Max du Preez se Victoriaanse sonhelm

Sjoe, ek sien Max du Preez het sy Victoriaanse sonhelm opgesit en verwys neerhalend na die “agterlike twak” op die Praag-webwerf. As witbroodjie van die magtige Naspes is dit nou die totalitêre post-Broederbond-monster wat met homself buikspreek.

Ek veronderstel die kreoolse Afrikaans van Sondag, daardie toonbeeld van Naspes-intellektualisme – benewens Mad Max self – is meer op sy standaard. Feit is, Max, ongeag of jou kinders al Engels is, is jy juis so Engels in jou neerbuigende houding teenoor ons Afrikaners. Ons is so “agterlik en boers”. Intussen is jul anglofiele model die Engelsman wat nie so dikwels bad nie en wat soos Andy Capp in sy “pub” suip. Vir my wat by Wits gestudeer het, herken ek al die anti-Afrikaanse vooroordele wat op julle afgesmeer het omdat julle onder die indruk verkeer dat die parogiale “onagterlike” wêreldjie van die SA Engelsman met sy kwasi-Britse pretensies regtig die “toppunt van sjiek” is. Max, as jy maar iets van die wêreld geweet of verstaan het… Praat van “bang, verstokte mense”!

Feit is dat die plaaslike Anglo-kommunis wat deesdae so ‘n paar woorde Spaans byleer om sy Kubaanse dokter te verstaan, een van die grootste – en agterlikste – anachronismes ter wêreld verteenwoordig. Dis soos daardie ou Kaapse hippies wat nog steeds in negentienvoertsekkombi’s rondry. En in iKoloni met sy heelwat nuwe Britse setlaars is dit seker maklik om jou te verbeel dat jy die sentrum van die land en sommer van die heelal is, met alle wysheid in pag.

Intussen het ons stedelike Afrikaners van Johannesburg en Pretoria wat gemaklik in Parys, Berlyn, Amsterdam of Brussel verkeer, lankal saam met die Paryse nouveaux philosophes die kommunisme as ‘n uitgediende ideologie en stuk pseudo-intellektualisme ontmasker. In die sewentigerjare het die plaaslike Anglo-kommuniste vir ons gelag omdat ons Derrideane en verkenners van postmoderne denke was. Tans wil hulle en hul sikofante soos Max ons laat toesluit of (getrou aan die Sowjet-goelagmodel) in psigiatriese inrigtings laat aanhou omdat ons deel is van ‘n wêreldwye herontwaking van Westerse identiteite en nugtere kritiek op die nuwe godsdiens van multikulturalisme. Met Nelson Mandela as die “nuwe Christus”.

Soos ek al dikwels gesê het: die Berlynse muur het nog nie in SA geval nie. Max en sy mede-skreeuers verteenwoordig die bewakers op die muur wat regstaan met die brandende pik en olie om die aanslag van die ketters af te weer. Dink net daaraan: Max en die bende prewelende neomarxiste van Stellenbosch beskik oor die magtige Naspes, die SAUK en Her Majesty’s Voice in South Africa, die Independent-groep, om hul naakte anti-Afrikaanse propaganda en oudmodiese Kubaanse of Oos-Europese idees af te dwing. Die volk se breine te spoel. Terwyl ons slegs oor ons verstand en ons rekenaars beskik om Grootbroer se vergoeiliking van volksmoord, taal- en rassediskriminasie – die Superapartheid van die NSA – te beveg.

Maar eendag is eendag, dan gaan die Muur val. Jakes Gerwel van Naspes gaan weer snot en trane huil soos die vorige keer, saam met Max en die ander klomp kwasi-Engelse hanskakies wat skielik sal besef hoe galsterig daardie ou Britse vis en tjips al die tyd was.

Max du Preez se kommentaar op Facebook:

Mense stuur so nou en dan van die agterlike twak wat oor my en ander op Roodt se werf kwytgeraak word. Nes ek lus is om te reageer, onthou ek dis ‘n handjievol bang, verstokte mense wat daar uitkamp en dis nie die moeite werd om op hulle te reageer nie. In die stuk wat jy aanstuur sien ek daar is weer ‘n verwysing na my kinders wat kastig land-uit is en in die kommentaar op Gustav Venter (ek dink hy’t ‘n crush op my, skryf gereeld sulke ellelange stukkie oor my) se onlangse stuk en elders is daar verwysings oor waar ek bly en dat ek en my kinders verEngels het. Nie lank gelede nie het Roodt self verklaar dat ek bankrot is. Nou weet jy waarme ons te make het. My seun is ‘n Afrikaanssprekende entrepreneur in Noordhoek (Kaapstad), my dogter is ook heeltemal Afrikaans en werk in die filmbedryf in Johannesburg, my laatlammetjie is op Jan van Riebeeck op skool. Die gedagte dat ek enigiets anders as Afrikaans met my kinders sou praat, is totaal absurd. En ek bly al jare lank in Kaapstad en my bankbestuurder is heel gelukkig met my. Kom ons bestee eerder ons tyd en energie aan konstruktiewe sake as om toe te laat dat hierdie lunatic fringe ons irriteer

One thought on “Max du Preez se Victoriaanse sonhelm

  1. Nico

    Daar is net een ding in hierdie wereld wat my meer grief as n vlieg, of om in ‘n hond se landmyn te trap, en dit is Max du Preez – die super liberalis. Hy walg my soveel so dat ek geen woorde daarvoor het nie. Snaaks genoeg hoe ek ou Max ook maar gereeld raak lees en sien kla oor dinge. Ek was nog altyd onder die indruk dat ou Max tevrede sal wees noudat die Afrikaners onderdruk word, maar nee, dit wil my voorkom die man is soos n seuntjie op skool wat net nie einde kan kry nie (en ‘n goeie pak slae nodig het as julle my vra.) Ek vermoed die man is een van daai wat bitter was oor nasionale diensplig, en nou nog nie verby dit kon beweeg nie, julle weet, omdat hy dalk nie man genoeg was nie. Dankie vir die geleentheid om saam julle ietsie oor die ou bitter Max te kan se.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *