Tim du Plessis praat al weer die Britte en Amerikaners na

Dis wensdenkery om te dink dat die DA of Cope of selfs ‘n koalisie van die twee die ANC by die stembus gaan verslaan. Is ZANU-PF, die MPLA, Frelimo of SWAPO al by die stembus uitgeknikker? Kwalik. Tim du Plessis, synde ‘n sikofant van Groot Brittanje en die VSA, verwoord hier die Economist en die Wall Street Journal se sieninge, hoewel die Economist nie dink dat die ANC ooit demokraties oorwin sal word nie. Daarvoor het die party te veel geld en het hy die hele staat in al sy fasette ingepalm.

Die ANC word deur BRICS ondersteun, asook die res van Afrika, wat so pas vir Nkosazana Dlamini-Zuma hoof van die Afrika-unie gemaak het. Tensy Amerika militêr ingryp om “bewindsverandering” teweeg te bring, sal die ANC vir altyd regeer.

Afrikaners moet aanvaar dat die doelwit van Brittanje, Swede en Noorweë (die ANC se vorige bondgenote) om Suid-Afrika te verafrikaniseer byna volledig bereik is. “Suid-Afrika” is dus ‘n verlore saak. Maar die Afrikanervolk beskik oor ‘n rooskleurige toekoms omdat hy alles in sy guns het om uit dié bestel weg te breek en self op die lang duur ‘n werkbare ooreenkoms met die ANC te bereik.

Nadat Brittanje ons in die tagtigerjare in die rug gesteek het, sal die land tans daarvan hou om ons as gewillige marionette op te vorder om van die ANC ontslae te raak. Ons moet die versoeking weerstaan om weereens – soos tydens die Angolese oorlog – die verraderlike Angel-Saksers se belang te dien en onsself net van die wal af in die sloot te help.

One thought on “Tim du Plessis praat al weer die Britte en Amerikaners na

  1. M Jacobs

    My eerste reaksie was : watter Afrikaner het dit geskryf!!! So waar DR. Ek weet nou gewis van 2 mense in die hele Suid-Afrika wat so dink. Steve H seker ook – dit maak ten minste 3. Jy moet ook maar versigtig wees wat jy skryf, maar dis die eerste keer dat jy duidelik genoeg was, dat ek – ook maar soms onnosel – kon sien watter kant jy in die openbaar kies. Ek glo jy kan VF+ leer en oortuig. Miskien selfs Afrif0rum en Solidariteit? Dalk moet dit die plaaslike mikpunt wees. Think globally, but act locally.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *