Die nuwe ‘Regs’

In die onlangse verlede het ons gehoor dat daar ’n nuwe begrip van “Regs” ontstaan het. Pleks van ’n politieke standpunt, dui “Regs” nou iets anders aan, iets soos ’n kritiese ingesteldheid of ’n identifikasie met Afrikaans. Volgens sommige mense beteken om Afrikaans te wees per se iets soos om regs te wees. Hierdie gedagte is natuurlik terug te voer na die veertigerjare en die satiriese roman van Arthur Keppel-Jones, When Smuts Goes, toe hy ’n donker toekoms vir Suid-Afrika voorspel het onder ’n regse Afrikaanse regering. Keppel-Jones het niks oor Rhodesië of Zimbabwe onder ’n Engelse regering te sê gehad nie, maar tot dusver het Suid-Afrika nog nie die grootskaalse induiestorting beleef wat hy voorspel het nie.

Meer onlangs skryf Robert Greig, resensent van die Sunday Independent, dat Antjie Krog ’n “Afrikaner-Nasionalis met ’n nuwe vlag” is in die volgende passasie (The Sunday Independent 9 April 2000, bl 9):

    “I suppose this is why, when Afrikaans writers get all steamed up — as Antjie Krog does — about ‘the land’, and equate being steamy about the land or ‘belonging’ with virtue, I want to gag. It’s foreign and seems spurious …Play it is not, and at the risk of being impertinent, one of the reasons is that Krog is not interested in individuals. The Afrikaner nationalists, horrifyingly, spoke and acted as if human beings were only members of groups, with no inherent value or interest as individuals. Their view of the human being resembles that of the Stalinists, the fascists, the Nazis. (The African ubuntu notion that “a man is only a man in relation to others” at least makes the individual the subject of the senstence.)

    Krog, on the evidence of this work, and parts of Country of my Skull, does not care much for individuals — her own psyche apart — except as representatives of a class or group. To that extent she is an Afrikaner nationalist waving a new flag. The authoritarian personality remains intact.”

Die identifikasie van die Afrikanergroep met regsheid spreek duidelik uit hierdie gedeelte. Ook die gebruik van die term, “outoritêre persoonlikheid”, wat deur Adorno gemunt is met betrekking tot die Nazi’s, wil voorgee dat die Afrikaanse kultuur as sodanig ’n outoritêre persoonlikheid produseer. In gedeeltes van die WVK-verslag word dieselfde gesuggereer. In terme van hierdie logika is ’n mens dus in Afrikaans regs, ongeag jou politieke oortuiging, want ’n identifikasie met jou moedertaal en met die land of grond is op sigself “regs”. ’n Identifikasie met Engels, daarenteen, is veronderstel om links of liberaal te wees, al geskied dit ook op nasionalistiese, xenofobiese of rassistiese gronde.

In Afrikaans self het ’n hele paar mense in die onlangse verlede hierdie logika oorgeneem, wat eintlik soveel te meer onhoudbaar word as dit in die taal self geartikuleer word, want is die gebruik van Afrikaans nie op sigself “regs” nie? Die paradoks ontstaan dus waar Afrikaners ander Afrikaners beskuldig dat hulle “regs” is omdat hulle ’n Afrikaanse identiteit wil uitleef en weier om ’n Engelse identiteit te aanvaar. Om pro-Afrikaans te wees beteken binne dié verband “regs”, en ’n anti-Afrikaanse houding of die ewe dikwelse pleidooie vir apatie, iets soos “links”.

As politieke logika is dit ’n voorbeeld van “patafisika”, ’n woord wat deur Alfred Jarry gemunt is in sy drama “Koning Ubu”. Die absurde en teatrale is egter geensins vreemd aan Suid-Afrika nie, as ons dink aan die aandag wat byvoorbeeld aan ’n figuur soos Eugène Terreblanche geskenk word. Terreblanche is ’n karikatuur van Afrikanerskap, en hyself weet dit. Hy is bloot ’n akteur — hy was voorheen in die Polisiediens se toneelgeselskap — wat hierdie karikatuur vergestalt. Hoewel die gelykstelling van Afrikanerskap met regsheid geen basis het in die werklikheid nie, voer Terreblanche dit op vir ’n wêreldwye gehoor en sy roem hang daarvan af dat hy nie afwyk van sy eie stereotiepe nie.

Dit is belangrik om te besef dat die tradisionele snobisme van die Engelssprekende teenoor die Afrikaner, wat op ’n klasseverskil gebaseer was, oorgegaan het in ’n soort politieke snobisme. In ’n sekere sin is Terreblanche dus ’n Engelse akteur, want hy vergestalt geen “Afrikaanse” werklikheid nie, maar ’n Engelse vooroordeel en xenofobie. Hierdie xenofobie wil hê dat elke Afrikaner ’n lid van die AWB is, en dus regs en afstootlik. In die Sunday Independent se spotprent is Eugène Terreblanche uitgebeeld as sou die Afrikaner se aanspraak op ’n “vaderland” in Suid-Afrika ongedaan gemaak sou gewees het deur sy gevangenisstraf. Die ooglopende afleiding hieruit is dat slegs Engelse of miskien verengelsde swartmense ’n legitieme aanspraak op Suid-Afrikaanse burgerskap het. Dit is alles baie interessant, maar om die verwarring rondom links en regs in Suid-Afrika te begryp, behoort ’n mens net kortliks die historiese betekenis daarvan in herinnering te roep.

Dit lyk absurd, byna iets uit Jarry se drama, om ’n politieke opvatting met die kant van ’n vertrek te assosieer. Soos ons almal weet, spruit die onderskeid tussen regs en links uit die Franse gewoonte ná die Revolusie toe die Jakobyne aan die linkerkant van die Nasionale Vergadering gesit het. “La gauche” het daarom die revolusionêre, republikeinse kant beteken, en “la droite” die kontra-revolusionêre, monargistiese. Gedurende die hele negentiende eeu het hierdie onderskeid in Europa gegeld, met die sosialisme wat bygekom het as verdere impetus vir die revolusionêre opvattinge wat as “links” gereken is.

Indien ons hierdie klassieke onderskeid tussen regs en links op die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou toepas, sien ons dat Afrikaners min of meer konsekwent hulself vir ’n republiek beywer het, terwyl die Engelse bevolking met die konserwatiewe waardes van die monargisme en beheer vanuit die moederland geïdentifiseer het. In terme van Europese tiperinge ly dit geen twyfel nie dat Afrikaners histories links en Engelse histories regs was. Dit was ook die geval tydens die Tweede Vryheidsoorlog toe die Liberale Party in Engeland die pro-Boerparty was en ’n sosialis soos George Bernard Shaw insgelyks die Boere ondersteun het. Die koloniale oorlog teen die Boere is voorgestaan deur die Tories, wat ná aan die monargie gestaan het en by uitstek imperialisties was. Tydens die dertigerjare het twee Suid-Afrikaanse digters kant gekies tydens die Spaanse Burgeroorlog. Roy Campbell, die Engelsman, het vir die Fasciste gekies en Uys Krige, die Afrikaner, vir die Republikeine.

In die twintigste eeu in Europa is kolonialisme en rassisme toenemend met regsheid verbind. Die hele geskiedenis van die begrip “ras” en sy politieke avatare in die Weste is eintlik hoogs ironies, maar voor ek iets daaroor sê, is kommentaar oor kolonialisme nodig. Kolonialisme en monargisme het baie raakpunte. By die Berlynse konferensie waar die Europese moondhede Afrika vir hulself opgedeel het, is die Kongo nie aan België nie, maar aan Koning Leopold II gegee, en hy het dit sestig jaar lank as sy persoonlike besitting bedryf. Ook in Frankryk is die politieke partye wat pro-koloniaal was, omtrent uitsluitlik van regs met hul konserwatisme terug te voer na die monargisme van vóór die Revolusie. Trouens, behalwe die Nederlanders wat kolonialisme bloot as ’n sakeonderneming gesien het, het omtrent al die Europese volke wat ’n empaaier in stand gehou het, dit gesien as ’n voortsetting van die glorie van koninklike howe, en die ryk van iemand soos Lodewyk XIV wat so magtig was dat hy die stadsmuur rondom Parys laat afbreek het omdat gevoel is dat Frankryk toe so magtig was dat die Franse geen invaller hoef te vrees nie. Ook die koloniale lewenstyl, in Engels die “colonial way of life”, was gegrond op ’n aristokratiese model met uitgebreide grondbesitting, vele bediendes, die aanhang van aristokratiese of hoëklastydverdrywe waar Engelse sportsoorte soos polo, gholf, kroukie en krieket ’n belangrike rol gespeel het. Tot vandag toe het Zimbabwe ’n goeie krieketspan, in weerwil van die land se ekonomiese verval, wat ’n aanduiding is dat die koloniale leefwyse nie heeltemal dood is nie.

Die gerigtheid op die metropool vanuit die kolonie, asook die begeerte in die metropool om ten alle koste kolonies te behou of steeds een of ander invloed daar te laat geld, is in Europese terme beslis regs. In Frankryk, byvoorbeeld, het vele figure wat tydens die Algerynse oorlog ten gunste was van die behoud van kolonies ongeag die graad van geweld of onderdrukking wat daarvoor nodig was, hulself agterna gewend tot die verregse politiek waar ’n element van rassisme ’n rol te speel het (Jean-Marie Lepen en sy “Front National” is ’n voorbeeld hiervan).

In Suid-Afrika was Britse glorie, lidmaatskap van die Statebond en die snobistiese neersien op Afrikaners en die laer klasse, asook die beheptheid met die Britse vorstehuis, nog altyd uitings van hierdie koloniale regsheid. Dat die koloniale diskoers ook in ’n groot mate deur die swart elite oorgeneem is via die sendingonderwys, is eweneens ’n feit. Die minagting wat die huidige Suid-Afrikaanse regering koester teenoor inheemse of plaaslike kultuur is samehangend met die oorname van koloniale idees deur die elite.

Die rassekwessie wat toenemend met die politiek verstrengel geraak het, is moeiliker om in regse of linkse terme te beskryf. Dit mag paradoksaal klink, maar ons moet onthou dat rassisme in die negentiende eeu ’n progressiewe, linkse opvatting was omdat dit gebaseer was op Darwin se evolusieteorie. Die gedagte dat sommige menslike rasse nader gestaan het aan ape en lede van die primaatfamilie, het ’n verwerping van die Christelike opvatting dat alle mense gelyk geskape is deur God beteken. Die sendelinge wat na Suid-Afrika gekom het, was fanatiese Christene en het as’t ware gevlug vir die Europese Verligting en sy ateïstiese wetenskap wat mensegroepe in biologiese spesies en rasse ingedeel het. Trouens, die term “ras” dateer sover ek onthou uit 1802, en is by uitstek ’n modernistiese begrip. Om in die negentiende eeu ’n rassis te gewees het, was dus ’n vorm van linksheid aangesien dit ’n betrokkenheid by die sekulêre rede, anti-Christelikheid en ’n afwys van monargisme geïmpliseer het. Vele groot figure uit die Europese Verligting soos byvoorbeeld Immanuel Kant en Nietzsche het opmerkings oor Afrikane gemaak wat vandag as uiters rassisties ervaar sou word.

Die assosiasie van rassisme met regsheid het veral tydens die Nazi-tydperk onstaan. Hier sien ons ’n verskuiwing waar “biologiese rassisme” aangewend word om nasionalistiese en inderdaad imperiale ideale te onderskraag. In Engeland in die negentiende eeu was daar ook sommige mense wat onder die invloed van Darwin beweer het dat die Engelse ras ’n heersersras was. (Interessant is ook dat Milner en sy tydgenote honderd jaar gelede altyd verwys het na die twee blanke groepe in Suid-Afrika as “the two white races”.) Daar is baie min getuienis dat soortgelyke ideë van sterk rassemeerderwaardigheid ooit ’n sterk rol in Suid-Afrika en onder Afrikaners gespeel het, in weerwil van die Ontugwet en Wet op Gemengde Huwelike. Weer eens moet ons onthou dat die Ontugwet op aandrang van Engelse predikante in die 1890s in die Transvaal ingestel is, téén die wense van Kruger se toentertydse Minister van Gesondheid. Dit het dus meer om moraliteit, asook religieuse afkeer van prostitusie, gegaan as om rassesuiwerheid.

In weerwil van die assosiasie van apartheid met rassisme, dink ek nie dat rassisme die primêre beweegrede vir dié beleid was nie. Sekerlik was daar in ’n mate ’n implisiete geloof in die verhewe posisie wat blankes behoort te hê in die maatskappy, maar dan is daardie posisie nie deur apartheid ingestel nie, maar deur die voorafgaande koloniale maatskappy wat grotendeels deur Britse immigrante oorheers is. Ons moet ook onthou dat apartheid ’n uitvloeisel was van “naturellebeleid” of “native policy” wat regdeur Afrika gevoer is deur koloniale moondhede. Die klassifikasie van mense in etniese groepe onder apartheid is nie sonder meer op ras gegrond nie, maar op kultuurverband, wat dit dus nie eenvoudig “rassisme” maak nie. Die identifikasie van apartheid met Europese fascisme of ver-regsheid is dus op sy beste simplisties en verhoed ’n meer diepgaande begrip van ons geskiedenis en dit wat “links” en “regs” sou beteken. Veral in sy taalbeleid, die bevordering van moedertaalonderrig op skool, die erkenning van inheemse kulture, hoe gebrekkig ook al, was die eertydse Nasionale Party ’n veel progressiewer entiteit as menige voorafgaande regering in Suid-Afrika, en in dié opsig ook progressiewer as die huidige wat vele “regse” neigings toon soos byvoorbeeld kolonialisme, rassisme en nasionalisme.

Onlangse verwikkelings rondom ras in die politiek raak al hoe paradoksaler, en rassisme word toenemend as “links” of “liberaal” beskou. Met die val van die Berlynse muur het die onderskeid tussen ’n linkse aanhang van ekonomiese sosialisme en ’n regse voorkeur vir kapitalisme eweneens tot ’n einde gekom. Die ou monargiese verdelingslyn van die negentiende eeu tussen republikeine en monargiste is ook nie meer ter sake nie. Het dit dus hoegenaamd enige sin om langer hierdie terme te gebruik? Ook die feit dat rassisme by wyse van regstellende aksie en voorkeurprogramme vir swart Afrikane, deesdae as ’n progressiewe of linkse beweging gesien word, toon dat ons nou driehonderd-en-sestig grade beweeg het sedert Cuvier en Darwin en dat streng rasseonderskeid nou weer as hoogs vooruitstrewend gesien word. Trouens, radikale Afrosentriste in die VSA beweer dat swart rasse meer ontwikkeld en meer menslik as gevolg van hoër hoeveelhede melanien is as wittes.

Volgens die teorie van “die nuwe regs” beteken die ignorering van rasseonderskeidinge om te fokus op die ou probleem van kolonialisme en die oorheersing van die metropool dus om “regs” te wees. Verder het “regs” ’n skeldwoord geword wat in die nuwe snobisme as teken van die agterlikheid van Afrikaners teenoor hul Engelssprekende eweknieë gebruik word. As sodanig verteenwoordig dit nie politieke denke nie, maar is dit eerder ’n vorm van etniese propaganda. In enige konflik is daar altyd die slagoffers wat die diskoers van hul heersers aanneem, en die Afrikaanse voorstanders van die “nuwe regs”-teorie moet onder diegene gereken word.

Volgens tradisionele kriteria is nasionaliste gewoonlik regs en internasionalistiese sosialiste links. Sedert Stalin met sy slagspreuk van “sosialisme in een land” weet ons egter dat dit nie so eenvoudig is nie. In Wes-Europa was Christen-Demokratiese — dus regse — partye gewoonlik pro-Amerikaans en die sosialistiese — of linkse — partye meer nasionalisties en anti-Amerikaans. Oor die algemeen is linkses ook meer gekant teen die kulturele kolonialisme van Amerika. Wat die ANC betref, weet ons dat dit Afrika-nasionalisties ingestel is, wat as ’n vorm van regsheid geïnterpreteer kan word, gepaardgaande met ’n aangewesenheid op Amerikaanse begrippe en ’n anglofilie.

Is president Robert Mugabe regs of links? In ’n stadium het hy hom op ’n linkse Westerse ideologie, die Marxisme, beroep, maar deesdae lyk dit asof hy sy toevlug geneem het tot anti-wit rassisme. Myns insiens is daar geen verskil tussen die vervolging van die Jode deur die Nazi’s en dié van blanke Zimbabwiërs deur Mugabe nie, aangesien beide ekonomies welvarende groepe was teenoor ’n minder welvarende meerderheid

Wat my betref, het die links-regs-onderskeid in die Suid-Afrikaanse politiek sinloos geword, behalwe by groepe soos die AWB en SAKP wat dit grotendeels om simboliese redes aanwend. In ekonomiese terme het die ANC-regering ook ’n tradisioneel regse beleid en voer dit meer konsekwent ’n rassepolitiek as enige ander regering wat Suid-Afrika nog gehad het. In terme van heersende opvattinge is swart rassisme links en wit rassisme regs, maar uiteindelik moet die historiese oorsprong van “links” ná die Franse Revolusie erken word. Om “regs” en “links” soos rosette by ’n interhuisatletiekbyeenkoms uit te deel in terme van die “groep” waartoe mense behoort, lei eintlik tot ’n graad van absurditeit wat tereg met die kaskenades van Vader Ubu en sy politieke denke vergelyk kan word. Miskien behoort ons dan eerder daarvan af te sien en te fokus op die oeroue probleem van die Suid-Afrikaanse politiek, naamlik die stryd om outonomie teenoor die koloniale owerheid. Dit is ’n stryd wat verstrengel is met die term “Afrikaner” self. As trotse onsuiwere etnos of groep verwerp ons nie net rassesuiwerheid nie, maar ook ideologiese suiwerheid wat insgelyks ’n lugspieëling is van ’n vervloeë Europese en daarom koloniale verlede. Om vandag onbevange en outonoom te dink, en die koloniale gegewe te bevraagteken, is beslis denke in die Afrikanertradisie. Of dit ooreenstem met modieuse opvattings van links of regs is eintlik glad nie ter sake nie.

Oorspronklik op LitNet gepubliseer in die jaar 2000.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *