Afrikanerskape en die tweede revolusie

Om Afrikaners dop te hou, is omtrent soos een of ander riller uit Hollywood. Jy weet daar gaan netnou ‘n monster uit die kas klim om die onskuldige held of heldin aan te val, maar jy kan niks doen om hom of haar te waarsku nie. Soos in daardie ou, rokerige bioskope van weleer, begin die kinders al waarskuwingskrete uiter, maar helaas is die figure op die silwerdoek doof.

Behalwe in dié geval gaan dit nie oor ‘n enkeling se lot nie, maar oor dié van ‘n hele volk van ongeveer drie miljoen mense. Soos slaapwandelaars strompel hulle horende doof en siende blind voort, en skynbaar gaan niks tot hulle deurdring nie. Eers het hulle mnr. FW de Klerk blindelings gevolg en nou is dit ‘n Johannesburgse joernalis van Duits-Joodse afkoms wat tans in Kaapstad woon, mev. Helen Zille.

Kom ons speel die Hollywood-riller net so effens terug tot in 1983. In daardie jaar was ek nog besig om my Meestersverhandeling te voltooi en het ek deeltyds by Telkom in Rosebank, Johannesburg, gewerk. Rondom my het ‘n hele horde onskuldige, naïewe Afrikaners in hul semistaatsinstelling gewerskaf en meesal op erg burokratiese wyse allerlei reëls en prosedures gevolg. Gee vir ‘n Afrikaner ‘n reël en hy lê hom daarby neer.

Ewenwel, op ‘n goeie dag besluit ek om die twee of drie mense in my kantoor ‘n bietjie nader oor die ANC in te lig. Die hele geskiedenis van die Rivonia-verhoor, die lewenslange vonnis vir Mandela, asook Winnie Mandela wat so dan en wan ingeperk word, maar wat tog op ‘n dag ‘n groepie van ons studente op die Wits-kampus kom toespreek het.

My onmiddellike hoof by Telkom – ek meen sy naam was mnr. Johan van der Walt – het op daardie stadium nog nooit van die ANC gehoor nie. Trouens, die algemene gevoel wat ek gekry het, is dat my toehoorders gedink het daar was iets fout met my omdat ek hierdie dinge weet! Afrikanerskape werk in hul sosialistiese staatsdiensparadys by Telkom, Transnet, die Ontvanger van Inkomste, die polisie, die weermag en natuurlik die res van die burokrasie in Pretoria en steur hulle nie aan enige donker wolke op die horison nie.

Reg binne daardie kantoor was daar sekere spore van die komende verandering reeds te bespeur, vir die fyn waarnemer! Die blanke Afrikaanse liasseerklerk is telkens deur haar werklas of haar eie domheid oorweldig, waarna twee swart liasseerklerke naas haar op dieselfde posvlak aangestel is. Op ‘n dag kom sy by ons kantoor ingewals en verklaar so ewe: “Hulle het vir my twee meide gegee om my by te staan.” Vir ons almal was dit duidelik dat “die twee meide” glad nie onder daardie indruk was nie en haar as ‘n gelyke gesien het.

Daar was ook ‘n ouerige swart bode by Telkom in Rosebank. Hy het so ‘n blou stofjas gedra, as ek reg onthou. Tydens teetyd elke oggend het hy hom in die destydse Rand Daily Mail, die liberale koerant waar mev. Helen Zille ‘n verslagggewer was, verdiep. Ek kon sien hy slurp alles op. Anders as sy Afrikanerkollegas wat al hul pensioene oor twintig of dertig jaar kon uitwerk, het hy geweet wie die ANC is. Hy het elke oggend mev. Helen Zille en Alistair Sparks, die redakteur en ‘n groot Afrikanerhater, se propaganda gelees en geglo dat die revolusie wel sou kom.

Mnr. Johan van der Walt het ‘n sogenaamde “B-baan-matriek” gehad, as ek reg onthou. Hy was nie baie produktief nie want hy was alewig besig om allerlei privaatprobleme in werkstyd op te los, soos om ‘n nuwe motor te koop of ‘n swembad by sy huis op Alberton te laat insit. Die Kreepy Krauly wat soms teen die kant van die nuwe swembad vassit, het hom dosyne oproepe na die swembadmense laat maak en uiteindelik het hulle dit vir hom met ‘n Barracuda vervang.

Een oggend het hy my wel “oor die kole gehaal”, soos hy dit gestel het, omdat ek tien minute laat was. Hy het nie veel van my gehou nie, want ek het oor te veel bedenklike kennis beskik, onder andere oor die ANC en wat Winnie Mandela dink.

As ek destyds vir mnr. Johan van der Walt sou gesê het: oor minder as tien jaar gaan mnr. PW Botha nie meer president wees nie en gaan sy opvolger, mnr. FW de Klerk, jou oortuig om vir jou eie ondergang te stem, sou hy seker gedink het ek is nog meer eienaardig. As ek verder sou gegaan het en hom vertel het dat daar in die toekoms weens regstellende aksie geen blanke Afrikaners meer by Telkom sou werk kry nie, sou hy seker daar en dan die psigiatriese afdeling van die Johannesburgse Algemene Hospitaal gebel het om my te laat toesluit.

Intussen is die wolwe – soms letterlik in die vorm van geweldsmisdadigers – onder die Afrikanerskape losgelaat. Van die soort sosialistiese paradys en lewenslange, voorspelbare loopbane wat daar destyds bestaan het, het daar bloedweinig oorgebly.

Ek verstout my egter om te sê dat die Afrikaner nog nie sy skaapagtigheid afgeskud het nie. ‘n Week of tien dae gelede skryf iemand vir my op Facebook: “Die Afrikanerleiers het ons uitverkoop. Nou gee ons Helen Zille ‘n kans.” Agter my rekenaarskerm het ek my byna dood gelag. Mev. Helen Zille, van die Rand Daily Mail, wat destyds blykbaar ‘n ANC-lid was en saam met ‘n hand vol linkse Engelse en Jode die propaganda vir radikale verandering in ons land geskryf het… sy gaan die Afrikaner red!

Blykbaar het een van die grootkoppe in die DA reeds in die gange van die parlement onlangs opgemerk: “Daar is nie meer plek vir die Afrikaner in Suid-Afrika nie.” Ons gaan verdwyn, is so min of meer die boodskap.

En daarvoor gaan ons mense stem! Die Afrikanerskape stel nooit teleur nie.

Maar koms ons speel nou die riller effens vorentoe. Dis nie meer 1983 nie, maar 2007. Ek eet middagete saam met Tim du Plessis, die destydse redakteur van Rapport, in Melville. Op ‘n stadium wentel die gesprek na Jacob Zuma, wat op daardie stadium in allerlei hofsake oor die wapentransaksie verstrengel was. Ek sê toe vir hom dat ek dink mnr. Jacob Zuma gaan die volgende ANC-leier en later president van die land word.

“Nee wat,” seg Tim. “Dis net ‘n aweregse persoon soos jy wat so iets kan uitdink. Zuma het nie ‘n kat se kans om ooit leier van die ANC te word nie, wat nog te sê president van die land.”

Ek kry so ‘n gevoel van déjà vu. Hier is nog ‘n Afrikaner met sekerhede oor die toekoms, soos daardie Telkom-werknemers van destyds. Sover ek weet, kom Du Plessis van Klerksdorp af. Hy het sy hele lewe lank nog net by Naspers gewerk, die Telkom van die perswese. Behalwe dat selfs Naspers al regstellende aksie toepas en hul middeljarige blanke mans afbetaal om deur bruines vervang te word. Nog net nie vir Du Plessis nie. Miskien hou hulle hom daar aan as ‘n soort apartheidsoewenier, ek weet nie.

In Beeld lees ek mos onlangs iets in die trant van: “Die DA-burgemeester van Midvaal, Timothy Nast, het die Afrikaanse skole oorreed om van hul apartheidsname ontslae te raak.” Volgens dieselfde berig is 88% van die ouers ten gunste van naamsveranderings vir die skole. Blykbaar is Nast ook, nes mev. Zille,  van half-Duitse afkoms en was vandeesweek op Twitter gebelgd toe ek hom ‘n Engelsman noem.

In elk geval, of jy nou half-Duits, Brits, Joods, Portugees, Grieks, of wat ook al is, jy kan verseker wees dat Afrikanerskape jou blindelings sal volg, vir jou sal stem of die mooi voorspellings wat jy oor die toekoms in jou Nasperskoerant maak, vir soetkoek sal opeet.

Die vermaarde Afrikaanse violis, Zanta Hofmeyr, het op ‘n keer vir my gesê: “Jy moenie te goed wees nie.” Daar is wel briljante Afrikaners, mense met leierseienskappe. Mense wat nie net ‘n B-baan-matriek het nie. Wat ‘n bietjie meer van die wêreld as die Kreepy Kraulies van Alberton verstaan. Om een of ander vreemde rede, hou Afrikaners nie van hulle nie. Afrikanerkrewe; ons trek mekaar in die emmer af.

Moenie te goed wees nie. Moenie te veel weet nie.

Mev. Helen Zille, soos Timothy Nast op Midvaal, veg nou éérs hard teen apartheid. Min of meer alles wat Afrikaans is, is simbole van apartheid en daarom uit die bose. Hulle leef in die verlede, in 1983, toe die anti-apartheidsbeweging internasionaal hoogty gevier het – sonder dat die Afrikanerskape eens daarvan geweet het.

Omdat ek ‘n patriotiese Afrikaner is wat trots is op my taal, kultuur, letterkunde, geskiedenis en alles wat daarmee saamhang, beskuldig mense my daarvan dat ek “in die verlede leef”. Juis nie. Soos in 1983, word ek deur die hede en ons potensiële toekoms geboei.

Die beroemde miljardêrbelegger uit die VSA, Warren Buffet, het mos gesê: “Die uitsig in die truspieël is altyd helderder as deur die voorruit.” Naspers en die DA kyk alewig in die truspieël. Daarom sien hulle nie wat nou besig is om te gebeur nie.

Een van die merkwaardige dinge wat die afgelope paar jaar plaasgevind het, is dat die ANC ‘n byna volledige Zoeloe- etniese party geword het. Onlangs in die Business Day kla Aubrey Matshiqi steen en been daaroor. Die hele droom van ‘n “reënboognasie” wat deur die alliansie van Xhosas en linkse Engelse en Jode uitgedink is, en waaroor Naspers steeds sanik, het eintlik volledig skipbreuk gelei. Ferdi Greyling van Beeld is al ‘n senuweewrak soos die gebrek aan “nie-rassigheid” by die ANC hom kasty.

Miskien werk “nie-rassigheid” in die Britse Bantoestan, Lesotho, waar Prins Harry van Brittanje gereeld besoek by etniese Sotho’s aflê. In elk geval swymel die Naspers-koerante nog meer oor die rooihaarprins as oor die Zille-dinastie in Kaapstad.

Die DA en waarskynlik die pas gestigte Agang van me. Mamphela Ramphele, het die draers van die vorige ANC-visie vir Suid-Afrika geword. Geen wonder mev. Zille is so trots op haar “ANC-verlede” nie, want sy staan gister se ANC-idees voor. Dit is die multikulturele stelsel wat dr. Angela Merkel van Duitsland as ‘n “mislukking” beskryf het, maar waaraan die Amerikaners en die Britte verbete vasklou.

Vanaf 2007 het Jacob Zuma ‘n onverwagte tweede revolusie binne die ANC laat plaasvind, dié van ‘n magsverskuiwing vanaf die Xhosa-Engelse groepering na die Zoeloes.

Vir ons hou dit enorme implikasies in. Indien Afrikaners bereid sou wees om, nes die Zoeloes, binne ‘n bepaalde party onder intelligente en vooruitstrewende Afrikanerleierskap te groepeer, kan ons deelneem aan die nuwe etniese politiek in Suid-Afrika.

Dis nou die ou ANC (Zille/Ramphele) teen die nuwe ANC (Zuma). Kan Afrikaners nie ‘n derde speler in hierdie liga word nie? Elke ander etniese groep in die land tree in sy eie belang op, behalwe ons.

Ons is mos Afrikanerskape. Siende blind en horende doof.

Ons vertrou veral nie mense wat te goed ingelig is nie. Ons verkies middelmatigheid. Iemand soos Zille met haar soort Benoni-sjarme, opgesmuktheid en Hollywoord-tabberds met slepe wat sy parlement toe aantrek.

Moenie te goed wees nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *