Debat oor ‘Praagse lente’

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Dinsdag 22 Junie 2010 11:47 am

 Powered by Max Banner Ads 

Tim du Plessis skryf die volgende in sy Beeld-rubriek verlede Vrydag:

SA se eie ‘Praagse Lente’
2010-06-17 22:36

Ons beleef tans die SA weergawe van ’n Praagse Lente. Die land voel nogal goed om in te wees.

Die oorspronklike Praagse Lente het in Januarie 1968 begin toe Alexander Dubcek, Tsjeggo-Slowakye se destydse nuwe leier, ’n reeks politieke hervormings ingestel het wat die verdrukkende kommunistiese juk vir sy mense verlig het.

Maar dit het die Kremlin se ystermanne rooi laat sien. In Augustus 1968 het die tenks van die Warskou-verdrag Praag binnegeknars.

Dubcek is afgesit en sy hervormings is herroep. Maar in die sewe maande tussen Januarie en Augustus het Tsjeggo-Slowakye ’n opbloei en voelgoed-tydperk beleef wat later bekend geword het as die “Praagse Lente”.

Sedertdien is die uitdrukking wêreldwye omgangstaal vir ’n kort tydperk van heuglikheid en optimisme.

SA se “Praagse Lente” het op Saterdag 29 Mei in die Orlando-stadion in Soweto aangebreek toe die Bulls in die halfeindstryd van die Super14 teen die Crusaders gespeel en gewen het.

Toe hulle en die Stormers die volgende Saterdag terug is vir die eindstryd, was die ding beseël.

Hulle het die einde ingelui van een van die mislikste, terneerdrukkendste tydperke in post-1994-SA.

’n Tyd waarin baie wit Suid-Afrikaners begin glo het die toekoms lyk soos Julius Malema.

En toe die gedrag van Eugène Terre’Blanche se volgelinge ná die moord op hom swart Suid-Afrikaners maklik onder die indruk kon bring die meeste wit mense is wedergebore AWB’s.

Die Bulls-in-Soweto en die eerste week van WB 2010 het egter aan wit en swart Suid-Afrikaners ’n beter kant van mekaar gewys.

Ons is toe nie almal soos Malema of Terre’- Blanche se aanhangers nie, het ons agtergekom.

Dit was asof ’n mens kon voel hoe die land ontspan en weer tuis raak in sy eie vel.

Ek kan net praat as ’n wit Suid-Afrikaner en daarby ’n stedeling. Maar vir my lyk dit tog of wit en swart weer vir mekaar begin glimlag het, by wyse van spreke.

Dalk is dit my serp in die kleure van die landsvlag, maar oral knoop swart mense geselsies aan, oor Bafana, oor die koue of wat ook al.

Wit Suid-Afrikaners het geesdriftig op die Bafana-wa geklim, veral die jonges.

Hopelik het die ANC-politici wat altyd so vinnig is om te verwyt en te blameer, raakgesien hoe spontaan dit gebeur het.

In ons “Praagse Lente” het die land ’n inspuiting van verdraagsaamheid gekry wat ons bitter nodig gehad het, byna soos ’n adrenalien-inspuiting in ’n gestolde hart.

Die wedergebore AWB’s het teruggekeer na die vergetelheid waar hulle verdien om te wees.

Malema het stil geword. Dalk het die ANC se tugkomitee met hom gedoen wat Delila met Simson se hare gedoen het – sy krag weggevat.

Maar dis meer as dit. In ons “Praagse Lente” is Malema se skreeubek en sy bloeddorstige krete so onvanpas soos ’n vuvuzela by ’n simfoniekonsert.

En die ontelbare faksies in die ANC-alliansie was vir ’n wyle in dieselfde kamp – Bafana Bafana s’n.

Nadat die Russiese tenks die Praagse Lente op 21 Augustus 1968 verdryf het, het ’n winter van Sowjet-oorheersing en dwingelandy vir Tsjeggo-Slowakye aangebreek.

Dit het 22 jaar geduur, tot die val van die Sowjet-ryk in 1990.

Toe is die Praagse Lente herstel.

Twee nuwe lande het uit die puin verrys – die Tsjeggiese Republiek en Slowenië – netjies op die matriks van Dubcek se belangrikste hervorming 22 jaar tevore.

Die kanse is seker daar dat ons “Praagse Lente” sal eindig wanneer WB 2010 verby is, die dag wanneer Fifa en Sepp Blatter beheer van die land teruggee aan pres. Jacob Zuma en die ANC.

Of dit kan aanhou.

Al wat nodig is, is genoeg Suid-Afrikaners wat vasbeslote is om die soort land en gemeenskap te bou wat ons kan wees, die een wat ons was in die herfs/winter van 2010.

Einde van Du Plessis se rubriek.

Hierna het ek ‘n poging aangewend om  met die man in debat te tree oor sy opvatting van die Praagse Lente in die voormalige Tsjeggo-Slowakye, maar slegs die volgende antwoord per e-pos ontvang:

Tim Du Plessis het geskryf:

Dankie, Dan. Ons stel nie belang nie.

Groete

Tim

Waarop ek die volgende antwoord teruggestuur het:

Beste Tim,

Die Zen van ‘n lakonieke antwoord, wat boekdele spreek.

Jy en jou kollegas het seker alle wysheid in pag en is dus nie oop vir debat met ons, julle “dom” lesers nie. Maar afgesien van die historiese en filosofiese vergissings in jou rubriek, wil ek jou net op ‘n feitelike vergissing ook wys. Jy skryf:

“Twee nuwe lande het uit die puin verrys – die Tsjeggiese Republiek en Slowenië – netjies op die matriks van Dubcek se belangrikste hervorming 22 jaar tevore.”

Slowakye het wel van Tsjeggo-Slowakye afgestig, maar Slowenië was deel van die ou Joego-Slawië en het op 7 Julie 1991 selfbeskikking verkry ná ‘n suksesvolle onafhanklikheidsoorlog teen die sentrale regering van Joego-Slawië wat tien dae lank geduur het, die sogenaamde Tien-daagse oorlog.

Sowel Slowenië as Slowakye se sokkerspanne is tans in die land teenwoordig. Hoewel hul vlae (wit, blou en rooi soos Rusland s’n) maklik verwar kan word, verteenwoordig dit twee heeltemal verskillende lande.

In weerwil van die feit dat Tsjeggië en Slowakye vreedsaam op 31 Desember 1992 geskei is (teen die meerderheidswil van albei streke se bevolkings in wat ‘n federasie of konfederasie wou sien), moes Slowenië natuurlik veg vir hul onafhanklikheid van die Serwies oorheerste Joego-Slawië.

As jy in ‘n volgende rubriek nog bietjie in daardie wêreld wil kuier, kan jy dalk vir ons vertel hoe die Afrikaner in die toekoms vryheid gaan vekry, hetsy deur die Slowaakse model van vreedsame afskeiding van Tsjeggië of die Sloweense model van ‘n kort, maar intense gewapende opstand teen die meerderheidsoorheerste sentrale regering in Belgrado?

Dat soveel Sentraal- en Oos-Europese lande, om van die Baltiese state nie te vergeet nie, ná 1989 vryheid en onafhanklikheid verkry het terwyl die Afrikaner die dwingelandy van sentrale beheer, etno-kulturele oorheersing, kollektiewe landbou (“grondhervorming”) en terreur (“geweldsmisdaad”) geërf het, is insgelyks ‘n raaisel wat jy dalk vir ons arme siele kan opklaar wat so sukkel om die wêreld te verstaan. Helaas, lyk dit nie asof die vrugte van die Praagse Lente of die Berlynse muur se ineenstorting ons tot dusver beskore is nie…

Of miskien is jy en jou kollegas meer Afrosentries georiënteer en skoei julle jul op die staatkunde van ons vasteland waar eenpartystate natuurlik geen vreemde verskynsel is nie en waar minderhede gereeld verdruk of selfs uitgewis word.

Maar korrekte geografie is altyd behulpsaam, want so dikwels het ek al in Beeld gelees dat kolonel Moeammar Ghadaffi die leier van Liberië is.

Groete,

Dan Roodt

Volksplakkerskamp? Nog nooit nie!

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Woensdag 20 Januarie 2010 4:27 pm

Ferdi Greyling  van Beeld verwys neerhalend na ‘n “volksplakkerskamp” as die moontlike aanskyn van ‘n toekomstige volkstaat. Al wat Ferdi hoef te doen, is om na gebiede met Afrikanermeerderhede te kyk: Pretoria, groot dele van die Oos- en Wesrand, die Suid-Kaap, ens. en te vra of hulle soos “plakkerskampe” daar uitsien?

Om te beweer dat “volkstate in geweld en vernietiging gebore word”, is nie juis nie. ‘n Mens kan net sowel enkele voorbeelde kies soos Nazi-Duitsland of Zimbabwe en beweer dat demokrasie tot hetsy oorlog, hetsy hongersnood lei, aangesien sowel Hitler as Mugabe demokraties ingestem is.

Die modelle vir vreedsame afstigting is Québec, Vlaandere en Katalonië. Al drie hierdie gebiede het reeds ‘n groot mate van selfbeskikking van onderskeidelik Kanada, België en Spanje verwerf. Katalonië het selfs in 2006 sy eie topvlakdomein op die internet (.CAT) – iets waarvoor slegs state kwalifiseer – verkry.

Interessant is ook dat al drie hierdie provinsies se versugting na onafhanklikheid aanvanklik met ‘n taalstryd begin het, net soos wat Afrikaners oor die afgelope sestien jaar of so ‘n taalstryd teen die nuwe Engelstalige owerheid in Suid-Afrika voer.

Die Tamil-tiere se uitgerekte guerilla-oorlog teen die Sinhalese meerderheid van Sri Lanka is weliswaar ‘n ongelukkige voorbeeld van ‘n gewapende opstand wat in ‘n neerlaag geëindig het. Maar dan is daar talle internasionale voorbeelde van suksesvolle nasionale bevrydingsoorloë.

Slowenië het byvoorbeeld in Junie 1991 ‘n geslaagde onafhanklikheidsoorlog van slegs tien dae teen die ou sentrale regering van Joego-Slawië geveg – met ‘n baie swakker weermag en téén die wense van die VSA en die EU wat nie wou hê dat die Slowene onafhanklik word nie.

Slegs 18 Slowene is in die gevegte dood en 182 is gewond, wat waarskynlik ‘n geringe prys is om vir vryheid te betaal.

Hierteenoor is 30 000 tot 40 000 Afrikaners sedert 1994 vermoor en honderde duisende is beseer, verkrag of beroof. Die prys wat sogenaamde demokrasie en die multikulturele samelewing van ons eis, is veel hoër as wat die Slowene vir vryheid en onafhanklikheid betaal het.