De Doorns, Zille en die Supersapmislukking

Suid-Afrika raak al hoe meer onstabiel. Trouens, dis nie ek wat die woord “anargie” oor die afgelope paar dae gebruik het nie, maar mev. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap.

Daar is reeds mense, soos Pieter Mulder, adjunk-minister van landbou, wat De Doorns en die Wes-Kaapse wanorde met Marikana vergelyk. Maar wat is presies hier aan die gang?

Tot onlangs is ons verseker dat die Wes-Kaap ‘n hawe van vrede is wat doeltreffend en korrupsieloos deur die liberale Demokratiese Alliansie regeer word. Nou blyk dit dat die situasie daar nog plofbaarder as in die res van Suid-Afrika is.

Blykbaar gaan daar nou inderhaas oor ‘n verhoging van die minimumloon vir plaaswerkers besluit word. Die werklike oorsaak van die geweld en chaos is egter geensins ekonomies nie, maar etnies.  Xhosas en ander swartes ding met bruines om ongeskoolde arbeid op plase mee.

Die blanke en meesal Afrikanerplaaseienaars bevind hulself midde-in hierdie etniese konflik en mededinging en word daarom van beide kante af geblameer. Die Wes-Kaap, soos die res van Suid-Afrika, volg presies die patroon wat Afrikanerfilosowe, – antropoloë en politieke denkers al ‘n eeu lank voorspel. Waar taal- en rassegroepe om dieselfde skaars hulpbronne binne dieselfde grondgebied moet meeding, volg noodwendig konflik.

Die gemiddelde Afrikaner het egter so dom geword dat hy geen idee meer het waarom die geweld plaasvind nie. Die joernaliste van Naspers – in navolging van die Engelse joernaliste wat aan hulle voorsê – skryf dit aan die “lae lone” toe. Suid-Afrika se lone vir ongeskoolde arbeid is reeds van die hoogste ter wêreld en ons produktiwiteit van die laagste. Trouens, onlangs is berig dat ons arbeidsproduktiwiteit tans op dieselfde vlak verkeer as in die 196os – vóór die koms van rekenaars en inligtingstegnologie.

Maar natuurlik het die blote noem van etnisiteit in Suid-Afrika taboe geword. Die ingevoerde Amerikaanse en Britse dogma bepaal dat ons onsself as ‘n “reënboognasie” moet beskou.

Die Wes-Kaapse regering onder mev. Zille is fanaties tot hierdie Anglo-Amerikaanse illusie verbind. Die groep vorige Afrikaner-NP’s waaruit haar party in die Wes-Kaap bestaan, het volledig van die vorige Nat-pool na die Sap-pool verskuif en glo insgelyks dat ons ‘n empaaier-in-die-kleine in Suid-Afrika gaan oprig. Binne die Nuwe Ryk gaan ‘n groot verskeidenheid mense vreedsaam deurmekaar en “geïntegreerd” woon.

Noem dit die Supersapideologie wat deur die DA as alternatief vir die ANC se soort rassenasionalisme voorgehou word. Tans aanskou ons egter die mislukking van die Supersappe in die Wes-Kaap. Die provinsie, wat gedink het dat hy afgesonder en immuun teenoor die etniese spanninge in die res van Suid-Afrika is, maak baie hard met die werklikheid kennis.

Suid-Afrika is besig om net soos Zimbabwe te misluk. Swart persoonlikhede soos Mugabe of Zuma word daarvoor kwalik geneem, maar hulle het beswaarlik dié politieke stelsels ontwerp. Almal het al vergeet van Lancaster-huis waar Lord Carrington, Robin Renwick en ander Britte in hul wysheid besluit het dat Ian Smith behoort te kapituleer en dat Mugabe behoort oor te neem, sonder dat etniese verskille in ag geneem is.

Die Suid-Afrikaanse revolusie is by Kemptonpark ingelui, met die geesdriftige ondersteuning van die Supersappe soos Helen Zille wat ons almal ‘n utopie van vreedsame samesyn belowe het.

Soos ek gister teenoor Zille op Twitter opgemerk het, lyk dit asof die revolusie sy kinders nou begin verteer.

Geen ander persgroep in die land is natuurlik so fanaties Brits soos Naspers nie. Alles wat ons in Beeld of Die Burger lees, klink nie net soos vertaalde Engels nie; dit ís vertaalde Engels. Oor die afgelope twee dekades het Naspers die Nuwe Dogma met fanatiese ywer aan ons opgedring, die dogma dat Suid-Afrika as “Klein Britse Ryk” alle inwoners binne sy grondgebied naatloos sou integreer en van ‘n nuwe, Afro-Engelse identiteit sou voorsien.

Naspers het nog die verdere Supersapdroom van ‘n hereniging van Afrikaners en  bruines nagejaag. Hiervoor het die Nasperskoerante die term “Afrikaanses” uitgedink. Allerlei vergesogte teorieë oor die herkoms van Afrikaans as “slawetaal” en as dialek van Maleis is ywerig deur Naspers aan ons afgesmeer.

Berigte uit die Wes-Kaap dui egter daarop dat bruin “Afrikaanses”, wat veronderstel is om in harmonie met Afrikanerboere te woon, synde ons “broers”, die meeste skade aanrig. Meer nog as opstandige swartes.

Tans lees ek ‘n boek deur die Fransman Guillaume Faye wat ‘n volslae burgeroorlog en verval in Europa voorspel. Trouens, hy praat van die “konvergensie van katastrofes” wat die mens tans op ons planeet loslaat. Immigrasie en die multikulturele model is egter van die hoofoorsake van die komende ramp wat Europa en die noordelike halfrond gaan tref.

In Suid-Afrika beleef ons egter Guillaume Faye se “samevloeiing van rampe” in een land. Die ekonomie, die omgewing, die skole, die universiteite, ons media en kultuur, word stelselmatig daardeur verwoes.

Elkeen wat hom nog verbonde aan ‘n hoër kultuur of beskawing voel, sal moet besef dat hy self, tesame met sy gesin en sy vriendekring, sy stukkie grond sal moet opeis en moet verdedig. Blykbaar het die sogenaamde polisie in die Wes-Kaap vandeesweek toegekyk hoe wingerde afgebrand word, sonder om ‘n vinger te verroer.

Dis egter verblydend dat boere en inwoners van dorpe op die Kaapse platteland spontaan begin het om hul eie verdediging te organiseer. Wanneer Afrikaners se eiendom en voortbestaan bedreig word, lyk dit tog asof hulle nog in staat is om saam te staan.

Zille en die res van die Supersappe het natuurlik die veiligheidstelsels in die Wes-Kaap gruwelik verwaarloos. Terwyl Afrikaners en masse vir haar stem, het sy niks gedoen om iets van die ou kommando’s behoue te laat bly of om burgerlike veiligheidstrukture in stand te hou of te vernuwe nie. As ‘n mens dink hoe goed die ou weermag en polisie georganiseer was om krisisse van dié aard die hoof te bied, dan is dit niks minder as skandalig nie. Die Wes-Kaapse regering het die provinsie se inwoners en veral die DA-ondersteuners gruwelik in die steek gelaat.

Maar Zille sit bloot ‘n Kaapse tradisie voort. Soos Cecil John Rhodes voor haar, sal sy sê: “Die Afrikaners is nie my vriende nie. Ek gebruik hulle net. En as ek met hulle klaar is, smyt ek hulle weg.”

Vele Bolandse wynboere en kleinsakemanne het waarskynlik vandeesweek daardie indruk gehad, dat hulle weggesmyt is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *