Daar is geen middelgrond meer nie
Soos gewoonlik, sit Jan-Jan Joubert in vandag se Rapport weer die pot mis. Hy skryf:
“Gelukkig is hierdie slegte week afgeloop, en moet ons nou voortgaan.
Die gruwelike dood van mnr. Eugène Terre’Blanche van die AWB en die uitsprake en gedrag van mnr. Julius Malema van die ANC het enige denkende mens se geduld en geloof in die land nogmaals verskriklik beproef.
Die meeste mense het, soos altyd, kopgehou. Malema is tans meer geïsoleerd as ooit tevore in die ANC (ons sal natuurlik moet sien of dit hou) en min wit mense dink die AWB is die toekoms.”
Die moord op ET was die laaste drupper in die emmer soos ek Vrydag ook op versoek van LitNet en op praag.co.za geskryf het: ‘n Moord te veel. Deel van ons probleem in dié land is dat ons sulke onnosele joernaliste het. Hulle is tot geen analise in staat nie, maar wil die publiek net “reg skryf” en breinspoel om hierdie onhoudbare situasie te aanvaar.
Vandat die Afrikaanse taalstryd in die laat negentigerjare begin het, lees ek allerlei studies oor etniese konflikte in ander dele van die wêreld en, glo my, ons is reeds midde-in ‘n etniese konflik wat nou bloot eskaleer.
Mense soos Jan-Jan wat die “middelgrond” bepleit of verdedig, weet nie waarmee hulle te doen het nie. Tipies in sulke situasies is dat daardie middelgrond eenvoudig verdwyn. Al wat na dese oorbly is óf Malema óf die AWB. Daar is niks tussenin nie.
Almal van ons – ook Jan-Jan – sal binnekort moet kies. Mense soos Jan-Jan gaan uiteindelik op hul knieë pleit om nie te hoef te kies nie, maar soos Kierkegaard gesê het: om nie te kies nie, is ook ‘n keuse. Die besluiteloses op hul middelgrond wat vinnig wegkalwe, gaan eerste ondergaan. Vir ons wat reeds vir die Afrikaner en sy oorlewing gekies het, is daar nog hoop.
















