Media verdraai ANC-boodskap

Is die ANC ‘n wolf in skaapsklere en steek die media dit vir ons weg?

Ek het Saterdag die moeite gedoen om na president Jacob Zuma se toespraak soos dit op SABC2 uitgesaai is, te kyk. Agterna het ek tevergeefs in die koerante na sinvolle berigte of kommentaar daarop gesoek, maar niks gevind nie. Die blywende indruk is dat die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia steeds van die ANC-wolf ‘n lam wil maak.

Dít, in weerwil van die onlangse kritiek op die Zuma-regering, asook die korrupsie en onbekwaamheid van sy party. Sodanige kritiek gaan egter merendeels oor sogenaamde “dienslewering” of administratiewe kwessies, sonder om die wesentlike aspekte van die ANC-ideologie en -politiek te betrek.

Zuma het ‘n fyn uitgewerkte toespraak gelewer waarin hy ‘n oorsig van die organisasie se 100-jarige geskiedenis verskaf het. Maar ook: ‘n toekomsvisie en onmiddellike “uitdagings” wat die hoof gebied gaan word.

Wat die geskiedenis betref, het my ore omtrent getuit, want Zuma het ‘n oerlinkse toespraak aangebied uit die dae van Leonid Bresjnef wat op Meidag die verbymarsjerende troepe op die Rooi Plein in Moskou met ‘n bejaarde hand toewuif. Dit is asof die Zuma-ANC in die kommunistiese verlede versteen het en hul korstondige flirtasie met Westerse demokrasie net oëverblindery was. Die enigste verwysing na die rol van Afrikaners of blankes oor die afgelope 100 jaar was as “die apartheidsbewind” wat met hand en tand beveg is. En dan juis militêr!

Trouens, die siening van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat Zuma voorgehou het, was een van ‘n uitgerekte oorlog wat tagtig jaar geduur het totdat Umkhonto we Sizwe die oorwinning behaal het. Hy het Kuba, die Sowjetunie, MPLA en ZANU-PF vir hul hulp hiermee bedank. Die versiersuiker van “onderhandeling” en versoening wat ons in die negentigerjare – en veral natuurlik tydens die Mandela-tydvak –  gehoor het, was weg. Al wat oorbly, is keiharde kommunistiese retoriek oor die bevryding van die werkersklas deur militêre geweld of dan “gewapende opstand” soos Lenin sou gesê het.

Die drie “uitdagings” wat Zuma raaksien, is werkloosheid, armoede en ongelykheid. Onderliggend aan sy toespraak is insgelyks ‘n sterk antiblanke gevoel, aangesien die blankes met “apartheid en kolonialisme” verbind word. Hy het ook voortdurend die vriendskap en samewerking van die ANC met “progressiewe magte” in die wêreld beklemtoon. Die groot vraag is: wie is die “progressiewe magte”? Waarskynlik China, Noord-Korea, Kuba, Venezuela, asook Angola, Mosambiek, Zimbabwe en Namibië in Suider-Afrika.

Tesame met Malema se uitsprake, wat ‘n beduidende groep binne die ANC verteenwoordig, het Zuma Saterdag vir die soveelste keer ons Afrososialistiese en selfs Afrokommunistiese toekoms uitgespel. Dit wil voorkom asof die hoofstroommedia glad nie daarop ag slaan nie. Óf hulle is te dom om te verstaan wat die ANC-leier sê, óf hulle (en ons) is al so gewoond aan die Idi Amin-agtige malhuis waarin ons woon, dat dit nie eintlik meer saak maak nie.

Die wyse waarop ‘n terreurbeweging met sterk kriminele elemente oor jare heen vir ons aanvaarbaar gemaak en deur die media opgehemel is, verteenwoordig een van die grootste massabreinspoelingsepisodes in die geskiedenis.

Dit kan vergelyk word met die soort illusies wat die Britse media in die tagtigerjare rondom Zimbabwe gekweek het. Een of ander tyd moet illusie en werklikheid mekaar egter ontmoet. Suid-Afrika se “groot sprong vorentoe” met radikale grondhervorming, nasionalisering en die stedelike nagmerrie wat tienmiljoene Afrika-immigrante besig is om te skep, lê egter om die draai.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *