Wil die Afrikaner nog veg vir Afrikaans?

Al hoe meer mense kla oor die gebrek aan Afrikaans by banke, staatsdepartemente en natuurlik op SAL-vliegtuie. Nou die dag sien ek die voorafbetaalde sim-kaarte wat MTN verkoop. Die verpakking is in Engels, maar daarop staan: “Sotho and Zulu translation inside.” Maar geen Afrikaans nie.

Ook was ek onlangs toevallig in die Randburgse Landdroshof. Groot was my verbasing om te sien dat al die kennisgewings in die hofgebou tweetalig is: in Engels en ‘n swart taal… Weereens geen Afrikaans nie.

Ek dink nie daar is meer enige twyfel dat die staat, meer nog as die Britse koloniale staat van 60 of 150 jaar gelede, ‘n doelbewuste veldtog teen Afrikaans voer nie. Uiteindelik spruit die toestand uit politieke mag, of gebrek daaraan. Die persepsie wat die staat, groot sake en die algemene publiek van Afrikaners het, is dat hulle die politieke verloorders van Suid-Afrika is wat die verste van die politieke mag af verwyder is.

As ons dink aan ‘n soort Venn-diagram van politieke mag in die land, met ‘n al hoe kleiner area wat die sirkel van politieke mag sny, dan lyk dit waarskynlik so:

Zoeloes: ons het ‘n Zoeloepresident

Xhosas: hulle speel steeds ‘n groot rol in die ANC

Sotho’s: hulle beheer die Vrystaat en Suid- en Noord-Sotho word in die binneland gepraat waar die ANC nie kan bekostig om hulle heeltemal te vervreem nie.

Engelse: hulle behou hul kulturele, ekonomiese en ideologiese bande met die Anglo-Amerikaanse empaaier, daarom domineer Engels in Suid-Afrika. ‘n Aanval op Engelse of Engels sou gesien word as ‘n aanval op Brittanje en die VSA.

Kleurlinge: hulle is die meerderheidsbevolking in die Wes- en Noord-Kaap, dus het Kreools-Afrikaans ‘n bestaansreg soos ons dit op Sewendelaan op TV aantref. In baie opsigte het die “Kaapse” aksent die standaardaksent op RSG geword.

Afrikaners: ons is doelbewus van die politieke mag uitgesluit en waar ons oor getalle beskik, soos in die Pretoriadistrik of die Oos- en Wesrand, is die munisipale afbakenings so gemaak dat ons orals in die minderheid verkeer en oorheers word. Daar woon 700 000 Afrikaners in en rondom Pretoria; nietemin sien mens byna nêren Afrikaans nie. Sowel Tukkies as UNISA is grotendeels verengels en binne vyf jaar sal daar feitlik geen Afrikaans meer aan daardie instellings gedoseer word nie. Afhangend van die uitslag van die grondwetlike hofsaak oor Ermelo-hoërskool, mag Afrikaanse hoërskole ook binnekort van buite deur die onderwysdepartemente oorgeneem en verengels word.

Die enigste gebiede waar Afrikaans nog te siene is of gehoor word, is dié wat aan staatsbeheer of beheer deur groot maatskappye ontkom, soos die Afrikaanse musiek, gemeenskapsradiostasies en die internet. Ek weet nie of daar ‘n groot toekoms vir die Afrikaanse koerante is nie, want hulle gaan vir seker – soos die Afrikaanse universiteite – getransformeer word en sal stadig maar seker na Engels oorslaan. Daar verskyn reeds Engelse advertensiebylaes by die Afrikaanse koerante en ons kan sien hoe Die Burger en Rapport se redaksionele standpunte oor Afrikaans toenemend ooreenkom met dié van die rektor van Stellenbosch, naamlik dat “eentalig-Afrikaanse instellings ‘n mite is”. Indien daar nie meer plek vir eentalig-Afrikaanse universiteite of skole is nie, waarom sal eentalig-Afrikaanse koerante nog verdra word?

Trouens, was dit nie vir die internet nie, het Afrikaans al so te sê uit die openbaar verdwyn. Ons moet in gedagte hou dat die huidige taalstryd hoofsaaklik op die internet gevoer word. Diegene wat ten gunste van “die mite van eentalig-Afrikaanse instellings” is, word sistematies gesensureer deur die tradisionele media, sowel die gedrukte media as radio en TV – met die uitsondering van enkele gemeenskapsradiostasies. Die druk wat daar vanuit die internet toegepas word, veroorsaak egter dat die verengelsingsproses stadiger verloop as wat andersins die geval sou gewees het.

Indien enigiemand in 1994 sou voorspel het dat Afrikaans binne 15 jaar tot dieselfde vlak as die swart minderheidstale soos Venda of Tsonga gereduseer sou word, sou so ‘n persoon as ‘n regse doemproefeet uitgeskel gewees het. Nietemin ervaar ons tans die doodsnikke van Afrikaans as kultuurtaal en wetenskapsmedium. Die oorgrootte meerderheid Afrikaners onder 30 en veral dié wat ná 1994 hul skoolopleiding ontvang het, kan nie meer ingewikkelde begrippe in Afrikaans oordra nie. Eintlik verkeer hulle in ‘n fase van oorgangstweetaligheid waar hulle woordeskat toenemend Engels en slegs die sintaksis nog Afrikaans is. Hulle kinders – die volgende geslag – gaan in ‘n feitlik volledig eentalige Engelse wêreld grootword, met Engelse skole, universiteite, howe, staatsdepartemente, munisipaliteite, werkomgewings en selfs kerke.

Die NG Kerk het hom reeds teen die gedagte van taalhandhawing uitgespreek en sal lidmate bedien in die taal wat hulle verkies of wat ‘n gedeelte van die lidmate verkies. Ek weet van ten minste een NG-gemeente – een van die oudstes in die land – waar eredienste reeds in Engels plaasvind omdat die jonger lede van die gemeente, sowel as die predikant, dit so verkies. Dit rym meer met ‘n “loslitstyl” van godsdiensbelewing.

Niemand van ons wat in die goue tydvak van Afrikaans grootgeword het en dit as iets vanselfsprekends aanvaar het, sou destyds kon voorsien dat die taal in ons leeftyd sou teruggly na waar dit 150 jaar gelede was nie, waar vele mense skaam was om dit te praat en daar gelag is vir diegene wat “kitchen Dutch” as kultuurtaal wou gebruik het.

As ons eerlik is, moet ons erken dat slegs drastiese optrede Afrikaans nou van volslae ondergang kan red. As Afrikaans oor die afgelope vyftien jaar soveel veld kon verloor, hoeveel te meer gaan dit nie oor die volgende vyftien jaar wegkwyn nie?

Die Afrikaner het by ‘n kruispad gekom: óf hy moet veg vir sy kulturele (en fisieke) voortbestaan, óf hy moet maar tou opgooi en verengels of emigreer, wat op dieselfde neerkom.

Die vraag is: wil hy veg? Gemeet aan die aanloklikheid van ‘n globale verbruikersbestaan in Engels, watter waarde of bekoring hou Afrikaans, die produk van ‘n vervloeë nasionalisme van sewentig of tagtig jaar gelede, steeds vir hom in?

Aan die ander kant is dit miskien ‘n wonderwerk dat Afrikaans – wat nader aan Middel-Nederlands verwant is as Nederlands self – al soveel eeue lank oorleef en telkens soos ‘n feniks uit die as verrys.

In hierdie desperate tyd is dit waarskynlik ons enigste bron van troos en inspirasie.

Join the Conversation

1 Comment

  1. Dankie vir hierdie nugter artikel! Ek stem saam dat dit `n wonderwerk is dat Afrikaans nog oorleef. Die stamtaal is dalk die rede daarvoor en omdat dit `n moderne taal is wat nie swaar dra aan al die voor en agtervoegsels vir tyd en geslag nie. Ekself het die drastiese agteruitgang van Afrikaans waargeneem in hierdie klein kusdorpie waar ons bly. Die ergste is dat hier heelwat `oorspronklike Setlaar families`se nasate woon en Afrikaans sprekendes word nog steeds as agterlik beskou-al is driekwart van die professies in die dorp deur Afrikaners gevul! Engelse vriende van ons wie nou in Adelaide is se dat hulle Afrikaans met ander Engels-Suid-Afrikaners praat wanneer die heimwee groot is. `n Rou Engelse vriend van my seun het in London verdrietig `ou Ryperd` gaan sing voor SA Huis. (hy is nou terug)

    Groetnis
    Melinda

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *