Die Burger se rassistiese Rottweilers

So pas het die Persombudsman bevind dat sowel Die Burger as Beeld die perskode oortree het in beriggewing deur Elmari Rautenbach oor my sogenaamde “toe-eiening” van die Afrikaanse skrywersorganisasie Pretoria-PEN. In die onlangse tyd hou Die Burger vol dat hy en sy rubriekskrywers oor die volste reg – kwansuis “in die openbare belang” – beskik om my verdag te maak, te belaster en aanhoudend as “rassis”, “verregse” en “fundamentalis” te etiketteer.

Elmari Rautenbach is die nasionale boekeredakteur van Media24. Omdat Media24, ‘n afdeling van Naspers, alle koerante en bykans alle tydskrifte in Afrikaans besit, bepaal Elmari Rautenbach watter boeke geresenseer sal word, asook wie hulle sal resenseer en dus in ‘n hoë mate die verkope en status van alle boeke en skrywers in Afrikaans. Aan die begin van verlede jaar was daar ‘n vergadering van bekende Afrikaanse skrywers op Stellenbosch wat juis belê is om hierdie kwessie te bespreek.

In sy uitspraak beveel die Persombudsman Die Burger en Beeld om verskoning aan my te bied en ek haal aan uit dr. Johan Retief, die adjunkpersombudsman, se bevinding:

Die koerant(e) word versoek om Roodt om verskoning te vra omdat:

  • hy nie ‘n billike kans gegee is om betyds te reageer nie (Beeld);
  • hulle berig het dat hy hom Pretoria-PEN sou “toe-eien” (Beeld en Die Burger);
  • hulle berig het dat Pretoria-PEN teen die vorige maand nog geen bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar het nie (Beeld en Die Burger); en
  • dit berig het dat Roodt “sy eie” (jaar-) vergadering gehou het (Beeld).

Dié verskoning moet insluit dat hierdie verslaggewing moontlik onnodige skade aan Roodt se openbare beeld berokken het – met ‘n verwysing na die betrokke sin in die Aanhef tot die Perskode.

Beeld word vermaan omdat dié publikasie versuim het om te noem dat kommentaar van Roodt nie betyds verkry kon word nie.

Moontlik mag Beeld en Die Burger besluit om teen dié bevinding te appelleer, maar in die Dawid-teen-Goliatstryd waarin ek my teen Die Burger en die magtige Naspersgroep bevind, kan ‘n mens sê dat ek ten minste hier ‘n paar punte aangeteken het.

Die saak strek egter veel verder. Ek vermoed dat daar ‘n bepaalde frustrasie by Die Burger en sommige Naspersredaksies bestaan omdat hulle sienings nie meer deur die breë publiek en hul lesers as geloofwaardig geag word nie. Daarom speel hulle die sogenaamde “rassekaart” deur kritici van die huidige bestel en veral dissidente Afrikaanse skrywers as “rassiste” en “verregses” te beswadder. Toe Annelie Botes, skryfster van Raaiselkind en ander boeke, ook haar bedenkinge uitgespreek het oor die erge graad van geweld wat deur Suid-Afrikaanse swartes gepleeg word, is sy insgelyks met die teerkwas bygekom. ‘n Georkestreerde veldtog teen haar is ontketen, met die hulp van akademici aan die universiteit van Stellenbosch.  Veral Die Burger handhaaf noue bande met Stellenbosch se meer linkse en polities korrekte akademici en te eniger tyd word hulle soos ‘n trop Rottweilers opgeroep om meningsartikels te skryf waarin die slagoffer dan finaal in stukkies opgekerf en sy oorblyfsels as’t ware vir die honde gegooi word.

Die laaste woord oor “rassisme” in hierdie land is natuurlik nog nie gespreek nie. Vanoggend op Facebook het ek effens hardop daaroor gedink en die volgende kwytgeraak:

Ons is almal bekend met die reël uit Hamlet: The lady doth protest too much, methinks. Waarom gil Ilse Bigalke, Leopold Scholtz en die res so hard oor rassisme? Omdat hulle self die grootste rassiste is, wat heimlik swartes vrees en selfs haat.

Onlangs het my vrou vir my ‘n stuk oor ‘n Sloweense filosoof gestuur waarin hy met behulp van Lacan en Freud na rassisme kyk. Ek dink sy gevolgtrekking is dat almal rassiste is. Sommige mense is net groter rassiste as ander. Die Kaapse gillers oor rassisme is veel groter rassiste as enigeen van die KP of HNP.

Eintlik is die KP- of HNP-mense baie verdraagsaam teenoor swartes. Die vorige leier van die HNP, Wilie Marais, het op ‘n keer aan my verduidelik hoe goed hy na sy swart werknemers omsien. Die Kaapse rassiste vrees swart geweld, maar blameer ander blankes en Afrikaners daarvoor. Jacques Lacan, wat ‘n volgeling van Freud was, het mos van “oordrag” gepraat. Die pasiënt verplaas sy gevoelens van een voorwerp/objek na ‘n ander.

Leopold Scholtz en Ilse Bigalke dra hul rassehaat jeens swartes op my en ander noordelike Afrikaners oor. Natuurlik voel hulle ook skuldig oor die rassisme wat hulle in hul binnekamers koester. Hoe skuldiger hulle voel, hoe harder beskuldig hulle ander van rassisme.

In Elmari Rautenbach se berig het sy onder meer vir Breyten Breytenbach betrek om ‘n negatiewe mening oor Pretoria-PEN uit te spreek. Waarom word Breytenbach egter nie ook as ‘n rassis deur Die Burger gehoon nie? In Desember 2008 in Harper’s Magazine het Breytenbach sy ontnugtering met die Nuwe Suid-Afrika en postkoloniale Afrika in die algemeen uitgespreek in die vorm van ‘n ope brief aan Mandela: Mandela’s smile – notes on South Africa’s failed revolution. Dis ‘n lang, ietwat wollerige brief, maar plek-plek sny hy ook tot op die been as dit by moeti-moorde, korrupsie, diefstal, wanbestuur en geweld kom. Suiwer rassisme, volgens Die Burger en sy spannetjie gesublimeerde rassiste wat besig is om ‘n nuwe vorm van sensuur, die sensuur van “die-rassis-vermom-as-teenrassis”, toe te pas.

In sy bevinding verwys die adjunkpersombudsman egter ook na “die kumulatiewe effek” (hy kursiveer dié sinsnede in sy bevinding hier onder) van Die Burger en Beeld se stories oor Pretoria-PEN:

  • Ek verwys telkens na die waarskynlikheid dat sommige stellings in die stories Roodt onnodige skade kon berokken het – dié verwysings is gebaseer op ‘n stelling in die Aanhef tot die Perskode wat sê dat joernaliste onnodige skade moet vermy;
  • Ek is bekommerd oor die kumulatiewe effek van dié onnodige skade wat die berigte Roodt waarskynlik berokken het; en
  • Die pers in die breë praat soms onwaarhede klakkeloos na, al is die feite ook agterna reggestel – ek hoop van harte dat dit nie in hierdie geval gaan gebeur nie.

Nou die dag, in ‘n berig oor die vertrapping buite die hekke van die voormalige RAU, die sogenaamde “Joedjy”, lees ek in die New York Times dat die swart studente mekaar vertrap het omdat hulle nie voorheen onder apartheid die geleentheid vir tersiêre studie gehad het nie. Fanie Olivier, die voormalige professor aan die universiteit van Venda, sal seker kan bevestig dat daardie instelling in 1994 tot stand gekom het, want hy is geen rassis nie en sal dit nie durf waag om teenoor die magtige New York Times as apartheidsapologeet op te tree nie, nie waar nie?

Die kumulatiewe effek van jare lange mites, leuens, halwe waarhede en doodgewone domheid wat in die propaganda-oorlog om die siel van Suid-Afrika uitgegiet is, sal ons seker nooit na waarde kan skat nie.  Maar ten minste het die adjunkpersombudsman raakgesien wat die kumulatiewe effek van Elmari Rautenbach se beriggewing oor my en Pretoria-PEN kan wees.

Op Facebook het Elmari Rautenbach ook teenoor Herman Lategan, Liza Albrecht, Jaco Jacobs, François Griebenow, Kerneels Breytenbach en ander, wat almal in die Media24-dampkring verkeer, te kenne gegee dat sy die nuus so plaas dat dit bedoel is om my in ‘n swak lig te stel. Die algemene gevoel onder Elmari Rautenbach se Facebook-gespreksgenote was blykbaar dat ek een of ander dorpsidioot is “wat verdien om doodgeswyg te word (siende dat sy ma versuim het om hom dood te lê toe hy klein was)”.  Laasgenoemde synde ‘n verbatim-aanhaling uit dié hoogs intellektuele debat in die binnekringe van die Media-vier-en-twintigers.

Voeg daarby die kumulatiewe effek van Die Burger se  aartsrassistiese rubriekskrywers oos Max du Preez, Leopold Scholtz en Ilse Bigalke wat met hul eie rassedemone en identiteitskrisisse worstel, dan kry ‘n mens soms die indruk dat jy terug verplaas is na die Middeleeue. En binnekort gaan al die ketters op die brandstapel geplaas word. Of dalk gaan ons Siberië toe gestuur word om soos Solsjenitsin die binnewerkinge van die ANC en Die Burger se goelag te beskryf.

Oorspronklik toe ek op die gedagte gekom het om Pretoria-PEN te stig, het ek eintlik gedink dat skrywers in die nabye toekoms gevaar loop om deur die ANC in die tronk gesmyt te word. Dit was as ‘n soort versekering vir die toekoms bedoel. Ten minste as iemand in Londen af en toe vir die minister van korrektiewe dienste ‘n brief skryf, mag dit ‘n positiewe uitwerking hê. Met ander skrywers in ander lande sou ons dalk kon veg om sulke dissidente weer te bevry. Die manier waarop Clive Derby-Lewis teen die reg en alle billikheid in tans steeds aangehou word, laat my dink dat my geloof in die mag van publisiteit oor ‘n gevangene taamlik misplaas is. Seker daarom dat daar, ondanks vertoë van PEN Internasionaal en ander menseregte-organisasies, steeds bykans 1000 skrywers wêreldwyd in tronke aangehou word.

Nooit in my wildste drome kon ek egter voorsien dat die grootste bedreiging vir spraakvryheid in ons land van die Freudiaans onderdrukte rassiste by Die Burger sou kom en nie van Julius Malema of Floyd Shivambu nie.

Die patetiese wyse waarop John Miles en Fanie Olivier hulle na Elmarie Rautenbach gewend het om ‘n “bietjie slegte publisiteit” vir my op te wek, hopende om so hul gepoogde staatsgreep op Pretoria-PEN te bestendig, is nou ook aan die kaak gestel vir wat dit is: net nog ‘n agteraf gekonkel wat misluk het.

As skrywers en denkers – die woord “intellektueel” het vir my al so bedenklik en besmet geraak dat ek dit liefs vermy – behoort ons egter te weet dat ‘n vinnige tref-en-trap-moddergooiery in ‘n koerantberig korstondige bevrediging verskaf, maar geen werklike beginselkwessie besleg nie. Al sing Die Burger se hele personeel met die redakteur as dirigent elke week in drie stemme en netjies afgerig dat ek ‘n verregse reaksionêr is, gaan dit nog geen duit verskil aan ons maatskaplike werklikheid en wanorde maak nie.

Op ‘n manier veg ons vandag baie harder as ooit om die waardes van die Europese Verligting staande te hou, want ons is besig om nogmaals te verval in die irrasionele en dít wat Kant “dogmatiese rede” genoem het. Ek sê altyd: as dit nie vir die Verligting was nie, sou jy nie nou ‘n selfoon in jou hand en rekenaarskerm voor jou gehad het nie, want dit was daardie soeke na die werklike struktuur van die wêreld – en nie die dogma nie – wat hierdie hele wetenskapfiksie-avontuur wat ons tans beleef, moontlik gemaak het.

Die Spaanse Inkwisisie het as “die honde van God” bekendgestaan. Van Wyk Louw het een van sy beste gedigte oor so ‘n “hond van God” geskryf. As ons egter ooit sou toelaat dat die “Rottweilers van ras”, wat by Die Burger en ander Nasperspublikasies aan hul kettings wurg, die oorhand kry, is  spraakvryheid in Afrikaans daarmee heen.

Soos ek nou die dag vir ‘n buitelandse korrespondent hier in Johannesburg gesê het, is die stryd om vryheid wat tans woed, veel feller en moeiliker as die sogenaamde “struggle” teen apartheid. Daar was twee of drie komitees wat die anti-apartheidsbeweging bestuur het, met Huddleston aan die spits en die Sweedse geld wat in ‘n dik stroom vanuit Stockholm gevloei het.

Ons veg om basiese dinge soos die reg op lewe, die reg op meningsuiting, die reg op gelykheid, moedertaalonderrig, ons menswaardigheid, ensovoorts – sonder geld en met sowel die staat as die grootste mediagroep in die land, Naspers, téén ons.

Uiteindelik is enige totalitêre bestel egter net so sterk soos die beheer wat hy oor mense se denke uitoefen. Deel van die rassistiese Rottweilers aan hul kettings se frustrasie is miskien juis dat hulle nié meer ons denke beheer nie, dat Breyten Breytenbach, Annelie Botes, Steve Hofmeyr of elkeen van dié wat al vanaf berg Olimpus by Heerengracht 40 met donder en bliksem getref is, steeds aanhou om dinge te sê net soos hulle is.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *