Afrikaners moet in Anglo-ANC-stryd neutraal bly

Die Engelse media in Suid-Afrika, wat so lank ‘n verbete stryd teen ons gevoer en die ANC só graag aan bewind wou sien, het nou 180 grade omgeswaai. Selfs Alistair Sparks, die voormalige redakteur van die links-liberale Rand Daily Mail en voormalige baas van Helen Zille, bepleit nou “sterker opposisie” in Suid-Afrika. Hieronder verstaan hy waarskynlik dat ‘n groepering rondom die DA ondersteun moet word.

Naspers, die Kaapse persgroep wat Afrikaners as “Kleurlinge-in-wording” sien, kef geesdriftig agterna. Week na week vertel Tim du Plessis in Rapport sy lesers wat die Engelse of pro-Engelse swartes nou dink en waarom ons hulle in hul jongste projek – om die ANC te ontsetel – moet ondersteun.

Voordat ons kop-eerste saam met Tim du Plessis in hierdie Engelse skrum instorm, kom ons dink eers ‘n bietjie oor wat hier aan die gang is. Dan sal ons gou-gou besef dat die tyd om rustig agteroor te sit en te kyk hoe die Rooinekke en die ANC sake uitspook, aangebreek het. Dis nou die tyd vir die Afrikaner om aan sy kultuur en sy welvaart aandag te gee, nie om een of ander grootse politieke punt te probeer bewys nie. Los dit maar vir mev. Zille en haar Britse meesters wat kliphard besig is om hul skepping, die ANC, uit die mag te probeer stel.

‘n Boek wat nog geskryf moet word, is oor die Britse rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Omdat ons sulke hopelose historici het wat ook nie in staat is om vir hulself te dink nie, sal ek dit waarskynlik self moet skryf. Terwyl ‘n groot klomp Engelse deesdae openlik op die internet spog oor hoe hulle die Afrikanerregering destyds vanuit Londen met geld en wapens ondermyn het, rep niemand in Suid-Afrika ‘n woord daaroor nie.

Sonder Britse organisasie en propaganda, asook Sweedse en Noorweegse geld, sou die ANC tydens sy sogenaamde “struggle”-fase lankal doodgeloop het. Die rede waarom die Engelse die ANC so fanaties ondersteun het, is omdat dié kwasi-kommunistiese terreurorganisasie as die “finale oplossing” vir Suid-Afrika se Afrikanerprobleem gesien is.

Ook tydens die negentiende eeu het Brittanje swart stamme teen die Boere opgemaak en bewapen ten einde ons te kasty. Selfs tydens die Tweede Vryheidsoorlog is 100 000 swartes bewapen om die Britse soldate in hul terreurveldtog teen ons burgerlike bevolking by te staan. Van hierdie gewapende swartes het Boerevroue gemolesteer en verkrag, met komplimente van Haar Majesteit.

Die oomblik toe republikeinse Afrikaners in 1948 die mag in Suid-Afrika bekom het, was dit byna tweede natuur vir Engeland en  veral die Anglikaanse Kerk om onmiddellik die mees radikale, vernietigende groep in die land op te spoor en teen ons te bewapen. Natuurlik was dit ‘n oorlog wat nie net met wapens gevoer is nie, maar veral met sielkunde en propaganda.

Die Nasionale Party het met sy sin vir regverdigheid en vreedsame naasbestaan die Engelse media en universiteite in Suid-Afrika toegelaat om outonoom te bly voortbestaan. Dié instellings het as’t ware oorlogspropaganda uitgesaai en hulle uiteraard vierkant agter Brittanje geskaar. Terwyl die linkervleuel en die Anglikaanse Kerk die ANC van meet af aan openlik ondersteun het, was hoofstroom-Brittanje aanvanklik huiwerig, maar het vanaf die tagtigerjare insgelyks besluit om regstreeks in Suid-Afrika in te meng deur die ANC te steun. Ons was die eerste rampspoedige voorbeeld van “regime change”. Toe Mandela oorneem, is hy onmiddellik deur al wat Engelsman is tot ‘n god verklaar. Indien nie ‘n god nie, dan ‘n halfgod. Want het hy Engeland nie finaal van hul Afrikanermededingers in Afrika verlos nie?

Die plan was klaar uitgewerk: Suid-Afrika sou slegs enkele weke ná die Nasionale Party se oorgawe hertoetree tot die Statebond, die land sou opnuut verengels en Afrikaners sou geassimileer word. Iewers in een van sy opstelle praat N.P. van Wyk Louw van die “mensvleisbredie” waarvan ‘n gedekultureerde en verslane Afrikanervolk dalk iewers in die toekoms deel sou word. Presies dít het gebeur en in die Kaap het Naspers, die Afrikaanse mediagroep wat graag Engels wil wees, reggestaan om ons almal te breinspoel om assimilasie, “versmelting met die bruinmense” (Leopold Scholtz van Die Burger) en bowenal permanente oorheersing deur die ANC te aanvaar.

Vyf of tien jaar gelede nog het Naspers se joiner-joernaliste en rubriekskrywers Afrikaners wat van politieke opposisie praat, daarvan beskuldig dat hulle “ou mans met grys skoene is wat hunker na vervloeë mag”. Nou is dit al waarmee Naspers dweep, want sien, die Engelse het mos nou anders besluit. Wie dra nou die grys skoene?

Waarom op aarde wil die liberale en linkse Engelse, plaaslik en in Engeland, nou hul eie skepping – die ANC – van sy troon stoot? Watter heiligskennis! Lig hulle nie daarmee hul hand teen Madiba self nie?

Die antwoord is natuurlik nie ver te vinde nie. Engeland het in Afrika ‘n tradisie van sogenaamde “indirect rule”. Alle empaaiers maak op een of ander stadium van vassalstate of satelliete gebruik waar ‘n ondergeskikte regering die wil van die metropool uitvoer. So was dit ook tot onlangs in Suid-Afrika waar die ANC as ‘n onderdanige en veral omkoopbare Engelse Bantoestanregering gesien is. Trouens, R.W. Johnson skryf mos in sy South Africa’s Brave New World dat die land intussen soos ‘n “groot Bantoestan” geword het.

Veral die ANC se beleid jeens Afrikaans en Afrikaners het Engeland soos ‘n handskoen gepas. Die onderdrukking van Afrikaans en die Afrikanergeskiedenis, regstellende aksie, Kader Asmal se samesmelting van Afrikaanse universiteite om hulle ook te verengels, dít alles was musiek in die ore van die Londense amptenare wat hoogs in hul noppies was. Soos ek dit iewers gestel het, het die “nuwe Suid-Afrika” al hoe meer soos die ou-ou Suid-Afrika van die negentiende eeu begin lyk met Brittanje wat soos ‘n marionetmeester die toutjies getrek het.

Ook binne die ANC self was daar linkse Engelse, Jode en ‘n paar verloopte/verengelsde Afrikaners wat verdere Britse invloed binne die party verseker het. Net soos die ou NP-regering se Nasionale Inligtingsdiens die ANC van binne geïnfiltreer het, kan ons ook seker wees dat die Britse geheimediens, MI6, insgelyks die ANC, die SAUK, Naspers, privaatveiligheidsdienste, die DA, Cosatu en ander instellings binnegedring het. “Toevallig” speel mense met Britse aksente ‘n prominente rol in sowel Cosatu as PLAAS, die vernaamste propaganda-organisasie wat die ANC se grondhervormingsbeleid formuleer.

Trouens, grondhervorming is waarskynlik die hoeksteen van Britse beleid jeens Afrikaners. Sodra die ANC alle grond in Suid-Afrika nasionaliseer, gaan Afrikaners finaal van enige aanspraak op grondgebied in Suid-Afrika ontneem word. Geen Britse koerant of woordvoerder het hom al ooit teen plaasmoorde uitgespreek nie en die Britse media vind voortdurend “verskonings” vir plaasmoorde in die vorm van “Boere-rassisme”, “mishandeling van plaaswerkers” en dergelike meer.

Boonop het geen Engelse koerant in Suid-Afrika waarvan ek weet hom al teen plaasmoorde uitgespreek nie. Kortom, ons kan min of meer seker wees dat die gewelddadige verdrywing van Afrikaners deel van Brittanje se Suider-Afrikaanse beleid is.

Soos Lord Palmerston gesê het, “beskik ‘n land oor geen permanente vriende of bondgenote nie, maar slegs oor permanente belange”. Churchill het saam met Stalin gespan om Duitsland na die oorlog te verdeel en 15 miljoen Duitse burgerlikes uit Oos-Europa te verdryf, waarvan 2 miljoen omgekom het. Om drie miljoen Afrikaners in Suid-Afrika, hetsy te laat vermoor, hetsy te verdryf, is in die Britse geskiedenis nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Soos Rhodes gesê het: “Die Kaapse Afrikaners is nie my vriende nie. Ek gebruik hulle net, en agterna smyt ek hulle weg.”

In Angola het ons jongmanne “vir die Weste” gesterf en die Sowjet-opmars in Afrika gestuit, net om daarna à la Rhodes “weggesmyt” te word. En hoe!

Maar om by die eintlike punt van hierdie artikel te kom: Waarom versaak die Engelse en Engeland deesdae hul vernaamste bondgenoot in Suid-Afrika, die ANC? Hul geliefde ANC – waaroor hulle boeke geskryf, waarvoor hulle geld geskenk en ingesamel het, asook programme en rolprente gemaak waarin dié derderangse terreurbeweging ten hemele aangeprys is?

Die antwoord is eenvoudig: Onder Jacob Zuma het die ANC radikaal verander. Die party is nie meer ‘n linkse, multikulturele party nie, maar het ‘n voertuig vir Zoeloe-oorheersing geword. Trouens, ek verstout my om te sê die ANC is vandag nader aan Inkatha in die sewentigerjare as wat dit aan die soort voertuig is wat Brittanje, Swede en Noorweë so geesdriftig ondersteun het.

In slegs ‘n enkele opsig het Afrikaners slimmer as die Britte geblyk te wees: Ons siening van Suid-Afrika as ‘n “veelvolkige land”, soos die ou Afrikaner-ontleders nog onder die Nasionale Party gepraat het, is meer korrek as die Anglo-Amerikaanse (en Sweedse) opvatting van ons land as ‘n “smeltkroes van kulture” oftewel ‘n “reënboognasie”. Volgens inligting waaroor PRAAG beskik, is die ANC besig om intens etnies te raak. Nie net word dit volledig in ‘n Zoeloe-party omvorm nie, maar daarbinne bestaan ook onderhandelings en afsprake tussen verskillende sibbes binne Zoeloeland wat elkeen sy sny van die koek opeis.

Hier kom ‘n tweede slag van Isandlwana en my geld is op die Zoeloes. Engeland het sy hande so vol met Afghanistan en met sy eie multikulturele samelewing waar onluste ook telkens uitbreek, dat die koninkryk noord van die Mou kwalik veel meer hulpbronne op Suid-Afrika sal kan verkwis. Voeg daarby nog die finansiële krisis in die noordelike halfrond en Britse besuinigingsmaatreëls. Die ANC beheer die magtige Afrikanerstaat wat tussen 1948 en 1994 geskep is, met ‘n begroting van een triljoen rand.

Sonder veel steun uit die Moederland, is die lui, dom, hovaardige plaaslike Engelse insgelyks tot mislukking gedoem in hul aanslag op die ANC. Behalwe as die ywerige, skrander Afrikaner die broodnodige organisasie en strategiese denke vir hierdie jongste Engelse koloniale avontuur gaan verskaf.

Danksy die idioot FW de Klerk se onbesonne oorgawepolitiek, is die Afrikaner vandag in ‘n swakker posisie as ooit. Selfs swakker as in 1902. Onlangs het ek ‘n teorie ontwikkel dat dit beter is om ‘n oorlog te verloor as om die soort “onoorwonne oorgawe” te pleeg waarmee Hermann Giliomee De Klerk se politiek beskryf het.

Ons het geen wapens nie. Die enigste beduidende opposisieparty word deur die Engelse beheer. Behalwe die internet, beskik ons oor geen media nie.

As ‘n mens klein en swak is, is jou enigste moontlike strategie om die groot moondhede teen mekaar af te speel. Van die piepklein Baltiese state (Lithaue, Estland, Letland) het dit in die onlangse geskiedenis met groot welslae gedoen en sodoende vryheid en onafhanklikheid verkry. Hulle het nie oorlog gemaak nie; net ‘n bietjie volksliedjies gesing en sodoende hul onafhanklikheid van die magtige Rusland ontvang.

Dis nou die tyd om ‘n toeskouer te wees. Ek wil graag sien hoe Helen Zille en haar gholf-spelende, tonikum-en-jenewer-drinkende groepie Engelse, gerugsteun deur Naspers en die agterhoede uit Groot Brittanje, die Zoeloe-ANC pak. Dis ‘n wedstryd wat die Curriebeker-eindstryd oninteressant gaan laat lyk.

Ons span is nie op die veld nie. Kom ons hou dit so.

Waar twee honde baklei, stap die derde egter dikwels met die been weg.

Die Engelse het hul eie Frankenstein geskep. Laat hulle hom onder beheer kry. As hulle kan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *