Die Afrikaner as postpostmoderne vreemdeling

deur Dan Roodt

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ná Albert Brenner se uiters interessante kommentaar oor die Afrikaner se identifikasie met rugby, dag ek ek sal so ‘n stukkie teorie (denk?) pleeg oor wie en wat die Afrikaner in 2013 nou eintlik is.

Nie lank gelede nie, het ek ‘n insgelyks fassinerende paar eposse met ‘n klassiek opgeleide musikus/pianis uitgeruil, waarin hy vir my gesê het:

“Soos ek dit sien is daar interessante verskynsels in die kunsmusiek van plaaslike komponiste, soos die ruimtegevoel, naatlose struktuurbeheer, onnaspeurbare ritmiese vitaliteit en ‘n universele lirisme in Arnold van Wyk se musiek, struktuurvaartbelyning en psigologiese skakels met kernelemente in die Europese erfenis in Hubert du Plessis se werke, ‘n “kop-omkeer” Afrika-vernuwing in Stefans Grové se styl, skakel met abstrak ekspressionistiese kunsrigtings by Dirk de Klerk, ‘n Namib-tydloosheid gepaardgaande met post-modernistiese perspektiewe in Etienne van Rensburg se musiek, konseptuele vernuwings in Jeanne Zaidel-Rudolph se styl – alles dinge wat wesenlik verband hou met die feit dat Afrikanerkultuur essensieel ‘n Nuwe Wereld-verskynsel is. Maar ek dink minderwaardigheidsgevoelens of ‘n gebrek aan juiste waardebepaling veroorsaak dat hierdie genre eerder uitsterf en ‘n populistiese potjiekoskultuur oorneem waar niemand juis geaffronteer word nie en ook waar intellektuele vernuwing nie entlik belangrik is nie.”

Dis ‘n mondvol, maar die “money quote” soos die Amerikaners sê, is sy gevolgtrekking: “dat Afrikanerkultuur essensieel ‘n Nuwe Wêreld-verskynsel is”. Dvorak het mos ‘n Nuwe Wêreld-simfonie gekomponeer, waarin hy die vitaliteit en aardsheid, maar ook die moderne van Amerika, wou vasvang. Blykbaar het Neil Armstrong ‘n opname van hierdie simfonie tydens die Apollo 11-sending saam maan toe geneem waar hy in 1969 daardie eerste beroemde tree op ons naaste hemelliggraam gegee het.

Anders as die stereotipe voorstellings van die Afrikaner as argaïese, landelike wese, ‘n soort “Ampie” uit die wêreld van Jochem van Bruggen, was die Afrikaner tot op hede die belangrikste draer van die modernisme en selfs die postmodernisme in Suid-Afrika.Tydens die dertigerjare van die vorige eeu het Afrikanerargitekte reise na Skandinawië onderneem in hul versugting na moderne argitektuur en ontwerp. Vele van die destyds ultramoderne geboue wat hulle in Pretoria en Johannesburg ontwerp het, is vandag besig om in puin en ruïne te verval.

Net vanoggend luister ek na my seun wat op pad skool toe vir sy suster differensiële wiskundige vergelykings met die grootste gemak en half aan die slaap – sit-lêend agter in die motor – uitlê. Benewens Afrikaans, Calvinisme en Europese argitektuur en filosofie, is wiskunde omtrent so eie aan die Afrikaner soos boerewors en koeksisters. Ondanks alle pogings van die ANC-bewind en sy kommissarisse soos me. Barbara Creecy om ons skole te vernietig, lééf daardie kennis en insig – tesame met en in Standaardafrikaans – hardnekkig voort.

Die linkse staatsgreep van 1994 het ons meteens vanuit modernisme en postmodernisme teruggeruk in ‘n barbaarse, primitiewe wêreld in. Dis ‘n sfeer van rituele, offerandes en buitenissige geweld: die mag van verskrikking (Julia Kristeva). Vir die Afrikaner het dit in alle opsigte ‘n rampspoedige breuk met sy voorafgaande geskiedenis meegebring, maar ook: toenemende blootstelling aan die paradys van wreedheid (Stephen Smith, Stephen Ellis), ontheemding en vervreemding.

Polities, ekonomies en tegnologies, het die Afrikaner – miskien meer as enige ander Westerse volk – ineens afskeid geneem van die moderne, maar ook die postmoderne. Trouens, die Duitse filosoof Jürgen Habermas het eens in sy kritiek op die postmodernisme daarna as “die afskeid van die moderne” verwys. As uitgeworpene, sowel uit “die Weste” – daardie verkrummelende begrip – as uit die neoprimitiewe “uitgebreide stam van Suid-Afrikaners”, bevind die Afrikaner hom reeds as ‘n soort pionier op die rand van die beskawing en van rasionaliteit.

Die Afrikaner word aan ‘n intense proses van vervreemding onderwerp, in elke moontlike sin van die woord: verlies aan ‘n identiteit, ‘n heimat, ‘n self, selfs sy burgerskap en sy grond. Geen Afrikaanse naam mag in die neoprimitiewe Suid-Afrika oorbly nie. Om Afrikaner te wees, is daarom, in die eerste plaas en bowenal, om vreemdeling te wees: l’étranger. Met al die eggo’s van Albert Camus se beroemde novelle oor ‘n Fransman in Noord-Afrika, op die vooraand van die sogenaamde dekolonisering.

Buitestaanderskap (Camus, Lovecraft, Wilson). Om vreemdeling te word en as vreemd gesien te word, is die nuwe inhoud van Afrikanerskap. Die absurditeit – absurde mure, herinner ek my iewers ‘n frase uit Camus – van wette wat die Afrikaner tegelyk wil “ontras”, soos dit genoem word, maar tegelyk teen hom as blanke diskrimineer en ‘n soort geweldshorison definieer waarteen sy nuwe nuwe/ou status van slagoffer afspeel. Soos Retief en sy manne moet ons afgeslag word.

Teenoor die neoprimitiewe totale aanslag op sy wese en alles wat Afrikaans is, ken die Afrikaner net een reaksie: hy vlug. Om van die verskrikking af weg te vlug. Hy vlug in sy diaspora in. Of agter mure. Hy skuil agter sy Afrikaans, agter sy taalgrens van waar hy die verval met gelatenheid betrag. Hy ervaar sy vervreemding, sy vreemdeling-wording, om in sy eie land as vreemdeling en buitelander gesien te word, met angs, met onverskilligheid, met fatalisme, maar ook: woede. Ten minste sommige, ‘n minderheid.

Die Bantoe-imperialistiese ANC-bewind het daardie kennisgewing vervolmaak wat vroeër jare in die Engelse stad Durban vertoon is: “Woonstel te huur: Dutchmen en Indiërs hoef nie aansoek te doen nie.” Vandag is dit veral as Indo-Europeër (Dumézil), as Kaukasiër, wat ons nie meer in Suid-Afrika welkom is nie.

Noem die Afrikaner se nuwe peregrinasie – sy eksistensiële dwaal (ook die titel van ‘n novelle deur die skrywer Chris Barnard!), sy reise na nêrens, na die verre, uitgestrekte Oos-Rand wat Australië is of die aardbewings van Nieu-Seeland, die koue van Kanada, die klam, mistige wêreld van Engeland, ‘n verkenning van vreemdeling-wees. Die peregrinasie van die ewige peregrinus, die Afrikaner. Die Vlieënde Hollander (groete vir Wagner) wat nóg in Europa tuis is, nóg in Afrika. Daardie tussenwêreld wat Van Wyk Louw o so lowend beskryf het en in die beton van die Paarlse Taalmonument vasgegiet is, het nou die Afrikaner se nuwe hel geword.

Xenofobie. Moontlik die enigste Griekse woord wat aan die barbaroi van die nuwe Suid-Afrika bekend is en waarmee die doodmaak van vreemdelinge benoem word. Ook die daaglikse moorde op Afrikanermans, -vroue en -kinders.

Transformasie is die waansin van die dag, la folie du jour (Blanchot). Die paradoks is egter (en Afrikanerskap is ook, bowenal en by uitstek: paradoks) dat die Afrikaner bo die moderne én die postmoderne uitstyg, jenseits der Moderne, au-delà, anderkant, en hom in ‘n nuwe wêreld bevind waarvan die mees radikale postmoderne denkers maar net kon droom en dalk heenwys. Die lang naels van Gilles Deleuze, omring deur draagbare klankopnemers, wat waansin en skisofrenie as die Nuwe Jerusalem poneer. Die risoom, die Pink Panther wat die wêreld ligroos oorstroom, onbeduidende breuke agterlaat.

Ligroos soos bloed? Vanuit die bloedige orgie wat Suid-Afrika vandag is, vanuit die totalitêre totemstaat van multikulturele samesyn, sluip die Afrikaner op sy tone die toekoms in. Ontwortel, binnekort grondloos en sonder wortels, risomeer hy (as dit ‘n werkwoord kan wees) na nuwe werklikhede. Die risoom. Die uiterste revolusionêre begrip. Om in enige rigting te kan groei. Soos die internet. Virtuele bande tussen ontwortelde individue, ontheemdes, vervreemdes. Aussiekaner, Eurokaner, Englikaner. Een en almal Afrikaners.

Die grense van bloed is belangriker as geografiese grense (Alain de Benoist).

En in ons groei oor die aardbol heen en na mekaar toe, is daar iets van die laertrek van ouds te bespeur. Nou nie meer die geslote kring van waens nie, maar die oop teks, die losse alliansie en verstrengel raak in mekaar. Die “drade” en weefsel van virtuele gesprekke.

Vir ons lyk die wêreld oud en ons is nuut.

Só moes Prometheus gevoel het toe hy ‘n hele goddelike orde uitgedaag het.

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

1 Comment

Filed under Rubrieke

One Response to Die Afrikaner as postpostmoderne vreemdeling

  1. Leon

    Beste Dan, baie goed gestel. Ek verstaan wat jy hier (wil) sê en ek voel presies dieselfde: “Vir ons is die wereld oud en nuut”. Mag ek bysê dat die Afrikaner vir my soos nuwe fors lyk wat die wêreld nou raakloop, en mag daardie identiteit groei tot ‘n formidabele een om altyd mee rekenskap te hou – maar dit gaan net gebeur as ons Boer wil bly. Ek hoop en bid dat ons dit sal verstaan.
    Groete uit Australasië

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>