Watter kultuurskatte het Afrikaans nou eintlik?

Posted by Dan Roodt | NSA-denke | Woensdag 24 Junie 2009 7:39 am

 Powered by Max Banner Ads 

In kommentaar op ‘n rubriek van Leopold Scholtz oor die taalkwessie skryf iemand:

Afrikaans op Stellies 6/17/2009 11:08:14 AM

“Natuurlik ís daar wel deeglik diegene wat na apartheid terughunker, wat nie die verlies van mag in 1994 kan verwerk nie. Natuurlik ís daar diegene wat Afrikaans as ’n rookskerm daarvoor gebruik” skryf Leopold.
Nie diegene nie, ALMAL. En die wat bloot “onskuldig” net Afrikaans wil behou indien daar werklik sulkes sonder bymotief bestaan, sulkes behoort te weet om hieroor aan te gaan skaar jy jouself by die ou-vlag-swaaiers. WATTER wonderlike kultuurskatte sal verlore gaan as Afrikaans nie meer die TAAL is nie? gee tog ‘n lysie. Ja ek stem saam die omstandighede waaronder Afrikaans sommer uitgeboender word is afstootlik maar ja, watter waardevolle dinge gaan nou uitsterf as Afrikaans nie meer die lesingstaal op Stellenbosch is nie? In die mid-80s was al die wetenskapilke rigtings alreeds vanuit Engelse vakboeke geleer.
-prakties

Ras – die nuwe alibi vir Afrikanerhaat

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Dinsdag 23 Junie 2009 11:53 am

Leopold Scholtz lewer ‘n pleidooi dat taalstryders vir ‘n Afrikaanse Stellenbosch nie met “die teerkwas van apartheid” bygekom moet word nie. Nietemin is dit presies wat hy – en Dawie – doen deur te beweer dat ek “terughunker na apartheid”.

Ek was nog nooit ‘n voorstander van kleinlike segregasie nie en in my studentedae rondom 1980 het ek saam met swartes in die lokasies gekuier. Toe kon mens dit nog doen sonder om jou lewe te waag, anders as vandag. Dus verwerp ek Leopold Scholtz en Dawie se smeerveldtog teen my met die minagting wat dit verdien.
As ons egter van Afrikanerregte praat, stem ek saam met Woodrow Wilson, Hendrik Verwoerd en Jasser Arafat dat selfbeskikking vir elke volk wat dit wil hê, die enigste resep vir langtermynvrede is. Dié beginsel is ook sedert 1989 met sukses in Europa toegepas en is insgelyks vervat in die Verenigde Nasies se Universele verklaring van menseregte.

Suid-Afrika beleef tans nie net die verengelsing van al ons instellings nie, maar ook ‘n soort geestelike kolonisering deur Britse neokoloniale denke. Die Engelse taalkoeie op Stellenbosch met hul polities korrekte slagspreuke steun die tradisie wat vir ons volksmoord, Robert Mugabe en Tutu se “reënboognasie”-gedrog gegee het.

Feit is dat nege-en-negentig persent van mense wat tans die opdraande stryd vir Afrikaans voer, Afrikaners is. Die res wil ‘n nuwe taal, Meertaligheid, bevorder. Sodra iemand ‘n grammatika van Meertaligheid gepubliseer het, kan ons weer dink, maar ek dink nie ons hoef dit te ernstig op te neem nie.

Volgens die navorsing van prof. Lawrence Schlemmer onder Stellenbosse studente, toon die wit Engelse studente waarteen almal (ook Leopold Scholtz) tans uitvaar min of geen antipatie teenoor Afrikaans by Stellenbosch nie. Diegene wat ‘n Afrikaanse Stellenbosch as “rassisties” en “uitsluitend” ervaar, is juis bruin en swart studente, asook – natuurlik – die voorstanders van Meertaligheid, die nuwe taal.

Te oordeel aan sy uitsprake, voel prof. Russel Botman vere vir Afrikaans en behoort hy as rektor te bedank. Hy het reeds verwys na “die mite van Afrikaans-eentaligheid”. Op 23 Mei het hy in dié koerant verklaar: “Die universiteit se primêre groei oor die volgende tien jaar sal afkomstig wees uit die stedelike bruin studente wat oor ’n goeie beheersing van Afrikaans beskik, maar verkies om in Engels te studeer.” Hy wil ook Engelstalige swart en Indiërstudente werf.

Afrikaners word reeds 200 jaar lank deur Britte en hul meelopers verguis. Ras is die nuwe alibi vir Afrikanerhaat wat in die naam van “transformasie” bedryf word.