Afrikaner-”sagtemag” in die Lae Lande

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Dinsdag 1 Junie 2010 9:42 am

 Powered by Max Banner Ads 

Ek sit hier in die Eurostar-sneltrein van Brussel na Londen en het nou vir die eerste keer weer tyd om oor die PRAAG-toer deur Europa te berig. Ons besoek het eintlik al my verwagtinge oortref, want ná ons vriendelike ontvangs in Swede, het ‘n mens byna oorstelp gevoel met die gasvryheid en meegevoel van die Lae Lande, sowel Nederland as Vlaandere.

Oor die eeue vandat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het, het ons verhouding met die Lae Lande hoogtepunte en laagtepunte beleef. ‘n Onlangse laagtepunt was die kulturele boikot deur Nederland in die sewentiger- en tagtigjare, maar wat nie deur Vlaandere gevolg is nie.

Kort ná ons aankoms in Brussel het ek na Antwerpen vertrek vir ‘n ete aan huis van die Vlaams Belang se leier, Filip de Winter. Ek en ‘n ander groot vriend van die Afrikaners, Jared Taylor van American Renaissance, is saam deur Annick Deneve, die Vlaams Belang-leier se sekretaresse, in Brussel opgelaai en daarna na Antwerpen geneem. In die motor gesels ek en Jared land en sand oor Suid-Afrika, asook sekere raakpunte tussen ons en die Amerikaanse Suide.

Benewens die volksmoord op Afrikaners, is selfbeskikking die ander hooftema van hierdie toer. Net soos die Afrikaners met hul vele pogings tot onafhanklikheid, soos Stellaland en Goosen, asook die Boererepublieke, het die Suidelike Amerikaners telkens selfregering nagestreef, eerst teen die Britte en toe teen die Yankees, maar tydens die Amerikaanse Burgeroorlog is hulle unatuurlik finaal deur Noorde verower, net soos ons deur die Britte in 1902 verower is. Ook die ses miljoen Vlaminge, die Nederlandssprekende volk in België, is besig met hul eie demokratiese vryheidstryd om onafhanklikheid en selfbeskikking te verkry. By die partykongres van die Vlaams Belang verlede Sondag het die volgepakte saal dikwels uitgeroep: “België barst!”, met ander woorde, dat die Belgiese staat besig is om tot niet te gaan en dat Vlaandere uiteindelik volle onafhanklikheid en ‘n staat sal verkry.

‘n Mens eet heerlik in België en die dinee by De Winter is uit die boonste rakke, met ‘n gehuurde sjef wat allerlei geregte vanuit De Winter se kombuis optoewer, vyf of ses gange as ‘n mens die kaas ná die hoofgereg insluit.

Eintlik is dit ‘n fondsinsamelingsdinee en die twintigtal mense bestaan meesal uit Antwerpse sakemanne wat die Vlaams Belang finansieel ondersteun. Aan tafel praat ek Afrikaans en al die Vlaminge volg my gemaklik. Ttrouens, ‘n gewaarwording wat al hoe sterker by my inslag gevind het, is dat ons taal, Afrikaans, ‘n mens eintlik toegang tot die hele Noord-Europa gee. Die Lae Lande, natuurlik, waar ons geredelik verstaan word, maar ook Duitsland, Switserland en die Skandinawiese lande waar ons met geringe moeite daardie tale kan aanleer, danksy ons taal se ooreenkomste wat woordeskat, sintaksis en selfs uitspraak betref.

Ek dink nie die meeste Afrikaners besef in watter mate ons Afrikaanse kultuur, soos ons volksliedjies en letterkunde, eintlik deel vorm van byvoorbeeld die Vlaamse kultuur nie. Op skool leer die meeste Vlaminge ons volksliedjies en kry ook blootstelling aan die Afrikaanse poësie. Een van die dames aan my tafel verduidelik hoe sy vir ‘n vriendin ‘n mooi gedig oor moederskap moes voordra en niks gepas in Nederlands kon vind nie. Daarna het sy op ‘n gedig van Elisabeth Eybers afgekom en dit het groot byval gevind.

Die aantreklikheid van Afrikanerkultuur vir sowel die Vlaminge as die Hollanders verteenwoordig ‘n soort “sagte mag” wat ons steeds uitstraal, in weerwil van ons huidige staatloosheid en oorheersing deur die ANC se swart rassiste. Hunington het mos gepraat van “harde en sagte mag” en het Amerika se popkultuur van Hollywood, Coca-Cola, McDonald en Levi-denims as deel van die land se “sagte mag” getipeer.

Twee dae ná die dinee by De Winter, sit ek in die Schiller-kafee op die Rembrandtplein in Amsterdam en vra ‘n Nederlandse joernalis van die koerant “De Pers” die vraag aan my: “Hoe sou jy die Afrikanerkultuur beskryf?” In 2006 het ek by die American Renaissance-kongres in Washington die frase, “Beethoven in die Bosveld” gebruik en ek herhaal dit teenoor hom. Dis nie dat alle Afrikaners Beethoven op die klavier of die viool speel nie, maar daardie kombinasie van Hoog-Europese gekultiveerdheid, geletterheid en finesse met die viriele jag- en pionierskultuur, is wat die Afrikaner ‘n unieke wese op hierdie planeet maak.

Meer oor ons besoek aan Amsterdam egter later. Ná die gesprek oor Elisabeth Eybers en die voortreflikheid van die Afrikaanse poësie met die welgeklede, welvarende Vlaminge aan tafel, versoek De Winter vir my en Jared Taylor om elkeen ‘n kort toespraak iewers tussen die hoofgereg en die kaas te maak, hy in Engels, ek in Afrikaans. In my kort praatjie verwys ek na ons swaarkry onder die juk van die ANC, maar ook na ons gemeenskaplike vryheidstryd om onafhanklikheid en vryheid te verkry. Ten slotte kwoteer ek die bekende woorde van I.D. du Plessis:

“Nee, soet is die stryd vir die stryder,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor.

Die Vlaminge klap warm hande vir my enkele onvoorbereide woorde. Iemand komplimenteer my later selfs op my “grandiose toespraak”. In sy Engelse toespraak meen Jared Taylor dat hy my beny dat ek in ‘n taal wat so naby aan dié van die Vlaminge is myself verstaanbaar kon maak. Volgens hom stry ons almal, PRAAG, American Renaissance en die Vlaams Belang, dieselfde stryd ten behoud van die Westerse beskawing. Hoewel die proses van aftakeling by ons in ‘n veel meer gevorderde stadium verkeer, is ons problematiek van kultuurbotsing, asook rasse- en etniese verskille, deesdae die universele kwessies van die hele Westerse wêreld, insgelyks hier in Europa. Dus het ons waarskynlik vir die eerste keer in meer as ‘n eeu die kans om nie net onsself aan die buitewêreld verstaanbaar te maak nie, maar ook op gelyke voet deel te neem aan die Europese politieke en filosofiese gesprek.

Ek sal oor die volgende paar dae nog verder berig oor ons ontvangs in Nederland, asook by die kongres van die Vlaams Belang in Antwerpen en ons kuier by die jong Afrikaneraktiviste in Londen wat die betoging voor die SA ambassade op Trafalgarplein georganiseer het.

Wat PRAAG binnekort gaan bereik, is om ‘n wêreldwye versetnetwerk te vestig wat die destydse anti-apartheidsbeweging na amateurs gaan laat lyk. Daar gaan gereelde betogings voor SA ambassades wees, skakeling met media en besluitnemers in die meeste Europese lande en selfs internasionale organisasies, alles met die uitsluitlike doel om vir ons mense outonomie en grondgebied in Suid-Afrika te verkry waar ons vry van die ANC-juk kan leef.

Binnekort die volgende aflewering wat dit betref.

PRAAG-toer skop af in Frankfurt

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 25 Mei 2010 10:23 am

Die PRAAG-toer met as tema “Volksmoord onder die dekmantel van misdaad” het vanmôre afgeskop met ons aankoms in Frankfurt. Ek sit hier in ‘n kafee in die middel van die stad en skryf gou ‘n paar woorde oor wat lesers oor die volgende paar dae te wagte kan wees.

Vanaand vlieg ons na Stockholm waar ons met politieke aktiviste en politieke partye gaan gesels. Ons is gewapen met ‘n kort Powerpoint-aanbieding, 25 eksemplare van my boek The Scourge of the ANC en ‘n CD met enkele TV-programme oor plaasmoorde en geweld daarop.

Hoewel al ons afsprake oor die volgende paar dae nog nie bevestig is nie, lyk dit belowend. Ten minste een Vlaamse en een Nederlandse politikus gaan ons te woord staan en Donderdagaand het ons ook ‘n ete-afspraak met die Amerikaner Jared Taylor wat ons saak in die VSA sover moontlik probeer bevorder.

So pas was ons by die Frankfurtse Persklub se gebou in en het nou die name van ‘n paar TV-joernaliste wat ons moontlik te woord sal staan. Een sal ons verklaring na sy kollegas aanstuur.

Reeds met ons aankoms by die lughawe het ons spontaan met ‘n Tsjeg en ‘n Kroasiër wat hier in Duitsland woon en vir Lufthansa werk aan die gesels geraak oor die politieke situasie in Suid-Afrika. Volgens hulle is daar min Duitsers wat belangstel om die Wêreldsokkerbeker by te woon “aangesien hulle nie doodgemaak wil word nie”.

Dis eintlik ongelooflik, maar die nuus oor Suid-Afrika het reëlreg verander en dis nou ons wat die slagoffers is, nie meer die swartes nie. Die internasionale pers het reeds die weg voorberei op ons boodskap en al wat dit nou gaan verg, is om aan mense die onreg en ekstreme aard van die situasie oor te dra waarna potensieel miljoene Europeërs ons in ons vryheidstryd sal steun, veel meer as wat ooit die ANC in die verlede gesteun het.

Beheer Grootbroer die internet?

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Dinsdag 17 November 2009 1:22 pm

Een van die probleme wat ons ondervind sedert ons ‘n nuuswebwerf in Afrikaans op die domein praag.co.za bedryf, is dat sommige korporatiewe stelsels ons versper of sensureer, waarom weet ek nie.

Omdat meeste mense internet by die werk gebruik en nie tuis nie, plaas dit ‘n aansienlike demper op ons groeikoers as e-nuusblad in Afrikaans.

Nou het ons ‘n tweede domein geopen wat presies dieselfde inhoud as PRAAG bevat, Afrikaansenuus.co.za.

Hopelik kan mense wat nie toegang tot ons gewone URL het nie, ons nou by daardie adres lees.

14 Augustus: ná 134 jaar word Afrikaans weer onderdruk

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Vrydag 14 Augustus 2009 2:47 pm

Soos wat die onderdrukking van Afrikaans onder die toenemend totalitêre ANC-bestel met sy “demonokrasie” toegeneem het, het verskeie Afrikaanse organisasies en individue spontaan begin om 14 Augustus as ‘n belangrike datum op die Afrikaanse en nasionale kalender te gedenk.

Vir diegene van my geslag wat in die ou tweetalige Suid-Afrika grootgeword het – en wat eintlik ‘n model vir taalbillikheid was, gegewe dat elke tuislandregering ook ‘n swart streekstaal kon bevorder – het die Engelse brander wat sedert 1994 oor die land gebreek het as ‘n groot skok gekom.

Vandag swyg die regime se media in Afrikaans en veral natuurlik in Engels oor 14 Augustus en die wonderbaarlike verhaal van enkele Afrikaners wat op dié datum in 1875 die besluit geneem het om die wêreld se jongste standaardtaal te begin “skryf soos jy praat”.

Die feit dat hulle hulself die “Patriotbeweging” genoem het, het ook geslaan op die sterk Republikeinse opwelling wat in die 1790s onder Kaapse Afrikaners plaasgevind het, toe daar insgelyks ‘n politieke Patriotbeweging bestaan het.

Die mate waartoe die geskiedenis hom, veral op taalgebied, in Suid-Afrika herhaal, is eenvoudig verstommend. Terwyl taalregte en taalgelykheid ná Hertzog se taalwet van 1925 in die land byna as ‘n gegewe beskou is, het ons in ons tyd weereens die byna kolonialistiese arrogansie van Engelse jingoïsme gesmaak.

Net soos in die verlede en veral die 1940s toe verengelsde Afrikaners die sterkste voorstanders van verengelsing was, beskik ons vandag oor sogenaamde “stryders vir meertaligheid” wat Afrikaans wil marginaliseer en uiteindelik tot ‘n stukkie ignoreerbare folklore wil verskraal. Tereg is sulke mense, waaronder die magtige bruin of “swart” akademici – soos hulle verkies om hulself te noem – in hul vername poste aan voorheen Afrikaanse universiteite as Trojaanse perde bestempel wat die uitwissing van Afrikaans met hul mooiklinkende gemeenplase wil verhaas.

Gister skryf prof. Jaap Steyn in Die Volksblad ‘n waar woord teenoor juis een van die Trojaanse perde, die Afrikaner- en Afrikaanshater Jonathan Jansen wat teen die “taalhouding van Afrikaners” uitgevaar het: “Jansen praat van die “afdwing” van Afrikaans, maar geen taal is in ons geskiedenis in so ’n groot mate afgedwing as Engels in die afgelope 200 jaar nie – veral nou weer in die laaste vyftien jaar.”

Dat Engels vandag in Suid-Afrika afgedwing word, so te sê met wapengeweld, is ‘n feit. Sowel die staat- as die korporatiewe sektor ly aan geheueverlies oor die feit dat Afrikaans bestaan. Taalstryders wat bloot logiese vrae oor die illusie dat Suid-Afrika ‘n Engelstalige land sou wees, vra, word deur die SAUK en die korporatiewe media doodgeswyg, gesensureer of belaster.

Vandaar die feit dat ‘n “nie-Afrikaanssprekende” soos Jansen vandag as die buikspreker en gelukbringer van fascistiese Engelsheid in Suid-Afrika optree.

Afrikaners, asook daardie tweedetaalsprekers of selfs vreemdelinge wat met ons onregverdige en ongelyke stryd meegevoel het, sal moet besef dat ons voortaan veel harder teen ‘n magtige en ongenaakbare vyand sal moet veg.

Gegewe die volslae vertrapping van ons taalregte en die graad van etniese suiwering wat daar reeds teen Afrikaners toegepas word, hetsy in die sin dat ons vanuit ons eie instellings geweer word, hetsy in ‘n letterlike sin waar gruwelike moorde en verkragtings teen ons gepleeg word, is die natuurreg voortaan aan ons kant.

Ons het die reg om ons teen Engelse taalaggressie te verdedig. En al moet dit uiteindelik uitloop op meer radikale optrede soos die afbrand van Engelse skole, net soos wat die pro-Britse swartes van Johannesburg teen Afrikaans beswaar gemaak het deur hul eie skole af te brand, mag ons nie nou tou opgooi nie.

Een van die lesse van 14 Augustus is dat ‘n Gideonsbende in 1875 – teen die hoon en bespotting wat hulle van die destydse Kaapse burgery ontvang het – die strydvlag vir Afrikaans opgeneem het en uiteindelik geseëvier het. Die aantal mense wat vandag Standaardafrikaans liefhet en wil bewaar, is moontlik nie veel groter as in 1875 nie. Hulle verteenwoordig egter die room van ons kultuur en van ons volk.

Dit het tyd geword dat ons die SAUK-TV en KykNet met hul lagwekkende en dom Kreools afskakel en televisielisensies begin boikot. Dis ook hoog tyd dat ons ons onderdrukte, maar steeds aristokratiese en voortreflike taal met skokkende welsprekendheid begin praat, skryf en op die mure begin verf.

Die Britse Ryk kon Afrikaans nie doodmaak nie. Die Nguni-ryk en hul verteenwoordigers vanuit die Engelstalige Ooskus van die land gaan dit ook nie regkry nie.

Solank as wat daar nog “regte Afrikaners” met “Afrikaanse harte” bestaan.

My nuwe woernaal

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Dinsdag 23 Junie 2009 2:07 am

Ek het so pas hierdie nuwe woernaal geskep, wat in samehang met www.praag.co.za sal bestaan, maar waar ek my diverse internetgeskrifte, boeke, briewe aan die pers en ander materiaal byeen gaan bring.

Ook sal ek hier meer informele kommentaar en skakels na interessante berigte op die web plaas.