Antjie Krog – Beroepsafrikaner en gek

Vandag lees ek ‘n verwysing na Antjie Krog in ‘n power rubriek van Tim du Plessis raak waarin hy sê: “as Afrikaanse mense in die nuwe orde kritiek lewer, ‘sterf’ hul woorde in hul ‘Afrikanermonde’.

Dit prikkel my toe om om na Tannie Antjie – die vrou is seker nou al amper sestig en daarop geregtig om met dié eretitel aangespreek te word – se artikel in die Sunday Times te gaan soek. Vir eens werk die ST se soekfunksie en siedaar! ek vind A new ancestor for our alienated Afrikaner youth.

Dis die gewone mengeldrankie van wodka uit die Onsamehangende bottel met ‘n goei skeut wit skuld daarby, “geskud, nie geroer nie”, soos James Bond sou sê. Vanmôre was Eugene Terre’Blanche op RSG en skielik skiet die gedagte my te binne: Tannie Antjie en Oom Eugene het soveel in gemeen, hulle behoort onderbroeke met of sonder gate uit te ruil.

Want sowel Antjie Krog as ET verteenwoordig die hofnarre van ‘n globale gehoor wat hulself as “Afrikaners” voordoen. ET met sy manne in uniform, swastikavlag en histrioniese stemtoon, asook AK met haar mantel van wit skuld en popsielkunde dramatiseer twee aspekte van die Afrikanerstereotipe: eersgenoemde verpersoonlik die Afrikaner as mislukte opstandeling en laasgenoemde as onderdanige hensopper en Anglo-Amerikaanse rokspantneet.

Behalwe enkele joernaliste en Adriaan Vlok, ken ek geen Afrikaners wat “skuldig voel oor apartheid” nie. Of miskien voel ‘n klomp Afrikaners skuldig – omdat hulle in 1992 tydens die referendum “ja” gestem het. Nie net het ‘n enkele geslag Afrikaners en hul leiers alles verraai waarvoor hul voorgeslagte bloed gesweet het nie, maar hulle het ook die toekomstige geslagte van hul geboortereg en hul vryheid beroof; voorwaar iets om oor skuldig te voel!

Alle verraad – soos alle patriotisme – wentel om identiteit. As iemand wat haar rug op haar eie mense gedraai het, verkeer Antjie Krog onder die indruk dat almal dieselfde identiteitskrisis, dieselfde aangetrokkenheid tot die ANC-identiteit as sy ervaar. Dwarsdeur Suid-Afrika en selfs oorsee is daar ‘n paar miljoen Afrikaners wat geensins twyfel oor hul herkoms of lojaliteit nie.

In hierdie tydvak van regstellende aksie, swart bemagtiging en alles wat daarmee saamhang, verkeer ons almal onder die indruk van hoe belangrik dit is om swart te wees. In ander samelewings, soos in die VSA en veral in Hollywoodfilms, kry ‘n mens iets soos ‘n “token black”, wat die Hollanders ‘n Beroepsneger noem. Antjie Krog en haar eindelose spekulasies oor die Afrikanerpsige wat sy in Engelse koerante of voor buitelanders lewer, is insgelyks ‘n Beroepsafrikaner, iemand wat ‘n onbelangrike en eintlik vreemde element in ‘n ander kultuur moet verteenwoordig. Sulke mense word gewoonlik gekies op grond van hul toepaslikheid vir die vreemde of meerderheidskultuur.

Antjie Krog is, vanuit die ANC-bewind of die buiteland se oogpunt die “ideale” Afrikaner. Sy is ‘n mak Engelse persoon wat haarself in die Rooitaal uitdruk en slegs ‘n geringe nostalgie oor ‘n kwynende Afrikaans en Afrikanerskap voel. Haar gunstelingvergelyking vir die Afrikanergeskiedenis is met Nazi-Duitsland. Soos die Nazi’s, het ons ‘n “misdaad teen die mensdom” gepleeg. Daarom voel sy is dit haar opdrag “om die regering te beïnvloed om nie te doen wat (die Afrikaner) gedoen het nie”. Vermoedelik sluit dit die oprigting van suksesvolle kragstasies en werkende staatshospitale in, iets waarvoor ons gelukkig nie die ANC kan kwalik neem nie.

Angjie Krog se histrioniese openbare vertonings van Afrikanerverraad en selfverguising – tot groot vermaak van die Afrikaner se binnelandse en buitelandse vyande – vind die volmaakte teenhanger in Eugene Terre’Blanche se ewe teatrale demonstrasies van platvloerse, kwasi-militaristiese patriotisme.

Buitestaanders kan vir albei ewe hard lag. Albei is ewe dom en bevestig die vermoede dat Afrikaners verdien om verdruk en stadigaan vanuit Suid-Afrika gesuiwer of ten minste geassimileer te word, synde ‘n volk wat uit gekke en narre bestaan.

Dat enigeen vir Antjie Krog ernstig kan opneem, is op sigself ‘n aanduiding van watter verwronge beeld van Suid-Afrika daar in die wêreld bestaan. In een opsig mag dit ons tot voordeel strek, in dié sin dat die Engelse media en die buiteland byna niks van Afrikaners verstaan nie.

Benewens haar narrestatus, mag Antjie Krog die volmaakte verspreider van disinformasie oor Afrikaners wees. Ons word as skuldig, verward, dom en onderdanig gesien. Iewers in Soen-Tsoe of Von Clausewitz was daar mos iets oor: “As jy sterk is, laat die vyand dink jy is swak. En as jy swak is, bring die vyand onder die indruk van jou krag.”

Join the Conversation

2 Comments

  1. Dagse Dan. Ek stem saam oor ou Antjie. Ek weet nie hoe sy dink nie. Wat ek wel weet is dat sy nie VIR Afrikaners iets voel nie. Oor Eugene stem ek nie saam nie. Ja die hormone (Meeste van julle mans het die probleem) en wie het nog nie van n perd afgeval nie? het seker n bietjie van n pekel vir hom veroorsaak maar, ‘die wie nie teen ons is nie is vir ons’. Die wyse woorde van onse Jesus Christus. Ons moet ophou om mekaar te verguis en neer te sien op ons armes. Al probleem met hulle is dat hulle nie geld het nie. Met die regering wat ons nou het sal dit so bly, dus is dit ons plig om hulle te help en vir hulle te bid. Ek bid ook vir Antjie en die wie soos sy dink. Mag Onse Vader die oordeel vel. Amen

  2. Neville Alexander was n voorbeeld vir ons mag dit so bly in ons gdeegtas en nabetragtinge en ons gedrag, vir die regte redes n groot gees, n helder denker en n ware stryder. Ek dink hy kon dit wees deels omdat hy altyd bereid was om sy eie aannames en oortuigings te bevraagteken; En dit, dink ek, was toe te skryf aan sy rotsvaste waardes en sy byna vanselfsprekende mede-menslikheid. Hy was n gentleman. Die verlies, veral nou, is gevoelig. Ek dink STIAS was bevoorreg om hom as genoot te kon reken.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *