Gee Afrikaners ‘n Nürnberg-verhoor

Aan die begin van die week het daar weer luide krete opgegaan dat Afrikaners en blankes in die algemeen nog nie genoeg vir apartheid geboet het nie. Is dit toevallig of het ons hier met ‘n georkestreerde veldtog te make? Veral die kinders van onlangse immigrante soos Helen Zille, Steven Friedman en Paul Berkowitz verkeer op die voorpunt van die aanklagte teen ons inheemse Afrikaners. Hierby moet nog prof. Pierre de Vos, die gay akademikus van Kaapstad, gevoeg word.

Apartheid is nou ‘n groter probleem as in 1994 en vorentoe gaan dit waarskynlik net aangroei. Ek begin dink dat dit tyd is om hierdie mense se bluf te roep en hulle uit te daag om ‘n Nuremberg-verhoor te hou waar elke lewende NP-minister en staatsamptenaar uit die ou bedeling in die hof kan verskyn op ‘n klag van “misdaad teen die mensdom” sodat daar klinies na die getuienis agter dié stelling gekyk kan word.

Tans is Afrikaners heeltemal te veel op die verdediging as dit oor hul sogenaamde “besmette verlede” gaan. Pierre de Vos vra mos op sy woernaal in Rebranding the DA Nostalgia for a past that never was:

“After all, how is it possible to be nostalgic about your own past when that past is littered with memories of racial oppression and exploitation from which you, your parents or grandparents benefited – often handsomely?”

De Vos is Claude-Leon-professor van Grondwetlike Reg aan die Universiteit van Kaapstad en word gereeld oor grondwetlike kwessies in die media aangehaal. Daarom moet ons sy uitspraak ernstig opneem.

Maar De Vos reageer eintlik net op ‘n toespraak van Helen Zille verlede Saterdag waarin sy die destydse Progressiewe Party as die “ware bevryders” van Suid-Afrika beskryf. Trouens, die huidige grondwet met sy sentralistiese “een-nasie”-ideologie kan teruggevoer word na die Progressiewe Party se Molteno-kommissie van 1961:

“Not many people know that the Constitution that emerged from the Codesa negotiations has its roots in the Molteno Commission set up by the Progressive Party back in 1961. We recommended a national convention, an entrenched Constitution, a bill of rights, a common voters’ roll, a clearly defined role for the provinces and an independent judiciary. We had been preparing for the constitutional negotiations for three decades, and we were ready for them when they finally came. That is why our team played such a crucial role in shaping our country’s founding compact”

Daardie toespraak is betitel: The DA’s untold story: Part 1. Vandag sit Zille die DA se selfadvertensie as “bevrydingsbeweging” voort in The DA’s untold story: Part 2. Ná die kritiek vroeër vandeesweek dat sy al die blanke mans uit die party se geskiedenis “uitgeskryf” het, erken sy vandag die “enorme bydrae van reuse soos Colin Eglin, Ray Swart and Frederik van Zyl Slabbert”, asook Tony Leon.

Dog op ‘n manier stem Zille se uiteensetting van die geskiedenis ooreen met my eie, wat die Britse tradisie soos ‘n “goue draad” deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis sien loop en dat ons nie soseer deur die ANC in 1994 “verower” is nie, maar deur die Britte. Daarom verwys Helen Zille spesifiek na die Britse sendelinge en veral dr. John Phillip as die oorsprong van die DA se Brits-liberale tradisie. Wat sy nalaat om te noem, is dat eenduisend Afrikaners tydens Graaf Caledon se bewind onskuldig deur die Engelse sendelinge, Read en Van der Kemp, aangekla is omdat hulle kwansuis hul slawe of bediendes sou vermoor, verkrag of aangerand het. Ná die gevreesde rondgaande howe, wat in die volksmond as die swarte ommegang bekendgestaan het, hul werk gedoen het, is geen van die aangeklaagdes skuldig bevind nie!

Soos Jaap Steyn dit stel:

“Die regters het verklaar dat as die sendelinge die sake eers vooraf ondersoek het, hulle nie die hof met al die leuens sou lastig geval het nie. Van Bethelsdorp sê hulle dat ‘luiheid en ledigheid en derhalwe morsigheid en smerigheid daar opgroei tot perfeksie”. Beelaerts van Blokland het verklaar dat die beskuldigdes hul mense goed behandel het. Afrikaners het die swarte ommegang as ‘n gruwelike onreg ervaar. Hul goeie naam is wel tydelik in ere herstel, maar hul belastering is gou hervat.”

Zille meen dat Britse liberalisme soos ‘n goue draad deur ons geskiedenis loop. Maar so ook die belastering wat daarmee gepaardgaan! Die leidster van die DA is nes dr. John Phillip ‘n nuwe aankomeling in die land, synde die dogter van Duitse immigrante maar wat hier Engels grootgeword het. Tans is sy, nes haar berugte voorganger uit die 1820s en 1830s, besig om ons inheemse Afrikaners te belaster met bewerings dat ons ‘n klomp bose rassiste is wat ‘n “misdaad teen die mensdom” gepleeg het.

Noudat die Afrikaner van alle mag en invloed gestroop is, is ons vyande besig om die skroewe aan te draai. Steven Friedman en Paul Berkowitz meen dat die regering sy dienslewering moet verbeter, maar dat “apartheid” – en daarom Afrikaners – vir swart armoede verantwoordelik is. “Apartheid was very good at destroying wealth and entrenching poverty,” sê Berkowitz.

Om Afrikaners te belaster en vir alles te blameer wat in Suid-Afrika verkeerd loop, ook onder die ANC-bewind, het al gewoonte geword. In die Tsjeggies-Duitse skrywer Franz Kafka se roman “Die verhoor”, word ‘n man, Josef K, van ‘n misdaad aangekla. Hy weet egter nie wat die klag is nie en kan hom nêrens daarteen verweer nie.

Deur die geskiedenis het die belastering van volkere of godsdienstige groepe ‘n vername rol gespeel. Een van die maniere waarop die Katolieke Kerk haat en nyd jeens ons Hugenote-voorouers in Frankryk aangehits het, was deur verguising en valse beskuldigings. Hoe verder ons van die historiese werklikheid van die NP se bewind tussen 1948 en 1994 staan, hoe grotesker raak die voorstellings daarvan. Daar is reeds die Apartheidsmuseum in Johannesburg, wat deur Abe en Solly Krok reg langs Gold Reef City gebou is, waar toeriste van regoor die wêreld besoek aflê. Die skatryk Krok-tweeling, waarvan een intussen oorlede is, het hul fortuin uit karsinogeniese bleikmiddels gemaak waarmee veral swart vroue poog om hul velle ligter te maak. Besoekers aan die Apartheidsmuseum word subtiel gebreinspoel om te dink dat apartheid eintlik ‘n vorm van volksmoord was. ‘n Video waarin dr. Verwoerd onskuldig die Engelse sinsnede, “I believe in final solutions”, gebruik, word oor en oor herhaal om die parallel met die Nazi’s se Endösung vir die Jodeprobleem in Duitsland te skep.

Tydens ‘n konferensie enkele jare gelede by die SA Menseregtekommissie se kantore in Johannesburg, het ‘n Indiërvrou wat blykbaar ‘n professor by Wits is, op my geskree: “Apartheid het miljoene mense doodgemaak!” Wat is volgende? Terwyl FW de Klerk en die res van die voormalige NP-regering hul leierskapsrol geabdikeer het, is die veld oop om eintlik enige oordrywing of selfs verdigsel aan Afrikaners toe te skryf. Reeds in die WVK-verslag het Tutu en Boraine bedenklike parallelle tussen die nazisme en apartheid getref. Gaan ons binnekort lees van die “apartheid holocaust”? Gaan toekomstige geslagte Afrikaners aantygings van ‘n volksmoord op swartmense moet weerlê terwyl hul vyande al die argiewe en bewysstukke beheer?

Dit kan selfs gebeur dat ons vyande sulke bewyse van ‘n “apartheid holocaust” in die argiewe “plant”! Briewe tussen NP-ministers wat lankal reeds dood is, kan vervals word om die indruk te skep dat Afrikaners inderdaad ‘n volksmoord op swartmense uitgevoer het. Vreemder dinge het al in die politiek en in die geskiedenis gebeur. Só byvoorbeeld was die wêreld vyftig jaar lank salig onder die indruk dat die Duiters tydens die tweede wêreldoorlog derduisende Poolse nasionaliste en offisiere in die Katyn-woud laat doodmaak het. Eers in die negentigerjare het mnr. Boris Jeltsin met die waarheid vorendag gekom deur die Russiese argiewe oop te maak en te onthul dat dit maar een van Josef Stalin en die gevreesde Beria se vele volksmoorde was.

Daar is een ding wat erger is as om onskuldig van moord aangekla te word en in hegtenis geneem te word en dit is om nié in hegtenis geneem te word nie! Dit is laster in sy suiwerste vorm, om ‘n veldtog teen iemand te voer deur hom van moord te beskuldig, sonder dat hy ooit geleentheid kry om sy onskuld in die hof te bewys.

Dit is egter presies wat tans aan die gang is. Daar gaan nie ‘n dag verby dat politici van die DA, die ANC en sogenaamde politieke kommentators nie die toenemende enormiteit van die “apartheidsmisdaad” aan die groot klok hang nie. Soos ek vandeesweek aan Berkowitz geskryf het, is “apartheid” eintlik ‘n metoniem vir Afrikaners. Agter die gewraakte begrip “apartheid” staan Afrikaners, die “daders” wat konstant sal moet boet en wie se regte daarom na willekeur vertrap mag word.

Dis waarom ek vandag die handskoen teenoor al ons vyande neergooi en sê: gun ons ons verhoor! Kla ons onverwyld van oorlogsmisdade of die “misdaad teen die mensdom” aan dat ons die feite oor Afrikanerregering tussen 1948 en 1994, gebreke en al, voor die howe kan lê. Die meeste van die NP-ministers en staatsamptenare lewe nog. Kla hulle aan, mev. Zille, mnr. Solly Krok, mnr. Alex Boraine, mnr. Desmond Tutu en elke ander persoon wat glo dat Afrikaners iewers in die verlede ‘n volksmoord op swartmense gepleeg het.

Kom arresteer my sommer eerste. Al het ek destyds bloedweinig met apartheid te make gehad, sal ek saam met die res van ons volk staan. Ons is oorwin, nie net deur Umkhonto we Sizwe nie, maar ook deur die Progressiewe Party wat ons vanuit Houghton en Seepunt verower het. As ons oorlogskuld vir ons sogenaamde “misdaad teen die mensdom” te betaal het, laat dit ons opgelê word.

Dit is beter om daardie oorlogskuld nóú te betaal as om vir ewig in die toekoms daaraan herinner te word. Trek sommer ook die triljoene rande se bates wat in 1994 by ons afgevat is daarvan af. As daar nog iets oorbly, sal ons met graagte die rekening vereffen, Calviniste wat ons is.

Maar eers eis ons om verhoor te word. Gee ons ons Nürnberg-verhoor dat ons die getuienis van wat ons werklik in dié land vir veertig jaar gedoen het, kan voorlê.

Anders gaan ons nog vir geslagte lank met groter wordende beskuldigings van ‘n “apartheid holocaust” moet saamleef en gaan ons kinders en ons kleinkinders en selfs agterkleinkinders die smet moet verduur.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *