Nataniël of Steve Hofmeyr – is kultuur deesdae ‘gay’?

Hier in Johannesburg gebruik die skoolkinders ‘n uitdrukking: “Dis sooo ‘gay’! Gewoonlik is dit pejoratief, maar interessant is dat dit gewoonlik nie soseer op een of ander geslagskwessie gemik is nie, maar eerder na styl, voorkoms, gedrag, ‘n manier van doen, taalgebruik, ens., kan verwys.

Volgens my matriekdogter, self ‘n kranige skryfster, wat baie in voeling met die tienersosiolek verkeer, sal sy nooit die term “gay” in verband met ‘n persoon gebruik nie. Sy sal veel eerder reageer as die wiskunde-onderwyseres skielik ‘n groot klomp huiswerk uitdeel met: “Dis gay!” Met ander woorde: dis teleurstellend of dom of netelig.

Onder die 22 500 boeke in ons nuwe ebiblioteek, papyyrus.com, ontdek ek ‘n teks met die aanvegbare titel: How the homosexuals saved civilisation deur Cathy Crimmins (Penguin, 2004). Die subtitel van die boek is: The true and heroic story of how gay men shaped the modern world. Op die oog af  is dit ‘n vergesogte idee: dat homoseksuele op ‘n manier ons hele beskawing sou geskep het of dit dan van ondergang sou “gered het”. Die wonderlike ding van ‘n ebiblioteek is egter dat, selfs al sou jy nie die boek koop nie, wil jy dit tog lees, al is dit net om te sien tot watse belaglike idees mense in staat is.

Halfpad deur Crimmins se boek, moet ek egter – ten spyte van my aanvanklike vooroordele – erken dat Crimmins in ‘n mate gelyk het: gays hét in ‘n groot mate die styl en kultuur van die twintigste eeu bepaal! Veral in die VSA, waar “vrolike” akteurs, regisseurs en draaiboekskrywers menige Hollywood-film gemaak het. Maar ook dramaturge, klere-ontwerpers, TV-persoonlikhede, beroemde kokke en vele meer. Soos sy dit stel:

“Looking back, I can see how America fought hard to ignore the gay undertow of our culture from the fifties well into the eighties. There were so many unanswered questions. Why was Paul Lynde the funniest guy on Hollywood Squares? Why were Liberace’s clothes and jewels the most fabulous? Why were Johnny Mathis ballads the favourite make-out music for heterosexual couples in the sixties? Why were many of the greatest playwrights of the last half of the twentieth century – Tennessee Williams, Lanford Wilson, Terrence McNally, Edward Albee – all gay men writing for straight audiences? Why are Cole Porter’s love songs the cleverest and most poignant?

Back then we were struggling, as a culture, with too many closets, to ignore the idea that many of our modern notions about art, romance, theater, cinema, fashion, food, and life itself were shaped by gay initiatives and perspectives.

Fortunately, we no longer need to be in denial. We’re in a golden age of ‘Global Queering’, in which ideas and behaviors associated with gay groups are making their way into mainstream culture…”

Trouens, dit wil lyk asof die hele verbruikersamelewing hom op “vrolike” kultuur en style modelleer. Crimmins noem al die name van handelsmerke, verbruikerspatrone, die wisselwerking tussen die “vrolike” mark en die normale, om haar argument te staaf. Daar is selfs so iets soos ‘n “vrolike” ekonomie. Blykbaar verdien homoseksuele mans gemiddeld twaalf persent minder as heteroseksuele mans, maar beskik oor hoër kwalifkasies. Hulle is egter geneig om meer risiko te aanvaar en daarom behaal vele van hulle groot sukses.

Boonop is die vrolikes in al die toonaangewende stede met hoë-tegnologiebedrywe in Amerika saamgetrek: San Francisco, Seattle, New York, Washington, D.C., Austin en San Diego. Volgens ‘n wetenskaplike studie deur die Carnegie-Mellon-universiteit in Pittsburgh, is “die primêre aanwyser vir ‘n stedelike gebied se hoëtegnologiesukses… ‘n groot vrolike bevolking”.

In weerwil van hul ietwat laer gemiddelde salarisse, is vrolikes egter ryker omdat hulle gedurig besig is om nuwe woongebiede te ontdek wat deur hulle opgeknap en verfraai word. Hulle koop dikwels huise of woonstelle in goedkoop, verslonste buurte wat binne ‘n paar jaar in die spreekwoordelike lushowe omgetower. Hiervoor sorg vrolike argitekte, binneversierders, restouranthouers, teatermense en ander vermaaklikheidskunstenaars wat stelselmatig die buurt in ‘n plek omtower waar elkeen sou wou woon want daar is winkels, kafees, restourante, vermaak en kultuur.

Vanweë die opknapping van voorheen goedkoop buurte, styg eiendomspryse. Vrolikes wat deel van die opknappingsproses was, se eiendomspryse styg ten hemele en sodoende teken hulle aansienlike kapitaalwinste aan.

Vir diegene wat dink dat hierdie slegs ‘n Amerikaanse verskynsel is, het ek nuus: sedert my studentedae neem ek presies dieselfde proses in Suid-Afrika en onder Afrikaners waar. In die eerste plaas is ons land natuurlik ‘n tweede Amerika. Europeërs wat in ons land aankom, sien die ooreenkoms tussen ons argitektuur en gedensentraliseerde voorstedelike leefwyse en dié van die VSA. Trouens, die eerste keer toe ek in die VSA aanland, was dit vir my ook teleurstellend dat die plek nie eintlik “nuut” of  “anders” was nie: dit lyk kompleet soos Suid-Afrika.

Die ou Afrikaner-oorheerste SAUK was natuurlik ‘n instelling, om nie van die streekrade vir kunste te vergeet nie, waar vrolike invloed selfs sterker as dié van die ou Broederbond was. Toe die SAUK vanuit Kommissarisstraat in die middestad van Johannesburg na Aucklandpark toe trek, met die aanvan van televisie in 1976, het ‘n hele horde Afrikaanse vrolikes op die omliggende voorstede toegesak. Melville, Westdene, Brixton en Aucklandpark self het ‘n skielike oplewing beleef, met huispryse wat binne enkele jare die hoogte ingeskiet het. Akteurs, omroepers en regisseurs het hulle almal hier tuisgemaak.

Daar is al boekdele vol geskryf oor die invloed van die Nasionale Party en die Broederbond onder Afrikaners tydens vorige geslagte. Maar wat van die vrolikes se invloed? Terwyl die NP verdwyn het en die Broederbond van naam verander het, het vrolike invloed eintlik toegeneem. ‘n Verskynsel waarop Crimmins in haar boek wys, is hoe sekere swart houdings en taalgebruik in die VSA geredelik deur die vrolike gemeenskap oorgeneem word, wat dit op hul beurt via die media deel van die hoofstroom maak.

Die uitgesproke skryfster Susan Sontag het iewers beweer dat alle Amerikaanse kultuur, “hetsy deur Jode, hetsy deur swartes geskep is”. Sy het egter die vrolikes uitgelaat, hoewel sy elders die vrolike tema in ‘n baie interessante opstel, “Notes on Camp”, aangeroer het.

John Wayne het op ‘n stadium gevra wie eerder Amerika verpersoonlik, hy of Alice Cooper. Vir diegene wat hom nie onthou nie, Alice Cooper was ‘n taamlik verwyfde Amerikaanse rockster van die sewentigerjare met lang hare en ‘n slang soos Glenda Kemp s’n.

Alice Cooper met sy slang

John Wayne, die argetipiese heteroseksuele en manlike cowboy

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Soos John Wayne, kan ons vandag die vraag vra wie die Afrikanerman verteenwoordig: is dit Steve Hofmeyr of Nataniël? Meer argetipies en histories: is dit die Boer met ryperd en Mauser of is dit die androgiene openbare persoonlikheid waavan ‘n mens nog vele voorbeelde benewens Nataniël kan noem?

Hierdie vrae – asook hierdie rubriek! – kan as ligsinnig en onbenullig beskou word, maar soos Susan Sontag in haar opstel oor “kampstyl” opmerk:

“Want smaak bepaal elke vrye – teenoor geroetineerde – menslike reaksie. Niks is meer beslissend nie. Daar is smaak wat mense betref, visuele smaak, smaak wat emosie betref – en daar is smaak teenoor dade, moraliteit. Intelligensie is ook, eintlik ‘n soort smaak: die smaak vir idees.”

Teenoor fascisme, wat Sontag “fassinerend” vind, het kommunisme – afgesien van enkele Sowjet-propagandaplakkate -meesal slegte smaak voortgebring. Suid-Afrika is vandag insgelyks ‘n land waar swak smaak gedy. Die hele regse of nasionalistiese beweging onder Afrikaners het op swak smaak gestuit. Vandaar die algemene assosiasie tussen ‘n vorige geslag Afrikanerpolitici en “grys skoene”. Mnr. FW de Klerk en die NP, maar ook Treurnicht en die KP, sal vir altyd “grys skoene dra”. Hierteenoor was Albert Hertzog iets anders: hy het blykbaar smaakvol aangetrek en ‘n Porsche bestuur.

As mense by die stembus gaan stem, spreek hulle ook ‘n estetiese voorkeur uit. Eintlik het die massamedia in die twintigste eeu alle demokratiese politiek tot ‘n vorm van vrolike gevoelswaarde verdoem: politiek gaan oor voorkoms, styl, die gesig, die liggaam, alles wat vir homoseksuele mans belangrik is. Dat Barack Obama vandag in die VSA regeer, het baie te make met die soort alliansie tussen enkellopende vroue, swartes en natuurlik… die pienk stem wat vir seker ook agter Obama moet wees, gegewe die Republikeine se ortodokse Christelike standpunte oor homoseksualiteit.

Vele Afrikanermans verstaan nog nie dat die stryd om voortbestaan wat ons voer, nie in die eerste plek ‘n fisieke stryd is nie. Dit is juis sielkundig, kultureel, esteties. In Amerika praat hulle van die “kultuuroorloë” (culture wars) rondom ras, geslag en identiteit wat op kampusse en in die res van die samelewing woed.

Onder Afrikanervroue is Nataniël met sy resepte, asook buitensporige “kamp” taalgebruik en voorkoms veel gewilder as enige boer uit die Noord-Transvaal met ‘n tweekleurhemp, ‘n kakiekortbroek en ‘n paar vellies.

Ook in dié opsig is Afrikaners volledig veramerikaans. Ons toonaangewende figure onder die mans is meesal vrolikes. Hierteenoor het Franse en Italiaanse mans ‘n manier om verfynd en gekultiveerd, dog terselfdertyd manlik en onbeskaamd heteroseksueel te wees.

Die ANC het reeds vroegaan ingesien hoe sy uiters liberale beleid met huwelike van dieselfde geslag die blanke en Afrikanergemeenskap kan verdeel en dieselfde soort swart-vrolike alliansie in die hand kan werk as wat in die VSA werksaam is. Sekerlik nie almal is só nie, maar van die giftigste mediakommentators teen Afrikaners is vrolikes, sowel manlik as vroulik.

Afrikaners sal moet besef dat ons ‘n soort kulturele en identiteitsrevolusie nodig het, net om te oorheef. Iewers tussen die vrolikes en die tradisionele, landelike “Boer”, sal die Afrikaner hom moet heruitvind. PRAAG se voortbestaan is van wesentlike belang hiervoor.

Ondersteun PRAAG en verkry onmiddellik gratis toegang tot 22 500 boeke in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands oor ‘n groot verskeidenheid onderwerpe, sowel fiksie as nie-fiksie, soos How the homosexuals saved civilisation en duisende ander.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *