n skaatsbaan of ski’s wat met ‘n besonder harde, bevrore helling kennismaak. Dus gly ek sonder waarskuwing sywaarts op die seepgladde teersypaadjie, en slaan soos ‘n os neer. My regterbeen, -knie en -kuit word deur witwarm pyn verlam; slegs met baie moeite en al kreunend staan ek op.

Ek sukkel-sukkel oor die plein na die Galeries Lafayette, wat ‘n taamlike teleurstelling is. Selfs met die reuse-afslag, is baie van die items steeds óf te duur óf van minder goeie gehalte met sintetiese stowwe wat die botoon voor. Ek is deesdae al hoe minder beïndruk met handelsmerke. Die swartes in Suid-Afrika, die VSA en elders, het in elk geval handelsmerke bederf. Iets wat voorheen ‘n bepaalde Europese status of sjiek uitgedruk het, het nou bloot ‘n gespog oor al die maklike geld wat jy gekry of gesteel het, geword. Smaakloos.

Op die Jaude-plein is daar ‘n ruiterstandbeeld van Vercingetorix, die beroemde Galliese generaal wat hom jare lank teen Julius Caesar se inval in sy land verset het. Op skool moes ons Caesar se De bello gallico vanuit Latyn in Afrikaans vertaal. Dit is waar ek vir die eerste keer sy naam teëgekom het en sekerlik agterna in die Asterix-strokiesboeke.

Ongelukkig is daar voertuie en ‘n tydelike wit metaalkas aan die voet van die standbeeld. Die linkse, voorheen kommunistiese vakbond, die CGT, het dit ook goedgedink om hul vlag aan die punt van sy swaard vas te bind.

Dít alles vererger die pyn in my regterbeen, indien so iets moontlik is.

Op pad terug, trek die son water oor die vulkaniese heuwels. In die oertyd was daar ‘n klomp vulkane in dié gebied, maar wat lank nie meer aktief is nie.

Teen sesuur verlaat ons die snelweg en ek wonder of ek by ‘n apteek op die dorp moet aangaan vir Voltaren of so. Maar die jong dame by die apteek op ons dorpie is so vriendelik en gaaf dat ek voel ek moet eerder daar om hulp gaan aanklop. Dus druk ek maar deur. Hoewel die meeste winkels op ‘n Saterdag eers teen sewe-uur die aand sluit, is die apteek egter bottoe toe ek deur die somber, koue hoofstraatjie ry. Die groen kruis bokant die deur wat ‘n apteek aandui, flikker lank nie meer nie. Net buite die kafee staan twee of drie mans buite die koue en rook.

Die bakkery is nog oop, maar ek het nie eens 85 eurosent vir ‘n vars baguette nie, aangesien my kleingeld op is. Daar is wel ‘n bank op die volgende hoek waar ek by die OTM sou kon geld trek, maar al die moeite vir ‘n baguette staan my nie aan nie.

Op Murat, die groter dorp so 20 kilometer hiervandaan, is daar ‘n sogenaamde “pharmacie de garde” wat laat oopbly en dalk selfs op Sondag oop mag wees. Ek sal maar kyk hoe ek môre voel.

Intussen daal die temperatuur en dis omtrent minus vier grade buite. Dit sou kon beteken dat die ski-oorde in die omgewing môre oop sou wees en dalk sou ek weer bietjie die sneeu kon aandurf. Tans sien ek skaars kans vir die krakerige houttrap in hierdie ou Franse kliphuis, wat nog te sê vir ski.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *