Anti-Afrikaner-ressentiment

Ek herpubliseer hier ‘n brief wat op 19 Januarie 2004 aan Rapport gerig is, maar waarskynlik nooit deur dié koerant geplaas is nie.

Kirby van der Merwe trek die sluise van die nou bekende anti-Afrikaner-ressentiment oop in sy repliek (Rapport 18 Januarie 2004) op my en Joan Hambidge se kommentaar oor die Afrikaanse letterkunde wat oor die afgelope tien jaar gekwyn het. Laasgenoemde was geen politieke stelling nie, maar ‘n ekonomiese en literêre feit.

Van der Merwe gaan baie grof om met die Afrikaanse letterkunde wanneer hy dit beskryf as “die draer van ‘n ideologie, ‘n politieke bestel, ‘n kultuur van bevoorregting en erge diskriminasie op grond van velkleur.” Met ander woorde, almal van Leipoldt en Eugene Marais tot by Van Wyk Louw, Peter Blum, Jan Rabie, André Brink, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker, John Miles, Elsa Joubert, Adam Small of P.J. Philander het een of ander Ku-Klux-Klan-ideologie in hul werke verkondig.

Ek weet nie hoeveel Afrikaanse boeke Kirby van der Merwe al gelees het nie, maar ek stel voor hy stel vir hom ‘n leeslys op. Dit mag hom tot ander insigte bring.

Ek het allermins Afrikaans “terminaal” verklaar. In weerwil daarvan dat die taal bedreig word deur diskriminasie en onderdrukking deur die staat, asook die sakewêreld, meen ek het ons die draaipunt bereik en is Afrikaans tans in ‘n opwaartse fase, veral wat populêre musiek betref, maar ook die belangstelling in Afrikaanse letterkunde.

Ons mag egter nie nou laat slaplê nie, want niks sal die owerheid groter plesier gee as om ‘n grafsteen vir Afrikaans op te rig nie. Elke keer as ‘n Afrikaanse ouer sy kind na ‘n Engelse skool toe stuur, uiter Kader Asmal plesierkrete in Sol Plaatjehuis. Totdat ons die droom van taalgelykheid behaal soos dit in ons grondwet omskryf maar nie toegepas word nie, móét die huidige taalstryd voortgaan op alle terreine.

Kennelik verkies Van der Merwe om die magdom middelmatige Engelse boeke wat Britse uitgewers en boekverspreiders  in ons mark stort, in Afrikaanse koerante geresenseer te sien, eerder as die vele Afrikaanse publikasies waarvan die publiek nooit eens hoor nie. Naas sy artikel in verlede Sondag se Rapport verskyn toevallig twee resensies oor boeke uit voormalige Britse kolonies, te wete Kanada en Australië, sonder dat enige Afrikaanse boek hoegenaamd ter sprake kom.

Hierteenoor weier ‘n koerant soos die Business Day, wat ‘n groot aantal Afrikanerlesers het, om Afrikaanse boeke te resenseer. Verlede jaar het die boekeredaktrise my reguit meegedeel dat haar koerant “‘n Engelse koerant is en slegs Engelse boeke resenseer.” My  vraag is waarom Afrikaanse koerante en tydskrifte nie ook dieselfde houding kan inneem nie? Waarom moet Engelse boeke in ons eie koerante bevorder word ten koste van Afrikaanse boeke, terwyl die Engelse ons nie dieselfde guns bewys nie?

Dit is raar vir enige koerant waar ter wêreld ook al, hetsy in die VSA of Brittanje, hetsy op die Vasteland van Europa, om boeke in ‘n ander taal te resenseer. Toe André Brink ‘n dekade of twee gelede boekeredakteur van Rapport was, het hy in weerwil van sy liberale politiek wat hom trouens vyandig gestel het teenoor enige vorm van Afrikaner-nasionalisme, nooit sover my wete strek Engelse boeke aan sy Afrikaanse lesers opgedring nie.

Deesdae sit ons met die absurditeit van Afrikaners wat Engels maar redelik sleg praat en skryf soos Max du Preez en Antjie Krog wat boeke in Engels publiseer en dan hul politiek korrekte publikasies met groot fanfare in die Afrikaanse pers aankondig! Waarom gaan fliklooi hulle nie liewers by die Engelse nie, Engelse soos die dame van Business Day wat maak asof Afrikaans en die Afrikaanse boek in hierdie land nie bestaan nie?

My eie optimisme, of dan liewer naïwiteit van ‘n ruk gelede toe ek gedink het die bruin en wit sprekers van Afrikaans gaan mekaar nog vind in een of ander gedeelde taalidentiteit, is vir my doeltreffend gekelder deur Kirby van der Merwe se felle anti-Afrikaner-ressentiment. Hy belaster Afrikaners kollektief deur sy verwysing na “die ou Nazistiese, rassistiese loot” asof ons, anders as die Engelse of swartes in dié land tydens die negentiende eeu, al ooit ‘n volksmoord op ander gepleeg het.

Van der Merwe vra neerhalend – en retories – wat die jongste definisie van “die Afrikaner” sou wees, waarmee hy impliseer dat ons nie bestaan nie. Soos Koos Malan eens aan Harald Pakendorf gesê het ná ‘n soortgelyke stelling, “Harald, jy kwets my,” vind ek hierdie ontkenning van Afrikanerskap kwetsend, xenofobies en selfs rassisties. Enige Engelse, Franse, Duitse of Nederlandse woordeboek sal vir Kirby van der Merwe ‘n definisie gee oor wat presies ‘n Afrikaner is, en toevallig het Hermann Giliomee enkele maande gelede ‘n lywige “biografie” van die Afrikanervolk gepubliseer, nogal in Engels indien daar enige twyfel bestaan oor wie en wat Afrikaners verteenwoordig.

Van der Merwe se absurde hoop dat Afrikaans maar vernietig mag word in een of ander revolusionêre katarsis om “van nuuts af te ontkiem” vind ek Pol Pot-agtig. Dit is nog ‘n blyk dat hy onbewus is van een van ons mooiste romans, Die jaar nul deur Piet Haasbroek, waarin die vernietigende waansin van sulke teleologiese denke in meesleurende Afrikaans gestalte kry.

Daar sal geen natuurlike dood of “jaar nul” in Afrikaans wees nie. Dalk onder die bruin sprekers van Afrikaans, want aan die Witwatersrand het mnr. Ignatius Jacobs al die voormalige bruin skole verengels, en sodoende die HNP ‘n guns bewys deur van Afrikaans noord van die Oranjerivier ‘n meer blanke en eurosentriese taal te maak as Vlaams of Duits. Miskien moet mnr. Van der Merwe eerder sy klagtes aan die Gautengse LUR vir Onderwys rig?

Verder spyt dit my om te verneem dat hy blykbaar onder apartheid gely het. Ek dink hy behoort die lyding wat hy ervaar het in groter besonderhede openbaar te maak. Was hy in die gevangenis soos Breyten Breytenbach of in aanhouding soos Steve Biko? Gelukkig lyk dit asof hy dié beproewing oorleef het. Bestaan daar enige liggaamlike letsels wat hy oorgehou het?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *