Die reg op selfbeskikking (en grondgebied) kom ons toe

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Donderdag 14 Januarie 2010 10:27 pm

 Powered by Max Banner Ads 

PRAAG-KOERANT

Beste Ilze,

In antwoord op jou ope brief:

Soms kry ‘n mens die indruk dat jy vir die bekeerdes preek, want die meeste Afrikaners wat ek deesdae teëkom, stem met my saam dat die land tans in ‘n erge toestand verkeer, dat ons regte vertrap word en dat ons iets daaraan moet doen. Selfs mense soos FW de Klerk en Pik Botha wat deel van die NP-span was wat in 1994 in hul wysheid alle mag – waaronder beheer oor die weermag en polisie – aan die ANC oorgedra het, meen deesdae dat hulle nie so “maklik moes ingegee het nie” en dat die hele ding dalk anders kon verloop het.

Ook jy vermeld, nogal eufemisties, in jou ope brief: “Ja, daar is probleme.” Maar dan doen jy aan die hand dat “ONS” (nogal met hoofletters) as’t ware die rol van die staat – “hulle” staat, maar wat ons in ‘n groot mate befonds – oorneem. Dan slaan jy oor in ‘n soort sendelingywer, soos Madonna of wafferse Hollywoodster wat bietjie liefdadigheidswerk in Afrika wil gaan doen, deur te sê: “Elke gesin in hierdie land wat oorvloed het, moet iemand (of ‘n gesin) help sodat die maatskaplike las nie so swaar druk op die regering nie.”

Marx en Engels het mos in hul Kommunistiese manifes geskryf: “Van elkeen volgens sy vermoë na elkeen volgens sy behoefte.” Nelson Mandela het in die vroeë sestigerjare insgelyks dié beginsel beaam in sy pamflet How to be a good communist. Wat jy bepleit, is dus ‘n soort vrywillige sosialisme of kommunisme waar ons as’t ware ons middele saamgooi “om die armes te help”. Ook Marida Fitzpatrick van Beeld het op ‘n stadium geskryf sy gaan nou swart babas help grootmaak by ‘n kinderhuis iewers aan die Oos-Rand. Ongewenste swart babas wat deur hul ouers verwerp word en as weeskinders opeindig wat deur die staat, die kerke of “ONS” versorg moet word.

Hierdie kwessie van armoede en swart weeskinders interesseer my ook. Ek het ‘n swart vriend Meshack Mabogoane wat van mening is dat die ANC se stelsel van kindertoelaes “meer armoede en verontmensliking veroorsaak as enigiets wat onder apartheid gegeld het”.

Jy klink na ‘n baie morele, Christelike mens wat vir my ‘n sedeles wil leer oor rassisme en sonde. Maar wat van die hierdie hele, baie sondige, bestel, wat juis weggooibabas by die duisende produseer omdat jong meisies van dertien, veertien jaar oud kindertoelaes betaal word? In die praktyk kom dit daarop neer dat meerderjarige swart mans hierdie meisies statutêr verkrag om hulle swanger te maak ter wille van ‘n kindertoelaag wat deur die staat in sy sosialistiese/kommunistiese waansin uitgedeel word. Meshack Mabogoane tipeer dit as ‘n “misdaad teen die mensdom” wat besig is om die land plaas te vind.

In die Bybel staan daar mos dat dit ons plig is om die sonde te beveg. Maar wat jy beoog, is nie om hierdie bose, sedelose, korrupte bestel te verander of ten minste daaruit pad te gee nie, maar om die simptome daarvan te probeer verlig deur allerlei liefdadigheidsaksies of vrywillige werk om hierdie bose staat se bose beleid wat net tot geweld en ellende lei, op een of ander manier te verlig en te onderskraag.

Die ANC se kiesers, hulle wat al om die vyf jaar kriminele instem soos Winnie Mandela en die honderde ander wat hulle aan bedrog teen hul eie parlement tydens die sogenaamde reisskandaal skuldig gemaak het, verkies – so lyk dit my – hierdie geweld, korrupsie en ellende waarvan ons elke dag in die koerante en op die internet lees.

Deel van hierdie ANC-program wat deur die sogenaamde meerderheid in elke verkiesing ondersteun word, is die onderdrukking van die minderheid, veral die Afrikanerminderheid en sy taal, identiteit en fundamentele regte wat deur internasionale konvensies verseker word. Waar is ons regte op moedertaalonderrig, billike regspleging, beskerming teen die geweldselemente, asook ons reg om gelyk behandel te word as dit by opvoeding en ekonomiese kanse kom? Om elke hoek en draai word daar teen ons gediskrimineer of word ons as intellektuele slawe uitgebuit wat die werk doen terwyl ander die erkenning – en die inkomste – daarvoor geniet.

Ná alles, afgesien van ‘n paar liefdadigheidsaksies waarvoor jy miskien die tyd en die geld het – baie ander het dit nie – wat is jou oplossing vir ons probleem? Soos iemand dit onlangs gestel het: “As jy weet die Titanic is besig om te sink, gaan jy in die reddingsboot klim of nie?”

Jy beskryf jouself as ‘n “Suid-Afrikaner”. Indien jy kan identifiseer met dit wat Suid-Afrika geword het, ‘n rampokkerparadys met ‘n kultuur van grypsug en vername politici of sogenaamde “bemagtigdes” in swart voertuie wat die res van die pad afdruk, openbare fondse bestee asof dit aan bome groei, dan is dit jou goeie reg. Maar gun ons ander, wat verskrik en verbyster staan voor die hel en aakligheid van hierdie “nuwe” Suid-Afrika, om ‘n ander pad – ‘n uitweg uit die doodloopstraat – te kies.

As dit kom by die Afrikaner se aansprake op grondgebied, kan ek nie sien waarom ons teenoor die ander groepe moet terugstaan nie. Weer eens, dis nie my styl om politiek met Bybelversies te meng nie, maar as jy so hoog opgee oor jou Christelike beginsels, wat het geword van die gelykenis van die talente? Die slaaf wat vyf talente ontvang het, het daarmee gewoeker en nog vyf verdien. Maar die slaaf met net een talent wat niks daarmee uitgerig het nie, aan hom sê die meester in Matteus 25:29-30: “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

As ons nou die gebiede wat deur Afrikaners in die land besit en verwerk word, vergelyk met die swart gebiede, die Transkei, die ou Republiek van Venda, asook Kwazulu, is die verskil soos dag en nag. Feitlik al die plase wat onlangs in die naam van grondhervorming aan sogenaamde “nuwe boere” oorgedra is, het insgelyks klaaglik misluk. Ook onder die ANC se munisipale bewinde waar daar riool in die riviere loop, sowel as in die see sodat die hele Natalse Suidkus ‘n rioolsloot geword het, sondig hierdie regering nie juis teen God en mens deur hierdie mooi land vir altyd te bederf nie? En is dit nie die Afrikaner se plig, as Christen, om hom teen so ‘n bestel wat God se skepping so gruwelik verwaarloos, te verset nie?

Die Bybelse perspektief egter daargelaat. Niemand – nie eens die ANC of die SAKP wat ons regtig nie goedgesind is nie – sou kon ontken dat ons inheems aan hierdie wêrelddeel is nie, al behoort ons dan nie tot die meerderheidsras met sy snelle demografiese groei nie. Wie het Pretoria gestig, vernoem en ontwikkel? Was dit die Xhosa- en Zoeloehoofmanne, wat nou daar die septer swaai, of was dit die Afrikaner? Oor vele stede, dorpe en gebiede in die land kan ons aanspraak maak as die oorspronklike inwoners wat steeds oor kaart en transport op ons plase en huise beskik!

Regoor die wêreld was daar al situasies waar kleiner volke wat deur groteres oorheers en verdruk is op hul reg op selfbeskking aanspraak gemaak het. Veral sedert 1989 is daar talle voorbeelde: die ou Joego-Slawië wat in nie minder as nege state opgebreek het nie, die Baltiese state, asook die Oos-Europese lande wat hulself teen Sowjet-oorheersing uitgespreek het en afgestig het.

Die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte maak in sy eerste artikel voorsiening vir die reg op selfbeskikking:

“All peoples have the rights of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development.”

Van hier af aan behoort dit net te gaan oor die toepassing van hierdie beginsel. Daar is hoegenaamd niks in hierdie bestel waarmee Afrikaners kan identifiseer nie; vandaar die opsie wat ons nou uitoefen. Die enigste vraag wat oorbly, is waar die volkstaat is. Maar dit is presies waaroor die debat nou gaan en waaroor dit in 1994 ook moes gegaan het: watter deel van die land kom ons toe? Indien daar besware bestaan teen die gedeelte wat ons vir onsself opeis, wil ek graag hoor watter ander volke aanspraak op daardie gebied maak en op grond van watter dokumentasie sodanige aanspraak geskied.

Al wat van Suid-Afrika oorbly, is ‘n leë dop. Om te sê dat Brittanje dit in 1902 verower het en dat daardie veroweringsreg nou aan die ANC oordra – sodat daar vir ons geen grondgebied oorbly nie – is absurd, om die minste te sê.

Ons is ook moeg daarvoor dat, sodra ons op ons regte aanspraak maak, daar vir ons gesê word om Australië toe te emigreer. Die volgende persoon wat dit vir my sê, gaan ek vra om eerder Zimbabwe toe te emigreer.

Het die hele swart elite van die land, wat op 27 April 2004 by die Uniegebou in Pretoria versamel was, nie juis vir Mugabe toegejuig nie? Daarom is dit seker nie onbillik om van diegene wat ons Australië toe wil jaag te verlang om Zimbabwe toe te gaan nie.
Wat jou beskuldigings van rassisme betref, kan ek seker dieselfde afleidings oor jou maak. Immers impliseer jou voornemens om swartmense te gaan “help” dat hulle so hulpeloos is dat hulle nie hulself kan help nie.

Sedert ek ‘n student was, hoor ek ook al jare dat ‘n mens nie Afrikane met Westerse maatstawwe mag oordeel nie, omdat dit insgelyks “rassisties” is. Max du Preez is een van diegene wat meen dat die stamstelsel met sy bygeloof en bestaansboerdery wat ons voorouers hier aangetref het eintlik ‘n groot beskawing was wat ons s’n in baie opsigte oortref het.

Wanneer jy dus van die “probleme” in die land praat, gebruik jy eintlik ‘n Westerse en blanke oordeel. Die ANC en seker die meeste van die party se ondersteuners voel glad nie so nie en meen dat alles wat ons vandag ervaar ‘n groot verbetering op die ou stelsel was. Hulle sien glad nie die “probleme” raak wat jy vanuit jou wit, “rassistiese” perspektief eien nie.

Eintlik is ek en jy dus in dieselfde bootjie. Of liewer, in my geval is dit ‘n reddingsbootjie en in jou geval verkies jy om op die sinkende skip van die NSA aan te bly. Maar toemaar, die dag sal kom dat jy ook sal insien dat daar geen salf aan hierdie mislukte staat te smeer is nie.

As jy nie intussen vermoor is deur Suid-Afrika se troppe swerwende geweldenaars nie, sal daar wel vir jou in ons veilige, vooruitstrewende volkstaat plek wees.

Die Berlynse muur het nie vir ons geval nie

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Sondag 8 November 2009 10:57 am

Tans word die ineenstorting van die Berlynse muur wêreldwyd gevier. Ongeveer ‘n maand voor daardie gebeurtenis twintig jaar gelede was ek in Berlyn waar die “skandmuur” soos die Wes-Duitsers dit genoem het, nog in al sy glorie gestaan het. Ons Wes-Berlynse vriende het aan ons verduidelik dat die kommunistiese regering in Oos-Duitsland dit ‘n “anti-fascistiese beskermingsmuur” genoem het.

Deur wagte met masjiengewere op die muur te plaas wat skiet op enigeen wat sou probeer om daaroor te ontsnap, is die destydse Oos-Duitse bevolking teen “die fascisme” beskerm. Hierdie logika is eie aan kommunisme, want in ‘n kommunistiese stelsel is dit die leierskap, die party en uiteindelik die politburo wat die beste weet wat vir die bevolking goed is.

Suid-Afrika, afgesien van Kuba, Noord-Korea en China, is die enigste land ter wêreld waar daar tans ‘n Kommunistiese party in die regering verteenwoordig is. Die ANC-bewind se leiers spreek mekaar as “kameraad” – oftewel “comrade” – aan.

Ek dink ‘n mens kan met taamlike vrymoedigheid sê dat die huidige Suid-Afrikaanse leierskap, in die vorm van die politici, joernaliste en akademici, kwalik in 1989 verheug was toe die Oos-Berlyners oor die Glienickebrug gestorm en die muur stuk vir stuk begin afbreek het. Nóg Nelson Mandela, nóg Joe Slovo of enige ander leier van die ANC-SAKP, het dit destyds as ‘n positiewe verwikkeling gesien. Jakes Gerwel, die pas afgedankte voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ‘n direkteur van Nasionale Pers, het blykbaar in trane uitgebars toe hy die skouspel in Berlyn op die televisie gadegeslaan het.

Terwyl die Afrikanergeskiedenis en apartheid vandag in die publikasies en op die TV-kanale van Naspers verguis word, is daar nog nooit enige inligting oor die 100 miljoen mense wat deur kommunisme gedood is, gepubliseer nie. Die Franse skrywers Stéphane Courtois en Nicolas Werth het “Die swart boek van kommunisme” geredigeer waarin die verskriklike misdade wat in die naam van die rooi ideologie geplees is, in besonderhede vermeld word. In vele kommunistiese lande is hele groepe mense in volksmoorde vermoor en in massagrafte begrawe. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Russiese kommuniste feitlik die hele Poolse elite uitgemoor en in massagrafte in die Katynwoud begrawe, waarna hulle die skuld jare lank op die Duitse Nazi’s geplak het. Eers in die tyd van Boris Jeltsin het Rusland formeel erken dat hulle destyds vir dié massamoord verantwoordelik was en nie die Duitsers nie.

Maar Nasionale Pers met ekstreem-linkse direkteure soos Jakes Gerwel en Hein Willemse is nie die enigste plaaslike mediagroep wat nostalgies en ongemaklik oor die heengaan van kommunisme voel nie. In vandag se Sunday Times, wat deur die Avusa-swartbemagtigingsgroep uitgegee word, verklaar die redakteur, Mondli Makanya: “Maar met die ineenstorting van kommunisme het die wêreld ook iets goeds verloor. In die triomf oor kommunisme, het ons as mense die baba met die badwater uitgegooi…”

Suid-Afrikaanse – ook Afrikaanse – universiteite word vandag deur ‘n geswore kommunis, Blade Nzimande, beheer. Hy is die minister van sogenaamde hoër onderwys wat geen akademiese vryheid of outonomie duld nie. As die universiteite nie na sy pype dans nie, is hy gou om die sweep in te lê. Nie dat die universiteite hierteen beswaar het nie, want hulle is maar te gretig om die kommunistiese ideale van gelykheid en kollektiewe denke op die kampusse toe te pas, soos onlangs ook by Kovsies gesien is. Aan die universiteit van Stellenbosch is ‘n eredoktorsgraad aan die eertydse ondergrondse leier van die Kommunisteparty, Bram Fischer, toegeken. Die nuwe rektor van die Vrystaatse universiteit, prof. Jonathan Jansen, het Bram Fischer insgelyks as “die grootste Kovsie van alle tye” beskryf.

Terwyl die kommunistiese staat deur ‘n geslote elite of nomenklatura oorheers word, skep die stelsel ook ‘n massamens, ‘n tropmens wat nie tot eie denke in staat is nie en bloot die stroom volg. In sy roman Animal Farm het die Britse skrywer George Orwell hierdie stelsel gesatiriseer en die toepassing van die gelykheidsideaal opgesom met die woorde: “Sommige diere is meer gelyk as ander.” In ons land sanik die ANC en SAKP gedurig oor “die armes”, terwyl hulle self in weelde leef, met duur motors en rykmanswonings.

As student aan die universiteit van die Witwatersrand in die apartheidsjare is ek destyds deur die kommunistiese mentaliteit getraumatiseer. In my tweede jaar het ‘n medestudent aan my verduidelik dat, om die vak Staatsleer te slaag, ek nasionalisme moes verguis, liberalisme moes kritiseer en pro-Marx moes skryf, hoewel ons “opbouende kritiek” oor die Sowjetunie kon lewer. Vele van die studente wat destyds in die laat sewentigerjare die stroom gevolg en hul lewenslank tot kommunisme bekeer het, beklee vandag hoë posisies in die ANC-SAKP-regering. Iemand soos Barbara Hogan, die minister van gesondheid byvoorbeeld, wat tans insgelyks deur Nasionale Pers as ‘n bekwame minister opgehemel word. Is Hogan steeds ‘n oortuigde kommunis soos sy destyds op die kampus was? Waarskynlik ja.

Anders as die Oos-Duitse, die Russiese, Poolse, Tsjeggiese en ander dissidente wat die simboliese ineenstorting van ‘n ideologie met die afbreek van die Berlynse muur kon aanskou, het ons Afrikanerdissidente maar sleg daarvan afgekom. Onder die ou stelsel het die Broederbond en die Nasionale Party al hoe meer outoritêr begin handel en is kritiek, soos vandag, kwalik geduld. Hoewel – verstout ek my om te sê – onder apartheid het ons veel meer spraak- en akademiese vryheid as nou gehad. Onder apartheid kon jy by Wits of Kaapstad ‘n kommunis wees en die Rand Daily Mail het elke dag die NP-regering verguis. Vandag mag jy egter nie eens op ‘n Afrikaanse kampus ‘n Afrikaner wees nie en dis slegs op die internet, wat nie onder Blade Nzimande of Jakes Gerwel se beheer staan nie, waar ons indringende kritiek op dié korrupte, onbekwame bewind mag lewer.

Die Broederbond en die NP het op velerlei maniere verraad gepleeg. Daar was egter ook intellektuele verraad, want hulle het die Marxistiese siening van ons geskiedenis aanvaar en vandag word dit as die gekanoniseerde waarheid aan ons voorgehou. Op skool het ek destyds teen die stiksienigheid en benepenheid van die destydse Broederbondbeheerde stelsel gerebelleer, net om aan ‘n Engelse universiteit met die kommunistiese eenvormigheid van denke gekonfronteer te word. As iemand in die jare voor 1989 aan my sou sê dat die Broederbond en die NP hulle eendag tot kommunisme gaan bekeer en saam met die ANC sou werk om die Afrikaners te verdruk, sou ek seker gedink het so ‘n persoon is reg vir die groendakkies. Maar dis presies wat gebeur het. Soveel Broeders aan die universiteite, in die NP en in die media het gelinksomkeer en verkondig vandag die nuwe (rooi) evangelie met groter gemak as wat hulle destyds die gemeenplase van uitrafelende Afrikanernasionalisme herhaal het.

Ons as jeug is destyds vertel: wees Afrikaans, wees trots op jou geskiedenis, jou taal en kultuur. Maar ons vaders van destyds, die Broeders in beheer, het dit nooit self geglo nie. Vandag is ons, soos Pim Fortuyn so mooi in sy boek De verweesde samenleving verduidelik het, wees gelaat. Ons is die enigste geslag sedert die dae van die Boererepublieke wat die voorreg gesmaak het om Afrikaans te kon grootword, maar skielik is dit van ons weggeneem en moet ons by ‘n totalitêre stelsel aanpas waar ons op die Marxistiese model tot “nuwe mense” omvorm en getransformeer gaan word.

Is ek dus verkeerd as ek sê dat die Berlynse muur in ons land nooit geval het nie? Daar is geen fisieke muur nie, maar die kommunistiese mentaliteit is steen vir steen opgebou. Die mentaliteit van: “Ons het die waarheid in pag.” Of: “Bly stil, jy wat uit jou beurt uit praat of kla, en dien Ons Groot Toekomsplan.” In die plek van klassegelykheid het die ideaal van die multikulturele, sogenaamde “nierassige” samelewing gekom en dít durf niemand bevraagteken nie. Anders is jy ‘n ketter, ‘n rassis en ‘n “vyand van die staat” soos hulle in die Sowjetunie gesê het en reg vir heropvoeding in ‘n Siberiese strafkamp.

Inderdaad het ons dié November, twintig jaar ná ‘n gebeurtenis wat Europa en die wêreld verander het, niks om te vier nie. Gaan gerus uit op straat en kyk rondom u: daar is baie mure in Suid-Afrika en elke dag word nuwes gebou.