Afrikaans mag binne twee of drie geslagte uitsterf

Vrydagaand 14 Augustus (GRA-dag) het ek die onderstaande toespraak gelewer tydens ‘n debat oor die toekoms van Afrikaans wat deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gereël is. Mnre. Louis Smuts van Tabok en Cornelius Janse van Rensburg van die Vryheidsfront Plus se jeugbeweging het die saak vir die voortbestaan van Afrikaans verdedig, terwyl mnr. Henk van de Graaf van Radio Pretoria ook my pessimistiese prognose vir Afrikaans ondersteun het. Op pad na die Hervormde Kerksaal in Du Toitstraat in die middestad van Pretoria, het ons die indruk gekry dat ons vreemdelinge in die stad was. Terwyl die strate van Pretoria op ‘n Vrydagaand wemel van mense, is daar geen blankes of Afrikaners te sien nie. ‘n Mens wonder wat Paul Kruger en die oorspronklike stadsvaders daarvan sou gedink het, maar die demografiese transformasie – om ‘n gepaste term te gebruik – van Pretoria ondersteun insgelyks my argument, dat Afrikaans sonder een of ander groot poging deur Afrikaners of ‘n radikale staatkundige verandering in Suid-Afrika, bestem is om algaande te kwyn en dan uit te sterf.

Sedert Brittanje onder aanvoering van Lord Craig vir die eerste keer die Kaap in 1795 binnegeval het, het Nederlands, of dan die latere Afrikaans, byna konstant verliese van sprekers teenoor Engels getoon. Vandag bestaan daar vele mense in die land met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans magtig is nie. Hulle gaan nooit ‘n Afrikaanse boek lees nie, ‘n Afrikaanse film of TV-program kyk nie en natuurlik sal so ‘n persoon net in buitengewone omstandighede sy of haar kind na ‘n Afrikaanse skool stuur.

Van die groot aantal Afrikaner-emigrante wat sedert 1994 die land verlaat het, kan mens gerieflik sê dat slegs ‘n minderheid se kinders wat in die buiteland gebore is, nog Afrikaans praat. My beste vriend op skool – ek was aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg – se kinders verstaan geen woord Afrikaans nie, want hy is met ‘n Engelse vrou uit Natal getroud en agterna het hulle in Londen gaan woon waar hy sedertdien as advokaat praktiseer. Op een van my rare besoek aan hul woning het ek en hy oudergewoonte met mekaar Afrikaans gepraat.

“Daddy, what language is that?” het sy oudste seun in die geselskap gevra. “Dis Afrikaans,” het sy pa geantwoord.

Join the Conversation

1 Comment

  1. Geagte Doktor Roodt

    Ek is nie seker of u grondgebied argument water hou nie. Hoe sou die Khoisan mense, of ander nomadiese volkere sonder ‘n vaste grondgebied hulle tale dan oor eeue heen kon behou en oordra aan die daaropvolgende nageslagte?

    Dan net ‘n vraag van my wat vroëer vir een of ander rede oorgesien is.
    U skryf:

    “Redelik gou ná 1994 het ons agtergekom dat die politieke revolusie wat mnr. F.W. de Klerk in sy wysheid ontketen het ook ‘n taalrevolusie was.”

    Was u self dan nie teen die Apartheidsbestel in u studentejare toe u op die SR van Wits, met mense soos Tony Leon en andere gedien het nie? U het duidelik ‘n hartsverandering in Frankryk, of iewers anders ondergaan. U was toe anti-apartheid, en sommige sou meen u is nou weer pro-apartheid. Apartheid natuurlik, nou in ‘n gewysigde vorm. Talle verwyt vandag nog vir S.J du Toit vir sy politieke omkeer, juis omdat dit so onverklaarbaar en vreemd voorgekom het. Wat het in u eie denke of hart gebeur, vir so ‘n verandering in u uitkyk? Hoe gebeur so iets?

    Baie dankie.

    Groete

    Frikkie Mulder

    Twee spelfoute in u bostaande geskrewe toespraak. Die woord “vaon” wat “van” moet wees, en “Afrikaakssprekende” wat “Afrikaanssprekende” moet wees.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *