Die multikulturaliteit van die Suid-Afrikaanse samelewing is een van sy aantreklike eienskappe. Nasionalisme, gegrond op die saamval van een kultuur en politieke mag, kan nie hieraan reg laat geskied nie. Pluralisme kan dit wel doen omdat dit die reg van ’n meervoudigheid van kulture en tale erken en die Jakobyne ontmasker wat in die naam van nasiebou kultuur-imperialisme beoefen om ’n nasiestaat op die samelewing af te dwing. Dit is hierdie kultuur-imperialisme kenmerkend van ’n nasiebou-mentaliteit wat daartoe lei dat die idee van minderheidsregte op die agtergrond geskuif word.
’n Gesonde besef van kulturele regte kan ’n bydrae lewer om grense te stel aan die strewe na die eenvormigheid van nasiebou. Dit is juis dié strewe na eenvormigheid wat ’n grondslag vir groepskonflik lê. Die afwys van die nasionalistiese strewe, wat verkeerdelik meen dat nasieskap die enigste grondslag vir gedeelte lojaliteit is, beteken nie die afwys van lojaliteit nie. Dit gaan juis om ’n lojaliteit wat met ’n haalbare doel op ’n gesonde basis berus.
As ons ons van dié nasiebegrip bevry en die demokrasie aanvaar, is dit moontlik om lojaliteit op ’n ander manier te fundeer. Lojaliteit in ’n multikulturele samelewing word gegrond op ’n konstitusie waaroor gesamentlik besluit is. Terselfdertyd kan die burgers van die land ’n lojaliteit voel teenoor ’n bepaalde kultuur, taal en religie sonder om daarvoor nasionalistiese eise te stel. Dit is juis vir multikulturele situasies soos Suid-Afrika waar die pluraliteit van kulture nie weggewens kan word en ook nie vernietig behoort te word nie, dat die politiek van konstitusionele patriotisme ontwerp is.
Patriotisme het die groot voordeel dat dit op ’n redelike konstitusie gegrond is en nie op die nasionalistiese mite van die algemene wil van die volk nie. Daar is verskillende skrywers wat die nadeel van nasiebou, veral in Afrika, aan die orde stel.
Basil Davidson praat in The Black Man’s Burden, Africa and the Curse of the Nation-State van die vloek van die nasiestaat.
Genl. Olusegun Obasanjo van Nigerië verwys só na die probleme in sy land: “We have squandered almost 30 years with ineffective nation-building efforts. It is high time to cast solid foundations for the legitimacy of our political systems.”
Die enkele grootste bedreiging in demokratiese ontwikkeling is etniese klowe (“ethnic cleavages”), aldus van prof Diamond van Stanford Universiteit. Selfs in Amerika wat ‘n gevoderde demokrasie is, bly dit ‘n ernstige probleem. Hier in suid-Afrika met ‘n uiterse komplekse multikulturele divisiteit is nasiebou onmoontlik gegewe die feit dat die meerderheid van Suid-Afrikaners nie ontwikkel is nie, en leiers wie hulle uiteraard sal kies om hulle polities te lei nie sulke kompleksiteit verstaan nie, wat nog van dit te bestuur.