Woon ons regtig in ‘n globale Babel, Foeta?

Foeta Krige van RSG-Monitor se repliek aan my op Facebook waarin hy die aantal handelsmerke waarmee hy bekend is, uitstal, mis die punt. Indien ons werklik in so ‘n multikulturele Babel geleef het en politiek en kultuur maar net soos alle globale goedere gesirkuleer het, dan was daar mos geen nasionale regerings, akademies met spelreëls en dergelike meer nie? En indien Foeta en RSG werklik sulke ewekansige aanhangers van koningsgesinne was, sou hulle al om die ander week berig het oor die Spaanse koningshuis, die Sweedse of Deense koningsgesinne, die Tjakri-dinastie van Thailand, ens. Inteendeel, waar dit koningsgesinne aangaan, volg Foeta en sy span geen globale Babel-logika soos sy verbruikspatroon sou suggereer nie, maar ‘n Brits-koloniale gedweep met die Huis van Windsor.
Hier is Foeta Krige se brief waarop ek antwoord:

Aan : Dan Roodt:

“ Ek wil net weet waarom daar vanoggend weer so ‘n ellelange insetsel was oor Koningin Elizabeth II van Brittanje, asof dit ons enigsins traak? Waarom nie ook sulke lofbetuiginge aan die Nederlandse koningin uitsaai nie? Vir ‘n Afrikaanse radiostasie sou dit veel meer gepas wees!” Dan Roodt.

Ek ry in ‘n Duitse VW Fox, dra Birckenstock-sandale van Duitsland of nagemaakte Crocs van China. My kinders kyk Hollywood movies en Amerikaanse soapies, dra Levy jeans en Chinese T-hemde met Che Guevara se gesig daarop. Hulle is ook mal oor Sissy Boy, Guess en Billabong.
Ek drink Franse-, Portugese- en Suid-Afrikaanse rooiwyn met Engelse lables en goedkoop Skotse whiskey of Jamaican Rum en Coke as die Klipdrif klaar is. Ek neem foto’s met ‘n Nikon wat in China gemaak is met Duitse tegnologie en Switerse lense. My dogter is in ‘n Katolieke skool wat ‘n Joodse god aanbid met ‘n PTA voorsitter wat ‘n Moslem is. In die aande sit ek en my huurder Kabelo en kyk hoe sy driejarige seun, Boykanyo ( my dogter se pleegkind) in die tuin speel terwyl ons Namibiese bier drink en oor die lewe in Suid-Afrika en elders gesels. Ons praat oor Amerikaanse politiek en die oorlog in Sirie en oorstromings in Australie, kla oor werkloosheid en droom oor oplossings. Ek vertel hom staaltjies oor reise in Afrika en hy vertel van sy grootwordjare in Soweto na ons CNN, Fox en Aljezeera-nuus op ‘n flatscreen Panasonic gekyk het.
As ek saans moeg is vir boerekos, Italiaanse pasta of Indiese Kerrie koop ek halaal fish & chips by die take away plek langs Mac Donalds. Ek lees Deon Meyer, Jo Nesbo en Stieg Larson as ek moeg is vir Bill Bryson , Paulo Coelho en Andre P Brink. En soms saai ons nuusgebeure uit op Monitor wat handel oor die Britse koningshuis.
O ja, soms, as ek niks meer Windhoek Lagers oor het nie, drink ek ‘n Heineken. Maar ek kla nie, want ek het ‘n witbrood onder my arm.

(Laat die een sonder sonde die eerste klip gooi!)

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *