Jansen sien nie SA patologie raak

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Woensdag 25 November 2009 5:18 pm

 Powered by Max Banner Ads 

PRAAG-KOERANT

Jansen praat in ‘n Beeld-rubriek van “…vier seuns wat verskriklike dade gepleeg het”. Is enigiemand beseer? Die “slagoffers” het dit alles met glimlagte deurstaan en het vrywillig aan die ritueel deelgeneem.
Indien die Reitz-vier “verskriklike dade” gepleeg het, wonder ek wat pleeg die moordenaars, verkragters en rowers wat elke dag ‘n skrikbewind in ons land voer.

Terwyl Jansen hom kwel oor die “afwyking” van die Reitz-studente, gaan die groter en intenser patologie van Suid-Afrika, die sadistiese moordlus wat botvier in plaasmoorde en huisaanvalle by hom verby.
Maar nou ja, wat meer kan ons van die man verwag? Is hy nie maar net nog ‘n “kwotaspeler” in die akademie, nog ‘n RA-aanstelling met ‘n mindere intellek en ‘n groot swart kar nie?

Die Berlynse muur het nie vir ons geval nie

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Sondag 8 November 2009 10:57 am

Tans word die ineenstorting van die Berlynse muur wêreldwyd gevier. Ongeveer ‘n maand voor daardie gebeurtenis twintig jaar gelede was ek in Berlyn waar die “skandmuur” soos die Wes-Duitsers dit genoem het, nog in al sy glorie gestaan het. Ons Wes-Berlynse vriende het aan ons verduidelik dat die kommunistiese regering in Oos-Duitsland dit ‘n “anti-fascistiese beskermingsmuur” genoem het.

Deur wagte met masjiengewere op die muur te plaas wat skiet op enigeen wat sou probeer om daaroor te ontsnap, is die destydse Oos-Duitse bevolking teen “die fascisme” beskerm. Hierdie logika is eie aan kommunisme, want in ‘n kommunistiese stelsel is dit die leierskap, die party en uiteindelik die politburo wat die beste weet wat vir die bevolking goed is.

Suid-Afrika, afgesien van Kuba, Noord-Korea en China, is die enigste land ter wêreld waar daar tans ‘n Kommunistiese party in die regering verteenwoordig is. Die ANC-bewind se leiers spreek mekaar as “kameraad” – oftewel “comrade” – aan.

Ek dink ‘n mens kan met taamlike vrymoedigheid sê dat die huidige Suid-Afrikaanse leierskap, in die vorm van die politici, joernaliste en akademici, kwalik in 1989 verheug was toe die Oos-Berlyners oor die Glienickebrug gestorm en die muur stuk vir stuk begin afbreek het. Nóg Nelson Mandela, nóg Joe Slovo of enige ander leier van die ANC-SAKP, het dit destyds as ‘n positiewe verwikkeling gesien. Jakes Gerwel, die pas afgedankte voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ‘n direkteur van Nasionale Pers, het blykbaar in trane uitgebars toe hy die skouspel in Berlyn op die televisie gadegeslaan het.

Terwyl die Afrikanergeskiedenis en apartheid vandag in die publikasies en op die TV-kanale van Naspers verguis word, is daar nog nooit enige inligting oor die 100 miljoen mense wat deur kommunisme gedood is, gepubliseer nie. Die Franse skrywers Stéphane Courtois en Nicolas Werth het “Die swart boek van kommunisme” geredigeer waarin die verskriklike misdade wat in die naam van die rooi ideologie geplees is, in besonderhede vermeld word. In vele kommunistiese lande is hele groepe mense in volksmoorde vermoor en in massagrafte begrawe. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Russiese kommuniste feitlik die hele Poolse elite uitgemoor en in massagrafte in die Katynwoud begrawe, waarna hulle die skuld jare lank op die Duitse Nazi’s geplak het. Eers in die tyd van Boris Jeltsin het Rusland formeel erken dat hulle destyds vir dié massamoord verantwoordelik was en nie die Duitsers nie.

Maar Nasionale Pers met ekstreem-linkse direkteure soos Jakes Gerwel en Hein Willemse is nie die enigste plaaslike mediagroep wat nostalgies en ongemaklik oor die heengaan van kommunisme voel nie. In vandag se Sunday Times, wat deur die Avusa-swartbemagtigingsgroep uitgegee word, verklaar die redakteur, Mondli Makanya: “Maar met die ineenstorting van kommunisme het die wêreld ook iets goeds verloor. In die triomf oor kommunisme, het ons as mense die baba met die badwater uitgegooi…”

Suid-Afrikaanse – ook Afrikaanse – universiteite word vandag deur ‘n geswore kommunis, Blade Nzimande, beheer. Hy is die minister van sogenaamde hoër onderwys wat geen akademiese vryheid of outonomie duld nie. As die universiteite nie na sy pype dans nie, is hy gou om die sweep in te lê. Nie dat die universiteite hierteen beswaar het nie, want hulle is maar te gretig om die kommunistiese ideale van gelykheid en kollektiewe denke op die kampusse toe te pas, soos onlangs ook by Kovsies gesien is. Aan die universiteit van Stellenbosch is ‘n eredoktorsgraad aan die eertydse ondergrondse leier van die Kommunisteparty, Bram Fischer, toegeken. Die nuwe rektor van die Vrystaatse universiteit, prof. Jonathan Jansen, het Bram Fischer insgelyks as “die grootste Kovsie van alle tye” beskryf.

Terwyl die kommunistiese staat deur ‘n geslote elite of nomenklatura oorheers word, skep die stelsel ook ‘n massamens, ‘n tropmens wat nie tot eie denke in staat is nie en bloot die stroom volg. In sy roman Animal Farm het die Britse skrywer George Orwell hierdie stelsel gesatiriseer en die toepassing van die gelykheidsideaal opgesom met die woorde: “Sommige diere is meer gelyk as ander.” In ons land sanik die ANC en SAKP gedurig oor “die armes”, terwyl hulle self in weelde leef, met duur motors en rykmanswonings.

As student aan die universiteit van die Witwatersrand in die apartheidsjare is ek destyds deur die kommunistiese mentaliteit getraumatiseer. In my tweede jaar het ‘n medestudent aan my verduidelik dat, om die vak Staatsleer te slaag, ek nasionalisme moes verguis, liberalisme moes kritiseer en pro-Marx moes skryf, hoewel ons “opbouende kritiek” oor die Sowjetunie kon lewer. Vele van die studente wat destyds in die laat sewentigerjare die stroom gevolg en hul lewenslank tot kommunisme bekeer het, beklee vandag hoë posisies in die ANC-SAKP-regering. Iemand soos Barbara Hogan, die minister van gesondheid byvoorbeeld, wat tans insgelyks deur Nasionale Pers as ‘n bekwame minister opgehemel word. Is Hogan steeds ‘n oortuigde kommunis soos sy destyds op die kampus was? Waarskynlik ja.

Anders as die Oos-Duitse, die Russiese, Poolse, Tsjeggiese en ander dissidente wat die simboliese ineenstorting van ‘n ideologie met die afbreek van die Berlynse muur kon aanskou, het ons Afrikanerdissidente maar sleg daarvan afgekom. Onder die ou stelsel het die Broederbond en die Nasionale Party al hoe meer outoritêr begin handel en is kritiek, soos vandag, kwalik geduld. Hoewel – verstout ek my om te sê – onder apartheid het ons veel meer spraak- en akademiese vryheid as nou gehad. Onder apartheid kon jy by Wits of Kaapstad ‘n kommunis wees en die Rand Daily Mail het elke dag die NP-regering verguis. Vandag mag jy egter nie eens op ‘n Afrikaanse kampus ‘n Afrikaner wees nie en dis slegs op die internet, wat nie onder Blade Nzimande of Jakes Gerwel se beheer staan nie, waar ons indringende kritiek op dié korrupte, onbekwame bewind mag lewer.

Die Broederbond en die NP het op velerlei maniere verraad gepleeg. Daar was egter ook intellektuele verraad, want hulle het die Marxistiese siening van ons geskiedenis aanvaar en vandag word dit as die gekanoniseerde waarheid aan ons voorgehou. Op skool het ek destyds teen die stiksienigheid en benepenheid van die destydse Broederbondbeheerde stelsel gerebelleer, net om aan ‘n Engelse universiteit met die kommunistiese eenvormigheid van denke gekonfronteer te word. As iemand in die jare voor 1989 aan my sou sê dat die Broederbond en die NP hulle eendag tot kommunisme gaan bekeer en saam met die ANC sou werk om die Afrikaners te verdruk, sou ek seker gedink het so ‘n persoon is reg vir die groendakkies. Maar dis presies wat gebeur het. Soveel Broeders aan die universiteite, in die NP en in die media het gelinksomkeer en verkondig vandag die nuwe (rooi) evangelie met groter gemak as wat hulle destyds die gemeenplase van uitrafelende Afrikanernasionalisme herhaal het.

Ons as jeug is destyds vertel: wees Afrikaans, wees trots op jou geskiedenis, jou taal en kultuur. Maar ons vaders van destyds, die Broeders in beheer, het dit nooit self geglo nie. Vandag is ons, soos Pim Fortuyn so mooi in sy boek De verweesde samenleving verduidelik het, wees gelaat. Ons is die enigste geslag sedert die dae van die Boererepublieke wat die voorreg gesmaak het om Afrikaans te kon grootword, maar skielik is dit van ons weggeneem en moet ons by ‘n totalitêre stelsel aanpas waar ons op die Marxistiese model tot “nuwe mense” omvorm en getransformeer gaan word.

Is ek dus verkeerd as ek sê dat die Berlynse muur in ons land nooit geval het nie? Daar is geen fisieke muur nie, maar die kommunistiese mentaliteit is steen vir steen opgebou. Die mentaliteit van: “Ons het die waarheid in pag.” Of: “Bly stil, jy wat uit jou beurt uit praat of kla, en dien Ons Groot Toekomsplan.” In die plek van klassegelykheid het die ideaal van die multikulturele, sogenaamde “nierassige” samelewing gekom en dít durf niemand bevraagteken nie. Anders is jy ‘n ketter, ‘n rassis en ‘n “vyand van die staat” soos hulle in die Sowjetunie gesê het en reg vir heropvoeding in ‘n Siberiese strafkamp.

Inderdaad het ons dié November, twintig jaar ná ‘n gebeurtenis wat Europa en die wêreld verander het, niks om te vier nie. Gaan gerus uit op straat en kyk rondom u: daar is baie mure in Suid-Afrika en elke dag word nuwes gebou.

Ras en taal volgens prof. Jansen

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 8 September 2009 7:21 pm

Prof. Jonathan Jansen, wie se omstrede uitlatings dat hy nie na “kak oor kultuurverskille” gaan luister nie en Kovsies summier gaan transformeer onlangs in die nuus was, het reeds in 2005 by die Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch sy anti-Afrikaner-houding op ‘n kenmerkend vulgêre manier getoon. Onderstaande rubriek deur Dan Roodt het kort ná die Afrikaanse Taalberaad op die Praagwebwerf verskyn.

Die swak beriggewing in die hoofstroompers oor verlede week se Taalberaad op Stellenbosch het soos gewoonlik ‘n skewe beeld gegee van wat daar werklik gebeur het. Dit was drie dae van verskeie laagtepunte met weinig hoogtepunte. Uiteindelik het die beraad onverrigter sake geëindig, met slegs die vae belofte van ‘n tweede beraad aanstaande jaar sonder enige wesentlike aksieplan.

Een rede waarom daar geen konsensus bereik kon word nie, was die teenwoordigheid van ‘n aantal bruin intellektuele soos drs. Christa van Louw, Neville Alexander en prof. Jonathan Jansen van die UP. Van Louw het op die laaste dag ‘n vloermoer gegooi uit vrees dat sy nie langer voorsitster sou wees van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans nie, terwyl Jansen op dag een aanbeveel het dat ek “seksuele omgang met ‘n swart persoon behoort te hê sodat ek kan regkom”.

Wat hierdie soort vulgêre uitlatings met ‘n bespreking oor die Afrikaanse taal te make het, weet nugter. Maar dit is kennelik die vlak waartoe regstellende aksie-akademici aan Afrikaanse universiteite deesdae besig is om te daal. Trouens, die aand ná die fameuse onderonsie tussen my en Jansen, het ek in prof. Christa van Louw van die US en prof. Hein Willemse van die UP vasgeloop en sy het Jansen se uitspraak smalend teenoor Willemse herhaal, en nog iets bygevoeg in die trant van, “maar hy moenie slaap nie, hy moet wakker bly.”

Wat Jansen veral omgekrap het, is dat ek na myself as ‘n Afrikaner verwys het. Die meeste bruin intellektuele verkeer onder die indruk dat drie miljoen Afrikaners in 1994 verdwyn het of ten minste een of ander kontrak ten gunste van hul eie ondergang onderteken het. Terwyl Jansen Woensdag sy vuige kommentaar teenoor my betuig het, het Neville Alexander reg langs my gesnou: “Die Afrikaner is ‘n lyk. Dis net jy wat nog daaraan glo omdat jy oningelig is.”

Ek moet sê dat die sogenaamde bruin intellektuele nogal ‘n bron van vermaak kan wees. Vier of vyf jaar gelede reeds het prof. Hein Willemse in ‘n internetdebat rondom die einste taalkwessie teenoor my beken dat hy swart is, maar dat swartheid vir hom geen rassekategorie is nie, maar ‘n “analitiese konsep”.

Tussen akademikaans, engfrikaans en die ANC-bargoens wat oor die afgelope tien jaar ons taal besoedel het, gaan dit maar swaar met Afrikaans. ‘n Woord wat my die horries gee, is “bemagtiging” en dit is oor en oor op die Taalberaad gebesig. As die woord bemagtiging nie deur die KGB uitgedink is nie, kom dit ten minste van Kuba of Noord-Korea.

Maar terug by die begrip “swart”, ekskuus, die analitiese konsep. Toe die Xhosas begin het om die Universiteit van Wes-Kaapland te oorstroom in die vroeë tagtigerjare onder die rektorskap van Jakes Gerwel, was al antwoord wat die bruin intellektuele kon vind om hulself insgelyks as “swart” te beskryf. Dit verklaar moontlik Jansen, wat wel baie donker van kleur is, se obsessie met swart wat naderhand so erg geraak het dat ek hom moes betig oor sy onbetaamlike rassetrots.

Byna erger as die kroeggrap-redenasies van Tukkies se dekaan van opvoedkunde, is die neo-Marxistiese taalkunde van sy blanke kollega, prof. Vic Webb. Laasgenoemde het ‘n pleidooi gelewer dat die Afrikaner alles moet aanvaar wat die ANC-regering op hom afdwing. Benewens sy neo-Marxisme en die feit dat hy sy grys haardos in ‘n poniestert vasbind, vermeld die Taaloudit wat voor die beraad uitgedeel is dat “kruisbestuiwing met Indië” een van Webb se navorsingsareas is.

Twee weke gelede het ek reeds verwys na dr. Gerrit Brand as ‘n akademiese hanswors. Vergeleke met Jonathan Jansen, Hein Willemse en Vic Webb kan ‘n mens hom amper ernstig opneem. Die ironie van die saak is natuurlik dat hierdie kreature wat uit die UP se sirkus onsnap het, deur Naspers opgehemel word as die profete van ons tyd.

Volgens Rapport het ek vir “vermaak” op die Taalberaad gesorg. Veel eerder het ek die rol van narretemmer gespeel, want vermaak was daar genoeg sonder dat ek daartoe hoef by te dra. Benewens prof. Jonathan Jansen se seksuele fantasieë – hy het behoorlik begin kwyl toe hy die gehoor vertel het van sy pogings om die blanke skoolmeisies van Pretoria Girls High te breinspoel om van taal- en rasse-segregasie ontslae te raak deur minnaars uit ‘n ander etniese kategorie te neem – was daar die bespreking oor Afrikaans en die media waaroor hieronder meer.

Terloops, ‘n mens wonder hoeveel ouers van dogters by Pretoriase meisieskole daarvan bewus is dat ‘n swart Humbert Humbert die blanke Lolitas bekruip en hulle boonop toespreek by skoolbyeenkomste. (Vir my lesers wat nie weet nie, het Wladimir Nobokof ‘n roman oor ‘n middeljarige man se verhouding met ‘n dertienjarige meisie genaamd Lolita geskryf, iets wat in die vroeë sestigerjare ‘n skandaal veroorsaak het.)

Hier gaan dit egter nie om fiksie nie, maar om die werklikheid. Is prof. Jansen se invloed op ons jeug in die vorm van seksuele innuendo en rasse-ideologie heilsaam? Behoort Tukkies so ‘n man aan te hou as opvoedkundige dekaan? Wat kan ons van hom leer in verband met die handhawing van Afrikaans?

Dat ras, taal en seks egter ‘n gewilde tema by die Taalberaad was, is gewis. Onder andere het mnr. Theo Erasmus van die betaalkanaal KykNET ‘n beleidstuk versprei waarin die volgende vermeld word: “Die kanaal mag nooit gesien word as een wat eksklusief op ‘n wit mark gerig is nie. Die persentasie bruin mense wat DStv besit en dus toegang tot KykNET het, is bitter klein, maar die kanaal moet ook toekomstige gehore teiken – nie net in sy eie belang nie, maar in belang van Afrikaans.”

Die enigste afleiding wat ‘n mens hieruit kan maak, is dat KykNET nie van sy huidige kykerspubliek – blanke Afrikaners – hou nie. Daar is min sakeondernemings ter wêreld wat soveel minagting teenoor hul eie kliënte koester soos KykNET.

Dié beleidstuk is versprei tydens die sessie wat gewy is aan Afrikaans en die media. Onder andere is Magdaleen Kruger deur die digteres Lina Spies ingevlieg oor die swak taalgebruik op Radio Sonder Grense, oftewel Radio Sonder Mense. Ook Tim du Plessis van Rapport moes erg deurloop oor sy redaksionele beleid wat neerkom op ANC-sikofansie en Afrikaner-verguising.

Ná so ‘n Taalberaad voel mens dat jy jou pêrels voor die swyne gewerp het. Afrikaans baat kwalik by besprekings waar rassepropaganda die botoon bo taalkundige kwessies voer.