Suid-Afrika se multikulturele distopie raak literêre tema

Vrydagoggend was ek ‘n gas op KykNET se ontbytprogram, Dagbreek, in die Stark-ateljee in Randburg. Die eienaar, Friedrich Stark, het in die ou Suid-Afrika die rol van Trompie in ‘n fotoverhaal gespeel, as ek reg onthou. Al het die gesprek oor die holruggeryde tema van Afrikanerskuld oor apartheid gegaan, was dit vir my heel aangenaam, die soort Afrikaanse stedelike ervaring waartoe dele van Johannesburg soos Randburg hom steeds leen. In ‘n ander wêreld sou ons oor heel ander en interessanter kwessies met mekaar in modernistiese kafees of TV-ateljees kon argumenteer, amper soos lede van een van die kleiner Skandinawiese volkere.

Iets soos: dan sal die Kaap weer Fins of Deens wees, nie Hollands nie. Ons het ‘n paar Alvar Aalto-meubelstukke en -glase nodig om reg aan die Afrikanermorfologie te laat geskied. Toe ek en my vrou brandarm studente was, het ons honger gely om ‘n stel Alvar Aalto-glase in ons Hillbrowse woonstel te mag hê. Op Sondae-oggende het ons op die balkon lemoensap uit die glase gedrink en na eksperimentele Duitse musiek deur Karlheinz Stockhausen geluister terwyl ons na die pragtige moderne geboue, waarvan sommige deur beroemde Suid-Afrikaanse argitekte ontwerp is, rondom ons staar en my vrou met haar immer teenwoordige sketsboek gesigte of brokstukke argitektuur met ‘n 2B-potlood op Canson-papier vaslê. Dis nou voordat Hillbrow in ‘n tuisland van Nigerië omskep is.

Kennelik verskil Afrikaners egter steeds in hul interpretasie van die geskiedenis, want aan die een kant van die tafel voor die KykNET-kameras was ek en Ernst Roets van Afriforum wat probeer argumenteer het dat ons geen morele skuld dra nie en aan die oorkant was ‘n joernaliste van Beeld, Lourensa Eckard, asook ‘n akademikus van die Universiteit van Johannesburg, prof. Mia Swart, wat gemeen het toestande in die land sou verbeter indien ons byna soos Adriaan Vlok histrioniese verskonings aan swartmense aanbied. Hoewel, Swart het darem toegegee dat Adriaan Vlok se voetewassery van enkele jare gelede meesal spot ontlok het.

Die belangrike punt wat ek gemaak het, is dat alle volkere ter wêreld ‘n verskriklike geskiedenis het. Sowel die kolonialisme as die twee wêreldoorloë, maar ook die kommunisme, het niemand moreel ongeskonde gelaat nie. Anders as die Britte, Duitsers, Turke, Kambodjane, Russe, Chinese, Hoetoes, Amerikaners en Australiërs, het Afrikaners nog nooit ‘n volksmoord teenoor enigiemand gepleeg nie. Die enigste massagrafte in ons land is deur die Britte hier nagelaat, wat 30 000 van ons vroue en kinders laat omkom het.

Hierop het prof. Swart geantwoord dat ek “apartheid probeer relativeer”. In akademiese artikels relativeer sy egter self apartheid deur dit met Nazisme te vergelyk – asof daar hoegenaamd enige parallel bestaan. Selfs ‘n kommunistiese intellektueel soos Albie Sachs het enkele jare gelede teenoor my toegegee dat so ‘n vergelyking in die Suid-Afrikaanse konteks “nie behulpsaam” (“not useful”) is nie.

Waarom moet Afrikanerakademici om bedenklike, opportunistiese redes ons volk in internasionale akademiese tydskrifte op Engels beswadder deur ons Nazi’s te noem? Dis ‘n kwessie wat vorentoe ons aandag behoort te geniet.

Maar afgesien van hierdie “b-mol”, soos die Franse sê, het die gesprek goed verloop. Dis voortreflik dat Afrikaners van mekaar kan verskil en dat die konsensuskultuur van die ou én die nuwe Suid-Afrika toenemend verbreek word. Dit is slegs deur verskille en debat dat ons by gemeenskaplike oortuigings sal uitkom. Voorheen was daar ‘n gefabriseerde konsensus wat die verdeeldheid en faksionalisme van die sewentiger- en tagtigerjare veroorsaak het. Dieselfde gefabriseerde konsensus is deur mnr. FW de Klerk gebruik om Suid-Afrika in die beloofde land van ‘n multikulturele utopie in te lei. Daar was nooit enige kritiese debat daaroor nie; ons moes alles bloot aanvaar omdat die Nasionale Party en sy Britse raadgewers so besluit het.

Die ontnugtering met die multikulturele utopie was nog nooit so groot soos nou nie. Selfs iemand soos Mia Swart wat glo dat elke Afrikaner eintlik ‘n Nazi is, gee toe dat die land “swak bestuur” word. Lourensa Eckard van Beeld is onder die indruk dat apartheid “verskriklik” was, maar dat die huidige toestand ten minste ewe verskriklik is. Iemand wat in die verlede selfs Marxisties links was soos Breyten Breytenbach het onlangs verklaar: “Die politieke korrektheid dwarsoor die wêreld is sieklik, multikultarisme is erger as die swart pes in die Middeleeue!” (Beeld 27 Januarie 2013)

Soos die droom van absolute gelykheid onder kommunisme, is die ideaal van die multikulturele samelewing besig om in ‘n distopie te ontaard. Nêrens word hierdie siening meer blatant, selfs militant, aangebied as in die hedendaagse Afrikaanse letterkunde nie. Persoonlik was ek bewus van ‘n hele paar Afrikaanse romans waarin die Suid-Afrikaanse hede en toekoms op ‘n besonder negatiewe wyse – ‘n distopie – voorgestel word. Maar die omvang van die aantal Afrikaanse fiksiewerke wat Suid-Afrikaanse multikulturalisme as ‘n distopie soortgelyk aan George Orwell se 1984 of Animal Farm voorstel, het my nogal verbaas.

In ‘n klein taal soos Afrikaans, is so ‘n verskynsel niks minder as ‘n literêre beweging nie, wat op die duur dalk so belangrik of belangriker as die Sestigerbeweging van weleer mag blyk.

Op Stellenbosch is ‘n PhD-student, Joan-Mari Barendse, tans besig met ‘n proefskrif oor die onderwerp en het reeds akademiese artikels daaroor gepubliseer. Die volgende onlangse Afrikaanse romans stel die nuwe of multikulturele Suid-Afrika as ‘n distopie voor:

Oemkontoe van die nasie, deur P.J. Haasbroek (2001)

Miskruier, deur Jaco Botha (2005)

Horrelpoot, deur Eben Venter (2006)

Die nege kerse van Magriet, deur Barend P.J. Erasmus (2006)

Beslissing in die Karoo, deur Sebastian Biehl (2011)

Die amigdala van Alrina Smal, deur Gustav Venter (2012)

In verskeie van hierdie boeke word die multikulturele Suid-Afrika wat sedert 1994 volgens die Anglo-Amerikaanse model met regstellende aksie en die onderdrukking van minderheidstale soos Afrikaans ingerig is, gesatiriseer – of as ‘n land van verval, moord en verkragting voorgestel. Die reaksies van Afrikanerkarakters in die boeke is óf ‘n soort gelate berusting en fatalisme, óf aktiewe weerstand en opstand teen die stelsel.

Me. Joan-Mari Barendse praat van “klassieke distopieë” en “kritiese distopieë”. In die klassieke distopie ly die karakters onder die stelsel, maar ontwikkel geen werklike kritiese bewussyn nie en aanvaar hul lot met gelatenheid. Hierteenoor wil die kritiese distopie juis deur die karakters se optrede en houdings jeens die totalitêre stelsel waarin hulle hul bevind, die leser tot kritiese besinning aanmoedig.

In ‘n novelle soos dié van Ayn Rand, wat onder die titel Loflied in Afrikaans vertaal is, ontsnap die twee hoofkarakters uiteindelik uit die kwasi-kommunistiese gemeenskap waarin hulle vasgevang is en begin soos Adam en Eva ‘n nuwe samelewing buite die distopie. In die strokiesboek V for Vendetta deur Alan Moore en David Lloyd, waarvan ‘n suksesvolle film gemaak is, kom die anargistiese hoofkarakter V in opstand teen ‘n soort fascistiese staat in Engeland deur terreur te pleeg en soos Guy Fawkes te probeer om die Britse parlementsgebou op te blaas.

Sowel Rand se Loflied as V for Vendetta kan daarom as “kritiese distopieë” beskou word. In Gustav Venter se roman wat einde verlede jaar as eboek deur PRAAG uitgegee is, Die amigdala van Alrina Smal, is daar elemente van beide tipes distopie. Alrina en haar man volg slaafs die morele kodes van die Suid-Afrikaanse distopie na, met tragiese gevolge. Maar ‘n ander karakter in die boek, Alrina se halfbroer Walie Olckers, onttrek hom heeltemal aan die multikulturele samelewing op ‘n plaas in die Hantam naby Nieuwoudtville waar hy as argitek op sy eentjie ‘n toekomstige stad net vir Afrikaners ontwerp.

Terwyl die regse, nasionalistiese diskoers misluk het om Afrikaners te mobiliseer, voel ek sterk dat die rigting wat ons nou inslaan, vrug sal dra. Ons kunstenaars, skrywers, sangers, dramaturge, joernaliste, akademici en denkers is besig om op allerlei maniere die veelkoppige multikulturele hidra te ontleed, uit te beeld en uiteindelik saam-saam aan te val. Die Afrikaner se verstommende skeppende vermoë – die gees van “Boer maak ‘n plan” – het dié nywerheids- en landbouland feitlik sonder kapitaal tot stand gebring. Ook het dit die Afrikaanse kultuur geskep wat feitlik uniek ter wêreld in ‘n taalstryd teen die magtige Engels geslaag het.

Kan daardie skeppende vermoë ons weereens van die Middeleeuse swart pes van multikulturalisme, soos Breyten Breytenbach dit noem, bevry?

– Dan Roodt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *