Nkosi, seën ons met apartheid

In Suid-Afrika is die werklikheid altyd vreemder as fiksie. Elke dag lees ons van nuwe absurditeite, soos betogers teen “dienslewering” wat munisipale kantore afbrand, vermoedelik in ‘n poging om “dienslewering” te verbeter. As jy die polisie bel, kom hulle nie. Maar wee die vrou wat ‘n gewapende rower uit noodweer in haar huis doodskiet, dan daag twintig gewapende polisiemanne terstond op om haar vir moord te arresteer.

By hierdie surrealistiese werklikheid moet gevoeg word die moroniese gesanik van joernaliste in die hoofstroompers oor apartheid. Dis asof hulle terugverlang na apartheid, want toe was daar vir hulle – gewaande – morele sekerhede wat hoegenaamd nie meer in ons kakistokrasie geld nie. En vir diegene wat dink dat ek nou op Grieks vloek, “kakistokrasie” beteken inderdaad “regering deur die slegstes en onbekwaamstes”.

Die jongste voorbeeld van iemand wat in sy poging tot morele selfregverdiging ‘n kinderlike karikatuur van apartheid aan ons voorhou, is ene Gert van der Westhuizen in Beeld.

‘n Mens kan seker elkeen van Van der Westhuizen se stellings oor hoe erg apartheid was met statistieke en ander historiese gegewens weerlê, maar die algemene houding van dié tipe hoogheilige rubriekskrywers in Beeld, Rapport, Die Burger en soortgelyke media kan opgesom word met die stelling deur een of ander Marxistiese geskiedskrywer: “Moenie my met die feite verveel nie!”

In elk geval, soos ‘n briefskrywer hier op praag.co.za uitgeroep het: “…die vraag (ontstaan) of Van der Westhuizen hoegenaamd bewus is van die hede? Het (hy) nog kontak met die werklikheid?”

Ek dink die antwoord is ‘n besliste nee. En dan dink ek, hoe meer geweld en onreg daar in ons tyd plaasvind, hoe harder gaan Van der Westhuizen en diesulkes hul agtergehaalde stryd teen hul apartheidsfiksie voortsit.

Teenoor apartheid, wat alles wat boos en sleg is, voorstel, staan daardie toonbeeld van voortreflikheid, geregtigheid en morele vlekkeloosheid wat vandag as transformasie bekendstaan.

Gestel nou toe die Nasionale Party in 1948 met ‘n minderheid blanke stemme maar ‘n meerderheid setels ingekom het, het hy pleks van apartheid, hedendaagse rassetransformasie toegepas? Dan sou Verwoerd die Nobelprys vir vrede gewen het en sou Gert van der Westhuizen en sy bende napraters vandag popelende lofprysinge aan die NP se transformasiebeleid geskryf het. Moontlik sou hulle dan vandag oor die veel groter vergrype van kommunisme, pleks van apartheid, geskryf het in ‘n soortgelyke poging tot morele selfregverdiging.

Join the Conversation

1 Comment

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *