Ons vir jou, Mugg & Bean?

Soos diegene wat my op Twitter volg sal weet, lees ek tans ‘n boek vanaf die Klub Digitaal-ebiblioteek genaamd Stuff white people like deur Christian Lander. Dis ‘n ligte, satiriese soort kyk na Noord-Amerikaanse blankes en hul dikwels paradoksale, polities korrekte gedrag en gewoontes.

Een van die elemente wat hy voortdurend beklemtoon, is die skuldgevoelens van blankes. Daarom voel hulle verplig om vir die Demokratiese Party te stem, eksotiese kosse te eet en om swart vriende te hê. Trouens, vir blankes is dit ‘n statussimbool om swart vriende te hê en by ander blankes daaroor te spog.

Wat Lander sê, geld seker meer vir blankes met universiteitsgrade in Amerika as vir gewone mense wat nog nie heeltemal so polities korrek is nie. Maar ‘n mens herken die patroon. Ook Suid-Afrika is in ‘n hoë mate veramerikaans en daarom “hou blankes” min of meer van dieselfde “goed” as Amerikaanse blankes: Apple-produkte, organiese kos by Woolworths, selfone met bekende handelsmerke en meesal Duitse motors.

Trouens, volgens dr. Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus is een van die vernaamste redes waarom Afrikaners nie in groot hoeveelhede Orania toe sal trek nie, omdat daar nie ‘n Mugg & Bean is nie.

Ek dink ek moet hom gelyk gee. Elke keer as ek in die weste van Johannesburg by die Mugg & Bean in die Cresta-winkelsentrum kom, hoor mens net Afrikaans rondom jou. Die spyskaart is suiwer Amerikaans en natuurlik slegs in Engels, die kelnerinne is Zimbabwiërs, maar dis wat Afrikaners wil hê. ‘n Soort ersatz-weergawe van Amerika.

‘n Groot rede waarom Afrikaners sleg doen met klein sake, veral restaurante en kafees, is dat hul volksgenote die meer Amerikaanse handelsmerke bo enigiets anders verkies. Tuisnywerhede waar ‘n mens nog tradisionele Afrikaanse gebak of Boeredisse kon koop, moes een na die ander hul deure sluit omdat supermarkte ook sulke produkte begin verkoop het. Ook smaak die Mugg & Bean se Amerikaanse koffie van ‘n Zim-kelnerin lyk my lekkerder as Boeretroos wat deur ‘n tannie met ‘n voorskoot bedien word.

In dié opsig het Christian Lander waarskynlik ook gelyk, wat ons betref: Blankes hou van “diversiteit” en eksotiese disse en handelsname. Hulle mag nie van die politieke implikasies van die multikulturele samelewing hou nie, maar verkies tog die gedekultureerde mengelmoes bo enige vorm van kulturele of gastronomiese nasionalisme.

Die enigste volkere wat redelik nasionalisties oor hul kos voel, is die Franse en die Italianers. ‘n Dekade of wat gelede was die Italiaanse filosoof Giovanni Vattimo in Suid-Afrika en het hy beken dat “die enigste tyd wanneer hy effens Italiaans voel, is wanneer hy besig is om te eet”.

Onlangs was daar blykbaar ‘n herrie in Parys toe die globale ketting Starbucks een van sy kafees in Montmartre, die tradisionele kunstenaarsbuurt van Parys, wou open. Dis gesien as ‘n aanval op Franse kultuur. Die gemiddelde Afrikaner, wat reeds 80% veramerikaans is, staan seker verstom oor dié reaksie. Waarom is dit belangrik? Wat maak dit saak as ons die Wimpy of die Spur bo enigiets inheems verkies?

Tradisioneel het die Afrikaner sy kultuur as beperk tot die kerk, die skool en die universiteit gesien. Vanaf die negentiende eeu was die meeste stede in Suid-Afrika Engels en tot vandag toe verstom dit my dat ‘n mens in 100% Afrikaanse voorstede in Pretoria byna geen Afrikaanse tekens teëkom nie. Maar ook die kerke verengels, of Afrikaners besoek deesdae charismatiese kerke wat op die Amerikaanse model geskoei is en die onderwysdepartement wil die oorblywende Afrikaanse skole verengels.

In Swede, waar politieke nasionalisme feitlik tot ‘n misdaad verklaar is, het dit my verstom hoe taalnasionalisties die mense eintlik is. In Stockholm, wat seker ook vir ‘n wêreldstad kan deurgaan met vele buitelandse besoekers en toeriste, is alle spyskaarte slegs in Sweeds en dit geld meesal vir die disse ook. En tagtig persent van die motors op die pad is Volvo’s, met nog ‘n tien persent Saabs en dan ‘n paar Volkswagens en Mercedesse wat die meer eksotiese modelle uitmaak.

Wat Stuff white people like ook na sterk na vore bring, is die blanke se behoefte daaraan om modern en byderwets te voel. Ek haat die eertydse hippie-woord “cool” wat om een of ander rede weer in die mode geraak het, maar lesers sal verstaan wat ek bedoel. Die Franse praat van à la mode, om ín te wees.

Van die beste Afrikanerintellektuele van die twintigste eeu, soos Fransie Malherbe en C.M. van den Heever, het hierdie aspek van kultuur en politiek goed verstaan. Van den Heever skryf iewers in die dertigerjare dat daar toe ongeveer 200 miljoen mense in die Britse Ryk gewoon het – teenoor ‘n miljoen Afrikaners in Suid-Afrika. Hy het die Engelse kultuur met lig vergelyk, wat mense aantrek soos motte na ‘n kers. As ons vandag die Engelse kultuur met die Amerikaanse McWorld-kultuur vervang, geld sy opmerking nog steeds.

Europa het egter nog altyd vir verrassings gesorg. Daar is tans ‘n anti-Amerikaanse gevoel wat besig is om op Europese Vasteland op te bou, met straatgevegte tussen Links en Regs in Duitsland, amper soos in die 1920s. Die lot van Afrikaners is in die verlede meermale deur verwikkelinge in Europa bepaal. Ons taal bly aan die vele tale en dialekte wat in Noord-Europa gepraat word, verwant.

Vanoggend het ek op Engels getwiet: “If it weren’t for boerewors and a few left-over Afrikaans public signs from the “apartheid era” (theatres, etc.) SA would be 100% American.” Dit klink effe sinies, maar dis eintlik waar. As ek by die Staatsteater of by die Johannesburgse stadskouburg nog ‘n paar tweetalige tekens raaksien uit die ou dae, is dit amper soos die reste van ‘n vergange beskawing wat ‘n mens daar ontdek. Ook in Ou Johannesburgweg in Midrand oorkant die ontkleeklub Teazers is daar ‘n bordjie wat die aantal kilometers na “Verwoerdburg” aandui. Nog ‘n anomalie in ‘n veramerikaansde, polities korrekte Suid-Afrika.

Die uitdaging vir Afrikaners het nog nie verander sedert die begin van die twintigste eeu nie. Dit gaan nuwe en selfs radikale denke verg om ‘n Afrikaanse lewe te skep wat nie meer net ‘n dowwe weerkaatsing van Obama se Amerika is nie.

Onderliggend aan moderne denke is egter nie net politieke korrektheid en ‘n eklektiese, “diverse” maatskaplike kode nie. Die strewe na suiwerheid en oorspronklikheid het by tye die botoon gevoer, in die Weste, maar ook onder Afrikaners.

In ‘n sekere sin, kan Afrikaansheid moderner as Amerikaansheid wees. Die vraag is hoe ons dit in die werklike lewe en in die ekonomie tot stand kan bring. Oftewel hoe ons aan so ‘n abstrakte idee uiterlike vorm kan gee.

One thought on “Ons vir jou, Mugg & Bean?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *