Toevallig sien ek nou die dag ‘n woernaal van ene Robert Brand raak. Of hy familie is van Gerrit Brand, weet ek nie. Robert Brand is egter ‘n Engelse Brand. In elk geval is daar iets onthullends aangaande die titel van sy internetblad: Low opinions: Journalisme, the media and politics.
Lae opinies, lae houe, lae IK’s is wat ons meermale van SA joernaliste kan verwag. En Brand maak hom skuldig aan leedvermaak as hy “saamstem” met Leopold Scholtz van Die Burger, asook Christo van der Rheede, die groot kleurlingtaalstryder wat my ongevraagd in hul skitterende publikasie as ‘n “rassis” bestempel het.
In daardie selfde YouTube-video waarin Mandela, Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander “Maak alle blankes dood” sing, is daar ‘n verwante toneel waar ‘n klompie wit Engelse studente deur ‘n massa toitoiende swartes meegesleur word en hulle saamsing aan een of ander soortgelyke anti-wit liedjie. As ek dit nie mis het nie, was die beïnvloedbare wit Engelse studente van Rhodes.
Rhodes in Grahamstad is nie ‘n universiteit wat vir enigiets besonder hoog aangeskryf word nie, behalwe moontlik vir ‘n ontwikkelde anti-Afrikanersentiment. Daardie studente in die YouTube-video wat in ‘n top saamgesleep word, is ‘n metafoor vir denkre op Rhodes – of die gebrek daaraan. Ek weet nie veel van Robert Brand af nie, maar hy openbaar hom byna onmiddellik as ‘n na-aper.
Maar dit klop. Hy is ‘n Engelse Brand. Hy kom van Rhodes. Hy doseer joernalistiek, of wat hy self “lae opinies” noem. Wat anders as middelmatige na-apery kan mens vanuit ‘n plek soos Rhodes op Grahamstad verwag, die setel van die Engelse akademie en Setlaarsmonument?
Nie dat die 1820-setlaars so danig sleg was nie. Daar is waarskynlik dieselfde verhouding tussen die Rhodes-joernalstiekdepartement en die 1820-setlaars as tussen Die Burger en die Groot Trek; in beide gevalle het ons te make met hedendaagse konformistiese propagandiste wat die geskiedenis ontken en eintlik tevrede sou gewees het indien Suid-Afrika nou nog ongerepte natuur was wat deur ‘n paar duisend swerwende Koisan-jagterversamelaars bewoon was.
Soos vele akademici wat meer begaan daaroor is om hul werk binne ‘n streng polities korrekte milieu te behou, eerder as om ‘n oorspronklike bydrae tot hul vakgebied of tot menslike denke te lewer, spesialiseer Robert Brand daarin om rubriekskrywers van “rassisme” te beskuldig. So was hy byvoorbeeld ten gunste van die afdanking van David Bullard by die Sunday Times. Bullard se uitlatings oor Afrika en Afrikane was “rassisties” al was hulle ook waar.
Om te sê dat Zimabwe tans een van die armste lande ter wêreld is, met ‘n BNP per kop van $260 per jaar is ‘n feit. Maar in die oë van Robert Brand en ander linkse of ultraliberale blankes is dit “rassisties” om na so ‘n ongemaklike stukkie ekonomiese inligting te verwys. Ek onthou nog baie goed destyds toe ek nog ‘n student was hoe die linkse studente en dosente op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand gejuig en hande geklap het toe Robert Mugabe in 1980 die verkiesing gewen het.
Destyds sou hulle ook enigiemand wat maar hoegenaamd getwyfel het aan die prognose vir Zimbabwe as ‘n “rassis” uitgekryt het. Ongelukkig het die werklikheid ‘n manier om wêreldvreemde siele soos Robert Brand soms wreed te ontnugter as hulle self slagoffers van Suid-Afrika se endemiese geweldsmisdaad of selfs regstellende aksie of transformasie word.
Robert Brand is ‘n blanke. Vroeër of later sal die stelsel hom óók daarvoor straf. Dan sal dit nie tyd vir ons wees om te kraai van leedvermaak soos hy maak nie, maar om moed te skep dat selfs diegene wat die werklikheid ontken nie vir altyd daaraan ontkom nie.