Van ‘fundamentalisme’ gepraat…

Liza Albrecht, die voormalige redaktrise van Rapport, sê op Facebook:

“‘n Fenomeen wat my nog altyd fassineer: Die oneindige gewroeg van dié wat eens erg gelowig was en langs die pad hul geloof verloor het. Dis lei gereeld tot ‘n soms onhoudbare pontifikasie – meestal in die brieweblaaie van Afrikaanse koerante, en helaas ook hier op facebook. Onderliggend daaraan, voel ek soms, is die obsessiewe behoefte wedersyds om bloot te verkondig: Ek is reg en jy verkeerd. Nou ja, dis seker maar hoe diskoers werk. Maar wat geloof betref, verveel dit my oneindig. Is jy ‘n fundamentalis? Gaaf, hou dit vir jouself. ‘n Ateïs? Ditto.”

Wat is egter die definisie van ‘n “fundamentalis”? Is dit iemand wat gelowig is? Die Amerikaanse media het as deel van hul oorloë in die Midde-Ooste die term gewild gemaak deur na “Islamitese fundamentaliste” te verwys. Dít terwyl die VSA óók ‘n gelowige land is waar ‘n aansienlike persentasie van die bevolking Darwin verwerp.

Tot my stomme verbasing het ‘n rubriekskryfster in Die Burger my onlangs, moontlik in navolging van die Amerikaanse mode om jou vyand of opponent só uit te kryt, ‘n “fundamentalis” genoem. Ek vermy godsdiens as onderwerp; nietemin word ek saam met die Taliban geklassifiseer. A la Nietzsche of Markus de Jong, die eertydse Johannesburgse boekhandelaar, moet ons egter pasop vir die “Calviniste sonder God”, die sekulêres wat veel meer moralisties en “fundamentalisties” as gelowiges kan raak…

Dikwels egter is godsdiens “politiek met ander middele”. Vra maar vir oudbiskop Tutu of die radikale Anglikaanse priester, oorle Trevor Huddleston!

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *