Mugabe is nie mal nie

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Sondag 27 September 2009 11:06 am

 Powered by Max Banner Ads 

Robert Mugabe het so pas sy “grondhervormingsprogram” op CNN verdedig. Dikwels kom ‘n mens egter diegene teë – sowel joernaliste as gewone mense – wat beweer dat “Mugabe sy varkies kwyt is”, “kranksinnig is” en dergelike meer. Ek kan onthou dat ‘n aanbieder van die BBC, saam met wie ek so vier of vyf jaar gelede middagete genuttig het, dieselfde gesê het. “Dis nie omdat hy swart is dat hy so optree nie, dis omdat hy waansinnig is,” het die BBC-man in sy wysheid aan my oorgedra.

Mugabe maak egter nie die indruk van ‘n malman op my nie, inteendeel. Daar bestaan seker ‘n groot verskeidenheid definisies van waansin, maar om konstant teenstrydige uitsprake te maak, soos “Ek is op die maan” terwyl jy tuis in jou kombuis is, is seker een daarvan. Mugabe, aan die ander kant, handhaaf ‘n keiharde logika in alles wat hy sê.

En daardie logika, verstout ek my om te sê, is niks anders as die Suider-Afrikaanse liberalisme (en kommunisme) wat reeds ‘n eeu of twee in dié wêrelddeel met ywer verkondig word nie.

Waar was u toe Mugabe op 4 Maart 1980 tot president van die nuwe Zimbabwe verkies is? Ek herinner my die oomblik nog soos gister. Ek was destyds ‘n Honneurstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Toe die uitslag oor die radio aangekondig is, was ek besig om koffie te drink by die kafee in die binnehof van die Senaatshuisgebou. By die tafel langs my het ‘n aantal linkse studente gesit wat taamlike diep spore in die Engelse joernalistiek en regswese in dié land sou trap. Een of twee van die stigterslede van die Mail & Gaurdian was daar, so ook die kinders van die fotograaf David Goldblatt, hy van “Some Afrikaners photographed”-faam. Ek verbeel my Gilbert Marcus, die latere advokaat en broer van Gill Marcus, was ook teenwoordig.

Toe die aankondiging kom dat ZANU-PF gewen het, het ‘n gejuig langs my losgebars. Daar was groot blydskap, glimlagte, kwinkslae en vreugde. Die held van die wit liberales en linkses, Mugabe, het gewen. En dit was nie net onder Engelse en Jode wat ‘n mens dié bewondering vir Mugabe destyds teëgekom het nie. In dieselfde tyd het ek by die Afrikaanse skrywer, John Miles – van wie daar onlangs ‘n nuwe roman genaamd “Voetstoots” verskyn het – gekuier. Hy en sy destydse kunstenaresvrou, Elza Miles, het ‘n ewe gunstige mening oor Mugabe, “die slim man”, gehad.

Die liberale Britse pers was natuurlik destyds ewe gaande oor Robert Mugabe en het ‘n blink toekoms vir Zimbabwe onder sy bekwame leiding voorspel. Dieselfde BBC-aanbieder met wie ek gaan eet het en wat hom tans as ‘n malman beskou, het waarskynlik Mugabe se verkiesing en die neerlaag van Ian Smith op 4 Maart 1980 as ‘n heuglike gebeurtenis gesien.

Einstein het ‘n ander definisie van waansin gehad: “Om oor en oor dieselfde ding te doen en ‘n ander resultaat te verwag.” En dit is presies waarmee die liberales en linkses in Suider-Afrika nog al die tyd mee besig is. Grondhervorming het in Zimbabwe misluk, maar as dit in Suid-Afrika toegepas word, kan ons van die teenoorgestelde uitkoms verseker wees!

Al wat Mugabe eintlik in Zimbabwe doen, is om die polities korrekte ideologie van grondhervorming, teregstellende aksie, transformasie, asook swart bevoordeling en blanke benadeling, tot sy logiese gevolgtrekking te voer.

Afrikaans mag binne twee of drie geslagte uitsterf

Posted by Dan Roodt | Toesprake en referate | Sondag 16 Augustus 2009 8:01 pm

Vrydagaand 14 Augustus (GRA-dag) het ek die onderstaande toespraak gelewer tydens ‘n debat oor die toekoms van Afrikaans wat deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gereël is. Mnre. Louis Smuts van Tabok en Cornelius Janse van Rensburg van die Vryheidsfront Plus se jeugbeweging het die saak vir die voortbestaan van Afrikaans verdedig, terwyl mnr. Henk van de Graaf van Radio Pretoria ook my pessimistiese prognose vir Afrikaans ondersteun het. Op pad na die Hervormde Kerksaal in Du Toitstraat in die middestad van Pretoria, het ons die indruk gekry dat ons vreemdelinge in die stad was. Terwyl die strate van Pretoria op ‘n Vrydagaand wemel van mense, is daar geen blankes of Afrikaners te sien nie. ‘n Mens wonder wat Paul Kruger en die oorspronklike stadsvaders daarvan sou gedink het, maar die demografiese transformasie – om ‘n gepaste term te gebruik – van Pretoria ondersteun insgelyks my argument, dat Afrikaans sonder een of ander groot poging deur Afrikaners of ‘n radikale staatkundige verandering in Suid-Afrika, bestem is om algaande te kwyn en dan uit te sterf.

Sedert Brittanje onder aanvoering van Lord Craig vir die eerste keer die Kaap in 1795 binnegeval het, het Nederlands, of dan die latere Afrikaans, byna konstant verliese van sprekers teenoor Engels getoon. Vandag bestaan daar vele mense in die land met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans magtig is nie. Hulle gaan nooit ‘n Afrikaanse boek lees nie, ‘n Afrikaanse film of TV-program kyk nie en natuurlik sal so ‘n persoon net in buitengewone omstandighede sy of haar kind na ‘n Afrikaanse skool stuur.

Van die groot aantal Afrikaner-emigrante wat sedert 1994 die land verlaat het, kan mens gerieflik sê dat slegs ‘n minderheid se kinders wat in die buiteland gebore is, nog Afrikaans praat. My beste vriend op skool – ek was aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg – se kinders verstaan geen woord Afrikaans nie, want hy is met ‘n Engelse vrou uit Natal getroud en agterna het hulle in Londen gaan woon waar hy sedertdien as advokaat praktiseer. Op een van my rare besoek aan hul woning het ek en hy oudergewoonte met mekaar Afrikaans gepraat.

“Daddy, what language is that?” het sy oudste seun in die geselskap gevra. “Dis Afrikaans,” het sy pa geantwoord.

De Klerk en Britte se orde stort in duie

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Donderdag 23 Julie 2009 3:02 am

Dít wat Dan Fourie en Pieter Redelinghuys op LitNet my “fantasieë” noem, is dalk besig om gouer as wat selfs ek gedink het, te realiseer. Die byna landwye opstand teen die ANC wat in die swart woonbuurtes aan die gang is, toon dat hierdie orde wat FW de Klerk en sy Britse marionetmeesters op ons afgedwing het, besig is om in duie te stort.

Dié foto wat in Thokoza aan die Oosrand geneem is, druk dit alles baie mooi uit. Op die plakkate van die swart betogers staan: “AWB was better than ANC” en “We vote for better life not for worse. We live like pigs.”

Die tyd is nie meer ver dat die miljoene verarmde en verhongerde swartes in die land na Afrikanerregering gaan terugverlang nie. Ek identifiseer geheel en al met die frustrasies van die huidige revolusionêre beweging – en ek gebruik, anders as Theuns Eloff van Potch, André P. Brink of ander salonmarxiste nooit die woord “revolusionêr” ligtelik nie – wat besig is om in die swart woonbuurtes momentum te verkry. Volgens ‘n intellektuele swart vriend in Kwa-Thema naby Springs vind daar Saterdag ‘n massavergadering daar plaas. Ek is amper lus om dit self by te woon en die mense daar te vertel dat hoe gouer ons van dié korrupte groep plunderaars ontslae raak wat FW de Klerk en Robin Renwick, die destydse Britse ambassadeur, in 1994 oor ons aangestel het, hoe beter sal dit vir ons almal wees. My swart vriend noem hulle “gangsters” of skurke en ek dink nie daar is ‘n ander woord vir hulle nie.

Hierdie orde, al sy mooi beloftes van demokrasie en voorspoed ten spyt, is nie net tot op die been verrot nie, maar is ook werklikheidsvreemd. Tensy mens, soos die Britte, glo dat Zimbabwe eintlik ‘n sukses is omdat daar af en toe ‘n verkiesing plaasvind en daar ‘n anti-wit regering aan bewind is, kan niemand die ANC-orde meer ernstig opneem nie. Hoe op aarde gaan anti-wit rassisme, transformasie en regstellende aksie vir enigiemand – ook vir die breë massa swartes – welvaart en geluk bring?

Die tyd is ook haas nou ryp dat ons op ‘n volkstaat, wat deel van ‘n Suider-Afrikaanse konfederasie sal wees, moet aandring. Hoe gouer die betogers na die Uniegebou opruk en die spul waBenzi – wat die land met die De Klerk en die Britte se goedkeuring besteel – gaan uitsmyt, hoe vinniger kan ons tot werklike onderhandelings – pleks van die skyn van Kodesa – oorgaan en die ernstige probleme in Suider-Afrika begin aanspreek.