Belhar: Naspers verdedig hul Marxistiese ‘Groot Leuen’

Iets ongeloofliks het oor die afgelope week of wat gebeur. Ná die publikasie van genl. Johan van der Merwe se memorandum oor die Belhar-belydenis, wat blykbaar aanvanklik deur Neels Jackson van Beeld “uitgelek” is, het daar ‘n angsvallige trilling deur Heerengracht 40 in Kaapstad getrek, daar waar Naspers gesetel is.

Oor jare heen het Beeld, Die Burger, Rapport en ander publikasies in die Naspersgroep saamgewerk om die “Groot Leuen” in Suid-Afrika te vestig. Die Groot Leuen berus op die Marxistiese siening van ons geskiedenis wat, soos Mbeki dit ook per geleentheid gestel het, die Suid-Afrikaanse samelewing as “kolonialisme van ‘n spesiale tipe” beskou. Hiervolgens was enige vorm van geweld of terreur in die verlede teen die vorige bewind geregverdig en indien Nelson Mandela nie Jesus Christus is nie, is hy wel naby daaraan.

Almal wat hom ken, bevestig dat genl. Johan van der Merwe waarskynlik die briljantste polisieman is wat dié land nóg opgelewer het. Vergelyk hom byvoorbeeld met Jacky Selebi, die ANC se idee van ‘n polisiehoof wat nou tronkstraf vir korrupsie uitdien. Maar Van der Merwe is ook ‘n gelowige en skerpsinnige denker wat in sy onlangse memorandum ‘n baie nugter blik op die Belhar-belydenis werp.

Die kern van sy beswaar is dat Belhar destyds in die tagtigerjare bedoel was om ‘n teologiese regverdiging vir terreur en politieke geweld te bied. As iemand wat destyds hoof van die polisie se Veiligheidstak was, weet hy baie goed in watter mate die Engelstalige kerke destyds, asook die NG Sendingkerk, deel was van die revolusionêre aanslag teen die ou regering.

Ten einde Belhar vandag vir gewone NG-lidmate aanvaarbaar te maak, word dit voorgestel as een of ander uitdrukking van “solidariteit met die armes”. Die historiese betekenis van die dokument is daarmee verdoesel, want dit spruit uit die sogenaamde teologie van die revolusie wat Karl Marx en die Bybel met mekaar probeer versoen het.

Dat Van der Merwe se memorandum ‘n teer punt aangeraak het, is helder. Sedertdien poog ‘n horde van Beeld en Die Burger se linkse (neo-Marxistiese?) rubriekskrywers om vure dood te slaan. Miskien is die gemiddelde NG-lidmaat toe nie so naïef en goedgelowig as wat die revolusionêre gedink het nie en mag sommige selfs begin ag slaan op die intellektuele en teologiese debat wat daar nou ook buite die kerk rondom die Belhar-manifes begin loop.

Christina Landman en Neels Jackson het albei in Beeld gepoog om die skade wat die Van der Merwe-memorandum reeds aangerig het, ongedaan te probeer maak. Ongelukkig is beide intellektuele liggewigte wat nie in staat is om op Van der Merwe se beginselbeswaar teen Belhar te antwoord nie.

Ek dink nie daar was al ooit ‘n land waarvan die geskiedenis so grondig verdraai en diensbaar aan die politiek van die dag gemaak is soos dié van Suid-Afrika nie. Dis al ‘n cliché om dit “Orwelliaans” te noem, ná George Orwell, die skrywer van 1984 en Animal Farm waarin die kommunisme gesatiriseer word.

Ek staan agterdogtig teenoor akademici wat in die Nuwe Suid-Afrika nog nie hul werk verloor het nie. Nadat die revolusie soos ‘n orkaan deur die universiteite getrek het, bly weinig akademiese vryheid of integriteit nog oor. Daarom verbaas dit nie dat die mees fanatieke voorstanders van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie juis aan ons universiteite te vinde is nie. Hulle huiwer ook nie om naakte propaganda uit te basuin as dit daarby kom om die “kontra-revolusionêre” – die gewone middelklasmense van Suid-Afrika – te “bestry” nie.

Prof. Christina Landman begaan in haar Beeld-rubriek die groteske mistasting om die geskiedenis van die ANC só voor te stel:

Kyk, die ding staan só: Die ANC het nie die land met geweld oorgeneem nie. Die ANC het – met of sonder die kerk se hulp – nie die politieke stryd met geweld gewen nie.

Hy het dit juis gewen wanneer hy op sy weerloosste was. Soos met Sharpe­ville.

Toe ongewapendes met geweld uitmekaar geskiet is deur die “boys on the border back home” wat ernstig deur die wit kerk ondersteun is. En die hele wêreld kon sien wat gaan aan.

Daardie geharde, revolusionêre, Marxistiese organisasie wat tot in die tagtigerjare die ou Sowjetunie as sy vernaamste bondgenoot gehad het, die outeurs van die Kerkstraatbom en vele ander aanvalle op ongewapende burgerlikes, word in Landman se Sondagskoolprosa tot die spreekwoordelike wolf in skaapsklere omgetower. (Terloops, diegene wat by Sharpeville opgetree het, was ook van die PAC en nie van die ANC nie.)

Geweld, selfs verskrikking, was ‘n wesentlike deel van die ANC en SAKP se strategie om hierdie land te verower. Daarvan getuig die meer as 400 voorvalle van halssnoermoorde wat deur die revolusionêre gepleeg is.

In antwoord op Christina Landman se stuk onverdunde propaganda, het mnr. Johan Botha, voorsitter van die Stigting vir gelykheid voor die reg, ‘n uiters saaklike en beredeneerde brief aan die rooi koerant, Beeld, gerig. Daarin maak hy Landman attent op die wanvoorstelling wat sy van Sharpeville pleeg:

‘n Kommissie van ondersoek onder regter P. Wessels het die Sharpevillevoorval ondersoek en die volgende feite is geboekstaaf :

  • 294 Lede van die Polisie was binne ‘n draadomheining deur ‘n moordlustige skare van ongeveer 20 000 duisend vasgekeer.
  • Hulle was met pangas, ystervoorwerpe en stokke gewapen.  Die skare is deur middel van ‘n luidspreker herhaaldelik  versoek om uit een te gaan.
  • Die polisie het die hek oopgemaak om ‘n lid van die skare wat om beskerming gevra het, binne te laat. Die skare het daarna deur die hek gebars en die lede van die polisie het uit selfverdediging begin skiet.
  • Die harde werklikheid is dat indien die skare die polisie sou oorweldig het, slegs die verminkte lyke van die polisie op die toneel sou agtergebly het.  Talle soortgelyke gevalle soos Bergville en Cato Manor bevestig dit.

Terwyl Beeld hoog opgee oor sy verbintenis tot die Perskode en “die waarheid”, wou die koerant nie Botha se brief plaas nie en het slegs ‘n reeks niksseggende briewe in reaksie op Christina Landman se rubriek gepubliseer. Hier het ons egter te make met ‘n blatante verdraaiing van historiese feite wat volgens die Perskode ‘n regstelling sou vereis. Maar vir Beeld is die waarheid ‘n geringe kwessie as dit kom by die koerant se groter diens aan die Nasionale Demokratiese Revolusie.

Soos ek al voorheen gesê het, het die Berlynse muur nog nooit in hierdie land geval nie.’n Direkteur van Naspers, Jakes Gerwel, het in Rapport bely dat hy in trane uitgebars het toe die kommunisme in 1989 in duie begin stort het. Soos Solsjenitsin en die Franse “nuwe filosowe” ons al telkemale verseker het, was kommunisme die grootste meneseregteramp van die twintigste eeu, veel groter as fascisme of apartheid. Ongeveer 100 miljoen mense het vanweë kommunisme gesterf. Trouens, vergeleke met die menseregterekord van kommunistiese lande of van die gemiddelde Afrikaland ná onafhanklikheid, was apartheid eintlik ‘n hoogs morele stelsel. In die politiek is alles natuurlik relatief.

Dit het my laat dink: As die NG Kerk ‘n status confessionis aangeneem het wat bepaal dat “apartheid” (en as ‘n mens die VN-konvensie se definisie daarvan lees, dan leef ons vandag meer as ooit ‘n toestand van apartheid) … “sonde” was, sou die NGK ook bereid wees om te verklaar dat kommunisme “sonde” was? En indien wel, wat dan van die bevrydingsteologie met sy wortels vierkant in die Marxisme, die klassestryd en die proletariese revolusie? Trouens, daar is vir my heelwat eggo’s van Marx en Engels se Manifes in die Belhar-belydenis, die gedagte dat die geskiedenis (en God) aan die kant van die werkersklas is en dat revolusie daarom “histories onafwendbaar” is.

Christina Landman erken presies wat genl. Van der Merwe sê, naamlik dat die kerke ‘n groot rol gespeel het om die ANC se oorname te bewerkstellig:

En, nou ja, uiteindelik was dit hierdie swartbevrydingsteologie wat die ANC aan die bewind geplaas het.

Maar dit was nie soos die een groot, wit kerk wat die apartheidsregering ondersteun het nie.

Daar was egter ‘n groot kerk in Brittanje, nogal ‘n wit kerk, wat insgelyks die ANC en sy revolusie ondersteun het: die Anglikaanse Kerk. Onder invloed van Trevor Huddleston, het die Anglikaanse Kerk vanuit die Sint Paulus-katedraal ‘n geldwasseryskema aan die gang gehou om die geldelike steun wat Swede aan die ANC bewillig het, na Suid-Afrika te kanaliseer om opstand en revolusie te stook. Daar was nooit enige spontane verset teen die ou orde behalwe deur ‘n klein groepie linkse en veral Marxistiese intellektuele en geestelikes nie. Sonder die geld van Swede en die Anglikaanse Kerk se rol wat in ‘n hoë mate ook die buitelandse propaganda téén ‘n hervormende Suid-Afrika verskaf het, sou daar nooit soveel geweld en wanorde plaasgevind het nie.

As ‘n mens van die beëidigde verklarings bestudeer wat ná die Soweto-onluste afgelê is, kom jy ook onder die besef dat die Anglikaanse Kerk insgelyks dáár ‘n rol gespeel het om die vonk in die kruitvat te verskaf. Daar was geld, vervoer, pamflette, organisasie en natuurlik die aanblaas van die anti-Afrikaanse sentiment.

Toe Johan van der Merwe ‘n week gelede op RSG gepraat het, het dr. Kobus Gerber van die NG Kerk net ná hom nogal neerhalend gesê dat hy “die belydenis van Belhar slegs vanuit die perspektief van ‘n polisieman sien”. Hy het ook verklaar dat “elke belydenis in ‘n tydperk van stryd gebore is”, asof die stryd van die tagtigerjare iewers ‘n godsdienstige konflik tussen Katolieke en Protestante was! Nee, dit was ‘n politieke magstryd wat oor die beheer van die land gegaan het. En daarvoor is godsdiens en die teologie ook ingespan, omdat die suiwer sekulêre boodskap van die Marxistiese klasserevolusie in ‘n land soos Suid-Afrika geen weerklank by die gewone swartman op straat gevind het nie. Die infrastruktuur van die kerke is egter gebruik, eerder misbruik, om die oogmerke van die revolusie te bevorder.

Die drie susterskerke is eintlik al werklik Afrikaanse instellings wat daar oor is en wat nog nie deur die revolusie “getransformeer” is nie. In hierdie finale fase van die NDR moet selfs ons kerke die neo-Marxistiese bevrydingsteologie aanvaar en hulself ondergeskik aan die revolusionêre maak.

Die kritiek op Belhar moet wyer uitkring en op die revolusie self van toepassing gemaak word, soos dit in Europa in die aanloop tot 1989 geskied het. In Wes-Europa het kloekmoedige intellektuele onder invloed van Solsjinitsin reeds in die sewentigerjare die Marxisme as ‘n doktrine begin verwerp en is aanvanklik ook deur die universiteitsgemeenskap as ketters beskou. Daarna het die proses in Oos-Europa, in Pole, Oos-Duitsland en uiteindelik Rusland self begin.

Verlede naweek was daar ‘n vergadering van ‘n paar Afrikaanse organisasies wat op grond van die Afrikanerbond en die Vryheidsfront se gesamentlike dokument oor die NDR besluit het om ‘n eendagkonferensie oor die Nasionale Demokratiese Revolusie te hou. Belhar behoort een van die temas te wees, want dit verteenwoordig die teologiese sy van die NDR waarvan die meer radikale fase(s) nog vir ons voorlê.

Die vraag aan dr. Kobus Gerber en ander NG Kerk-ampsdraers behoort te wees: Indien die Anglikaanse Kerk en ander kerke bereid was om geld, infrastruktuur en ‘n teologiese regverdiging aan die revolusionêre te verskaf, wat kan die NG Kerk vandag vir die Afrikaner en ander slagoffers van die revolusie bied? Ons verwag nie dat die NG Kerk ‘n ander belydenis hoef aan te neem om ook vir Afrikanerbevryding voorsiening te maak nie, maar die kerk behoort minder in die ou visbalie van die Sowjetunie en sy vergange kommunisme rond te krap en meer deernis met sy eie lidmate te ontwikkel.

Wat Christina Landman en Neels Jackson betref, sien ons hulle net vir wat hulle is: die spreekbuise van ‘n immorele, gewelddadige bestel wat nie daarvan terugdeins om godsdiens te gebruik om sy sielkundige greep op sy onderdane te behou nie.

One thought on “Belhar: Naspers verdedig hul Marxistiese ‘Groot Leuen’

  1. Pingback: Kom ons trek laer rondom Pieter Mulder | Dan Roodt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *