Dan Roodt – die mens agter die aktivis

Jansie Kotze

Dan Roodt is heeltemal anders as wat ek myself voorgestel het. Hy is skaam en rankerig. Grys. Weg is die lang, anargisties-geïnspireerde ‘kapsel’. Dit het plek gemaak vir ’n bedaarde middeljarige haarstyl. Gelukkig het ’n foto in die koerant my gewaarsku dat die flambojante beeld waarmee Dan Roodt ’n kultusfiguur geword het, aan die verlede behoort. Die platwees-op-die-aarde kom egter as ’n verrassing. En soos dit ’n taalaktivis betaam, praat hy suiwer Afrikaans.

Vir die afgelope 20 jaar het Dan Roodt in en uit die Afrikaanse publieke oog bly glip en ons verbeelding aangegryp met sy kompromielose en, ja, soms selfs uitspattige uitsprake en gedrag. Hy lag oor die oshart-insident in die vroeë tagtigerjare. ’n Paar mense by RAU het hom genooi om poësie te kom lees. Hy het in ’n dadaïstiese gebaar ’n oshart oor sy linkerbors vasgestrep, en ’n komposisie van ‘kru’ woorde voorgelees. Soos die hart ontdooi het, het bloed by sy borskas afgedrup. Die gebaar moes sy pyn simboliseer.

Dit was hierdie onstuitbare gedrag wat ’n leemte in die Afrikanerpsige gevul het. Dit is dalk hoekom jan-en-hester-allemens hom aangevat het toe hy in aandele-opsies en ander afgeleides begin handel dryf het. Aan die een kant het die publiek sy gedrag verwerp, maar aan die ander kant het hy hulle alter egoïstiese fantasieë aangehits.

Die ironie is egter dat hy heeltemal per ongeluk betrokke geraak het in die markte. In die tagtigerjare in ’n poging om die Weermag te ontduik, het Dan Frankryk toe gevlug. En as die leser my sal toelaat om myself hier te onderbreek — want aan die skryftegniek om die Weermagstaaltjie subtiel in die teks in te bring, ontbreek dit my — sal ek nou eers vir Dan Roodt die Weermagstorie laat vertel. “Johan van Wyk het Swaziland toe gevlug om diensplig te ontduik. Vir ’n maand bly hy daar in ’n karavaan, toe is sy geld op en kom hy maar weer terug. Met die intrapslag vang die militêre polisie hom en neem hom vir observasie. Die psigiater sê toe hy is ’n skisofreen en hy word ontslaan. Dit gee my toe ’n idee. As Johan van Wyk ’n skisofreen kan wees, hoekom nie ek nie?

“In 1981 is ek genooi om by die skrywersgildeberaad in Gordonsbaai te praat. Ek het vir Phil du Plessis, digter maar ook dokter, daar raakgeloop en gesels met hom oor my Weermagprobleme. Hy sê toe, ‘Ag man, ek sal vir jou ’n briefie stuur.’ Hy stuur toe vir my ’n briefie wat sê ek ly aan ’n rare soort epilepsie wat my baie aggressief maak. Ek stuur dit vir die Weermag, maar dié sê ek moet nog stawende getuienis van ’n psigiater verskaf. Ek kry toe Johan van Wyk se psigiater, maar ek kon hom nie oortuig daar is iets fout met my nie. Ek het selfs ’n boek oor epilepsie gaan koop om op te lees oor my toestand. Die psigiater sê toe ewe ‘Ag, dit sal nie so sleg vir jou wees om Weermag toe te gaan nie’, maar ek was nie bereid om die stelsel te gaan verdedig nie. Ek kon nooit stawende getuienis kry nie. Toe is ek vir ’n jaar na die Universiteit van Durban-Westville toe as dosent. Ek het gehoop die Weermag het van my vergeet. Maar aan die einde van daardie jaar het hulle vir my ’n toewysing na Oudtshoorn gestuur. Ek en Karin (sy vrou) is binne 10 dae sak en pak Frankryk toe.”

En nou liewe leser, sal ek u trakteer op Dan Roodt se betrokke-raak by die finansiële markte. In Frankryk was hy en sy vrou bevriend met “’n klomp Russe in ballingskap” — dit was nog voor perestroika. Toe Rusland begin oopmaak het onder Gorbatsjof het hy, sy vrou en hul Russiese vriende ’n seminaar oor die Sowjet-Unie georganiseer, en ’n paar Russe oorgenooi om te kom praat. In ’n poging om homself in te lig oor Rusland, begin lees Dan artikels oor Rusland in die Financial Times. “Ek lees toe ook sommer die res van die Financial Times en het toe geïnteresseerd geraak, veral die kolomme met pryse van ‘puts’ en ‘calls’. En een ding lei toe tot ’n ander.”

Verlede jaar het hy bedank as afgeleide markte-spesialis by Citibank, want dit het hom begin verveel. “Nou is ek ’n vryskutpersoon, ’n soort finansiële konsultant.” Op die oomblik skryf hy baie en hoop om gedurende die volgende paar jaar ’n roman te publiseer. ’n Samestelling van sy skrywes behoort binnekort die lig te sin. Die voorlopige titel is Opstandige Opstelle.

Verder hou vaderskap hom besig. Hy is die pa van ’n vierjarige tweeling oor wie hy met deernis en plesier praat. “Vaderskap gee jou groter verantwoordelikheid. Dis om te besef jy moet omsien na twee ander mense wat taamlik weerloos is in hierdie wêreld. Dit het my ook attent gemaak op die taalkwessie. Dit is amper wonderbaarlik hoe kinders hul taalvermoë verwerf en hoe beïnvloedbaar hulle is op so ’n vroeë ouderdom. Dit het my sensitiwiteit verhoog vir Afrikaans toe ek kinders het wat hulle eerste woorde begin sê.”

Hy het geen planne om die land te verlaat nie. Hy stel dit sommer kaalkop: “Dit is ’n lamsakkige manier om na die situasie te kyk. Die misdaad en onveiligheid kwel almal. Dit is ongelooflik défaitisties om eenvoudig te emigreer, om op die vlug te slaan.” Hy bly liewer hier, en help om die probleem op te los. Dit is hierdie onmiddellike betrokke-raak wat sal maak dat Dan Roodt nooit 20 jaar sal wag voordat hy ’n brief aan ’n koerant skryf om gal te braak nie. Hy loop die probleem tromp-op.

Hy steur hom nie eintlik aan die debat rondom homself nie. “Die moralistiese houding oor my betrokkenheid by die finansiële bedryf, spruit uit onkunde. ’n Mens kan nie behoorlik oor politiek redeneer as jy nie weet hoe die markte werk nie. ’n Sekere mate van finansiële kennis is ’n noodsaaklikheid. Net soos wat mense behoort te weet Peru is in Suid-Amerika, behoort hulle kennis te dra van die markte.”

En nou is my artikel al amper klaar en ek het jou nog niks vertel oor Dan Roodt se lewensblyheid en sy voortdurende soeke na nuwe ondervindinge, of, soos hy dit stel, sy “lewensnuuskierigheid” nie. En hoe hy daarmee vir my een van die mooiste panoramas — ’n uitsig oor Johannesburg in die laatherfslig — gewys het. Toe ek hom skakel vir die onderhoud, stem hy dadelik in. Hy stel voor ons gaan na die Hyatt of die Westcliff Hotel. “Ek was al by die Hyatt, so ek weet waar dit is,” stel ek voor. “In daai geval ontmoet ons by die Westcliff,” besluit hy dadelik. En dis toe by die Westcliff waar ek opnuut verlief raak op Johannesburg. En dis Dan Roodt: voortdurend op soek na nuwe ervaring sonder om te huiwer.

Met erkenning aan Litnet.

Join the Conversation

3 Comments

  1. Hello Dan

    Iewers het iets in jou verander. Voor ’94 wou jy nie die stelsel verdedig nie. Nou lyk dit of daar baie in daardie stelsel is wat jy vandag weer sal wil laat herleef en uitbou indien moontlik. Wat presies laat ‘n mens so radikaal omswaai, soos in jou geval? En as jy my ook ‘n tweede vraag sal vergun, wat presies is dit wat jy vir die Afrikaner soek? Is dit noodwendig ‘n afskeiding van die res van Suid-Afrika, of is dit dalk erkenning in ‘n meer beskaafde opset as wat ons vandag beleef?

    Dankie

    Frikkie

  2. Beste Frikkie,

    As mens jonk is, beskik jy nie noodwendig oor al die inligting om deurdagte besluite en menings te vorm nie. ‘n Mens is ook geneig om meer ideologies en minder pragmaties te dink. Destyds is ons, veral op universiteit, gebreinspoel met die Britse en Amerikaanse dogma dat daar geen etniese of rasseverskille tussen mense bestaan nie. Tans in Suid-Afrika kan ons natuurlik die kranksinnigheid van dié dogma waarneem, waar alles rondom rasse- en kultuurverskille draai.

    Soos ek ons geskiedenis lees, is die Afrikaner reeds sedert die Tweede Britse Besetting van 1806 op soek na vryheid en dit beteken op sy beste ‘n eie republiek waar Afrikaners in die meerderheid sal wees en Afrikaans die enigste taal sal wees. Ek glo nie dat ons ooit onder ‘n Afrikaregering ‘n “beskaafde opset” of ‘n opset sal beleef wat deur ‘n grondwet, regstelsel en administratiewe regeverdigheid gekenmerk word nie. Tot hul eie voordeel en ons nadeel, dink die meeste opgevoede swartes in terme van ras en hulle kan eenvoudig nie insien waarom ons gelyke behandeling op dié kontinent wat hulle as “hul eie” beskou, moet ontvang nie.

    Vroeër of later sal ons móét afskei, voel ek. Daar is soveel goeie boeke en studies geskryf oor ‘n Suider-Afrikaanse konfederasie en dit is die antwoord vir al ons probleme, ook die Zimbabwe-kwessie. Onlangs het ek ‘n baie intelligente swartman ontmoet wat dié ideaal van ‘n konfederasie deel en insgelyks glo dat hierdie ‘n barbaarse en ongewenste bestel is. Dus is ek nie die enigste wat so dink nie.

    Dan

  3. Hello Dan

    Ek was bly om jou woorde “voel ek” in die derde paragraaf te lees. Dit beteken tog dat jy erken dat jy dalk verkeerd kan wees.

    Sou jy bereid wees om ‘n bietjie meer te vertel oor waar en hoe jy van “meer ideologies” na “meer pragmaties”, ten op sigte van die rasse situasie in Suid-Afrika verander het?

    Dankie

    Frikkie

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *