Abigail Fisher en globale rassevoorkeurbeleid

deur Dan Roodt

Soos by ons met die Woolworths-sage, woed daar tans ‘n stryd rondom die rassevoorkeurbeleid van Amerikaanse universiteite wat blanke studente weens kwotas wegwys. Een so ‘n saak, dié van Abigail Fisher teen die Universiteit van Texas te Austin, het tot by die Amerikaanse Hooggeregshof (hul Grondwethof) gevorder en gaan vanaf 10 Oktober aangehoor word.

Vir diegene wat nie daarmee vertroud is nie, verskyn daar vandag ‘n volledige artikel daaroor op die Engelstalige Praagblad. Hierdie saak is nie net vir Amerikaners van belang nie, maar vir alle mense van Europese afkoms wêreldwyd. Want indien die jong dame van Texas, Abigail Fisher, haar saak verloor, gaan die sluise oopmaak om al hoe meer diskriminerende maatreëls en wetgewing teen blankes toe te pas.

Ek hou niks van die term “regstellende aksie” wat skielik kort ná 1994 in Afrikaans posgevat het nie. Dit skep die indruk dat daar iets bestaan wat “reggestel” moet word, asof daar eens op ‘n tyd gelyke prestasie tussen swartes en blankes bestaan het en wat weens “rassisme” ongelyk geraak het en nou deur “regstelling” herstel moet word. Ons weet egter dat daar op alle gebiede behalwe sport – en dan ook net sekere sportsoorte – histories ongelyke prestasie tussen blankes en swartes was. So byvoorbeeld het geen swarte in die geskiedenis nog ooit die Nobelprys in ‘n wetenskaplike rigting ontvang nie. Dus het die historiese idille van intellektuele en ekonomiese rassegelykheid wat ‘n term soos “regstellende aksie” veronderstel, nog nooit bestaan nie.

Veel eerder moet ons praat van rassevoorkeurbeleid, waar een ras bo ‘n ander voorgetrek word. Die Amerikaanse rassevoorkeurbeleid, wat oorspronklik deur Robert F. Kennedy afgekondig is, geld vanaf die sestigerjare. By tye het dit egter afgeneem, omdat daar suksesvolle hofsake daarteen gevoer is of omdat die burgers van sekere deelstate hulle by wyse van referenda of verkiesings daarteen uitgespreek het. ‘n Klein groepie liberale blankes wat tot die elite van die universiteite en die regering behoort, asook die Demokratiese Party, het egter voortdurend gepoog om rassevoorkeurbeleid ten gunste van swartes en ander “minderhede” toe te pas, selfs waar dit teen die demokratiese wil van die meerderheid indruis. So byvoorbeeld het die Universiteit van Michigan dit reggekry om die meerderheid inwoners van die deelstaat se wens dat almal gelyk behandel moet word, te omseil deur hom na die howe te wend. Dít, in weerwil daarvan dat die inwoners van Michigan hul grondwet in ‘n referendum verander het om enige vorm van rassevoorkeur in hul staat te verbied.

Diegene wat die bevoordeling van hoofsaaklik swartes bó blankes voorstaan, is so fanaties dat nóg die demokrasie, soos in Michigan se geval, nóg rasionele argumente hulle van hul planne laat afsien. In Suid-Afrika is die meerderheid swartes volgens peilings wat deur proff. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer uitgevoer is, insgelyks daarteen gekant, omdat hulle besef dat blankes werk skep. Maar die fanatiese bende wat uit ‘n klein groepie blanke links-liberale en die swart elite bestaan, tesame met die groot maatskappye en banke, volhard daarmee.

Rassevoorkeurbeleid (RVB) is besig om in ‘n globale ramp te ontaard. Min mense besef dit, maar rassevoorkeurbeleid het by ons reeds in die sewentigerjare posgevat toe sommige Amerikaanse maatskappye dit luidens die sogenaamde “Sullivan-beginsels” begin toepas het. Tans word dit egter in Suid-Afrika tot die mees absurde hoogtepunt gevoer, soos ons onlangs tydens die Woolworths-debakel gesien het.

Natuurlik voer ons tans ‘n geslaagde boikot teen Woolworths en het meer as 2000 mense reeds die petisie teen Woolworths geteken. Ook gaan ons regstappe teen Woolworths neem, asook allerlei menseregteklagtes teen die maatskappy aanhangig maak. Die plaaslike stryd teen Woolworths en soortgelyke maatskappye wat teen blankes diskrimineer, moet voortgesit word.

Die uitslag van die uiters belangrike Fisher-saak in die VSA kan egter die lot van mense van Europese afkoms wêreldwyd bepaal, aangesien ‘n hele aantal globale maatskappye, die Amerikaanse weermag en natuurlik die Obama-administrasie almal ten gunste van voortgesette rassevoorkeur is. Vele Europese lande verkeer onder die illusie dat hulle die maatskaplike konflik wat eie aan die multikulturele samelewing is, kan besweer deur insgelyks rassekwotas in te stel. Dus mag hulle die wetlike en morele regverdiging vir sodanige beleid in die komende uitspraak vind, indien dit téén die jong dame beslis sou word.

Sekerlik moet ‘n mens haar moed bewonder deur waarskynlik die magtigste politieke groepering op aarde die stryd aan te sê: die huidige VS-president en sy weermag, globale maatskappye, asook Amerika se mees prestigieuse universiteite, waaronder die sogenaamde “Ivy League”. Haar medestudent, Rachel Multer Michalewicz, wat aanvanklik saam met haar die regstryd aangepak het, het reeds in 2011 tou opgegooi. Daarom staan Abigail vandag alleen teen die magtige falanks van die Obama-administrasie, maatskappye soos Coca-Cola en Walmart, asook die universiteitsbesture en swart groepe soos die NAACP (National Association for the Advancement of Colored Peoples).

Ek glo egter dat sulke gevegte “teen alle verwagtinge in”, presies is wat ons nodig het. Ons mag nie sulke onreg en omgekeerde diskriminasie aanvaar nie. Indien dit ongestoor toegelaat word om voort te gaan, sal RVB en verwante beleide veroorsaak dat ons kinders uiteindelik almal in plakkerskampe sal opeindig. Dit gebeur reeds in Suid-Afrika. Die gesig van blankes wat hul hoop kwyt is, is iets aakligs om te aanskou.

Die stryd teen RVB is globaal, daarom moet ons oor geografiese en taalgrense heen met mekaar hande vat. Daar is reeds ‘n aansienlike aantal buitelanders, maar veral Amerikaners, wat PRAAG ondersteun. Hulle beskik oor die versendheid om te besef dat indien die soort diskriminasie en verval wat Suid-Afrika kenmerk eenvoudig net toegelaat word, dit uiteindelik presies net so in hul eie land sal gaan. Dele van die VSA ervaar reeds die soort swart-op-wit geweld wat so ‘n kenmerk van die Nuwe Suid-Afrika geword het.

Myns insiens behoort ons ‘n kollekte te hou en ‘n bedrag geld, hoe gering ook al, ter stywing van Abigail Fisher se regsfonds by te dra. As ‘n simboliese gebaar hier vanuit die suidpunt van Afrika waar ons so gruwelik onder rassevoorkeurbeleid gebuk gaan, behoort so iets nogal gewig te dra.

Ek hoor graag wat lesers van die idee dink.

Join the Conversation

1 Comment

  1. eerst keer dat ek van dan roodt hoor , skies vir dit ! maar ek wil graag meer weet van sy menings en sienings. ons almal is al so “gatvol” soos jy dit noem in die woolworths rubriek. i loved the article en is definitief in jou kamp. waar kry ons die praag ? moet ons aansluit ?? as ek kon sal ek palm takke vir jou uitle , dan roodt , dankie dat jy nie bang is om jou mening te lig nie. woolworths het my nog nooit weer gesien vanaf die paw-paw die fan geslat het nie. en so sal dit ook bly….

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *