Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge – ná Martin Bosma se besoek

Een van die merkwaardige dinge wat die afgelope jaar of twee gebeur het, is die wyse waarop die Afrikanerproblematiek, selfs die Afrikanersaak, in die Nederlandse media as ‘n belangrike kwessie gevestig is. Dit het gebeur, grootliks danksy die Partij voor de Vrijheid van mnr. Geert Wilders en veral die party se skrywer en skakelman, mnr. Martin Bosma.

Die besoek van Martin Bosma vandeesweek aan Suid-Afrika het hier én in Nederland opslae gemaak. Oënskynlik is dit kwalik omstrede vir ‘n Nederlandse parlementslid om in ons land “vakansie te hou” en met ‘n paar Afrikaners te gesels, soos hy gedoen het. Die Naspersdagblaaie – sowel Die Burger as Beeld – het hul egter in ‘n hoofartikel skerp negatief oor Bosma se besoek uitgelaat. Heel waarskynlik is die gewraakte Naspershoofartikel deur dr. Leopold Scholtz, daardie fanatiese voorstander van neomarxistiese multikulturalisme, geskryf want hy is bekend om sy afkeer van die PVV en Bosma. Scholtz is so ‘n politieke boelie en gomtor dat hy hom al selfs in die openbaar onbeskof teenoor Bosma, ‘n galante en goedgemanierde Nederlander, gedra het.

Beeld en Die Burger gooi woorde soos respek en haat rond as daar gesê word: “Afrikaans kan kwalik respek van die meerderheid vra as sy vennote (die PVV) die minderheid in hul eie land haat. ” Maar “haat” die PVV die Moslem-minderheid in Nederland? Of is dit eerder radikale Moslems wat die Westerse kultuur haat? Immers het ek nog nooit verneem van Nederlandse Moslems wat teen PVV-kiesers beskerm moet word nie, maar Geert Wilders kan nie eens toilet toe gaan sonder vier gewapende wagte nie omdat daar ‘n Islamitiese vloek oor hom uitgespreek is.

Wat seker is, is dat Leopold Scholtz en Naspers die Afrikaner “haat”. Mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Naspers, het al gesê dat “die begrip Afrikaner aanstoot gee” en ons weet dat Max du Preez, Christie van der Westhuizen, Jakes Gerwel en ander meningsprekers van die mediagroep meen dat Afrikaners in Suid-Afrika moet verdwyn. Hetsy deur assimilasie, hetsy deur geweld… Daar is ‘n onderliggende strukturele geweld aan Naspers se standpunte wat vir my amper meer kommerwekkend as Julius Malema s’n is.

Beeld en Die Burger is eintlik handelaars in “stigma”. Om jou opponent te stigmatiseer, verteenwoodig heel dikwels die inhoud van hul denke oor politiek, taal en kultuur. Die “smet van rassisme” het aan Afrikaans gekleef en om een of ander onverklaarbare rede is daardie smerigheid nou “afgewas”. Hoe? Deur oorgawe en De Klerk se verraad? Of moontlik deur Afrikaans se nuwe, gewaande verbintenis met Islam? Want ons het vandeesweek gehoor dat “vele Afrikaanssprekendes ook Moslems” is. Al wat ‘n mens kan sê, is: Allah akbar! Noudat die NG Kerk die Belhar-belydenis aanvaar het, is ‘n buiging in die rigting van Mekka seker volgende op die lys.

Afrikaners is die afgelope dekades taamlik doelbewus verdeel om hulle gemaklik te kan verower. So pas het die ANC in Pretoria ook aangekondig dat die strate in die middestad vernoem gaan word omdat hulle “nie meer die demografie van die stad weerspieël nie”. Met ander woorde, Pretoria is verower en sal hernoem word om by die kultuur en die taal van die veroweraars aan te pas. Wat met Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein gaan gebeur, weet nugter, want hy is deesdae in ‘n demografiese “minderheid van een”, soos mevrou Margaret Thatcher sou gesê het.

Daarom bespeur ‘n mens ‘n nuwe breuklyn onder Afrikaners en in Afrikaans, tussen diegene wat bondgenote in “nie-Westerse Afrikaanssprekendes, veral Moslems” sien, en hulle wat liefs ‘n pad met Nederlanders of Vlaminge sou wou stap. Wat ook al die onmin van ‘n dekade of drie gelede tussen Nederlanders en Afrikaners, word ons verhouding kwalik deur koloniale of “wit skuld” teenoor ressentiment gekenmerk. Die lekker ding van ‘n gesprek tussen Nederlanders en Afrikaners is dat ons as natuurlike gelykes met mekaar praat, en dat so ‘n gesprek nie deur enige “meester-slaafdialektiek” (groete aan Hegel) beduiwel word nie.

Die Britse skrywer Oscar Wilde het opgemerk: “We have really everything in common with America nowadays, except, of course, language.” Iets wat ewer seer vir ons verhouding tot Nederland geld! Ons godsdiens, letterkunde, politieke kwessies en heelwat ander dinge is soortgelyk, behalwe dat ons ‘n gemeenskaplike taal nie dieselfde praat of skryf nie.

Een van Martin Bosma se uitsprake vandeesweek was juis dat Afrikaans nader aan hul standaardtaal, die sogenaamde “Algemeen Beschaafde Nederlands”, is as omtrent veertien dialekte wat in Nederland self gepraat word. Blykbaar bestaan daar 41 dialekte van Nederlands. As Afrikaans in sy graad van afwyking van Nederlands onder die 41 ingedeel moet word, sal sy in die 27ste posisie val.

Globalisering en die koms van die internet het egter daarvoor gesorg dat daar geen geografiese grense meer is nie, bloot taalgrense. En die “taalgrens” tussen Afrikaans en Nederlands, indien daar ooit so iets bestaan het, is ook al hoe meer besig om te vervaag soos wat mense op Facebook en via e-pos met mekaar kommunikeer en Nederlanders Afrikaanse webwerwe lees en andersom. Ek weet nie veel van Noors nie, behalwe dat daar twee standaardvorme daarvan bestaan: Bokmal en Ninorsk. Vanuit sewentiende-eeuse Nederlands het daar dus twee variante ontwikkel: Afrikaans en die ABN.

Nog ‘n nagevolg – ‘n wins sou ek sê – van Martin Bosma se besoek dié week is die feit dat die Nederlandse politiek skielik weer deel van die Afrikanerpolitiek geword het. Danksy die PVV en veral hom, is die Afrikanersaak reeds lankal deel van die Nederlandse politiek. Maar die debat rondom Pim Fortuyn, Geert Wilders, Islam en immigrasie, figureer nou skielik in die Afrikaanse media. Ons is nie meer blote voyeurs by die ANC se binnegevegte, asook Brittanje en Amerika se verkiesings of die manewales van die Britse koningsgesin nie. Goddank!

Vanjaar op 6 April gaan dit 360 jaar wees sedert Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Argumente van linkse Engelse, asook hul meelopers soos Max du Preez, dat ons nie “inheems” is nie, is eenvoudig absurd en suiwer op ras gegrond. As ons egter terugdink aan ons geskiedenis en die rede waarom die Kasteel in Kaapstad in die eerste plaas gebou moes word, dan gaan dit om ‘n langdurige oorlog met Brittanje. Sedert die 1600s, moes onsself voortdurend teen die aanslag vanuit die Britse Ryk verweer. Noudat ons alles, ons land, ons stede, ons skole en universiteite, binnekort selfs ons grond, verloor het, hou die Engelse aanslag steeds nie op nie.

Die Naspersdagblaaie se finale argument teen ons bondgenoot, die Partij voor de Vrijheid, verteenwoordig juis ‘n appèl op Britse gesag: “Wilders en sy party is só berug dat die Britse regering hom in ’n stadium belet het om die land te besoek.” Ek weet nie of Die Burger en Beeld daarvan bewus is nie, maar dié twee koerante is besig om ‘n soort Super-SAP-status te bekom en streef die standaarde wat onder Jan Smuts gestel is ver verby. As ‘n persoon of party vir Brittanje onaanvaarbaar is, moet Afrikaners hom ook as ‘n uitgeworpene behandel! Binnekort gaan die Naspersredakteurs seker uit hul kantore hardloop om die naaste konsentrasiekampkerkhof te gaan skend, want sulke plekke vereer mos nie eintlik Moedertjie Engeland nie.

Niks verhoed ons vandag om die nabye vrienskapsverhouding wat daar in die negentiende eeu tussen die Boererepublieke en Nederland geheers het, te herstel nie. In sowel Nederland as Vlaandere is daar steeds vele strate en buurte met Afrikanername. Trouens, binnekort gaan daar meer Afrikaanse straatname in die Lae Lande wees as in Suid-Afrika! Dink daaraan. Die ANC het reeds meer as een openbare Afrikaanse boekversameling verwoes. Indien ons huidige oorlewingstryd faal, sal Afrikaans en ons hele kultuur van 360 jaar as ‘n soort museumstuk in die Nederlandse taalgebied gekoester word. In Londen, waar die standbeeld van Nelson Mandela staan, sal daar sekerlik geen traan oor ons heengaan gestort word nie. Inteendeel, daar sal eerder gejuig word.

Maar indien Nederland teen 2050 ‘n Moslemland raak en Nederlanders, soos Afrikaners in Suid-Afrika, ‘n “magtelose minderheid” in eie land word, sal die kanse op die oorlewing van Afrikaans én Nederlands soveel skraler wees. Trouens, behalwe die Afrikaanse poësie wat Martin Bosma in die Tweede Kamer, die Nederlandse parlement, openlik lees, is hy ook ‘n ywerige leser van N.P. Van Wyk Louw, veral sy politieke en filosofiese opstelle. Die term “magtelose minderheid” kom daarin voor.

Afrikaners, die weeskinders van die Weste, wat deur die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Swede en ander moondhede verwerp is ten gunste van ‘n radikale, pro-Moslem-, pro-Palestynse, pro-Chinese terreurgroep, die ANC, het ironies genoeg die “kanarie in die steenkoolmyn” vir die hele Westerse beskawing geword. Die feit dat ons, asook ons taal en kultuur, besig is om te sterf onder die aanslag van ‘n nie-Westerse meerderheid, voorspel niks goeds vir die voortbestaan van die Westerse beskawing as sodanig nie. Soos Patrick Buchanan, daardie formidabele konserwatiewe Amerikaanse denker, ook in sy meer onlangse boeke voorspel, lê “die dood van die Weste” voor die deur. Ons is egter eerste op die lys, die eerste Westerse volk om in die moderne tyd onder te gaan.

Ek is al siek en sat vir die alewige gesanik oor rassisme, asof dit die enigste politieke begrip is wat daar sedert Plato of Aristoteles in die wêreld uitgedink is. ‘n Groter wedersydse betrokkenheid tussen Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge sal ook die Afrikaanse politieke debat uit die moeras waarin dit tans verkeer, red.

Daar was ‘n tyd toe vele streng Calvinistiese Afrikaners gedink het God het ons aan die suidpunt van Afrika geplaas om die swartmense te kersten en Sy lig, tesame met die Westerse beskawing, hier uit te dra. Ek dink ons moet erken dat Suid-Afrika in die onlangse tyd in so ‘n barbaarse, heidense toestand verval het dat selfs menslike offerandes ons nie meer sal skok nie. In elk geval bring ons elke dag reeds soveel menslike offerandes aan die Afrodemokrasie, aan Mammon en ander gode dat ons menselewens ewe waardeloos ag as die barbaarse opperhoofde van weleer. Of selfs die dienaars van Baäl in ou Carthago waar eersgeborene babas lewendig verbrand is.

Indien die Afrikaner wel oor ‘n roeping beskik, is dit moontlik om Nederland en die res van die Weste te waarsku oor die fatale proses van aftakeling wat hier by ons in die naam van multikulturele demokrasie aan die gang is. In ons land is daar “oorgrensparke” waar die wild vrylik mag rondloop. Maar ons het oorgrensdebatte méér nodig.

Die wedersydse betrokkenheid van Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge by mekaar moet dus sover moontlik gestimuleer en uitgebrei word.

Die een goeie ding wat Beeld vandeesweek gedoen het, is om ‘n brief ter verdediging van Martin Bosma – in die oorspronklike Nederlands – in die koerant te publiseer. Selfs in die koue transformasiehart van Naspers is daar dus tog hier en daar ‘n sweem van agting vir die oop gesprek en om darem die ander kant van die saak ook te laat hoor.

Hierdie kan ‘n groot avontuur word. Soos Skoppensboer al grappenderwys op die Praagwebwerf voorgestel het, kan ons ons soos die Nederlandse Antille, onder die heerskappy van die Nederlandse kroon plaas! Ons sal steeds onafhanklik wees, maar die euro en die beskerming van NAVO geniet. Die ANC van weleer het in Brittanje sy vernaamste bondgenoot gevind en uiteindelik ‘n Afro-Saksiese identiteit en Engels as enigste amptelike taal aangeneem. In ons stryd figureer Nederland reeds hoog op die lys van potensiële bondgenote en praat en skryf ons reeds ‘n vorm van Nederlands waarvoor daar in die Lae Lande, selfs onder linkses, groot waardering bestaan.

Maar in ons gemeenskaplike stryd kan daar dalk tussen ons, Nederland en Vlaandere, ‘n breër soort “Wes-Germaanse” identiteit, met sy sentrum in die Lae Lande en sy antipode in ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat in Afrika, ontstaan. Ons gemeenskaplike mark is een van 25 tot 30 miljoen mense waarbinne goedere, kultuur en taal – maar veral idees – vrylik mag sirkuleer.

Soos wat Afrosentriese Suid-Afrika ons en ons taal toenemend verwerp, kan ons deel word van ‘n nuwe entiteit wat op gelyke vennootskap en nie op die huidige uitbuiting deur die ANC-belastinggaarder berus nie.

Join the Conversation

1 Comment

  1. Afrikaanssprekendes en Nederlandstaligen, verenig jullie zo snel mogelijk in de taalunie ! Een hereniging zal voor de “Afrikaanssprekendes” een veel beter beschermingsschild bieden tegen de Verengelsing. Nederlands / Afrikaans is dan op drie continenten (Europa, Zuid-Amerika, Afrika) een ‘amptelyke taal’ en niemand zal ooit nog kunnen beweren dat Nederlands / Afrikaans een nietig taaltje is waarmee geen rekening dient te worden gehouden ! Ook al zal een toenadering tussen NL en AFR op taalkundig vlak wat moeite kosten, het is in het belang van ons beiden ! Wij zijn broeders, en broeders moeten elkaar helpen.

    Ek is lief vir Afrikaans ! Wees welkom in NL en VL !

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *