Tim du Plessis verstaan nie die rol van kulturele marxisme

Die wesentlike fout wat Tim du Plessis in sy Rapportrubriek maak, is om te dink dit gaan oor Zuma se persoonlikheid of Zuma die individu. Jare gelede het John Simpson van die BBC vir my gesê daar is net een fout met Zimbabwe, en dis dat Mugabe ‘n psigopaat is.

Maar wat van kultuur en ideologie? Toe die ANC/SAKP hier oorgeneem het, het almal geweet hulle het die verkeerde ideologie. Ekonomiese marxisme (marxisme-leninisme na die Sowjetmodel) is toe nie regstreeks toegepas nie, maar kulturele marxisme (van die Gramsci-, Marcuse-tipe) is ingestel met transformasie, rasstellende aksie, ens. Deel van kulturele marxisme is die aftakeling van enige Westerse of Europese kultuur en die ophemeling van Afrika, Afrikanisering en Afrosentrisme. Sodoende word die bydrae van Europa, die blanke en veral natuurlik die Afrikaner as uitsluitlik negatief gekenskets en ons hoop word op oeboentoe, die terugkeer van die stamkultuur, die herstel van die swartman se waardigheid en ander faktore geplaas wat niks met die koue werklikheid van tegniese vaardighede en ekonomiese doeltreffendheid te make het nie.

Dus: al word Zuma sommer môre met Ramaphosa of wie ook al vervang, sal dit geen duit verskil aan die mislukkende stelsel maak nie. Die kultuur (Afrosentrisme) en ideologie (kulturele marxisme) gaan presies dieselfde bly. FW de Klerk en sy makkers het nie gedink voor hulle gedoen het nie: daar was geen ontleding van die ware faktore op die spel nie.

Wat nou? Ek dink dit moet begin met die bekentenis van al die polities korrektes dat hulle verkeerd was en dat daar wel ‘n kultuurbotsing in dié land bestaan. Daarsonder sal ons al op die vlak van Zimbabwe verkeer en dan gaan ons steeds moet hoor dat dit net één swartman se persoonlikheid, of aantal vroue, of die grootte van sy aftreeplekkie of gebrek aan ‘n matrieksertifikaat is wat in die pad van ‘n hele land se sukses staan. DOKTOR Blade Nzimande het meer as ‘n standerd vier en tussen hom en Zuma kies ek liewer Zuma, want ten minste is Zuma nie anti-Afrikaans nie.

Verder is die Afrikaner se enigste langtermynoplossing om privaatinstellings en ‘n alternatiewe ekonomie te ontwikkel wat geheel en al aan die staat se invloed ontkom en in jurisdiksies buite Suid-Afrika geanker is. Pleks van die SA howe te gebruik, sal ons tussen mekaar arbitrasie-ooreenkomste moet sluit wat bepaal dat ons geskille deur ons eie mense besleg sal word.

‘n Blink toekoms ís moontlik, selfs al verval die staat gaandeweg terwyl die kaders soos hiënas rondom die karkas baklei. Ons moet net ‘n begin maak en die drogredenasies oor Zuma of Mugabe se persoonlikheidstekorte agterlaat.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *