Die WaBenzi-diktatuur – waarom die demokrasie in SA misluk het

Enkele maande gelede het die Duitse kanselier, me. Angela Merkel, erken dat die multikulturele samelewing in haar land misluk het. Suid-Afrika se mislukking is egter veel erger: by ons het die demokrasie geheel en al skipbreuk gely.

Pleks van liberale demokrasie, word ons tans deur ‘n WaBenzi-diktatuur geteister. Wie is die WaBenzi? Hierdie term is ‘n dekade of twee gelede gemunt vir die Afrika-elites wat hulself van hul eie mense isoleer en ‘n Westerse verbruikersbestaan in wesentlik arm en agterlike lande voer.

Soos die Britse joernalis Julian Champkin hulle in 1985 beskryf het, is WaBenzi “…gewoonlik opgevoed; die meete het oorsee gestudeer; hulle dra welgesnede driestukpakke; hul tuislande is die lugversorgde kantore in hoofstede dwarsdeur die (Afrika-)kontinent”. Lede van die stam of groep van WaBenzi is gewoonlik letterlik vet van postuur en hou daarvan om in Mercedes Benz-motors rond te ry; vandaar hul groepsnaam.

Champkin praat selfs van die “staatsgreep” wat die WaBenzi op die vasteland van Afrika toegepas het. Elke land in Afrika word deur die klas of stam van statusbewuste jolytmakers wat ons WaBenzi kan noem, beheer.

Sedert 1994 het daar uiteraard ‘n hele WaBenzi-orgie in Suid-Afrika plaasgevind soos wat lede van die swart elite op staatsdepartemente, openbare maatskappye, munisipaliteite en selfs die privaatsektor toegesak het. Die uitspattige manewales van soesji-etende, sjampanje- en whisky-drinkende pierewaaiers in die ANC haal gereeld die media.

PRAAG – die Afrikaner se laaste intellektuele vesting. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.

Dit gaan egter om veel meer as blote gevalle van korrupsie of, soos dit tydens die onlangs afgelope munisipale verkiesing geheet het, “gebrekkige dienslewering”. Feit is dat die WaBenzi enige herkenbare vorm van demokrasie in dié land finaal gekelder het.

So ‘n gevolgtrekking sal waarskynlik nie met groot blydskap deur vele mense, sowel binnelands as buitelands, ontvang word nie. Dis egter ‘n feit soos ‘n koei. Enigeen met selfs net ‘n basiese begrip van staatsleer sou dit onmiddellik kon insien.

Eintlik is demokrasie ‘n paradoks. Nêrens ter wêreld regeer “die volk” nie. Toe ek in die eerstejaarsklas staatsleer aan Wits geloop het, het hulle aan ons verduidelik dat die elite gewoonlik die politieke stelsel beheer. In die meer suksesvolle nywerheidslande bestaan daar metodes en instellings om die bevolking te sif ten einde ‘n talentvolle en verantwoordelike elite te skep.

In Frankryk waar ek bykans sewe jaar gewoon het, berei jongmense ná skoolverlating vir twee jaar intens voor op mededingende eksamens wat hulle toegang tot die sogenaamde grandes écoles mag gee. Die grandes écoles is prestigieuse universiteite buite die gewone stelsel wat veronderstel is om die leiers en topstaatsamptenare van die land te kweek. Die moordende voorbereidingsprogram en hoë eise wat aan studente gestel word, sorg dat slegs die bestes ooit dié heiligdomme van die Franse opvoedingstelsel betree.

In Brittanje is daar natuurlik die universiteite van Oxford en Cambridge wat gereeld onder die toptien of toptwintig ter wêreld geklassifiseer word. Die room van die Britse jeug word hier opgelei en eindig uiteindelik in hoë poste in die staatsadministrasie wat as “Whitehall” bekendstaan, na die straat in Londen waar die meeste ministeries geleë is.

Sedert die vyftigerjare verkry studente in die VSA toegang tot die gesogte Ivy League-universiteite soos Harvard, Yale, Princeton en Stanford op meriete en op grond van ‘n psigometriese toets bekend as die SAT oftewel “Scholastic Aptitude Test”. Slegs studente met ‘n baie hoë IK, werkywer en kennis word as ‘n reël toegelaat aangesien die SAT mindere geeste meedoënloos elimineer, nes Frankryk se gevreesde mededingende eksamens.

Die punt aangaande Westerse elites is egter dat hulle sedert die Amerikaanse revolusie van 1776 en die Franse revolusie van 1789 deur ‘n gelykheidsetos begeester is. Anders as in feodale tye, poog hulle nie om hulself van die res van die bevolking af te sonder in aristokratiese paleise met baie bediendes nie, maar dien hulle hul medeburgers in ‘n gees van nasionalistiese broederskap. Westerse elites, wat die stelsel van sogenaamde “demokrasie” beheer, poog gedurig om nader aan hul onderdane en medeburgers te leef en hul probleme en versugtinge te verstaan.

Daarom is daar min sosiale afstand tussen die elite en die gewone burgery. In sy mees ekstreme vorm het ‘n mens tot onlangs gevind dat Nederlandse politici en selfs staatshoofde byvoorbeeld sonder lyfwagte op straat stap of per fiets van een afspraak na ‘n ander pendel. Waar lede van Westerse elites hulself wel aan snobisme of sosiale afstand skuldig maak, durf hulle dit nie openlik wys nie, want so iets sou sosiale en politieke selfmoord beteken.

Die paradoks van Westerse demokrasie is juis dat die volk nie regeer nie, maar dat die elite die belange van die volk op die hart dra en vanweë hul streng opleiding hardwerkend, intelligent en redelik eerlik is, veral hoë staatsamptenare wat in baie gevalle op gewone politici neersien.

Afrika-elites staan reëlreg teenoor die Westerse heersersklas met sy etos van gelykheid en diensbaarheid. Soos Champkin dit stel, “mag die semigeletterdheid wat in die meeste Afrika-skole geproduseer word nie studente vir hoë ampte kwalifiseer nie, maar dit diskwalifiseer hulle sekerlikdaarvan  om kleinboere te wees. Hul geleerdheid waarborg hul werkloosheid.”

In ‘n sekere sin is ‘n lid van die Afrika-elite iemand wat oor te min kennis beskik en te belangrik is om te werk. Hierdie stam van WaBenzi sak dan in hul hordes op lugversorgde kantore toe waar hulle hul sin vir belangrikheid, status, blouligkonvooie en ‘n uitspattige lewenswyse kan volvoer, hetsy in die openbare, hetsy in die privaatsektor waar regstellende aksie vir hulle ook ‘n groot aantal aardig besoldigde poste verseker.

Terwyl Westerse elites poog om voortdurend die gaping tussen hulle en die gewone burger te verklein, veral deur die opheffing van elke volksgenoot, selfs die agtergeblewenes of armblankes – vergelyk maar ons Afrikanergeskiedenis – neig die WaBenzi daarna om ‘n al groter sosiale afstand tussen hulle en die res van die bevolking te plaas.

Vandaar ook die mislukking van demokrasie in Suid-Afrika, noudat die WaBenzi volledig oorgeneem het. Die ritueel van demokratiese verkiesings elke vyf jaar is in wese sinneloos, want die land beskik oor geen ander swart elite as sy half opgeleide, uiters statusbewuste WaBenzi nie. Dieselfde geld natuurlik vir Zimbabwe en baie ander Afrikalande waar gereelde verkiesings, wat dikwels gemanipuleer word, eintlik ‘n bespotting van demokrasie maak.

Demokrasie, die uitvinding van Westerse elites, is daarom soos ‘n orgaan wat in ‘n ander liggaam oorgeplant is en deur sy nuwe gasheer verwerp word. Trouens, demokrasie word deur die WaBenzi gesien, nie as ‘n metode om sosiale afstand en ongelykheid tussen die elite en die gepeupel te verklein nie, maar juis om sodanige afstand te vergroot. Deur hul toeëiening van rykdom en mag, aspireer individuele WaBenzi om onaantasbare “hoofmanne” of kapteins in die tradisionele sin te word.

Tewens, ‘n mens kan selfs postuleer dat, hoe groter die afstand, hoe langer bly die hoofman aan bewind, soos ons in die geval van Robert Mugabe gesien het.

Ons wag op die kaptein, soos Elsa Joubert in haar Afropessimistiese roman geskryf het. Maar waar pas die Afrikaner en die oorblywende blankes in Suid-Afrika in? Onder invloed van die WaBenzi-diktatuur met sy despotiese hoofmanne wat elke belangrike instelling beheer, of dit nou staatsdepartemente of universiteite is, is die Afrikaner besig om insgelyks sy band met die demokrasie en met sy Europese wortels te verloor. Nes die WaBenzi, wat ontwortel en deur hul halfgebakte Westerse opvoeding van hul eie kultuur vervreem is, is die Afrikaner besig om insgelyks in ‘n half-Engelse, half-barbaarse gedrog te ontaard.

Soos Koos Kombuis in een van sy liedjies gesing het: “Ons is almal k****rs in ons harte.” Overgezet synde: “Ons is almal WaBenzi in ons harte.” Ontdaan van die dissipline en skerpsinnigheid wat ons elite voorheen aan ons opgelê het, is ons besig om ewe seer op te gaan in die kultuur van vertoon, maklike geld, hebsug en vulgariteit wat die Suid-Afrikaanse WaBenzi sedert 1994 dië van Suid-Afrika gemaak het.

Ons het ons strewe na uitnemendheid en sin vir prestasie op grond van meriete langs die pad verloor. Van Wyk Louw se “aristokratiese ideaal” of “‘n kultuur wat met die beste van Europa kan vergelyk” is nou baie ver van die Afrikaner se gedagtes af. Soos bestaansboere wat stad toe getrek het, hou ons onsself met oorlewing besig, as ons nie ook droom van ‘n swart Mercedes of om te emigreer nie.

Emigrasie is op ‘n manier die groot droom van elke WaBenzi, om aan sy eie geboortegrond te ontsnap en vir die res van sy lewe vergaderings in ‘n vreemde taal in ‘n vreemde stad by te woon.

PRAAG – die Afrikaner se laaste intellektuele vesting. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.

Join the Conversation

1 Comment

  1. Johan, ek stem saam met jou oor die afwesigheid en apatie van die Afrikaner-elite. Ook is Anton reg oor die WaBenzi wat eintlik deur die blanke liberale in stand gehou word. Maar soos Huddleston, Fischer et al getoon het, kan ‘n baie klein groepie mense ‘n hele stelsel tot ‘n val bring, bloot deur op bepaalde idees te hamer. Nou die aand op Metro FM het ek selfs van die swart luisteraars ‘n soort respek ervaar. Aanvanklik is hulle woedend as jy nie die PK-rympies opsê nie, maar hulle weet ook dat die WaBenzi besig is om te misluk. Dis al oor en oor gesê, maar ons is ons grootste vyand.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *