Moet FW de Klerk-stigting ons toekoms bepaal?

Mnr. Tertius Delport het my ‘n paar jaar gelede vertel wat een oggend in 1992 by die Uniegebou gebeur het. Ondanks Delport se smekinge, het mnr. FW de Klerk argeloos die Afrikaner se soewereiniteit weggeteken en die sogenaamde “rekord van verstandhouding” op 26 September aanvaar.

Delport moes as hoofhandelaar van die Nasionale Party bedank en daarna het die Groot Jabroer, Roelf Meyer, oorgeneem. Maar eintlik was die koeël reeds deur die kerk en was die ware oomblik van “oorgawe sonder neerlaag”, soos Hermann Giliomee daarna verwys het, reeds op 26 September 1992, daardie fatale dag in ons geskiedenis, verby.

Soos ek dit reeds elders gestel het, het mnr. De Klerk ‘n blanko tjek uitgeskryf en die ANC is nog steeds besig om die nulle in te vul. Ons het reeds van al ons grondgebied, openbare maatskappye en ander volksbates afstand gedoen en steeds is dit nie genoeg nie. Selfs ons Afrikaanse staatskole word nou wesentlik bedreig. (Terloops, as u dit nie reeds gedoen het nie, teken asseblief die Petisie vir Afrikaanse skole in Gauteng.)

Gedane sake het geen keer, soos hulle sê. Maar wat my bekommer, is dat die FW de Klerk-stigting steeds ‘n vername rol in die huidige Afrikanerpolitiek speel. Oral waar die vernaamste Afrikaanse organisasies vergader, is die FW de Klerk-stigting insgelyks verteenwoordig. Die stigting beskik oor geen bewese steunbasis nie en verkry sy “legitimiteit” van die voormalige pos wat mnr. De Klerk as president van Suid-Afrika beklee het. Omdat hy vir die ANC ‘n min of meer bloedlose revolusie in ons land verseker het, word hy ook deur die meeste geswore vyande van die Afrikaner as ‘n held beskou.

Mnr. De Klerk en sy stigting word insgelyks deur die Nasperskoerante gesteun, wat gereeld oor hul doen en late berig. Hoewel Beeld, Die Burger en Rapport in die meer onlangse tyd kritiek teen die ANC-bewind uitspreek, word mnr. De Klerk se historiese rol steeds deur hulle as voortreflik voorgehou. Die oorgawe sonder neerlaag, asook die gepaardgaande oorhandiging van alle pantser en outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe was “onvermydelik”. Die meeste Naspers-meningsprekers het al male sonder tal die rympie opgesê dat “ons geen ander keuse (as oorgawe)” had nie.

In die meer onlangse tyd het die FW de Klerk-stigting hom begin druk maak oor die voortbestaan van Afrikaans. Verlede jaar het mnr. De Klerk die sogenaamde Mathews Posa-gedenklesing by die Afrikaanse Taalmuseum gelewer waarin hy sy standpunt stel dat ons in die eerste plek moet “aanvaar dat die toekoms van ons taal in ons eie hande lê. Dit is ons wat sal besluit of Afrikaans voortleef en floreer, en of dit sal agteruitgaan en uitsterf. Ons is nie van die regering afhanklik vir ons oorlewing nie.”

Met so ‘n stelling misken mnr. De Klerk dat hy die staatsmag in die hande van Engelstaliges, of dan Afro-Saksers wat Engels as voertaal verkies, geplaas het. Hoe kan ‘n taal soos Afrikaans oorleef as dit gedurig deur ‘n vyandige staatstruktuur soos dié van Suid-Afrika aangeval word? Dwarsdeur die wêreld erken taalkundiges en sosiolinguïste dat instellings, maar veral state, ‘n geweldige rol by die totstandkoming en oorlewing van tale speel. Die paradoks is dat mnr. De Klerk deur sy oorgawe sonder neerlaag eers van Afrikaans ‘n staatlose taal gemaak het en nou van ons verwag dat ons “self”, uit eie bronne, die voorbestaan van ons taal moet verseker. Intussen gebruik die ANC ons belastings om Engels, die internasionale taal, te bevorder en Afrikaans dood te druk.

Eintlik sien die ANC die staat, wat ons voorouers geskep en opgebou het, as die grot van Ali Baba wat deur veertig duisend diewe na hartelus geplunder mag word.

Sedert die stigting van PRAAG in Februarie 2000, moes ons die felle kritiek van vele ANC-gesindes, asook die Naspers-koerante verduur. Dikwels is ons verguis en belaster as “taalbulle”, “puriste”, “volgelinge van Adolf Hitler” en dergelike meer. Ons het egter volhard met ons argumente rondom taalregte en die prerogatief van elke volk om oor sy eie taal en kultuur te mag beskik, soos dit in die Universele Verklaring van Menseregte en vele konvensies van die Verenigde Nasies verwoord word.

Noudat ons so min of meer die argument oor Afrikaanse taalregte gewen het, is mnr. De Klerk en sy stigting gou om sonder ‘n kaartjie op die trein te klim. Die benadering van die FW de Klerk-stigting dreig egter om die hele logiese onderbou van die Derde Afrikaanse Taalbeweging onder ons uit te ruk en al ons harde werk ongedaan te maak.

Mnr. De Klerk stel sy hoop op ‘n Suid-Afrikaanse Taalwet wat deur die ANC-meerderheid in die parlement aanvaar sal word. Nadat ‘n prokureur van Brits, mnr. Kerneels Lourens, ‘n hofaansoek gebring het om die regering te verplig om so ‘n wet aan te neem, lyk die ANC op die punt om dit te doen. Die ironie is egter dat die ANC-bewind so ‘n wet gaan gebruik om Afrikaans nog verder van die wal af in die sloot te help. Die onbekookte en vae bepalings in die grondwet oor taal gaan deur die ANC geïntepreteer word om twee amptelike tale in elke provinsie in te stel: Engels en nog ‘n taal, wat nie Afrikaans gaan wees nie.

Selfs mnr. Kerneels Lourens, wat oorspronklik sy hofaansoek gebring het, steun nie die konsepwet wat nou deur die ANC voorgestel word nie. Weinig Afrikaanse organisasies, behalwe die ATKV onder mnr. Danny Titus, kan enige sin daarin sien. Eintlik is ons beter daaraan toe sónder ‘n Suid-Afrikaanse taalwet, want dan kan ons ten minste nog ons eie interpretasie aan die grondwet heg, ‘n grondwet wat ook volgens internasionale en volkeregtelike beginsels van taalregte geïnterpreteer moet word.

Die invloed wat mnr. FW de Klerk steeds uitoefen, is nie beperk tot die taalkwessie nie. Sy stigting handhaaf blykbaar ook noue bande met Solidariteit en Afriforum wat hulself as die selfaangestelde verteenwoordigers van Afrikaners sien.

Uiteindelik staan mnr. De Klerk vir nasiebou en die assimilasie van die Afrikaner en sy akkulturasie by die meerderheidskultuur in Suid-Afrika. Tydens sy toespraak oor Afrikaans se toekoms verlede jaar, het hy ook kort-kort na Engels oorgeslaan omdat sekere van sy polities korrekte standpunte seker moeilik in Afrikaans oorgedra kan word. Onder andere het hy verklaar:

“For me, this also means that we are called on to reach out across cultural borders to all our fellow South Africans; to build together our common South Africanness; to cooperate in the search for solutions to the problems with which our country still wrestles.

Nation-building must succeed, but can only succeed if we can assure a sustainable and honourable role for our diversity. It is not one or the other. Both – nation-building and diversity – necessitate carefully considered attention in balance with one another.”

Mnr. De Klerk se nasie sal Engels praat, dit weet ons, en die enigste rol vir Afrikaans daarin sal as oorgeërfde folklore uit die “apartheidsverlede” wees.

Onlangs het ek tydens ‘n vergadering van Afrikanerorganisasies wat met onderlinge dialoog besig is beswaar daarteen gemaak om die FW de Klerk-stigting by sodanige dialoog in te sluit. Myns insiens het mnr. De Klerk, weens sy aanvaarding van die “rekord van verstandhouding” in 1992 wesentlik as onderhandelaar misluk en ‘n ramp oor ons gebring. Die teenargument is blykbaar dat “ons almal misluk het”, ook die regse partye wat in die vroeë negentigerjare so onder mekaar baklei het dat hulle nie werklik ‘n verenigde front by Kodesa en teenoor die buiteland kon monster nie. Dus bevind ons ons almal in dieselfde mislukkingsbootjie op pad na Kammaland, wat ons seker “demokrasie, diversiteit en gelykheid” kan noem.

Net soos ‘n maatskappy wat ná ‘n groot mislukking nie weer dieselfde uitvoerende beampte sal aanstel nie, glo ek nie dat die FW de Klerk-stigting toegelaat moet word om weer ons lot, hetsy wat Afrikaans betref, hetsy enige ander aspek van ons toekoms, te bepaal nie.

Die Naspers-koerante, asook mev. Helen Zille en die DA, sien steeds 1994 en die ANC-oorname as ‘n klinkklare sukses vir die land. Dis net Jacob Zuma en Julius Malema wat die probleemagente verteenwoordig. Die res van die staatsdiens, munisipaliteite, weermag, polisie, ensovoorts, kan nie beter nie.

Ons het ‘n groot behoefte aan logiese denke, aan helderheid. As ek mnr. De Klerk se toesprake lees, dan dink hy soos ‘n inboorling. Inboorlinge gee nie om om twee logies teenstrydige waarhede tegelyk aan te hang nie. Mnr. De Klerk wil nasiebou hê én Afrikaans. Nie net is die twee ondering uitsluitend nie, maar in die praktyk het ons mos nou al male sonder tal gesien dat die huidige stelsel eenvoudig nie werk nie. Elke multikulturele of “diverse” instelling in die land is oor die afgelope 18 jaar voor die voet verengels. Die parlement, waar Afrikaans nie eens meer op die opposisiebanke gehoor word nie, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. As die land nie eens daarin kan slaag om sogenaamde “veeltaligheid” in die parlement af te dwing nie, hoe op aarde gaan hy dit in enige ander staatsinstelling regkry?

Die enigste internasionaal aanvaarbare argument vir ons en ons taal se voortbestaan, is dié wat op etnisiteit gegrond is. Let wel: nie ras nie, maar ons etniese identiteit waarby afkoms, taal, kultuur, godsdiens en vestiging binne bepaalde gebiede soos die Kaap, Noord-Natal en die ou Boererepublieke gesamentlik ‘n rol speel.

Die taalprobleem moet holisties benader word as slegs ‘n onderdeel van ‘n veel groter politieke, sosiale en demografiese probleem in Suid-Afrika. Ons toekoms kan nie en mag nie deur ‘n koppetellery binne die unitêre staat bepaal word nie. Dit druis teen alle logika en die volkereg, veral ons diep gewortelde reg op selfbeskikking, in.

Ek is egter bevrees die FW de Klerk-stigting en sy geesgenote verstaan niks hiervan nie en is eintlik besig om die debat in Afrikaans met Britse, Kubaanse en ander buitelandse propaganda te besoedel.

Dis ‘n cliché, ek weet, maar: Met ‘n vriend soos mnr. FW de Klerk, het die Afrikanervolk nog vyande nodig?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *