Apartheid-revisionisme is nodig

Verlede Sondag het ek in my rubriek Giliomee breek ‘n lansie vir Verwoerd kommentaar gelewer op Hermann Giliomee se Rapport-artikel Apartheid: was dit dan net boos? Vandag reageer prof. Anton van Niekerk van Stellenbosch ontsteld op Giliomee se beredeneerde en genuanseerde perspektief op apartheid deur dit as “immoreel en onverantwoordbaar” te beskryf.

Hiermee sien ons reeds dat daar ‘n belangrike verskil tussen die twee kampe in die huidige apartheidsrevisionismedebat is: dié tussen dogma en rede. Vir Van Niekerk, Leopold Scholtz en ander rubriekskrywers in die Media24-koerante gaan dit om die handhawing van die apartheidsdogma soos dit deur die buiteland en deur die Suid-Afrikaanse Marxiste gekonstrueer is.

Anton van Niekerk meen dit is “immoreel” om die apartheidsdogma te bevraagteken deur eenvoudig na die feite van NP-beleid tussen 1948 en 1994 te verwys. Op sy minste verteenwoordig dit ook ‘n argumentum ad populum of appèl op die “aanvaarde wysheid” wat deur linkse historici en Britse koerante in die verlede geskep is.

Om vandag ‘n apartheidsrasionalis te wees, verg egter nogal moed! Toe ek ‘n jaar of twee gelede by die Menseregtekommissie se kantore in Parktown, Johannesburg, die stelling van ‘n Indiër-akademikus van Wits bevraagteken het “dat apartheid miljoene mense doodgemaak het”, is ek skeef aangekyk. Die betrokke Wits-professor het onmiddellik in trane uitgebars en oor die algemeen is ek as ‘n ketter beskou.

Die punt aangaande apartheid is dat omtrent enige leuen of oordrewe wanvoorstelling daarvan vandag aanvaarbaar is, juis omdat soveel Afrikaners nie meer die moed het om die waarheid aangaande ons verlede te verdedig nie. Vele van die Nasionale Party se oudministers lewe nog en sou maklik met ‘n paar statistieke en verklarings die wanvoorstellings kon regstel, maar hulle is eenvoudig te papbroekig daarvoor.

Ook mnr. Flip Buys van die magtige Soliforum-groep sê in byna elkeen van sy radio-onderhoude: “Ek veg vir ‘n beter toekoms, nie vir ‘n beter verlede nie.” Buys weet goed aan watter kant sy brood gebotter is en dat die bevraagtekening van die apartheidsdogma hom waarskynlik vinnig die steun van Media24 sou kos.

 Maar soos George Orwell gesê het: “Wie die verlede beheer, beheer die toekoms. Wie die hede beheer, beheer die verlede.”

Eintlik is dit ironies dat iemand soos Hermann Giliomee, wat ‘n reputasie as liberale denker het en lank aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was, die meesal konserwatiewe Afrikaners uit die verlede se huidige reputasie moet verdedig. Maar ek dink deel van Giliomee se gevoel dat hy dit móét doen, spruit juis uit die klassieke, negentiende-eeuse liberale opvatting dat “daar meer as een waarheid” bestaan of dat elke saak ten minste twee kante het. Dis natuurlik ook ‘n beginsel van ons Romeins-Hollandse reg, dat elke party in ‘n geding die reg het om sy saak te stel.

‘n Leser het ná verlede Sondag se rubriek vir my ‘n koerantknipsel uit The Citizen aangestuur. Dit bestaan uit ‘n brief wat Jaap Marais iewers in die negentigerjare aan die koerant gerig het en waarin hy ‘n paar interessante syfers en feite aanstip, teenoor ene W. J. Sachs wat geskryf het dat “die apartheidsregering basiese onderwys van die swart meerderheid weerhou het”. Dit het natuurlik al ‘n algemeen aanvaarde onderdeel van die apartheidsdogma geword dat swartes geen opvoeding vóór 1994 ontvang het nie. Die feit dat lede van die ANC-regering kan lees en skryf, sal seker een van die dae deur die Pous as ‘n amptelike wonderwerk verklaar word.

Marais toon onder andere aan dat slegs 20% van swart kinders onder die Verenigde Party-regering van vóór 1948 skool gegaan het. Teen 1967 egter het die historikus C.J. Scheepers Strydom geskryf: “… een van die verreikendste veranderinge is sonder twyfel die vooruitgang van die Bantoe wat opvoeding betref. Vandag is 85 persent van Bantoes op skoolgaande ouderdom geletterd – ‘n toename van 600 persent sedert 1925. 32 000 Bantoe-onderwysers word in 8 500 skole aangewend waar hulle 2  miljoen leerlinge onderrig.”

Jaap Marais voeg hier by: “In 1948 was daar 8 000 Bantoe-onderwysers en 336 437 leerlinge in 3 310 skole. Dus is dit duidelik dat die sogenaamde ‘apartheidsregering’ meer vir swart onderwys as sy voorganger gedoen het.”

Terwyl blanke belastings vandag grootliks op swartes bestee word, was dit reeds tydens die vorige bedeling die geval. Jaap Marais wys in sy brief daarop dat die bydrae per inviduele belastingbetaler volgens ras in 1970 die volgende was:

Blankes R126

Indiërs R10

Kleurlinge R3

Swartes R0,85

Met ander woorde, swartes het slegs 1/130ste van die belasting van blankes betaal, maar veel meer uit die staatskas ontvang!

Marais wys voorts daarop dat die bydraes van die verskillende rassegroepe in die 1980/81-belastingjaar steeds soos volg daar uitgesien het:

Blankes R2 053 miljoen,

Indiërs R43 miljoen,

Kleurlinge R39 miljoen

Swartes R100 miljoen

In die 1982/83-belastingjaar het blankes steeds 92,5 persent van alle persoonlike inkomstebelasting betaal.

Hierna noem Marais die skreiende feit wat vandag se dogmatici wil ontken, naamlik dat daar in dieselfde dekade vanaf 1973 tot 1983 weereens ‘n geweldige styging in die besteding op swart onderwys was: vanaf R27 miljoen per jaar tot R475 miloen per jaar. Van 1981 af tot 1985 was die toename ewe vinnig en het dit van R225 miljoen per jaar tot R950 miljoen per jaar opgeskiet.

Jaap Marais verwys na die 1983/84-belastingjaar se syfers en sê: “Die regering het ‘n totaal van R1 733 miljoen vir nie-blanke onderwys van die 1,5 miljoen blanke belastingbetalers geneem, gemiddeld R1 107 per blanke belastingbetaler. Dit is hoe die vorige regering regstellende aksie beoefen het.”

In 1971 het swartes 16 persent van die totale onderwysbegroting ontvang, maar teen 1991 was dit reeds 58%, wat aantoon in watter mate die apartheidsdogma dat “blankes onderwys van swartes weerhou het” op ‘n mite berus.

Maar Anton van Niekerk en ander dogmatici sal hierop antwoord dat hulle nie in die syfers en harde werklikheid belangstel nie, maar in die “morele” aspekte van apartheid en segregasie waarna as “mensonterend” en “verontmenslikend” verwys word. Van Niekerk skryf in Rapport:

“Ons kan apartheid daarom nie bloot beoordeel in terme van ’n siniese, semi-Machiavelliaanse inskatting van slegs wat met die ekonomie sou gebeur het as daar nie apartheid was nie. Apartheid vreet aan ons gewete as wit mense omdat dit die basiese menswees van die meeste van ons mede-Suid-Afrikaners in sy wese aangetas het.”

Die vraag is waarom apartheid aan “ons gewete as wit mense vreet” terwyl al die leiers en inwoners van die tuislande, asook die Indiërs en kleurlinge wat ook bepaalde voordele bo swartes geniet het, met vermoedelik “skoon gewetens” mag rondloop?

En ‘n mens wonder of Anton van Niekerk se weergawe van wit skuld slegs op blanke Suid-Afrikaners van toepassing is en of hy ook aan Susan Sontag se slagspreuk glo: “The white race is the cancer of history.” Is alle blankes skuldig? In elk geval het die meeste Westerse lande een of ander vorm van kolonialisme of segregasie beoefen. Tot in die sewentigerjare het van die suidelike state in die VSA, asook die Britte nog vorme van apartheid of rassesegregasie toegepas. Waarom moet ons as die sondebokke van die Westerse wêreld uitgesonder word?

Dit spreek vanself dat Afrikaners en SA blankes geen morele lesse van Amerikaners, Britte of vorige Nasionale Party-ondersteuners soos Anton van Niekerk te leer het nie. Vandag sit ons met die omgekeerde probleem, naamlik dat daar in Suid-Afrika en in ‘n mindere mate in die VSA en ander lande, ‘n stelsel van omgekeerde diskriminasie en permanente regstellende aksie bestaan waardeur ons tot permanente tweedeklasburgers gereduseer word. Swartes pleeg ook geweld teen ons op ‘n skaal wat op sy minste ‘n skending van ons menseregte verteenwoordig en op sy ergste as ‘n vorm van volksmoord beskou kan word.

Oor die afgelope tyd veral word die verwyging van swart-op-wit geweld deur die media veral in die VSA onder die loep geneem. Dis ‘n onrusbarende tendens dat swart geweld, ook in ons land, glad nie met dieselfde “morele” bril bekyk word as wat daar gereeld na die Suid-Afrikaanse verlede gestaar word nie. Tydens die konflik tussen die ANC en die NP-regering het koerante gereeld statistieke oor sterftes in polisie-aanhouding geplaas, maar deesdae geskied dit glad nie meer nie. In sy boek Trou tot die dood toe, noem genl. Johan van der Merwe dat daar deesdae ongeveer 700 sterftes per jaar in polisie-aanhouding plaasvind, wat veel hoër as ooit onder sogenaamde “apartheid” is. Wanneer gaan prof. Anton van Niekerk en ander polities korrekte akademici ‘n bietjie daarna begin kyk?

Diegene wat graag na “morele maatstawwe” verwys, moet gerus ook sodanige maatstawwe begin toepas op die metodes wat die ANC gebruik het om aan bewind te kom. Dis nog ‘n punt wat Van der Merwe maak: Die ANC het hom eenvoudig nie aan die Geneefse Konvensie gesteur nie en voor die voet terreur teen burgerlikes, sowel wit as swart, gepleeg. Hoe moet ons skuldig voel oor die apartheidsverlede as ons deur ‘n groep monsters geregeer word wat die Kerkstraatbom laat afgaan en oor die 400 halssnoermoorde gepleeg het?

Dit sal ook ‘n interessante oefening wees om “apartheid-Suid-Afrika” se menseregterekord te vergelyk met die groep Oos-Europese en Afrikalande wat apartheid tot ‘n “misdaad teen die mensdom” by die VN laat verklaar het.

Nee wat, toe ek twee jaar gelede in Swede was, moes ek my by tye betig om nie moreel meerderwaardig teenoor die Swede, daardie ondersteuners van die ANC en die anti-apartheidsbeweging, te voel nie. Want my mense het al soveel meer vir swartes as Swede of Noorweërs – met hul hul ontwikkelingsprogramme in Afrika – gedoen. Ons hoef maar net vandag na die ongekende welvaart van swart Suid-Afrikaners te kyk, teenoor die haglike armoede wat elders in Afrika heers.

Waar apartheid wel vir my verkeerd is, is die las en verantwoordelikheid wat ons op onsself geneem het om ander volkere en rassegroepe te administreer, te versorg, op te lei en oor die algemeen vir hulle welvaart verantwoordelikheid te neem. Daarom het die mislukking van die tuislande ook ons mislukking geword en probeer die dogmatici vandag steeds die skuld vir gebrekkige swart prestasie op ons plak.

Terwyl paternalisme in vele Westerse lande steeds in die mode is en hulpgeld by die miljarde in Afrika uitgedeel word, moet ons Afrikaners nooit weer Kipling  se “white man’s burden” aanvaar nie. Die paradoks van apartheid is: Ons word vandag vervloek, nie soseer omdat ons swartes verdruk het nie, maar juis omdat ons ons oor swart onderwys, gesondheid en welvaart ontferm het.

Vandag wil vele mense daarmee aanhou, in die naam van sogenaamde “versoening”. Dit sou ‘n baie groot fout wees en kan net tot verdere ellende aanleiding gee. Die swartman verkies ook vandag om op sy eie bene te staan en het glad nie ons hulp, bystand of selfs belastings meer nodig nie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *