Tim du Plessis praat die New York Times en Italiaanse kommuniste na

In vandag se Rapport is Tim du Plessis weer besig om sy gewone gemeenplase in sy rubriek te herhaal: SA lê tussen chaos, utopie. Sjoe, Tim, toe Nadine Gordimer vir Gramsci aangehaal het, was dit al verslete, nou moet jy insgelyks die Italiaanse kommunis se lyk opwarm soos in daardie fliek “Weekend at Bernie’s”.

Die Mandela-kultus gaan ons ook nie red nie. Margaret Thatcher het hom as ‘n “smerige klein terroris” beskryf en met jou bewondering vir alles wat Engels is, kan jy dit gerus voor in jou Gesangeboek skryf.

Die naam wat egter die meeste Afrikaners deesdae rooi laat sien, is dié van FW de Klerk. Omtrent alles wat vandag in SA fout is, kan aan sy hopelose “onderhandeling” (lees: oorgawe) toegeskryf word.

Dis ook nie die ANC wat die retoriek oor apartheid lewend hou nie, dis die DA van mev. Helen Zille. Die ANC reageer bloot op Zille se jongste pretensies dat sy eintlik ‘n vryheidsvegter op die barrikades was (en dalk vir Heleen Pastoors gehelp het om die Kerkstraatbom te vervoer?).

Apartheid is bloot ‘n metoniem vir “Afrikaners”. Uiteindelik is dít wie Zille en haar mede-Britte in die visier het.

Danksy De Klerk se verraderlike oorgawe, gaan die ANC die land permanent regeer en waarskynlik binne die volgende verkiesing of twee die Wes-Kaap ook inpalm en die illusie die nekslag toedien dat die Britse Ryk in die skadu van Tafelberg teen verrotting bestand is.

Hopelik sal die wrewel wat Afrikaners vir De Klerk voel, binnekort in denke vertaal, nie hierdie soort sikofansie en napratery van die New York Times en antieke Italiaanse kommuniste nie, maar onverskrokke, inheemse Afrikanerdenke.

Nog iets, Tim: Dis die vyfde of sesde keer dat jy Smuts se gedagte dat “die ergste nooit in SA gebeur nie” herhaal. Dit word nou ‘n mantra. Of ‘n laerskoolresitasie. Dis seker wat die mense in Zimbabwe ook gesê het, op die vooraand van grondhervorming. Dit beteken net mooi niks. Slegs ‘n eerlike weermag of polisiediens kan ‘n ramp in ‘n land verhoed. Wet en orde is lankal daarmee heen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *