Stockholm verwelkom PRAAG

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Donderdag 27 Mei 2010 3:24 pm

 Powered by Max Banner Ads 

Ons PRAAG-afvaardiging het ‘n warm ontvangs van behoudende organisasies en partye in Stockholm ontvang, asook van die menseregte-afdeling van die Sweedse ministerie van buitelandse sake waar ons te woord gestaan is.

PRAAG het binne 24 uur soveel nuwe vriende in Stockholm gemaak dat ons amper ‘n persoon voltyds sal moet aanstel om voortaan met organisasies in dié land te skakel.

Die blitsbesoek aan die Sweedse hoofstad het Dinsdagaand begin toe ons vanaf Frankfurt by die Arlanda-lughawe deur ‘n lid van die Sweedse Weerstandsbeweging, die groep wat onlangs ‘n betoging buite die SA ambassade in die stad gehou het, verwelkom is.  Woensdagoggend het ons vervolgens die kantore van enkele koerante, asook die Sweedse radio en televisie aangedoen, waarna ons na die middestad vertrek het om ‘n verteenwoordiger van die departement van buitelandse sake se menseregte-afdeling oor die bedekte volksmoord teen Afrikaners in te lig.

Ek het ‘n eksemplaar van my boek in Engels, The Scourge of the ANC, en ‘n CD met TV-programme oor die geweld en plaasmoorde aan die regeringsverteenwoordiger oorhandig het. Ons is verseker dat die saak op die hoogste vlak aandag sal geniet. Volgens haar “glo Swede sterk in die beginsel van gelykheid” terwyl dit tans duidelik is dat Afrikaners en ander blankes in Suid-Afrika ongelyk voor die reg en deur die staat behandel word. Ons is verseker dat Swede ons behulpsaam sal wees met die insameling van getuienis oor menseregteskendings teen Afrikaners wat agterna vir vervolging aan die internasionale geregshof in Den Haag oorhandig mag word.

Ek het spesifiek na die geval van Marzanne Kruger, die eenjarige Afrikanerbaba, verwys wat in ‘n onlangse rasse-aanval so  deur twee jong swartes mishandel is dat sy breinskade opgedoen en blind gelaat is. Ook die pas afgelope gevalle waar die ANC se polisie in uniform op ons mense geskiet, ‘n voertuig gekaap en op Ellisras Afrikanervroue seksueel gemolesteer het, is onder die aandag van die Sweedse regering gebring.

Ons besoek aan die ministerie van buitelandse sake het langer as wat verwag is, geduur en daaropvolgende afsprake met die Sweedse Nasionale Party en die Sweedse Demokratiese Party moes effens verskuif word.

Die bloedjong politici en aktiviste van die Sweedse Nasionale Party is begeesterde jong aktiviste wat reeds ‘n hele uitgawe van hul partykoerant aan die Afrikanersaak gewy het, met artikels oor die Afrikanergeskiedenis, die konsentrasiekampe, Groot Trek, Voortrekkermonument, asook plaasmoorde en die moord op Eugene Terre’Blanche. Duidelik is daar ‘n sterk nasionale bewuswordingsproses onder die Sweedse jeug aan die gang en ons het verbysterd gestaan teenoor die belangstelling in ons land, asook die vele versoeke om meer inligting, ook om Suid-Afrika te besoek en meer inligting te bekom. Indien Swede in die dertig of veertig jaar gelede onder die sosialistiese bewind van Olof Palme die ANC ondersteun het, het meer as een aantreklike blonde en blou-oog-Sweed van albei geslagte aan ons bely dat hulle “hul skaam vir hul land se geskiedenis” en vorige steun vir terreur in Suid-Afrika.

Sowel die jong lede van die Sweedse Weerstandsbeweging as die Sweedse Nasionale Party voel sterk dat hulle oor ‘n morele verantwoordelikheid beskik om Afrikaners in hul huidige oorlewingstryd by te staan. Vele het geweet van die Skandinawiese kommando in die Tweede Vryheidsoorlog wat aan Boerekant teen die Britte kom veg het en waarvan ‘n hele klomp tydens die beroemde slag van Magersfontein gesterf het. Die spontane betuigings van solidariteit en steun het selfs veiligheidsdiens in Suid-Afrika ingesluit om ons mense teen aanvalle en dreigende volksmoord te beskerm.

Belangstelling in Afrikaans, die Afrikaanse letterkunde en Afrikanergeskiedenis was insgelyks hoog en ooreenkomste tussen Afrikaanse en Sweedse woorde, hoewel verskillend in uitspraak en spelling,  is verskeie kere in gesprekke beklemtoon.

Vanweë Swede se liberale asielbeleid wat aan mense in oorlogsgebiede soos Irak, Somalië en verskeie Afrikalande verblyf en maatskaplike voordele in dié land verleen, is daar reeds 1,5 tot 2 miljoen vreemdelinge in Swede, waaronder meer as ‘n miljoen anderskleuriges. Die jong Sweedse aktiviste met wie ons in gesprek was, het deurgaans beklemtoon dat hul ouers “gebreinspoel” is om hierdie situasie te aanvaar, maar dat hulle dit as ‘n ernstige aantasting van hul land, taal, identiteit en erfenis beskou.

“Die verskrikkinge wat Afrikaners nou in Suid-Afrika beleef, is wat vir ons in die toekoms wag wanneer ons ‘n minderheid in ons eie land gaan word,” is daar aan ons gesê. “Vandaar ons empatie met die swaarkry en onreg wat julle moet verduur.”

Gister op 26 Mei was eintlik my verjaardag en ons het ‘n heerlike aandete in ‘n Sweedse restaurant genuttig met egte inheemse geregte.  Ook opvallend is dat die hele spyskaart in Sweeds geskryf is, sonder ‘n enkele woord in Engels of selfs Frans. Al die geregte het ook Sweedse name, ‘n aanduiding dat taaltrots in Swede as iets vanselfsprekends ervaar word en dat die taalbehoeftes van die immer teenwoordige toeris nie bo dié van die inheemse bevolking gestel word nie.

Tot laat Dinsdagaand het ons strategie bespreek en daar is besluit dat daar gereeld betogings voor die Suid-Afrikaanse ambassade asook pamfletveldtogte op straat gevoer sal word om die publiek in Swede bewus te maak van die bedekte volksmoord wat daar tans teen Afrikaners gevoer word.

Gereelde mediaverklarings, ten minste een keer per week, sal mediaverklarings in die plaaslike taal aan al die Sweedse koerante, radiostasies en TV-kanale uitgestuur word om die Suid-Afrikaanse krisis konstant onder hul aandag te bring. In Suid-Afrika self sal ons ook die buitelandse korrespondente van Sweedse koerante kontak en sorg dat hulle ook op hoogte gehou word. Ons doelwit is om die huidige groep ondersteuners vir die Afrikanersaak aansienlik te laat aangroei, maar ook om van die ANC-bewind ‘n muishond te maak in die land van waar hy eens op ‘n tyd die meeste finansiële steun ontvang het.

Soos ek aan die verteenwoordiger van die Sweedse departement van buitelandse sake gesê het: “Ons voel sterk dat Swede in die verlede mislei is en hul sin vir billikheid uitgebuit is om hulle op grond van eensydige inligting vir die ANC en SAKP en téén die Afrikaner te laat optree. Hopelik sal daardie selfde sin vir billikheid en regverdigheid tans in ons guns werk, noudat ons die slagoffers van die ANC se beleid van etniese suiwering onder die dekmantel van misdaad geword het.”

Ná drie dae van lughawens en vliegtuie met byna onophoudelike afsprake, etes en ontmoetings, is ons al heel moeg, ook gegewe vanmore se vertrek om vyfuur die oggend na Nyköping van waar ons ‘n goedkoop vlug na Brussel gehaal het.

Maar nog is’t einde niet. Die leier van American Renaissance en ‘n groot vriend van die Afrikaner en PRAAG-ondersteuner, Jared Taylor, bevind hom tans vanuit Washington op ‘n sakebesoek aan Brussel en ek is terstond ingesleep by ‘n gesamentlike ete met hom en Filip de Winter, die leier van die Vlaams Belang hier in België. By my vorige ontmoeting met De Winter in 2006 het hy aan my gesê: “My siening  is dat Suid-Afrika aan die Afrikaner behoort.” Die tamheid ná ons geweldige pas van die afgelope paar dae sal dus maar bietjie opsy geskuif moet word om ook vanaand in die Vlaamse stad Antwerpen indringend oor die Afrikaner se benarde situasie met simpatieke en invloedryke Westerlinge te gesels.

Nkosi, seën ons met apartheid

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Saterdag 17 Oktober 2009 11:15 am

In Suid-Afrika is die werklikheid altyd vreemder as fiksie. Elke dag lees ons van nuwe absurditeite, soos betogers teen “dienslewering” wat munisipale kantore afbrand, vermoedelik in ‘n poging om “dienslewering” te verbeter. As jy die polisie bel, kom hulle nie. Maar wee die vrou wat ‘n gewapende rower uit noodweer in haar huis doodskiet, dan daag twintig gewapende polisiemanne terstond op om haar vir moord te arresteer.

By hierdie surrealistiese werklikheid moet gevoeg word die moroniese gesanik van joernaliste in die hoofstroompers oor apartheid. Dis asof hulle terugverlang na apartheid, want toe was daar vir hulle – gewaande – morele sekerhede wat hoegenaamd nie meer in ons kakistokrasie geld nie. En vir diegene wat dink dat ek nou op Grieks vloek, “kakistokrasie” beteken inderdaad “regering deur die slegstes en onbekwaamstes”.

Die jongste voorbeeld van iemand wat in sy poging tot morele selfregverdiging ‘n kinderlike karikatuur van apartheid aan ons voorhou, is ene Gert van der Westhuizen in Beeld.

‘n Mens kan seker elkeen van Van der Westhuizen se stellings oor hoe erg apartheid was met statistieke en ander historiese gegewens weerlê, maar die algemene houding van dié tipe hoogheilige rubriekskrywers in Beeld, Rapport, Die Burger en soortgelyke media kan opgesom word met die stelling deur een of ander Marxistiese geskiedskrywer: “Moenie my met die feite verveel nie!”

In elk geval, soos ‘n briefskrywer hier op praag.co.za uitgeroep het: “…die vraag (ontstaan) of Van der Westhuizen hoegenaamd bewus is van die hede? Het (hy) nog kontak met die werklikheid?”

Ek dink die antwoord is ‘n besliste nee. En dan dink ek, hoe meer geweld en onreg daar in ons tyd plaasvind, hoe harder gaan Van der Westhuizen en diesulkes hul agtergehaalde stryd teen hul apartheidsfiksie voortsit.

Teenoor apartheid, wat alles wat boos en sleg is, voorstel, staan daardie toonbeeld van voortreflikheid, geregtigheid en morele vlekkeloosheid wat vandag as transformasie bekendstaan.

Gestel nou toe die Nasionale Party in 1948 met ‘n minderheid blanke stemme maar ‘n meerderheid setels ingekom het, het hy pleks van apartheid, hedendaagse rassetransformasie toegepas? Dan sou Verwoerd die Nobelprys vir vrede gewen het en sou Gert van der Westhuizen en sy bende napraters vandag popelende lofprysinge aan die NP se transformasiebeleid geskryf het. Moontlik sou hulle dan vandag oor die veel groter vergrype van kommunisme, pleks van apartheid, geskryf het in ‘n soortgelyke poging tot morele selfregverdiging.

Oor dronk regters en ‘Boere’

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 6 Oktober 2009 4:54 pm

Die voortgesette mediasirkus rondom regter Motata, die beroemdste Jaguar-bestuurder in die land, het ‘n interessante etimologiese feit na vore gebring. Volgens hom bevat Sotho geen onderskeid tussen Engelse en Afrikaanse blankes nie en word daar eenvoudig na hulle as “leburu” verwys.

Te midde van die huidige opwelling in anti-wit gevoelens in Suid-Afrika, is sy verklaring dat “dit normaal is om na ‘n blanke man as ‘leburu’ te verwys” nie sonder betekenis nie. Dit herinner my aan die plakkaat wat daar destyds om die nek van dokter Melville Edelstein se lyk op 16 Junie 1976 gehang is en waarin hy ‘n “Boer” genoem is, al was hy ‘n Joodse, Engelssprekende blanke liberaal.

Natuurlik was dit tot dusver ‘n strategie van vele Engelssprekende blankes om anti-blanke gevoelens na Afrikaners te kaats, wat een rede is waarom Afrikaners gewoonlik as “rassiste” in die Engelse media uitgesonder word. Eugene Terre’Blanche word meesal deur die Afrikaanse media as ‘n marginale figuur geïgnoreer, maar is ontsettend gewild onder Engelse joernaliste wat hom gebruik om swart woede aan te blaas en op Afrikaners te fokus.

Dog na my mening het hierdie strategie totaal geboemerang en het dit bloot die vlak van rassepolarisering in die land verhoog.

Nog ‘n interessante feit is dat die Engelse woord “boor” ook van “Boer” afkomstig is. Volgens die Shorter Oxford Dictionary, beteken “boor” ‘n Nederlandse, Germaanse of ander vreemde boer… ‘n plattelander, ‘n plaasjapie; ‘n growwe of onverfynde persoon”.

Met die verengelsing van Suid-Afrika se swart elite, het figure soos regter Motata en regter Hlope die Britse afkeer van Afrikaners aangeneem, maar beskou plaaslike Engelse blankes, wat grondig van Britte in voorkoms en identiteit verskil, as ‘n subkategorie van “Boer” of “leburu”.

Gegewe die voorliefde van swart Suid-Afrikaners vir alles wat Amerikaans is, verbaas dit my insgelyks dat die skeldnaam wat deur swart Amerikaners vir suidelike blankes gebruik word, “crackers”, nog nie sy weg na hul plaaslike woordeskat gevind het nie, tesame met die oorvloed VS-begrippe soos “regstellende aksie”, “diversiteit” en “bemagtiging”.

Oudpresident Bill Clinton het homself verlede jaar op die Larry King Live-uitsending grappenderwys teen die beskuldiging verdedig dat hy “‘cracker’-stemme vir Barack Obama sou bymekaar jaag”.

Malcolm X en die radikale Black Panther-party in die VSA was ook lief vir die term “cracker” gedurende die Amerikaanse Burgerregtebeweging.

Boere, “crackers”… soos president Robert Mugabe gesê het: hulle is almal net “vervloekste blankes” (bloody whites)!

Nestlé en korporatiewe sinisme

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Maandag 28 September 2009 11:05 am

Die nuus dat die Switserse voedselreus, Nestlé, in Zimbabwe melk aankoop van ‘n voorheen blanke plaas wat deur mev. Grace Mugabe afgevat is, laat ‘n mens in jou sjokolade verstik. Ook lyk dit asof Switsers tans hul bes doen om die argwaan van Suider-Afrikaanse blankes te ontketen. Want as St. Gallen in Switserland nie Paul Kruger as ‘n straatnaam in hul dorp afskaf nie, dan maak die Switserse baas van FIFA, Sep Blätter dom uitlatings soos dat geweldsmisdaad in Suid-Afrika op “rassistiese persepsies” berus.

Sekerlik is daar mense wat ná dié nuus met ander oë na Nestlé se produkte op ons winkelrakke kyk. Enige boikotaksie teen Nestlé weens sy medepligtigheid aan die anti-blanke rassisme van die Mugabe-regime behoort ondersteun te word. Indien Switsers, met wie ons sedert Paul Kruger se dae, maar ook tydens die sanksiejare, goeie verhoudings gehad het, hulself nou by Afrikaners ongewild wil maak, is dit seker hul keuse.

Maar die ergste aan die Nestlé-Mugabe-melkskandaal, is die onderliggende korporatiewe sinisme wat uit die maatskappy se houding en verklaring spreek. Hy koop melk “in die ope mark” aan. Indien plase op grond van ras deur die swart rassiste van Zimbabwe gekonfiskeer is, maak dit nie saak nie. Die maatskappy doen nou sake met die nuwe eienares, mev. Grace Mugabe, wat saam met Winnie Mandela seker die beroemdste verbruiker van luuksegoedere in Suider-Afrika moet wees.

In Suid-Afrika neem groot ondernemings presies dieselfde houding in deur die ANC se rassistiese wette teen die blanke bevolking tot op die letter na te volg. Meer nog, vele groot maatskappye diskrimineer meer teen blankes en Afrikaners as wat die ANC se wette en beleid van hulle vereis, stel geen blankes meer aan nie en versprei dikwels negatiewe voorstellings van blankes in hul kommunikasie soos advertensies. Terwyl sulke maatskappye graag met mev. Grace Mugabe en die ANC se korrupte oligarge sake doen, straf hulle klein sake, wat die laaste toevlug van die blanke ondernemer verteenwoordig, deur hulle van tenders en transaksies uit te sluit.

Multinasionale ondernemings en groot maatskappye is beslis nie bo die politiek verhewe nie en in Suider-Afrika dien hulle die belang van ZANU-PF en die ANC-SAKP met ‘n filosofie van “mag is reg”.

In ‘n wêreld van handelsmerke, sal die verbruiker meer ingelig moet raak oor waarmee maatskappye in werklikheid besig is en watter ons ondersteuning by die kasregister verdien en watter soos die pes vermy behoort te word.

Mugabe is nie mal nie

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Sondag 27 September 2009 11:06 am

Robert Mugabe het so pas sy “grondhervormingsprogram” op CNN verdedig. Dikwels kom ‘n mens egter diegene teë – sowel joernaliste as gewone mense – wat beweer dat “Mugabe sy varkies kwyt is”, “kranksinnig is” en dergelike meer. Ek kan onthou dat ‘n aanbieder van die BBC, saam met wie ek so vier of vyf jaar gelede middagete genuttig het, dieselfde gesê het. “Dis nie omdat hy swart is dat hy so optree nie, dis omdat hy waansinnig is,” het die BBC-man in sy wysheid aan my oorgedra.

Mugabe maak egter nie die indruk van ‘n malman op my nie, inteendeel. Daar bestaan seker ‘n groot verskeidenheid definisies van waansin, maar om konstant teenstrydige uitsprake te maak, soos “Ek is op die maan” terwyl jy tuis in jou kombuis is, is seker een daarvan. Mugabe, aan die ander kant, handhaaf ‘n keiharde logika in alles wat hy sê.

En daardie logika, verstout ek my om te sê, is niks anders as die Suider-Afrikaanse liberalisme (en kommunisme) wat reeds ‘n eeu of twee in dié wêrelddeel met ywer verkondig word nie.

Waar was u toe Mugabe op 4 Maart 1980 tot president van die nuwe Zimbabwe verkies is? Ek herinner my die oomblik nog soos gister. Ek was destyds ‘n Honneurstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Toe die uitslag oor die radio aangekondig is, was ek besig om koffie te drink by die kafee in die binnehof van die Senaatshuisgebou. By die tafel langs my het ‘n aantal linkse studente gesit wat taamlike diep spore in die Engelse joernalistiek en regswese in dié land sou trap. Een of twee van die stigterslede van die Mail & Gaurdian was daar, so ook die kinders van die fotograaf David Goldblatt, hy van “Some Afrikaners photographed”-faam. Ek verbeel my Gilbert Marcus, die latere advokaat en broer van Gill Marcus, was ook teenwoordig.

Toe die aankondiging kom dat ZANU-PF gewen het, het ‘n gejuig langs my losgebars. Daar was groot blydskap, glimlagte, kwinkslae en vreugde. Die held van die wit liberales en linkses, Mugabe, het gewen. En dit was nie net onder Engelse en Jode wat ‘n mens dié bewondering vir Mugabe destyds teëgekom het nie. In dieselfde tyd het ek by die Afrikaanse skrywer, John Miles – van wie daar onlangs ‘n nuwe roman genaamd “Voetstoots” verskyn het – gekuier. Hy en sy destydse kunstenaresvrou, Elza Miles, het ‘n ewe gunstige mening oor Mugabe, “die slim man”, gehad.

Die liberale Britse pers was natuurlik destyds ewe gaande oor Robert Mugabe en het ‘n blink toekoms vir Zimbabwe onder sy bekwame leiding voorspel. Dieselfde BBC-aanbieder met wie ek gaan eet het en wat hom tans as ‘n malman beskou, het waarskynlik Mugabe se verkiesing en die neerlaag van Ian Smith op 4 Maart 1980 as ‘n heuglike gebeurtenis gesien.

Einstein het ‘n ander definisie van waansin gehad: “Om oor en oor dieselfde ding te doen en ‘n ander resultaat te verwag.” En dit is presies waarmee die liberales en linkses in Suider-Afrika nog al die tyd mee besig is. Grondhervorming het in Zimbabwe misluk, maar as dit in Suid-Afrika toegepas word, kan ons van die teenoorgestelde uitkoms verseker wees!

Al wat Mugabe eintlik in Zimbabwe doen, is om die polities korrekte ideologie van grondhervorming, teregstellende aksie, transformasie, asook swart bevoordeling en blanke benadeling, tot sy logiese gevolgtrekking te voer.

Erfenis, watter erfenis?

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Donderdag 24 September 2009 8:46 pm

Vir vele mense is vandag ‘n gewone werksdag, maar selfs die naam daarvan, “Erfenisdag” laat ‘n wrang smaak in die mond. Want daar is geen bewind in die geskiedenis wat soveel gedoen het om erfenis te vernietig as juis die ANC nie.

So pas het Jacob Zuma in New York voor die Algemene Vergadering van die VN weer die gewone gemeenplase oor “apartheid” kwytgeraak. Tydens sogenaamde “apartheid”, wat as ‘n “misdaad teen die mensdom” deur die einste Algemene Vergadering verklaar is, het net meer as 900 mense oor ‘n tydperk van meer as veertig jaar in politieke geweldpleging omgekom.

Hierteenoor sterf daar ongeveer 50 000 mense jaarliks aan geweldsmisdaad sedert 1994. Oor die afgelope vyftien jaar het daar dus 15 x 50 000 = 750 000 mense omgekom, genoeg om ‘n volksmoord genoem te word. Hoeveel van hulle blankes en Afrikaners was, weet ons nog nie, maar waarskynlik was ‘n relatief hoë persentasie van daardie slagoffers wel Afrikaners.

Wat die benaming volksmoord nog verder van toepassing maak, is juis die vernietiging van ons erfenis onder die ANC. Afrikaanse skole, universiteite, museums, plekname, geskiedenis, monumente, boeke en argiefmateriaal is oorgeneem, herbenoem, vernietig, verkoop en dies meer.

Die pseudo-erfenis wat deur die staat bevorder word, lyk op die swart snuisterye wat in toeristewinkels verkoop word. Die argaïese Afrikakultuur met sy stamdanse, voorvaderaanbidding en meesal ongekunstelde handwerk van krale, gras en klei word aan ons as “nasionale erfenis” voorgehou. Ook die geskiedenis van die ANC, ‘n deels terroristiese, deels swart-nasionalistiese en Nguni-beweging, is veronderstel om voortaan die nasionale geskiedenis van Suid-Afrika te verteenwoordig.

Voeg hierby die lukraak verwestering en veramerikaansing wat in Suid-Afrika aan die gang is, en ons tref ‘n amalgaam van tradisies aan wat niemand se “erfenis” kan wees nie, maar bloot ‘n sameflansing van die ergste uit én die verlede én die hede. Alles wat lelik en sleg is, is blykbaar deesdae “erfenis”.

Afrikaners, soos Jode, Moslems en die vele immigrante en buitelandse werkers in Suid-Afrika, behoort eerder hul eie nasionale dae soos Republiekdag, Krugerdag, Van Riebeeckdag en ander te vier as die onsinnige feesdae wat die ANC vir ons gebring het.

Blanke ‘gesindheid’ is irrelevant – vir Harald Pakendorf

Posted by Dan Roodt | Briewe en polemieke | Sondag 13 September 2009 8:04 pm

Dis vir my interessant hoe die hele utopie rondom veelrassige en multikulturele demokrasie (ek noem dit: demonokrasie) besig is om uit te rafel. Al die Britte en Amerikaners se propagandiste wat ons wou oortuig dat ‘n stelsel wat nêrens in Afrika gewerk het nie – en waar minderheidsgroepe soos blankes en Indiërs uit een land na die ander verdryf is – oplaas hier gaan werk, word tans deur die werklikheid oorval. Die afgelope vyftien jaar is die werklikheid, ook ons geskiedenis, konstant misken en onderdruk, maar nou – skielik – slaan dit toe soos ‘n dief in die nag. Selfs Nico Smith sien die probleem raak, maar Harald handhaaf die lagwekkende siening dat ‘n “gesindheidsverandering” onder blankes die toekoms van hierdie land kan verander. Dis so goed as om te sê die tienduisend oorblywende blankes in Zimbabwe moet net hulle “gesindheid verander” en dan sal die mielies outomaties opkom, die hospitale en skole sal weer begin werk en die Zim-dollar sal weer ‘n paar miljard persent in waarde toeneem. Of die SA blankes van swartes hou of nie, of hulle selfs die ANC-regering ondersteun of nie, is irrelevant. Hier is ‘n historiese en etniese logika aan die werk wat slegs deur politieke handeling gestuit kan word, net soos wat politieke handeling dit ontketen het. Ons moet Nico Smith se waarskuwing van volksmoord ernstig opneem. Lees ook wat ek vandag hieroor geskryf het (ondertoe). En indien enigeen van my verskil, sou ek graag die teenargument wou hoor, nie blote ontkenning van die probleem soos Harald P. dit hierbo beoefen nie.

Harald Pakendorf in Rapport:

Wittes se kans kom om hul knorrigheid af te skud

Die wittes, en veral die Afrikaner, se plek in die nuwe Suid-Afrika is skielik deel van die openbare debat. Die vreemdste sieninge kom na vore.

Stuur ons af op ‘n blanke volksmoord?

Posted by Dan Roodt | Sonder kategorie | Sondag 13 September 2009 7:33 pm

Vandeesweek het ds. Nico Smith, ‘n soort sikofant van oorle Beyers Naudé, ‘n kat in die hoenderhok gesmyt met sy stuk in Beeld waarin hy blankes tot onderdanigheid aan hul nuwe swart heersers maan. So nie, sê Smith, gaan dieselfde lot ons tref as die sowat miljoen Franse Algeryne wat almal sak en pak met net die klere aan hul lywe hul land moes verlaat toe die moederland, Frankryk, hulle in die steek gelaat het en sy militêre magte verwyder het.

Nico Smith stel dit in ‘n neutedop só: “Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.”

Met ander woorde, ons moet aanvaar dat ons en ons kinders en waarskynlik ons kleinkinders, vir altyd tweederangse burgers onder ‘n swart regering gaan wees wat ons bloot gaan verdra na gelang van ons onderdanigheid en die “lojaliteit” wat ons jeens hom gaan betoon.

Tereg het Tim du Plessis, die redakteur van Beeld wat deesdae toenemend ontnugter met sy base by Naspers se utopiese voorstelling van “Suid-Afrika se wonderlike demokrasie” raak, ‘n teenargument geopper wat ek reeds jare lank ophaal: wat het hul onderdanigheid die blankes van Zimbabwe en veral die Commercial Farmers Union gebaat? Hulle het agteroor gebuig, hulle was lojaal en inskiklik, maar op die ou end het Mugabe dit as swakheid geïnterpreteer. Hulle grond is summier onteien en van die eertydse groot blanke bevolking van etlike honderde duisende mense in die voormalige Rhodesië het daar net mooi niks oorgebly nie.

Black Man’s Wheels en die Mercedes-Benz SEB-klas

Posted by Dan Roodt | Rubrieke | Dinsdag 8 September 2009 7:33 pm

By al die absurditeite wat hierdie droewe land tans teister, is daar Cosatu se jongste betigtiging van ministers met uitspattige voertuie. Asof “demonokrasie” van die Afrikatipe nie juis rondom ‘n keiserlike lewenstyl vir politici in bankrot lande draai nie.

Sonder Mercedes- en BMW-handelaars, asook hotelgroepe wat vyfsterhotelle regoor die vasteland bedryf, sou demonokrasie nie kon bestaan nie. As ‘n “leier van die mense” nie in sy swart Duitse voertuig, tesame met ‘n gevolg van flitsende blou ligte en loeiende sirenes die ander motoriste van die pad kon afdwing op pad na ‘n konferensie in ‘n vyfsterhotel nie, sou niemand kon glo dat regering in Afrika bestaan nie.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie, behalwe dat die staat nog nie so bankrot is soos dié in Zimbabwe of Swaziland wat op buitelandse hulp moet staatmaak om aankope van Duitse weeldemotors te finansier nie. Gegewe die standaard van “maagpolitiek” elders op ons vasteland, is Blade Nzimande se 1,1-miljoenrand-BMW-750i eintlik “beskeie”. Indien dit koeëlvas gemaak was en met ‘n paar missiellanseerders toegerus was om lede van die gepeupel wat dit te naby daaraan waag met die druk van ‘n knoppie weg te blaas, sou mens dalk kon praat van “oorbesteding”.

Eintlik stel die ANC-regering ‘n goeie voorbeeld, veral vir daardie kleiner munisipaliteite waar burgemeesters gereeld ‘n aansienlike deel van die jaarlikse begroting op ‘n luuksemotor uitgee. Indien so ‘n munisipaliteit agterna nie ‘n broodnodige rioolpomp kan bekostig of die vullis nie verwyder word nie, wel, wat maak dit alles uiteindelik saak? Solank hierdie noodsaaklike simbole van demonokrasie wat uit Beiere of Stuttgart stam, vertoon kan word, loop alles mos klopdisselboom.

Die setel van demonokrasie is uiteindelik nie die parlement, waar 400 ander etende, besturende, reisende en konsumerende parasiete saamgetrek is nie, maar die Mercedes- of BMW-handelaar, tesame met die vyfsterhotel. Dis hier waar die wese van regering hom voltrek. “Regering”, waarsonder ons in hierdie land baie goed sou kon klaarkom, bestaan uit die besteding van die belastingbetaler se fondse op onnodige goedere wat die inherente minderwaardigheidsgevoel van Afro-politici moet besweer. Geen katedraal in die oerwoud en geen blink, swart, Duitse motor kan ooit te duur wees om Afrika se gekrenkte waardigheid tot aan die uitspansel te verhef nie.

Waarskynlik is Cosatu ook nie ernstig met sy uitlatings oor ministeriële ampsmotors nie. Dit getuig van een of ander Protestantse of Calvinistiese skuldgevoel oor staatsbesteding. Verwoerd was blykbaar bekommerd oor “wat die volk sou sê” toe daar by Libertas ‘n swembad geïnstalleer is.

Hiermee het Verwoerd sy verknogtheid aan die “apartheidsreëlboek” getoon.

Hoe ver het Suid-Afrika sedertdien nie gevorder in sy “bevryding” van alle blanke kleinsieligheid in dié verband en die regeerstyl ten noorde van die Limpopo omhels nie?

Anders as wat Cosatu dink, het die ANC lankal reeds die “apartheidsreëlboek” saam met Afrikaanse skole, skoon water en werkende staatshospitale tot “die asblik van die geskiedenis” verdoem en is ons bevoorreg om aan die skitterende leierskap van BMW- en Mercedes-entoesiaste blootgestel te word.

Dis hoog tyd dat ons wonderlike media ons gemotoriseerde regering ‘n bietjie meer ophemel. Sommige motormaatskappye sal seker nie omgee om bykomende advertensies by sulke berigte op te neem nie.

Lank lewe die Black Man’s Wheels! Lank lewe die Mercedes-Benz SEB-klas! In hul Hitleriaanse en nasionaal-sosialistiese praal.

Afrikaners en Aleksandr Doegin se geopolitieke denke

Posted by Dan Roodt | Toesprake en referate | Dinsdag 8 September 2009 7:29 pm

Inleidende aanmerkings by ‘n oop gesprek wat deur PRAAG op 28 Augustus 2009 aangebied is.

Sedert 1989 het die wêreld verskeie politieke revolusies deurgemaak. In Duitsland sal dit binnekort 20 jaar wees sedert die Berlynse muur ineengestort het. Verder in Oos-Europa, in die ou Joego-Slawië, in die Baltiese state en elders het verskeie lande radikaal verander. Sommige volkere, soos die Tsjegge byvoorbeeld, het vir die eerste keer in eeue werklike onafhanklikheid en selfbeskikking verkry.

In die ou Sowjetunie self het kommunisme om ‘n verskeidenheid redes verval. Een van die hoofredes was dat die produksie van voedsel ‘n afname getoon het en die land nie meer oor die nodige buitelandse valuta beskik het om voedsel in te voer nie.

Hoewel die Afrikanerdom in Suid-Afrika en die Russe in Rusland twee radikaal verskillende entiteite verteenwoordig, kan mens tog ‘n bepaalde ooreenkoms sien tussen die radikale magsverlies van die Afrikaners aan die een kant en die geostrategiese agteruitgang van Rusland aan die ander. Trouens, vele Amerikaanse ontleders skryf die opkoms van Wladimir Poetin en ‘n denker soos Aleksandr Doegin aan die Russiese frustrasie aan die einde van die Koue Oorlog toe. Daar word selfs gepraat van Russiese neo-fascisme, wat ‘n teenpool sou vorm teenoor die universele demokratisme van Amerika, die enigste oorblywende supermoondheid.

Tot enkele jare gelede het Afrikaners in Suid-Afrika oor die sterkste weermag, lugmag en vloot in Afrika beskik en kon ons mag tot by die ewenaar en selfs verder projekteer. Ons het boonop oor kernwapens beskik. Ons taal is wêreldwyd as ‘n kultuurtaal geag en is selfs tydens die tydvak van koue-oorlogspanning in Moskou gedoseer.

Terwyl Rusland in geostrategiese terme agteruitgegaan het, vergeleke met die VSA en China, het Afrikaners in Suid-Afrika as’t ware ondergegaan. Danksy die strategiese besluite van slegs enkele sogenaamde “Afrikanerleiers”, maar wat agterna marionette van die groter Anglo-Amerikaanse ryk geblyk het, is ons in ‘n situasie gedompel waar ons die verdwyning van die Afrikaner, sy taal, kultuur, geskiedenis, identiteit en alles wat daarmee saamhang in die gesig staar.

‘n Ander ooreenkoms tussen die Russiese volk en Afrikaners is dat die gemeenskaplike wapen wat deur die VSA, Brittanje en die lande in hul invloedsfeer teen ons gebruik word, juis sogenaamde “demokrasie” is. Net soos wat demokrasie deur die VSA en sy bondgenote ingespan word om Rusland se buurstate onder Amerikaanse invloed te bring en hom as’t ware te omsingel, so word demokrasie in Suid-Afrika en Suider-Afrika gebruik om die Afrikaner vernietig en van sy historiese grondgebied met behulp van grondhervorming en ander maatreëls te vervreem.

Daarby kan mens voeg die leierskapsrol wat die Russe in Oos-Europa en in die gebied wat Doegin Eurasië noem vervul, teenoor die Afrikaner se ewe belangrike staatkundige rol in Suider-Afrika. Net soos wat die ou Sowjetunie deur ‘n groot aantal etniese en taalgroepe bestaan het, het Suider-Afrika in die tyd van Verwoerd en PW Botha uit twintig of meer volkere bestaan wat almal op een of ander manier van Suid-Afrika en die Afrikaner se akademiese, tegnologiese en finansiële vernuf afhanklik was.

Die revolusie van 1989 wat die VSA tot enigste oorblywende supermoondheid verhef het, het dus verwoestend op die eertydse konstellasie van state rondom Rusland ingewerk en terselfdertyd Suider-Afrika grootliks onder Britse en Amerikaanse invloed gestel.

Een van die sleutelonderskeidings wat Doegin tref, is tussen Atlantisme en Eurasisme. Vir hom verteenwoordig die wêreldgeskiedenis ‘n dualisme tussen twee beskawingsvorme, dié van seegebonde handelaarsnasies en die geaarde, boerse tipe volkere wat in die grond gewortel is. Op geostrategiese vlak bepleit Doegin ‘n alliansie tussen Duitsland, Rusland en Japan wat die “Eurasiese blok” sou verteenwoordig, teenoor die “Atlantiese blok” van die VSA, die NAVO-lande en die res van die Engelssprekende wêreld wat waarskynlik die Statebondslande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika sou insluit.

Terwyl Huntington, die vermaarde Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskawingsbotsing in die tydperk ná 1989 as hoofsaaklik godsdiens- en kultuurgedrewe gesien het, ‘n klassieke Kulturkampf, kan ons by Doegin van ‘n veel radikaler eksistensiële onderskeid tussen beskawings praat. Dit gaan ook, soos die titel van een van sy boeke lui, om “‘n Groot oorlog tussen kontinente”.

Hierdie oorlog tussen vastelande kan teruggevoer word na die hoofkonflik in die eerste twee eeue voor die Christelike jaartal begin het, naamlik die oorlog tussen Carthago en Rome. Verder terug het die ou Feniciërs wat in die tydvak 1200-800 v.C. ‘n hoogtepunt in hul beskawing bereik het ‘n soortgelyke seegebonde handelaarskultuur beoefen as wat die Atlantiese mag van die moderne era sou voer.

Volgende Bladsy »