Is die globale Ryk wenslik? – ‘n kritiek op die Ryksgedagte

Filosofiekafee Café Riche, Kerkplein, Pretoria, 31 Januarie 2003

Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat globalisering in terme van ‘n Ryk gesien sou word.  Die Verenigde State van Amerika word toenemend as ‘n nuwe Rome beskryf.  Engels is die nuwe Latyn, en sodoende beleef ons een van daardie historiese herhalings wat vir filosowe en historici deur die eeue ‘n sisteem aan die geskiedenis verleen het.

Enersyds, veral uit die geledere van ekonome, word globalisering verwelkom as verhoogde mededinging, en die vryelike sirkulering van goedere en dienste.  Andersyds word dit egter gekritiseer as ‘n oorheersing van die Noorde oor die Suide, van die nywerheidslande oor die Derde Wêreld.  Met die einde van die Koue Oorlog is dit beswaarlik meer van pas om van ‘n regs/links-verdeling te praat, maar tipies sou ons kon sê dat globalisering van regs verwelkom word en van links afgewys word.  Net om daardie rede is die werk van Hardt en Negri waarna ek gaan verwys, belangwekkend, want hulle sien in globalisering en ‘n herrese Ryk ‘n positiewe, selfs bevrydende ontwikkeling.  En hulle is geen regse ekonome wat soos Milton Friedman die vrye keuse van die markekonomie bepleit nie, maar linkse intellektuele.  Trouens, Antonio Negri is so links dat hy ten tye van die skryf van Empire steeds besig was om ‘n vonnis uit te dien as voormalige terroris van die Brigati Rossi, die Italiaanse Rooi Brigade.  Ek kon hom seker ‘n stedelike guerilla genoem het, maar gegewe die onlangse bomontploffings in Suid-Afrika, sou ek dalk kwalik geneem word indien ek enige sulke optrede sou wou goedpraat deur neutrale terme te gebruik.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *