Daar is te veel Afrikanerleiers!

Hoeveel keer het ek nie al die klagte moes aanhoor nie: Die Afrikaners het geen leier nie. Soos ek nou die dag getwiet het, is die probleem eerder een van: Too many chiefs and too few Indians.

Daar gaan nie ‘n week verby dat nog iemand hom nie aanmeld as Afrikanerleier of -orakel nie. Trouens, elke Naspersjoernalis wat in Beeld of Rapport skryf, is van mening dat hy op grond van sy blootstelling aan Britse en Amerikaanse propaganda die wêreld so volmaak begryp, dat hy ewe seer as orakel kan optree. Tans praat die Nasperskoerante vir Mamphela Ramphele aan, as hulle nie steeds vir Helen Zille as die volmaakte Afrikanerleidster voorhou nie.

Daar bestaan ‘n horde Afrikaanse organisasies en steeds word nuwes gestig. Elkeen het een of ander siening van die politiek en is oortuig dat die oplossing óf ‘n volkstaat naby sy eie plaas of voorstad is óf om ‘n nuwe privaat- Afrikaanse universiteit te begin. Só hardloop ons soos ‘n klomp afkophoenders op die veld rond terwyl ons vyande net meer en meer punte teen ons aanteken. Party wil die ANC opponeer met woorde soos in die DA of selfs met wapengeweld (sonder wapens, bygesê). Ander wil weer met die ANC saamwerk sonder dat hulle besef dat die ANC tans geen rede het om met ons saam te werk nie omdat hulle reeds die vernaamste magsinstrumente ingepalm het.

Dis ‘n hele deurmekaarspul en daar is geen rigting of beleid nie. Ons voorouers het baie duidelike beleid gehad en daarom was hulle polities, ekonomies en militêr suksesvol. Ek praat nou van die vorige twee eeue toe ons konstant met Brittanje en selfs die Sowjetunie in stryd was. Dis net op propagandagebied waar hulle ‘n groot loesing ontvang het, waarna alles soos ‘n kaartehuis inmekaar gestort het.

Die huidige probleem is nie een van leierskap nie, dis ‘n gebrek aan denke. Sonder denke het ‘n mens geen insig nie en kan jy ook geen beleid formuleer en toepas nie.

Eintlik is daar net twee begrippe wat vir ons belangrik moet wees: soewereiniteit en identiteit. Vir ons voorgeslagte het alles daarom gegaan: om hul vryheid en onafhanklikheid te verkry en om die Afrikaanse taal en kultuur uit te bou. Vandat mnr. De Klerk op die toneel verskyn het en Koos Bekker beheer oor Naspers verkry het, is hierdie twee begrippe egter vervang met die Anglo-Amerikaanse dogmas van multikulturalisme, integrasie, “nasiebou”, globalisme en dergelike meer.

FW de Klerk is ‘n volslae sikofant. Dieselfde geld vir Bekker en die horde dom joernaliste wat in sy koerante skryf of op sy TV-kanale verskyn. Hulle dink dat Suid-Afrika die een-en-vyftigste staat van Amerika is en dat die soort multikulturele idille wat in Hollywoord-rolprente vir ons uitgebeeld word, die werklikheid is. Ons moet net polities korrek wees en dan het ons ‘n briljante toekoms.

Die resultaat van hierdie rampspoedige gebrek aan helder of analitiese denke is die feitlik sadistiese toestand van wanorde waaronder Afrikaners vandag moet leef. So pas het een van ons PRAAG-rubriekskrywers, Joseph Secrève, op ons Engelstalige blad ‘n stuk gepubliseer: The West’s slippery slope to sadism waarin hy aantoon hoe ons eintlik soos slawe of aangehoudenes al gekondisioneer is om die uiterste geweld en onvryheid te aanvaar!

Die Nuwe Suid-Afrika is ‘n groteske sielkundige eksperiment wat op siek en patologiese gedrag uitgeloop het. Dis net hier op PRAAG wat u dit sal lees, want ons dink onafhanklik en wetenskaplik oor die Afrikaner se haglike situasie. Trouens, ek verstout my om te sê dat PRAAG reeds ‘n intellektuele en politieke beweging verteenwoordig waarvan die invloed ver buite ons landsgrense gevoel word.

Moontlik was mnr. De Klerk ‘n goeie leier, want soos die fluitspeler van Hamelin het hy sy volgelinge verblind en hulle gelei na ‘n onbekende plek waar duisende mense doodgemaak sou word en waar mense van hul eiendom op allerlei maniere – hetsy wettig, hetsy onwettig – beroof sou word. Tensy hy kwaadwillig en self ‘n sadis was wat ons net wou laat seerkry, het hy dit vanweë gebrekkige denke gedoen.

Leierskap kan goed óf sleg wees, afhangend van die denke wat dit onderlê. Uit ons onlangse geskiedenis moet dit vir elkeen helder wees. Niks is so gevaarlik soos ‘n goeie leier met slegte idees nie!

As die groot verloorder van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is die Afrikaner van alle mag en invloed gestroop. Daar is tans ‘n triljoen rand se bates wat deur die Openbare Beleggingskommissaris bestuur word: aandele in openbare maatskappye (Telkom, Eskom, Transnet, die Landbank, ens.) en bates van die staatspensioenfondse. ‘n Groot deel daarvan is deur Afrikaners geskep en het aan hulle behoort voordat mnr. De Klerk dit met ‘n pennehaal weggeteken het. Dit is egter maar ‘n geringe deel van alles wat ons verloor het: skole, universiteite, grond, die Weermag wat ons moes beskerm, munisipale bates. En natuurlik veiligheid en selfrespek.

Ons het nie die getalle om by die stembus enige invloed uit te oefen nie en mev. Zille se lekkergeloof dat die DA in 2019 of 2024 of 2029 of iewers as die perde horings kry gaan regeer, is net dít: ‘n lekkergeloof, ‘n illusie waaraan ons arme mense vasklou.

Ons het ook nie wapens om soos die Sloweniërs ‘n stuk grondgebied af te baken, grensposte op te sit en agterna ‘n klein onafhanklikheidsoorloggie te voer nie.

Die wapens van die gees en van denke is egter veel skerper as dié van staal. Soos hulle sê: die pen is magtiger as die swaard. ‘n Paar verdwaalde wit kommuniste en swart nasionaliste in die vorm van die ANC het die vorige NP met sy gevorderde weermag, polisie en staatsapparaat verower. Behalwe ‘n kommunis, was Joe Slovo ook ‘n denker en hy moes lekker gelag het om ‘n naprater soos Roelf Meyer te ontmoet. Destyds was Meyer se resitasies wat hy uit Britse koerante geleer het, die room van Afrikanerdenke!

Gelukkig het ons iets nuuts in die plek daarvan geskep, op hierdie webblad, en op sosiale media soos Facebook en Twitter: ‘n pragmatiese en moderne, byna postmoderne, idee van Afrikanervryheid. In pas met ons tyd, maar gewortel in die klassieke Afrikanerdenke van 200 jaar wat ek hierbo met twee woorde opgesom het: soewereiniteit en identiteit.

In rugby is die Afrikanerstyl om in jou opponent vas te hardloop en as’t ware bo-oor hom by die doellyn uit te kom. Dit mag iets sê oor ons onverskrokkenheid, maar in die politiek werk dit nie so nie. Selfs die magtige Amerika met sy globale vloot en arsenaal wapens kan niemand trompop loop nie. Waar hy onlangs met wapengeweld sy wil probeer afdwing het, het hy net onmin gesaai en sy bondgenote vervreem.

Die Afrikaner se magsbasis is danksy intellektuele swakheid byna heeltemal onder ons weggekalwe. Daar is egter nog enkele dinge waar ons soos drenkelinge aan ‘n stuk opdrifsel in die see vasklou: ons taal, Afrikaanse skole, ‘n paar plase en eiendomme wat nog nie “hervorm” is nie, asook kleiner maatskappye wat nog nie “getransformeer” is nie.

Voeg hierby die soort digitale territorium wat ons hier op die internet vir ons geskep het en waar die droom van Afrikanervryheid steeds voortleef, daar waar dit vanuit die hoofstroommedia soos die koerante, die radio en TV verban is.

Skole, plase en rekenaars. Dis die somtotaal van ons wapens. En selfs dié karige arsenaal is nie sonder bedreiging nie, want in Gauteng is mev. Barbara Creecy, die LUR vir onderwys, besig met ‘n grootskaalse aanslag op ons oorblywende Afrikaanse skole, terwyl radikale grondhervorming nog voor die deur lê. Ook ons vryheid van spraak op die globale internet word deur sommige state en groot maatskappye bedreig.

Ons eerste groot uitdaging is om ons skole te behou. Daardie skole kan kennisvestings word van waar die geslag wat nou opgroei ‘n hernieude aanslag kan loods om vryheid te bekom. Dis ook daar waar die Afrikaanse letterkunde en die Afrikanergeskiedenis opnuut aan die volgende geslag oorgedra mag word. Dis die laaste loopgraaf; as ons daar verloor, verloor ons alles.

PRAAG sal binnekort ‘n strategie loods om Creecy in haar spore te stuit en om opnuut die Afrikaner se soewereine reg te bevestig om oor sy eie opvoeding te besluit. Hiervoor het ons u hulp en ondersteuning dringend nodig.

Sluit nóú by PRAAG aan en verseker vir ons kinders ‘n toekoms!

Daar is egter ‘n tweede terrein waar ons baie meer aktief sal moet raak: dié van die diplomasie. Die ANC-regering is maar net een van ‘n aantal buitelandse moondhede – vriendelik, vyandig of neutraal – waarmee ons betrekkinge moet aanknoop en wat ons agter die skerms moet probeer beïnvloed.

Ongelukkig is dit nog ‘n terrein waarvan Afrikaners bloedweinig begrip het: hoe om twee groot moondhede teen mekaar af te speel, hoe om persoonlike en kulturele verhoudinge aan te wend om politieke doelwitte te bereik en dergelike meer.

Maar ook hier het PRAAG die afgelope paar jaar klinkklare suksesse behaal. Ons was in Amerika, Nederland, België, Swede, Israel en Egipte. Oral het ons vir Afrikaners vriende en potensiële bondgenote gewerf. Eintlik lê die veld nog braak en kan die Afrikanersaak maklik tot binne die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies of selfs die Veiligheidsraad ingedra word, as ons maar net ‘n paar vliegkaartjies oorsee kan betaal.

Kragdadige vertoon gaan ons nêrens bring nie; denke en diplomasie wel.

Een organisasie staan tussen Afrikanerondergang en -vryheid: PRAAG. Dis vir u om te kies…

One thought on “Daar is te veel Afrikanerleiers!

  1. pieter swart

    Ek weet nie of Dan die skrywe onder oë gaan kry nie. Nogtans.
    Jy sê elke Afrikaner wil ‘n leier wees. Dis seker maar hoe ons mense is. Ek sien aan die einde van die goeie artikel beveel jy darem nog ‘n alternatief aan: die leier van PRAAG.
    Ons skole is moontlik nog ‘n laaste taalvesting, maar dit word uitstekend deur die nuwe regeerder gebruik om die jong mense mooi in hul eie taal te leer om sy identiteit prys te gee.
    My eie dogter was verlede jaar in Matriek aan die ‘spogskool’ DF Malan in Bellville. Sy weet waarimpel nie wie was Piet Retief nie! Sy het geen idee wie was Jan Smuts, Louis Botha, of Koos de la Rey nie. Nie eens die liedjie oor De la Rey het haar of haar vriendekring sover gekry om iets meer oor hom te wete te kom nie.
    Hulle word voorgestel aan nuwe ‘helde’. Moes take en opstelle doen oor Steve Biko en waarom apartheid so boos was.
    Afrikaanse skole is inderdaad ‘n gerieflike wapen om die jong mens se gedagte te hervorm. Op ‘n baie verstaanbare manier.
    Ek kla nie of probeer slim klink nie. Ek is dem bekommerd daaroor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *